Dissipelskap: Week 6, Dag 1. Om Jesus te volg, vra ‘n kruis.

Het jy dalk ʼn kind van God geword sodat jy “eendag kan hemel toe gaan”? Dit is ongelukkig nie die rede waarom Jesus mense hier op aarde nooi om vir Hom te volg nie. Dit was nooit sy bedoeling dat elke mens net iewers moet vra dat sy of haar sonde moet vergewe word en dan vir Hom as “Verlosser” aanneem, sodat hulle kan hemel toe gaan nie!

Nee, Hy nooi mense om hulle kruis op te neem en om Hom dan te volg! Die kruis is hier simbolies van jou eie naam, jou eie planne, jou eie koninkryk, jou eie wil. Jou manier van lewe wat net om jouself en jou sukses draai. Hy vra dat jy dit sal laat vaar en Hom dan sal volg, want Hy wil jou by sy koninkryk betrek en vir jou weer ʼn ware verteenwoordiger van die Lewende God maak terwyl jy nog HIER OP AARDE is.

Vir baie mense is dit te veel gevra, want “hoe kan ek dan nou al my eie planne en ambisies laat vaar om vir Jesus te volg? Ek weet nie eers waarheen die pad gaan lei nie!” Vir sulke mense sê Jesus dan: “wie sy lewe wil behou, sal dit verloor en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou” (Matt. 10:39).  Jy sien, Hy weet beter as jy hoekom jy hier is, want Hy het jou met ʼn doel geskep. Net as jy jou lewe aan Hom oorgee sodat Hy sy doel met jou kan bereik, kan jy die ware sin en betekenis van die lewe ontdek. Dit gebeur terwyl jy Hom volg hier op aarde. Die pad lei na ʼn lewe vanuit sy teenwoordigheid, wat ʼn ander manier is om “die hemel” mee te beskryf.

 

Share