IDENTITEIT-Week7-Dag3: Ons is mense wat glo  

In Hebreërs 11:1 staan: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Wanneer ons die hele Hebreërs 11 lees, sien ons gou-gou dat geloof oor veel meer gaan as “seker wees” en/of “oortuig wees, of te wel “sekerheid” en/of “bewyse” van dinge wat ons nie gesien het nie. Ons sien vanaf vers vier heelwat invalshoeke op die redes waarom daar oor “die mense van die ou tyd” en hulle geloof “met soveel lof getuig is” (vers 2).

Om te glo was vir húlle om uit te sien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is (11:10); om die belofte uit die verte te sien en daaroor te juig (11:13); om te verlang na ‘n beter, hemelse vaderland (11:16); om regeerders se ongeregtigheid teen te gaan (11:23); om te volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (11:27); en om vreemdelinge vriendelik te ontvang (11:31).

Geloof is dus veel meer as ‘n sekerheid of oortuigings wat met bewyse van dinge wat ons nie kan sien nie verbandhou. Geloof kan beter beskryf word as ‘n weg wat ons betree en waarop ons al met die reis langs groei in ons begrip en toewyding.

In die Ou en Nuwe Testament hou geloof baie sterk verband met die verhouding tussen God en mense. Vandaar die klem op die versoening tussen God – deur Christus – met ons (byvoorbeeld 2 Korintiërs 5). Ons glo as ‘t ware letterlik al dieper in God in. In Latyn – wat deur die Romeine as regs- en administratiewe taal gebruik is – hou “om te glo” meer met geloofwaardigheid – en daarom steliings wat as waar of vals bewys kan word – verband.

Geloof gaan veel meer oor hoop wat in ons lewe (1 Petrus 3:15) as oor stellings oor die inhoud van dit wat ons glo. Geloof is ten diepste ‘n geskenk van God aan ons (Matteus 11:27; Johannes 15:16). Dis ook ‘n reaksie, of ‘n antwoord deur ons (Markus 1:15; 1 Petrus 1:9). Ons moet vir onsself onderskei tussen die redes waarom ons glo – byvoorbeeld omdat ons wíl glo, of omdat dit ons help om te cope – en die inhoud (die “wát”) van ons geloof, soos byvoorbeeld dat ons glo dat God geskep het.

Dit is nie vanselfsprekend om te glo nie. Onthou gerus Jesus se woorde aan Tomas: “Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (Johannes 20:29). Ons is mense wat glo. God sál ons in ons ongeloof help (Markus 9:24).

Luister na Amanda Strydom se weergawe van “Pelgrimsgebed”.

Dit is by https://www.youtube.com/results?search_query=amanda+strydom

Share