Lewenskeuses-Week 7-Dag 5-Vervulling

Vervulling

Psalm 23:2: “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.”

Ek lees onlangs ‘n besondere vraag wat my aan die dink gesit het oor my eie lewensvervulling: Wat is die diepste bron van jou vreugde?: Wat God vir jou gee, of wat God vir jou is?

Ek het weer besef, as ek my vervulling sou soek in terme van wat ek van God moet ontvang, sou ek Hom verantwooordelik hou vir my omstandighede en my voor- of teenspoed. Dan sou byvoorbeeld die baie groot persentasie arm mense op aarde (waarvan baie christene), rede tot diep ongelukkigheid en geloofstwyfel hĂȘ.

Indien ek egter my vreugde vind in wie God vir my is, kyk ek met ‘n totaal ander perspektief. Dan sien ek dat Hy my siel en gees tot rus bring deur die wegneem van my skuldgevoelens deur sy vergifnis. Die feit dat ek rus vind deur sy genade, bevry my van die las om te presteer om Hom sodoende tevrede te probeer stel. Ek hoef my maar net te verlustig in sy Vaderliefde wat Hy in Jesus kom wys het. Dit gee ‘n gevoel van geborgenheid – dat ek behoort en maar net kan wees.

Die Psalmdigter beskryf dit in die mooiste natuurbeelde (Ps 23:2): Dink aan watter emosies oor jou kom as jy in die middel van ‘n dor landskap groen weivelde ontdek; of dink aan die kalmerende effek van ‘n pragtige waterstroom. Hy (die Herder) is in beheer. Hy bring my by die groen weivelde en kalmerende waters. Hy sal vir my die beste gee. Hy het die beste bedoelings met my.

“Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” (Ps 131:2)

Here, U is my vrede. U vervul my lewe met u teenwoordigheid. Amen

 

Share