Home » HEILIGE GEES » DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 3 BLOG 3

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 3 BLOG 3

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 3

BLOG 3

Paulus se seënwens in sy eerste brief aan die gelowiges in Tessalonika in hoofstuk 5:23, dat God hulle na liggaam, siel en gees onberispelik mag bewaar, spreek boekdele van sy opregte omgee vir hulle. Meer as Paulus het God hulle op Sý hart gedra.

God dra ook vir jou en jou belange op Sy hart. Hy wil jou ook graag na liggaam, siel en gees bewaar. Jy moet egter nie jouself uitlewer aan enigiets of enigiemand, wat jou wil beroof van Sy liefde nie. Jy kan natuurlik jou eie grootste vyand wees. Ek het deur die jare agtergekom dat baie mense vir God se vergifnis vra én waaragtig glo dat Hy hulle vergewe het, maar nie hulself vergewe nie. En onbewustelik blý hulle dra aan ʼn las, waarvoor hul reeds vergifnis gevra het.

Miskien hou jy ook nog ʼn swak besluit of ʼn fout wat jy gemaak het teen jouself. Besef jy dat wanneer jy jouself aanhou kasty, jy aanhou dra aan ʼn sonde of fout, wat Jesus reeds namens jou gedra het? Dit het tog geen waarde nie. Inteendeel, al wat jy regkry is om jouself te beroof, van die vergifnis wat God vryelik tot jou beskikking gestel het. Jesus se offerdood verseker volmaakte versoening en Hy bevry jou na liggaam, siel en gees van sonde asook enige sondelas, wat jy nog mag dra.

Buitendien, indien jy nie jouself vergewe nie, kan jy jouself fisies ook nog siek maak. Daar is ʼn baie nou verbintenis tussen liggaam, siel en gees en wat jy ook al in jou sielsdimensie of gees ronddra, moet uiteindelik ook in jou fisiese dimensie invloed uitoefen. Moenie ʼn sekonde langer dra aan enige las, pyn of seer nie. Bely dit openlik en finaal voor Jesus en maak klaar met die verlede. Spreek jouself vry in die Naam van Jesus en leef in Sy volmaakte vryspraak! Jy wil verseker nie toelaat dat die gebrokenheid van jou verlede jou toekoms ook negatief beïnvloed nie!

Wanneer die Seun jou vrygespreek het, is jy waarlik vry, Johannes 8:36! Moenie toelaat dat ʼn leuen jou anders oortuig nie!

 

Share