DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 2 BLOG 4

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 2

BLOG 4

 

Tyd saam met God… vir meeste mense is dit ʼn luukse. Ons daaglikse skedule en die eise van die lewe slurp ons ure op, drink ons minute leeg en laat ons slegs met stil oomblikke agter ʼn stuurwiel of iewers momenteel agter ʼn koffiebeker.

 

Ek wonder maar net – glo ons nie dalk ʼn leuen nie? Gaan jou dag regtig uitmekaar val as jy daagliks jou tyd met God eerste prioriteit maak? Gaan alles nie dalk juis beter wees nie?

 

In daardie stil tyd voor ketels sing en kinders roep; voor badkamerdeure slaan en die hond honger stertswaai; voor die geroesemoes van motortoeters en rekenaarskerms gebeur daar iets bonatuurlik wonderlik wanneer gees en Gees ontmoet. Ewigheid kom kuier in tyd. Vrede kom verdryf vrees. Liefde kom vou pyn toe. En oorwinning is nie meer onmoontlik nie.

 

En tussen die lyne van Romeine, die waarhede van Matteus en die geskiedenis van die Konings hoor ons die Heerser van die heelal praat. Partymaal sag-fluisterend; ander kere hard en streng, maar altyd in liefde én met krag.

 

Stel jou wekker, gaan slaap bietjie vroeër, skuif één van jou belangrike take bietjie weg en ontmoet met Hóm voor jy met ander ontmoet. Jy gaan bly wees…!

Elza

Share