IDENTITEIT-Week3-Dag5: Ons is gestuurde mense

Een van die dinge waarmee ons as kerkmense baie sukkel, is om te verstaan dat ons gestuurde mense is. Dis asof ons onsself net nie daartoe bekeer kan kry nie. Ons het moeite om ’n denkraamwerk daar rondom te vorm. Of, soos die Engelse sou sê, “to wrap our minds around it.”

Jesus het homself baie duidelik uitgedruk toe hy gesê het: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou” (Johannes 15:16). Dat dit oor Jésus en sý keuse vir ons gaan is so helder soos daglig. Dat Jesus die reëls in die verhouding tussen hom en sy mense gaan is ooglopend. Dat Jesus elkeen van ons afsonderlik én almal saam áánstel is deel van sy visie.

Ons is deur Jesus aangestel om te gáán. Ons moet uit gaan. Net soos wat ons nie ons asem heeltyd kan inhou nie, maar op ‘n stadium móét uitblaas, is dit deel van ons nuwe-mens-identiteit om na buite onsself, na buite ons eie kring en – veral! – uit ons gemaksone uit te beweeg.

Ooreenkomstig ons eie verstaan van baie dinge sal ons antwoord op die vraag “Om wat te doen?” hier en daar van mekaar s’n verskil. Die basis van ons antwoord behoort egter basies dieselfde te wees. Omdat ons aangestel is om “vrugte” te dra, sal ons sekerlik in die kol wees indien ons onsself weereens herinner aan wat oor die vrug van die Gees geskryf word.

Ons kan sekerlik in ooreenstemming hiermee sê Jesus het ons gestuur om  lief te hê, vreugde te bring, vrede te maak en bevorder, geduld te beoefen, vriendelik, goedhartig, getrouheid en nederig te wees en selfbeheersing toe te pas (Galasiërs 5:21).

Omdat God nie sy Seun na die wêreld toe gestuur het om die wêreld te veroordeel nie, “maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:17), is Jesus se boodskap ná sy opwekking en opstanding “Vrede vir julle!” (Johannes 20:21-22). Direk daarna het hy dit met “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (vers 21) opgevolg, oor hulle geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees!” (vers 22). In hierdie “Johannese Pinksterfees” word ons gestuurdheid en ‘n “vrugbare” of “vrugtevolle” lewe geïnspireer deur die Gees beklemtoon.

 

Ons is mense wat gestuur is. Dis nie “werk” nie, maar ‘n lewenswyse.

Share