Lewenskeuses-Week 8-Dag 5-Bemoedig en bemagtig

Bemoedig en bemagtig

2 KorinthiĆ«rs 1:4: “In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.”

Ons het elke dag die geleentheid om te bou of te breek. Die keuse is altyd daar om mense met ons woorde af te maai of op te lig. Mense-brekers is gewoonlik mense wat onder die goedvoellyn funksioneer. Bang mense maak ander bang. Skuldige mense laat ander skuldig voel. “Nikswerd”-mense takel ander mense se selfbeeld af.

Daarteenoor het mense wat besef dat hulleself geliefd is, ook ander mense lief. Mense wat weet wie hulle in Christus is, gun aan ander mense dieselfde posisie. Mense met ‘n besef van eiewaarde het waardering vir ander se gawes en talente.

God gee aan ons genoeg rede om soos Hy mense te bemoedig (vers 4). Ons hoef maar net te bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee Hy ons bemoedig.

Ons woorde het baie invloed – die krag om te bemagtig. Ons kan mense soveel beter agterlaat as wat ons hulle gekry het.

Mag dit die lewensvoorneme van ons elkeen wees: Om mense op te bou – deur te bemoedig en te bemagtig.

Liewe Vader. Help my om mense op te bou met my woorde. Amen.

Share