Home » HEILIGE GEES » DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 3 BLOG 1

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 3 BLOG 1

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 3

BLOG 1

 

‘N LEWE VAN AANBIDDING

Daar is ʼn geheime plek, waar niemand meer invloed as jy het nie. ʼn Plek vanwaar oorloë gewen en huwelike gered is. ʼn Plek wat jy vir niks moet verruil nie en indien jy dit nog nie ken nie, verseker vir jouself moet gun – jou stil plekkie saam met God.

 

Miskien is dit jou slaapkamer soggens vroeg, miskien is dit jou motor oppad werk toe, miskien is dit ʼn hoekie in jou tuin. Daar is dit net jy en God.

 

Jesus het ook Sý stil tye met Sy Vader gehad. Iewers berg-op, snags wanneer die dissipels geslaap het, het Hy stil weggeraak vir ʼn tydjie saam met Sy Vader. Dié dat Hy ons so mooi kon leer in Matteus 6 van vers 5 af:

En nou wat die gebed betref: Moenie soos die skynheiliges wees wat daarvan hou om in die sinagoges en op die straathoeke te bid nie. Ek verseker julle dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet sal jou beloon.

 

In War Room leer Miss Clara ʼn jong vrou hoe om haar eie geheime plekkie in te rig en haar vertroue in God te stel. Hý kan haar huwelik red! En Hy doen dan ook. Aan die einde van die fliek, alleen in haar binnekamer, dank Miss Clara God vir Sy uitkoms en dan tree sý vir die wêreld in.

 

 

Wanneer jy vanuit jou verhouding met die Here jou alledaagse lewe lei, verander jou kamer, jou motor, jou binneste in ʼn Allerheiligste. Dáár ontmoet jy met die Koning van die heelal en dan wéét jy: dit maak nie saak wat die dag inhou nie – die oorwinning is reeds behaal!

 

Elza

Share