Lewenskeuses-Week 2-Dag 1-Ouers is arende

Deuteronomium 32:11: “Soos ‘n arend wat sy kleintjes uit die nes uitskop, oor hulle vladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei…” 

God vergelyk Homself en sy verhouding met sy kinders met ‘n natuurbeeld van ‘n arend wat sy kuikens leer vlieg. Die veronderstelling is dat dit die taak van ‘n ouer is om soortgelyk sy kind die vaardighede van die lewe aan te leer terwyl hy hom beskerm en leiding gee.  Hierdie natuurlike skeppingsritme maak ouers onontbeerlik in die opvoeding van kinders.  Ouers is die natuurlike mentors van die lewe.

Waar die natuurlike ritme versteur is en ouers hierdie ketting verbreek, het kinders ‘n geweldige verlies aan lewensvaardighede tensy daar plaasvervangers intree in die persone van grootouers of ander betekenisvolle familie.

Gebrekkige ouerleiding is die oorsaak van waarde-armoede in ons gemeenskappe.  Gemeenskappe sal verbeeldingryk moet besin en sisteme in plek kry om ouers toe te rus en te ondersteun.  Dalk is iets soos verpligte voorgeboortelike ouertoerusting nie so ‘n slegte idee nie.

Mag elke ouer sy vlerke oopsprei onder sy kind(ers).  En mag kerke en gemeenskappe hulle vlerke sprei onder ouers.

 

 

 

 

 

 

Share