Dissipelskap: Week 6, Dag 3. Laat U koninkryk kom.

Sjoe, dis nogal ʼn moeilike een vir mense wat van kleins af geleer word om “iets te maak van jou lewe” of anders gestel: “om vir jouself ʼn koninkryk op te rig”.  Hoe sou ʼn wêreld lyk waarin God se kinders almal opreg hierdie gebed bid, uit hulle harte? Dit dan bid met die bedoeling om vir God daardeur te sê:  “Hier is ek! Betrek my in U koninkryk waar en hoe U wil! Maak my volkome deel van dit wat U in U koninkryk besig is om te doen. Laat my werklik weer leef as U verteenwoordiger op aarde. In diens van die Koning van die heelal. Om te gaan waarheen U my stuur en om te doen wat U van my vra!”

Daar was al EEN mens wat wel so geleef het. Hy het gesê dat Hy net doen wat Hy die Vader sien doen en net sê wat Hy die Vader hoor sê. Maar Hy is op die ou end gekruisig vir dit wat Hy gedoen en gesê het. Hy het ook gesê as ander Hom hierin wil navolg, kan hulle min of meer dieselfde behandeling verwag. Nie noodwendig letterlik nie, maar tog. Hulle sal nie baie gewild wees in hierdie wêreld nie. Tog sal hulle vry mense wees, want hulle sal weet dat hierdie wêreld nie op die ou end gaan oor hulle eie koninkrykies nie, maar oor ʼn baie groter KONINKRYK. Een wat onwrikbaar besig is om te kom te midde van plaasmoorde, selfmoordbomdraers, terroriste, wankelrige leiers, ʼn swak rand en onseker ekonomiese tye. Glo jy dit?

Share