Lewenskeuses-Week 2-Dag 4-Vriende wat ‘n verskil maak

Spreuke 27:10: “Moenie by ‘n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: ‘n buurman wat naby is, is meer werd as ‘n broer wat ver is. “

Hulle sê die Japanese het ‘n nuwe besigheid: Hulle betaal vreemdelinge om na privaat huise te kom en voor te gee hulle is die inwoners se familie. Die Kazushi Ookynitani’s “convenience agency” voorsien ook “vriende” vir troues en begrafnisse en gaan sit ook by ‘n Universiteit se lesings ter wille van die Proffie se selfbeeld. In een geval is vir ‘n troue aan hierdie “huweliksvriende” van die bruid, tot $500 elk betaal. Hierdie “vriende” het detail biografieë ontvang van wie hulle sogenaamd veronderstel was om te wees.

Ek wonder as jy hierdie huur ‘n vriend-opsie moes uitoefen, wat sou jy skryf in hulle biografiee? Wie sou hulle wees?

Ek lees erens hierdie mooi onderskeid tussen gewone vriende en ware vriende:

  • ‘n Gewone vriend het jou nog nooit sien huil nie. ‘n Ware vriend se skouers is al nat gehuil van jou trane.
  • ‘n Gewone vriend ken nie jou ouers se name nie. ‘n Ware vriend het hulle foonnommers in sy adresboek.
  • ‘n Gewone vriend haat dit as jy hom bel as hy al in die bed is. ‘n Ware vriend vra waarom het dit jou so lank gevat om te bel.
  • ‘n Gewone vriend praat graag met jou oor jou probleme. ‘n Ware vriend help jou graag om dit op te los.
  • ‘n Gewone vriend tree soos ‘n gas op as hy jou besoek. ‘n Ware vriend maak jou yskas oop en help homself.
  • ‘n Gewone vriend dink julle vriendskap is verby as julle ‘n argument het. ‘n Ware vriend weet dat dit nie ‘n ware vriendskap is as julle nie al geargumenteer het nie.
  • ‘n Gewone vriend verwag dat jy altyd daar sal wees vir hom. ‘n Ware vriend verwag om altyd daar te wees vir jou.

Bid vir jou vriende! Praat met die Here oor hulle! Praat ook met hulle oor die Here!

 

Share