Lewenskeuses-Week1-Dag 4-Om met ‘n Sherpa te reis…

Galasiers 5:25: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

Mense wat verkies om in vreemde lande sonder gidse te reis, verdwaal maklik en mis geweldig baie besienswaardighede en ander interessante inligting oor die land en sy mense.  Wie so reis en dan verdwaal, moet in elk geval een of ander tyd weer die pad vra.

Ons is almal reisigers.  Die dag van more en die toekoms is vir ons almal ‘n onbekende land.  Elkeen van ons reis na waar ons nog nooit vantevore was nie.  Niemand weet wat die volgende oomblik inhou nie.

Die Sherpas is tradisioneel gidse uit die stamme van Nepal wat bergklimmers in die gevaarlike Himalaya berge begelei.  Hulle is geneties aangepas om gemaklik op hoe hoogtes te funksioneer.  Die Heilige Gees is ons Sherpa-Reisgenoot.  Hy is die Gids wat ons in die onbekende toekoms wil begelei.   Baie gelowiges val vas wanneer hulle sonder die Gids wil reis.  Hulle verdwaal, raak beangs en ontspoor.  Hulle neem dwase besluite en verloor so hulle algemene lewenskoers.

Ons het in elke oomblik die keuse of ons ons gaan steur aan ons Sherpa se leiding.  Lewensoorgawe aan God is baie meer as om net in een oomblik ‘n oorgawe gebed te bid.  Dit beteken dat ek oorgee aan die Gees as Sherpa en dat ek kies om permanent onder sy leiding te staan en geen besluit te neem sonder Hom nie.  Teveel Christene reis sonder dat hulle werklik beheer oorgegee het aan die Gees.

Bid sommer nou weer ‘n oorgawe gebed met die bedoeling om permanent die Gids van die lewe se leiding te volg.

Share