DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 1 BLOG 4

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 1

BLOG 4

 

Vandag is weer een van dáárdie dae! Daar is só baie wat gedoen moet word en ʼn dag het net soveel ure. Buitendien, al sou die dag ook meer ure gehad het, sou ek waarskynlik nie meer gedoen gekry het nie, want die afgelope paar weke was besig en elke spier in my liggaam roep: Rus! Rus! Rus!

Miskien ken jy ook sulke dae?

In elk geval dis op dae soos vandag dat Heilige Gees my opnuut herinner dat my God altyd dieselfde is. Of ek stres of totaal oorgegee aan Hom leef, God skuif nie ʼn mm uit Sy posisie van liefde, genade, vrede en oorvloed nie. Dis ék wat toelaat dat omstandighede mý probeer skuif. My Pa het altyd gesê: “My kind, of jy worry of nie worry nie, dit gaan niks behalwe vir jou verander nie.” Nou ja, met sulke plat op die aarde wysheid en ʼn hele Bybel vol versekering dat God in die moeilike dae net soveel ons God is as op die maklike dae, moet ék skuif!

Paulus het dit seker ook agtergekom. Dis hoekom hy met soveel oortuiging kon skryf: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus, Filippense 4:4-7.

Nou ja, daar is niks verder te sê oor hierdie onderwerp nie! God is in beheer. Hy regeer. Ek kan net sowel my lewe geniet en bly wees in Hom. En nie vir ʼn oomblik langer die lewe toelaat om my te regeer nie. In Jesus kan ek oor my lewe regeer en diep gaan wegkruip in dié Vrede, wat alle verstand te bowe gaan. Hy gee genoeg wysheid vir die oomblik, genoeg krag vir die hele dag én deur Sy Gees herskep Hý my chaos in lig! Prys die Here! Want weet jy wat? Hy is goed – altyd!

Elza

Share