IDENTITEIT-Week5-Dag3: Ons is mense wat vertrou  

Jy ken seker die vertelling van die seun wie se pa vir hom gesê het hy moet tot heel bo teen hulle leer, waar dit teen die muur bo die hoogste rak in hulle winkel gestaan het, te klim?

 

Toe hy heel bo was het sy pa vir hom gesê dat hy oud genoeg is om te leer hoe die besigheid werk, sodat hy dit eendag kon oorneem. Hy wou met die eerste les begin, het hy gesê en vir die outjie gesê om af te spring. Die knaap wou nie, maar sy pa het hom verseker dat hy hom sou vang. “Ek is jou pa. Ek sál jou vang,” het hy aangedring. Só het dit vir ‘n rukkie aangehou. Die pa was uiteindelik oortuigend genoeg, maar toe die kind spring, het hy twee treë agteruit beweeg.

 

Die slag waarmee hy die grond getref het was hárd en hy kon sy trane nie terughou nie. “Dít, my seun, is die heel belangrikste les in besigheid, … Onthou hoe jy nóú voel. Jy wil nooít weer so voel nie,” het hy gesê: “Jy vertrou níémand in besigheid nie. Nie eens jou eie pa nie.”

 

Dis nie noodwendig omdat ons so geleer word dat ons sukkel om te vertrou nie. Ons sukkel om te vertrou omdat ons te dikwels ervaar dat ons vertroue in mense geskend word. Onbewustelik dra ons hierdie gebrek aan vertroue op God ook oor. Al lees ons in die Bybel dinge soos “Julle moet op die Here vertrou” (Psalm 4:6), bly ons skepties. Met die tweede deel van Romeine 3:4 kan ons saamstem, maar juis dít maak dit vir ons moeilik om ten opsigte van die eerste deel van die teks te waag: “Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar” (Romeine 3:4). Later korrigeer hy homself wanneer hy skryf dat hy homself as “iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is” (1 Korintiërs 7:25) beskou.

 

Dís die eerste tree na vertroue. Om betroubaar te wees. Of, sal ons sê, om al hoe meer betroubaar te raak. Wanneer mense in óns beleef dat daar tóg mense is wat vertrou kan word, sal hulle geloof in vertroue en hulle wil om betroubaar te word dalk groei. Ons streef immers daarna om aan “geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid” (Matteus 23:23) geken te word.

 

Ons is mense wat vertrou. Ons vertrou God, want ons gló ons kan God vertrou (Psalm 119:42-42 en 66; Spreuke 3:5). Omdat God in ons en ons medemense leef en werk is dit as ‘t ware ons roeping om onsself én al hoe meer mense rondom ons stelselmatig te leer vertrou.

 

Ons bou vertroue en leer om te vertrou wanneer ons moeite doen om vir ander mense dáár te wees. Wanneer ons dienend met mense omgaan en werklik luister ontwikkel vertroue tussen mense. Vertroue groei waar ons nie net aan ons eie agendas dink nie. Dis gewoonlik wanneer mense ervaar dat hulle ons kan vertrou dat hulle dit begin doen.

Psalm 37:4 help my hiermee. Jy ken dit seker? Dit lui: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sál sorg.”

 

Luister gerus (weer) na die “Luisterlied” by http://www.seisoenvanluister.co.za/dokumente/Luisterlied1.mp3

Share