Home » HEILIGE GEES » DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 4 BLOG 1

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 4 BLOG 1

WEEK 4

BLOG 1

DIE SWAARD VAN DIE GEES

 

Ons moet onsself verantwoord oor hoe ons met die Bybel omgaan:

  • Die Bybel verloor sy impak in ons lewens, wanneer ons kies waarvan ons hou en slegs dié gedeeltes toelaat om ons gedrag te rig.
  • Dis ook ʼn illusie om slegs op die Bybelse beloftes te fokus, sonder om eweneens die beginsels en voorwaardes te eerbiedig.
  • En dis gevaarlik om die Bybel te gebruik om ander te veroordeel. Wanneer ons ophou om vanuit God se liefde te op te tree, skulp mense toe in vrees of woede, terwyl hulle kon oopblom vir Sy aanraking.

Wanneer ons uit eerbied vir God die Bybel toelaat om eerlik dog liefdevol in ons lewens in te spreek, verander die woorde van die Woord ons. Dan kan ons word wie God ons wil maak.

Ek dink nou sommer aan die gebeure toe die Joodse leiers ʼn vrou na Jesus toe gebring het, wat op owerspel betrap was. Destyds was dit met die dood strafbaar. Dit was toe dat die Jesus op die klipteëls voor die tempel met Sy vinger begin skryf het. ʼn Paar jaar gelede het ons ook so op die tempelgronde in Jerusalem gestaan toe ons Christen gids sý verstaan van Johannes 8:1-11 met ons gedeel het. Hy het gesê: Hierdie plaveisel dateer uit die dae van koning Salomo. Die tempel is wel herhaaldelik afgebreek, maar die plaveisel is nooit opgetel nie. Hierdie klipteëls was in Jesus se tyd ook hier. Toe die Here met Sy vinger op hierdie klippe geskryf het, was dit dieselfde vinger wat eeue gelede vir Moses en die Joodse volk die Wet op klip neergeskryf het. Daardie dag het Hy vir die Joodse leiers verduidelik wat die bedoeling met die Wet was, wat Hy eeue vantevore aan hulle gegee het: God wou nooit gehad het die Wet moet tot die dood lei nie! Die bedoeling was dat die Wet tot die léwe sou lei!

Geniet jou Bybel! En die lewe wat God jou bied!

Share