Dissipelskap: Week 5, Dag 3. Kom tot rus, besin, reflekteer, wees, bid.

Hoe besig is jy? Hoe vinnig en hoe ver moet jy elke dag rondhardloop om alles gedoen te kry? Hoe dikwels wens jy dalk dat daar net ʼn uur of twee meer in jou dag was? Ek kom agter dat sulke besige mense dikwels skuldig voel omdat hulle nie regtig “by God uitkom” nie. Daar is net te min ure in die dag. Ek hoor ook soms die opmerking:  “Ek is seker God sal verstaan dat ek nie daarby uitkom om stiltetyd te hou nie.” Natuurlik sal God “verstaan” in die sin dat Hy nie minder lief vir jou gaan wees, of minder vir jou gaan omgee nie. Daar is egter wel iets wat ek glo nie vir God so maklik is om te verstaan nie. Dit is die feit dat jy dink dat jy wel goed genoeg op “jou eie” kan regkom; dat jy dink dat jy Hom nie nodig het nie; dat jy nie sy raad en leiding in jou besige lewe nodig het nie; dat jy nie sy aanraking nodig het nie; ook nie sy bemoediging, troos, bystand, wysheid en leiding nie. Jy sien, “stiltetyd” of “gefokusde tyd met God” gaan nie daaroor dat jy vir Hom ʼn gunsie doen nie. Niemand kan vir God gunsies doen nie. Hy het dit nie nodig nie. Hy is volkome in Homself. Dit gaan daaroor dat Hy vir jou ʼn guns wil doen deur jou lewe te vul met sy inspraak, sy wysheid, sy leiding en sy goedheid. Om jou rug daarop te draai, is doodgewoon dom.

Share