DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 2 BLOG 2

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 2

BLOG 2

 

Partymaal roep God ons om vir ʼn rukkie stil te staan. Ons is nie altyd lus om tot stilstand te kom nie. Ons verkeer baie keer verkeerdelik onder die indruk dat ons nie kan bekostig om vir ʼn kort tydjie op die pad van die lewe te vertoef nie. Ons dink dat alles uitmekaar gaan val sonder ons. Dis egter belangrik dat ons nie dan toegee aan die druk van omstandighede nie, maar toelaat dat Heilige Gees ons wys waarmee Gód besig is.

 

Sulke halt roep geleenthede is kenmerkend onverwags:

  • ʼn Oproep half een in die oggend
  • ʼn Dokter se simpatieke dog onwelkome uitspraak
  • ʼn Huweliksmaat se koue skouer
  • ʼn Skrikwekkende ontdekking

 

Wanneer mens die Boek Ester bestudeer, kom jy onder die indruk van alles wat dié jong meisie moes hanteer. Sy was ʼn banneling én weeskind, Ester 2:6-7. Beide hierdie twee beskrywings is in sigself ryk aan pyn en negatiewe ervarings. Asof dít nie genoeg was nie, is sy ook nog as gevolg van haar skoonheid uit haar oom se huis weggeruk as een van honderde meisies, wat sou meeding vir die posisie van koningin, Ester 2:2-4. Die lewe in ʼn harem was allesbehalwe iets om na uit te sien. Elke meisie het slegs een geleentheid gehad om die koning te beïndruk en is daarna oorgeplaas na ʼn ander harem, waar die byvroue aangehou is, Ester 2:14. Sy sou nooit weer haar familie sien nie en is lewenslank aangehou vir ingeval die koning haar dalk sou wou laat roep.

 

Maar wanneer mens Ester tussen die lyne van hierdie kort Boek leer ken, kom jy agter dat sy moes geweet het dat omstandighede haar nie na ʼn plek of posisie kan neem, waar sy sonder God is nie. Deurgaans leer mens deur haar verfrissende optrede hoe naby sy aan God moes geleef het. Toe haar lewe saam met dié van haar familie en al die Jode oor die hele ryk van die Mede en Perse in gevaar gestel is deur Haman se onderduimse optrede, roep sy haar familie en die hele stad se Jode op om saam met haar te vas en te bid, Ester 4:15-16. Sy moes verstaan het dat niks haar uit God se Hand kan haal nie. Wie by Hóm skuil, is veilig – selfs in gevaar.

 

Jy is óók veilig by God. Moenie toelaat dat jou omstandighede groter word as Hý nie! Spandeer tyd saam met Hóm wat die heelal in Sy Hand hou en blý leef!

Elza

Share