Dissipelskap: Week 3, Dag 4. Jesus leef om God se koninkryk te dien.

Wat doen iemand dan wat werklik in diens van God se koninkryk staan en nie net sy of haar eie belange najaag nie? Hoe leef so ʼn mens van dag tot dag? Ook dit het Jesus as die volmaakte verteenwoordiger van God vir ons kom wys.

So iemand doen niks uit sy/haar eie nie, maar doen maar net wat hulle die Vader sien doen. Hulle hoogste prioriteit in die lewe is dus om te hoor en te sien wat op die Vader se hart is. Hoe anders kan hulle Hom dan verteenwoordig? Elke daad wat jy uit jou eie doen, elke woord wat jy uit jou eie praat, het die potensiaal  om die Een wat jy verteenwoordig eerder te verduister. Dit kan sy Naam skend en mense laat wegdraai van Hom af.

Klink dit na ʼn baie “moeilike lewe”, iets wat net “te veel” van jou tyd en aandag sal vra? Indien wel, dan kan dit net wees omdat jy Hom nog nie regtig leer ken het nie. Niemand wat Hom ken en weet wat gemeenskap met Hom beteken sal ooit dink dat dit “vermoeiend” is nie. Daar is niks wat meer huppel in jou stap, sprankel in jou oog, lag in jou stem, verwondering in jou gemoed, opgewondenheid oor die dag kan meebring as wanneer die Vader vir jou wys wat om te doen omdat Hy jou lief is vir jou nie!

Share