Dissipelskap: Week 3, Dag 5. Jesus leef om God se wil te doen.

Mense kan soms so worstel om te probeer agterkom wat God se wil tog vir hulle lewe is. Dit is gewoonlik ʼn worsteling en stryd by mense wat God graag by hulle lewens wil betrek en wat dink dat dit eintlik gaan oor God se wil vir HULLE LEWE. God se wil handel egter meer oor SY KONINKRYK en hoe Hy jou daarby wil betrek.

Hoe Hy jou daarby wil betrek het Hy dan ook reeds glashelder duidelik uitgespel. Dit is nie een of ander geheim wat jy hoef te ontrafel nie. Al wat Hy van jou vra is om Hom bo alles lief te hê en dan ook sy liefde met die mense te deel wat elke dag op jou pad kom. Nét dit! Is dit so moeilik? Wel, vir mense wat hulleself van sy liefde afskei deur ʼn besige en haastige lewe sal dit waarskynlik moeilik wees. Dit is immers nie moontlik om liefde te gee as jy dit nie self in oorvloed ontvang nie. Vir die wat egter geleer het dat hulle nie hierdie lewe op hulle eie kan “baasraak” nie en daarom geleer het om met oorgawe aan Hom te leef, met diep afhanklikheid, met ʼn dorstige wag op sy liefde en leiding, wat drink uit sy strome van lewende water en liefde; vir hulle word dit nie iets wat hulle “behoort te doen” nie. Vir hulle is dit die vrug van ʼn verhouding met die Bron van liefde!

Share