Lewenskeuses-Week1-Dag 3-Goed genoeg

1 Samuel 16:7; “… Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike“.

Onthou jy nog die speletjie “Klip-papier-sker” (Rock-paper-scissors)? Die wenner het dan die eerste keuse om vir hom ‘n span te kies. Hy en die ander spanleier maak dan beurte om uit die groot groep te kies.  Elkeen probeer die beste moontlike spelers te kies.  Miskien was jy ook al deel van die groepie wat tot laaste moes wag om ‘n plek te kry?  Jy kry uiteindelik ‘n plek net omdat hulle almal moes indeel.  Jy speel die wedstryd met die twyfel of jy nou regtig in die span hoort.  Die vraag wat in jou kop maal, is “is ek goed genoeg vir hierdie span?”

Dalk het jy ook al gewonder: “Is ek goed genoeg vir God se span?” As jy sy span moes kies, het jy dalk gegaan vir die slimstes, die sterkstes en die mooistes – vir die met belangrike posisies en titels.

God se keuses is verrassend anders as ons verwagtings.  Hy kies nog altyd doodgewone mense soos jy en ek wat op papier nie kwalifiseer nie.  Hy kies mense wat ander al bedrieg het (Jakob), egbrekers en moordenaars (Dawid), mense met bedenklike huwelike (Hosea), eenvoudige mense soos vissermanne en tollenaars (dissipels).  Hy maak hulle waardig vir die taak wat Hy aan hulle opdra.

Ons is nie van nature goed genoeg nie.  God maak ons goed.  Ek hoef dus nie eers op grond van wie ek is en wat ek al gedoen het te kwalifiseer vir sy span nie.

Oorgawe beteken dat ek kom soos wat ek is sodat Hy my kan vorm soos wat Hy wil.  Hy maak jou goed genoeg vir sy span!

Share