Home » HEILIGE GEES » DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 3 BLOG 4

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 3 BLOG 4

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 3

BLOG 4

 

Peet Simonis, bekende joernalis en fotograaf, nou seker al diep in sy sewentigs, het jare terug vir my ʼn storie vertel wat my aan die hart gegryp het. Terwyl die oorlog in Ruanda aan die gang was, het hy ervaar dat God hom roep om foto’s te gaan neem in die oorlog geteisterde areas. Die foto’s wat hy geneem het, het die afgryslikhede wat daar plaasgevind het, verbeeld. Hy sou huis toe kom met die scoop van ʼn leeftyd. Voordat hy op die destydse Jan Smuts lughawe sou land, het Heilige Gees in sy hart ingespreek: Hierdie foto’s is nie vir die koerante nie. Stuur dit vir intersessors wêreldwyd wat sal bid vir Ruanda. Hy het so gemaak en mettertyd het die oorlog aldaar in sy gedagtes begin vervaag tot een aand…

 

Hy en ʼn vriend was besig om steak te eet in ʼn restaurant toe hy op die TV in die hoek van die restaurant sien dat die oorlog in Ruanda steeds aan die gang was. Hy vertel hoe ʼn heilige woede oor hom gekom het en hoe hy onbewus van mense om hom opgespring het en bulderend uitgeroep het: Die oorlog in Ruanda stop nou! ʼn Geskokte stilte het oor die restaurant gevou.

 

Die volgende oggend op die sewe uur radionuus was daar ʼn berig wat hom skielik laat regop sit het in sy motor – hy was op pad werk toe. Die nuusleser het berig hoe daar skielik op onverklaarbare wyse die vorige aand ʼn vredesooreenkoms in Ruanda gesluit is.

 

Hoe langer ek saam met die Here loop, hoe meer kom ek agter dat ons maar net ʼn klein bietjie verstaan van God se grootheid en genade. Dit wil voorkom asof die uitroep van een van God se kinders in ʼn restaurant in Johannesburg ʼn oorlog in Ruanda beëindig het. Dis slegs moontlik as God dit só beskik het. As Hy bepaal het dat iemand wat in gehoorsaamheid vantevore Sy opdrag uitgevoer het, ʼn invloed mag hê op die geskiedenis van ʼn land duisende kilometers vér.

 

Deur die jare heen het ek baie keer op onverwagse oomblikke ʼn deurbraak gesien op jarelange gebed. Ander kere het God oombliklik ingegryp nadat iemand gevra het. Ek waag dit nie meer om myself die reg aan te matig om ʼn resep vir gebed voor te skryf nie. God het my al teveel verras. Maar wat ek verseker weet, is dat gebed werk; dat dit altyd die moeite werd is om te bid en dat nie een van ons gebede by ons Here verbygaan nie.

 

Mag jy aanhou bid. Mag jy nooit ophou om die Here se aangesig te soek nie. Mag jy altyd blý vertrou op Hom wat die onmoontlike moontlik maak!

Share