Toekomsvenster-Week 4-Dag 4-Visvang verbode

Visvang verbode

Miga 7:19: “Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.”

God se vergifnis is volkome. Hy grawe spreekwoordelik nooit ou koeie uit die sloot nie. Hy vernietig sonde. Trouens Hy gooi dit weg waar niemand dit kan bereik nie. Hy werp dit in die diepsee.

Ons verbrou dikwels. Ons doen dit soms bewustelik en soms met die beste bedoelings. Ons verbrou verhoudings en beskadig ons band met God. Hierdie sondes van ons bring verwydering en maak die Vaderhart seer. Genadiglik het ons ‘n Vader wat ons altyd weer kom haal en heelmaak.

Ons verdraaide Godsbegrip trek ongelukkig dikwels wat ons betref ‘n streep deur sy vergifnis. Ons neem besluite namens God. Ons dink sekere dinge is vir Hom te groot om te vergewe. Ons gaan haal dit weer en plaas dit self weer tussen Hom en ons. Ons dink Hy verkies om te vergeld. Ons gaan vang vis in die oseaan waar visvang deur Hom verbode verklaar is. Ons lĂȘ Hom woorde in die mond en neem ook ‘Godsbesluite” oor ander mense. Ons verkaar hulle sondes as onvergeeflik en besluit ook namens Hom wat hulle straf behoort te wees. Geen wonder dat Hy ons vermaan dat die oordeel ons nie toekom nie.

Dit sal verseker baie help as ons die feite van God se beloftes op sigbare plekke uitgraveer: “Ek is vergewe!”

Dankie Vader dat u vergifnis volkome is. Help my om dit ook volkome te aanvaar. Amen.

Share