Dissipelskap: Week 9, Dag 2. Betekenis deur jou storie.

Het jy al agtergekom dat jou eie storie betekenis kry namate jy vir God beter leer ken? Dit kry nie betekenis deur te presteer of deur besondere “mylpale” te bereik nie, maar deur God op ʼn besondere manier te leer ken. Ongelukkig is daar baie mense wat dink dat hulle wel vir God ken en tevrede is met die mate van kennis van Hom wat hulle reeds het. Hulle soek dan betekenis vir hulle lewens deur self iets besonders te wees of deur te presteer.

Die wat egter agtergekom het dat die grootste opwinding en uitdaging in die lewe daarin bestaan om vir God te leer  ken; van dag tot dag beter te leer ken; sy grootheid te leer raaksien en sy wysheid al meer en meer te ontdek. Dat dit daaroor gaan dat mens sal leer om toe te laat dat God jou altyd weer verras met sy kreatiwiteit, altyd weer opnuut versadig met sy liefde en goedheid, altyd weer nuwe aspekte van sy God-wees met jou deel. Hierdie mense ontdek dat die ware betekenis van die lewe daarin opgesluit lê dat “selfs ook ek, wie ek ook  al mag wees”, die voorreg het om die lewende God te leer ken. Dit lei tot ʼn lewe van verwondering en afwagting! ʼn Lewe wat nooit weer vervelig kan wees nie, want God kan nooit vervelig wees nie! As Hy dus deel van jou storie word, kan jou storie ook nooit vervelig wees nie.

Share