Dissipelskap: Week 4, Dag 1. Tema: Lewe in oorvloed.

Ons word van kleins af geleer om “oorvloed” na te jaag, maar dan nie God se oorvloed nie. Ons word geleer en begin glo dat ons gelukkig sal wees as ons ʼn oorvloed van besittings, gerief, gemak, geld, vriende, ens. het. Al wat dan gebeur is dat ons baie moeilik op die plek kom waar ons ervaar dat ons nou uiteindelik “genoeg” het. Daar is altyd nog die vergelyking met die wat meer as ons het, en “as ons darem nog net dit of dat ook kon kry, dan sou….” Ons vergelyk ons selde met hulle wat minder as ons het.

God se oorvloed het genadiglik niks met hierdie malle gejaag te doen nie. God se oorvloed is altyd en oral beskikbaar vir almal: ryk en arm; mooi en lelik; goed en sleg; geleerd en ongeleerd. Al wat nodig is, is om God toe te laat  om vir jou ʼn God te wees. Jy moet net leer om jou aandag aan Hom te gee, om na Hom te luister, om by Hom te kuier en te ontspan sodat Hy Homself met jou kan deel. DAARIN lê sy oorvloed, in wie HY IS en vir jou WIL WEES. Dit is van niks anders afhanklik as van jou oorgawe aan Hom nie! Jy hoef nie ryk, slim, geleerd, mooi, besonder begaafd of wat ook al te wees om dit te ervaar nie. Net soos sy oorspronklike dissipels wat maar brandarm, meestal ongeletterd en “blou-kraag werkers” was, sy oorvloed in sy teenwoordigheid leer ken het, kan jy dit ook doen.

Share