Dissipelskap: Week 4, Dag 5. ‘n Oorvloed van Liefde.

Wat doen dit aan ʼn mens as jy werklik in aanraking kom met die oorvloed van God se liefde? Lees en bepeins gerus vir ʼn paar oomblikke die woorde in Psalm 103:11. “want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir die wat Hom dien.” Gaan sit dan met die woorde en probeer ʼn prentjie daarvan in jou gedagtes kry. Waar is jyself in die prentjie? Probeer voel en ervaar wat dit aan jou doen as jy net tuiskom en wees in daardie absolute, ongekende oorvloed van liefde wat jou elke oomblik oorspoel.

Nadat jy ʼn paar oomblikke daarin vertoef het, dit beleef het, bring dan ook jou geliefdes, die mense naby jou in die prentjie in. Beleef dit dat hulle saam met jou daar is, saam met jou deur hierdie liefde toegevou word, omvou word, beskerm word en gevoed word.

Nadat jy dit ʼn paar oomblikke beleef het, bring dan ʼn paar mense met wie jy moontlik gespanne verhoudinge het ook in die  prentjie in. Beleef dan wat gebeur as hulle ook saam met jou daar is. Laat al jou aggressie en agterdog, jou afkeur en verbittering teenoor hulle net “oplos” in die atmosfeer van suiwer liefde.

Na nog ʼn paar oomblikke van hierdie belewenis, bring dan ook sommige van jou “vyande” in die prentjie in. Mense vir wie jy heimlik met minagting beskou, selfs al ken jy hulle nie persoonlik nie. Ek wil nie name vir jou suggereer nie, jy sal weet wie hulle is. Sit dan ook daar in hierdie onophoudelike, suiwer liefde saam met hulle en kyk net wat gebeur.

Share