DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 2 BLOG 5

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 2

BLOG 5

 

Wanneer is aanbidding suiwer?

Baie mense het al oor hierdie onderwerp gedink, geskryf en gepraat. Van die aangrypendste aanbidding wat ek meegemaak het, het gespruit uit opregte harte. Die stemme was nie suiwer nie, maar die aanbidding was.

Partymaal sing iemand ʼn lied uit gebrokenheid, waarin die egtheid van woord en melodie oortuig van die suiwerheid daarvan. Luister na die bygaande lied deur Ceyline Dion. Sy het haar man, haar pa én haar broer verloor aan kanker. By die Stand Up 2 Cancer Konferensie het sy die volgende lied gesing:

RECOVERING

I am recovering

The faith of a child

By a part of my heart

I was reckless and wild

I am recovering

The hope that I lost

The part of my soul

That paid the cost

 

Little by little, day by day

One step at a time

Shake off the devil, oh

Take back my peace of mind

 

I am recovering

Anxiety addict

A broken perfectionist

Somewhat erratic

I am recovering

A constant regretter

Hold it against her

At least till forever

 

Little by little, day by day

One step at a time

Shake off the devil, oh

Take back my peace of mind

 

Hold me

As I fall apart, baby

Hold me

Here in the dark

Cause the old me

Run just as far as I could from my heart

Well, I’m going back to the start

 

Little by little, day by day

One step at a time

Shake off the devil, oh

Take back my peace of mind

Tell him I love him, yeah

Take back my peace of mind

 

Jy kan regtig maar vals sing; jy kan jou eie woorde sing; jy kan uit ʼn stukkende hart sing, maar as jy bedoel wat jy sing én jy sing vir die Here, aanbid jy.

Aanbid Hom wanneer jy bly is; wanneer jy moeg is; wanneer jy bang is; wanneer Hy vér voel én wanneer jy Sy Teenwoordigheid tasbaar naby ervaar. Aanbid Hom heeldag en aldag. Jy sal sien wat aanbidding vir jóú doen!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 2 BLOG 4

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 2

BLOG 4

 

Tyd saam met God… vir meeste mense is dit ʼn luukse. Ons daaglikse skedule en die eise van die lewe slurp ons ure op, drink ons minute leeg en laat ons slegs met stil oomblikke agter ʼn stuurwiel of iewers momenteel agter ʼn koffiebeker.

 

Ek wonder maar net – glo ons nie dalk ʼn leuen nie? Gaan jou dag regtig uitmekaar val as jy daagliks jou tyd met God eerste prioriteit maak? Gaan alles nie dalk juis beter wees nie?

 

In daardie stil tyd voor ketels sing en kinders roep; voor badkamerdeure slaan en die hond honger stertswaai; voor die geroesemoes van motortoeters en rekenaarskerms gebeur daar iets bonatuurlik wonderlik wanneer gees en Gees ontmoet. Ewigheid kom kuier in tyd. Vrede kom verdryf vrees. Liefde kom vou pyn toe. En oorwinning is nie meer onmoontlik nie.

 

En tussen die lyne van Romeine, die waarhede van Matteus en die geskiedenis van die Konings hoor ons die Heerser van die heelal praat. Partymaal sag-fluisterend; ander kere hard en streng, maar altyd in liefde én met krag.

 

Stel jou wekker, gaan slaap bietjie vroeër, skuif één van jou belangrike take bietjie weg en ontmoet met Hóm voor jy met ander ontmoet. Jy gaan bly wees…!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 2 BLOG 3

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 2

BLOG 3

 

Waarom vind God se kinders dit so moeilik om klaar te maak met die gevolge van sonde?

Waarom speel selfverwyt so ʼn groot rol in ons lewens?

Waarom hou ons aan om die laste van die verlede te dra, selfs nadat ons ons skuld bely het?

Waarom vind ons dit so moeilik om die vryheid wat Christus se verlossingswerk vir ons bewerkstellig het te geniet?

Tien persone sal waarskynlik tien uiteenlopende antwoorde op hierdie vrae verskaf. Hiermee drie antwoorde van die eerste drie persone vir wie ek bogenoemde vier vrae gevra het:

  • Die duiwel wil ons beroof van die krag van Christus se verlossing.
  • Ek het nie geweet hoe om my skuldgevoelens te hanteer nie. Ek het bly dra daaraan. Ek het besef Jesus het my skuld en sonde vergewe, maar ek het nie besef dat ek my skuldgevoelens mag laat gaan nie. Ek het eintlik gedra aan die skuld, waarvan Hy my reeds verlos het.
  • Ek dink ons verstaan en ontvang nie die waarhede wat in God se Vaderhart opgesluit is nie. Die Vader se liefde vir die mensdom het in Jesus se verlossingswerk gestalte gekry.

Reinhardt Bonnke voer aan dat die oorsaak daarin geleë is dat ons nie die Bloed van Christus aanwend vir die doel, waarvoor Hy dit gestort het nie. Hy verduidelik dit as volg: As jy vuil is, help dit niks jy staan langs ʼn koekie seep nie. Om dit waarheid te sê dit sal nie eens help as jy in ʼn seepfabriek werk nie. Jy moet eers die seep aanwend en jouself met water afspoel, voordat jy kan skoon kom. Dieselfde waarheid geld ten opsigte van die Bloed van Christus. Jy moet die verlossing wat Christus vir jou bewerkstellig het op elke terrein van jou lewe toepas. Dit gaan jou nie werklik help om daarvan te weet of daaroor te praat nie. Eers nadat jy die Bloed van Christus toegelaat het om jou gedagtes, emosies en wilsdimensie skoon te was, sal jy die vryheid ervaar wat Jesus se verlossingswerk vir jou bewerkstellig het!

Vrees beroof ons van die vreugde van ons verlossing en laat ons soos krimpvarkies oprol en opgerolde krimpvarkies is stekelrige diertjies.

Niks wat ek en jy verkeerd gedoen het, kan ooit groter wees as God se liefde vir ons nie – moet dit nie groter maak nie!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 2 BLOG 2

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 2

BLOG 2

 

Partymaal roep God ons om vir ʼn rukkie stil te staan. Ons is nie altyd lus om tot stilstand te kom nie. Ons verkeer baie keer verkeerdelik onder die indruk dat ons nie kan bekostig om vir ʼn kort tydjie op die pad van die lewe te vertoef nie. Ons dink dat alles uitmekaar gaan val sonder ons. Dis egter belangrik dat ons nie dan toegee aan die druk van omstandighede nie, maar toelaat dat Heilige Gees ons wys waarmee Gód besig is.

 

Sulke halt roep geleenthede is kenmerkend onverwags:

  • ʼn Oproep half een in die oggend
  • ʼn Dokter se simpatieke dog onwelkome uitspraak
  • ʼn Huweliksmaat se koue skouer
  • ʼn Skrikwekkende ontdekking

 

Wanneer mens die Boek Ester bestudeer, kom jy onder die indruk van alles wat dié jong meisie moes hanteer. Sy was ʼn banneling én weeskind, Ester 2:6-7. Beide hierdie twee beskrywings is in sigself ryk aan pyn en negatiewe ervarings. Asof dít nie genoeg was nie, is sy ook nog as gevolg van haar skoonheid uit haar oom se huis weggeruk as een van honderde meisies, wat sou meeding vir die posisie van koningin, Ester 2:2-4. Die lewe in ʼn harem was allesbehalwe iets om na uit te sien. Elke meisie het slegs een geleentheid gehad om die koning te beïndruk en is daarna oorgeplaas na ʼn ander harem, waar die byvroue aangehou is, Ester 2:14. Sy sou nooit weer haar familie sien nie en is lewenslank aangehou vir ingeval die koning haar dalk sou wou laat roep.

 

Maar wanneer mens Ester tussen die lyne van hierdie kort Boek leer ken, kom jy agter dat sy moes geweet het dat omstandighede haar nie na ʼn plek of posisie kan neem, waar sy sonder God is nie. Deurgaans leer mens deur haar verfrissende optrede hoe naby sy aan God moes geleef het. Toe haar lewe saam met dié van haar familie en al die Jode oor die hele ryk van die Mede en Perse in gevaar gestel is deur Haman se onderduimse optrede, roep sy haar familie en die hele stad se Jode op om saam met haar te vas en te bid, Ester 4:15-16. Sy moes verstaan het dat niks haar uit God se Hand kan haal nie. Wie by Hóm skuil, is veilig – selfs in gevaar.

 

Jy is óók veilig by God. Moenie toelaat dat jou omstandighede groter word as Hý nie! Spandeer tyd saam met Hóm wat die heelal in Sy Hand hou en blý leef!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 2 BLOG 1

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 2

BLOG 1

Wanneer ek en jy ons lewens en toekoms aan die Heilige Gees toevertrou en Hy in ons kom tent opslaan, leef Hy heeldag en aldag saam met ons. Dan is daar nie meer tye waarin ons onafhanklik van God leef nie. In beginsel het ons die beheer van ons lewens afgeteken en vir Heilige Gees gegee.

Dit mag dalk aanvanklik vreesaanjaend wees om te dink dat jy nooit weer kan dink of doen sonder dat God daarvan weet nie. Maar dit was in elk geval só voordat jy ʼn tempel van die Heilige Gees geword het. Jy het dit net nie tóé so gesien nie.

In beginsel kies ʼn mens ook om binne God se wil te opereer, wanneer jy Hom toelaat om in jou te kom tabernakel. Ek dink baie keer na oor God se wil. Toe Jesus ons in Matteus 6:10b kom leer het dat ons moet vra vir die Vader se wil, het Hy ons die geheim van ʼn gelukkige en geseënde lewe kom leer.

Op ʼn stadium was ek op ʼn baie moeilike plek. Aan die een kant wou ek graag bid dat God se wil geskied, maar aan die ander kant was ek te bang om dit te bid. Wat as Sy wil van my wil verskil en dit my duur te staan gaan kom? So het ek al worstelend my gedagtes met die Here gedeel en die volgende oomblik wys Heilige Gees my ʼn prentjie: Ek sien in my geestesoog ʼn Pappa met sy seuntjie op ʼn mat – hulle twee speel met ʼn pragtige, groot, rooi motor. Terwyl hulle so speel, ervaar ek dat die Pappa altyd as kind só ʼn motor wou gehad het, en toe die voorreg gehad het om vir sy seuntjie een te koop. Terwyl ek nog so sit, hoor ek Heilige Gees in my binneste fluister: “Dink jy die Pappa gaan sy seuntjie se kar breek as dit vir hom lyk asof die kind dalk liewer geraak het vir die kar as vir hom?” So al geselsend met die Here, antwoord ek toe: “Nee, verseker nie, Here. Daarvoor is hy is veels te lief vir sy kind.” Dis toe dat ek Heilige Gees hoor vra: “Waarom dink jy dat die Vader jou skade sal aandoen? As ʼn aardse Pa so lief is vir sy kind, hoeveel te meer nie jou Hemelse Vader vir jou nie?”

Daarna was dit maklik om God se wil te bid. En deur die jare sou ek ontdek, dat ek slegs in die sentrum van God se wil veilig, beskut en gelukkig is!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 1 BLOG 5

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

DIE KRAG VAN DIE GEES

WEEK 1

BLOG 5

Daar is baie seëninge, waarmee Heilige Gees ons wil bemagtig. Ons is geneig om te dink dat hierdie seëninge almal ʼn positiewe waarde moet dra, maar daar is ook seëninge wat nie noodwendig positief gesien word nie. Een van hierdie seëninge is ʼn belewenis van ongemak – ʼn gewaarwording dat daar méér is. Daarsonder sal ons nie die nodigheid vir konstante groei insien nie. Kom ek verduidelik:

  • ʼn Vrugteboer weet dat ongetemde groei uiteindelik tot verminderde vrugbaarheid lei. Daarom is snoeityd nie ʼn gemaklikse seisoen nie, maar baie noodsaaklik!
  • Elke ouer weet dat kindertjies wat nie uitgedaag word tot méér nie, onnodig stadig ontwikkel. Daarom los ons hulle nie uit nie, maar leer hulle praat, eet, loop en sommer baie ander dinge ook. En dis noodsaaklik.

God doen presies dieselfde met Sý kinders. Hy los ons nie waar ons is nie, maar wek in ons ʼn begeerte na ʼn dieper begrip van Sy liefde vir ons; ʼn verlange na geestelike groei en ʼn onversadigbare honger om Sy koninkryk werklikheid te sien word, waar ons leef, werk en opereer. En dit is goed.

Jy wil ook nie aan die einde van jou lewe terugkyk en besef dat daar deur die wonderlike, inwonende Teenwoordigheid van die Heilige Gees baie méér was as wat jy jouself gegun het nie. Nie waar nie?

Mag jy aanhou groei! Mag jy toeneem in geloof! Mag jy al meer deur die Heilige Gees opereer! Mag meer en meer mense Jesus in jou raaksien! Mag jy ʼn bron van Godgegewe liefde wees, 2 Thessalonisense 1:3!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 1 BLOG 4

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 1

BLOG 4

 

Vandag is weer een van dáárdie dae! Daar is só baie wat gedoen moet word en ʼn dag het net soveel ure. Buitendien, al sou die dag ook meer ure gehad het, sou ek waarskynlik nie meer gedoen gekry het nie, want die afgelope paar weke was besig en elke spier in my liggaam roep: Rus! Rus! Rus!

Miskien ken jy ook sulke dae?

In elk geval dis op dae soos vandag dat Heilige Gees my opnuut herinner dat my God altyd dieselfde is. Of ek stres of totaal oorgegee aan Hom leef, God skuif nie ʼn mm uit Sy posisie van liefde, genade, vrede en oorvloed nie. Dis ék wat toelaat dat omstandighede mý probeer skuif. My Pa het altyd gesê: “My kind, of jy worry of nie worry nie, dit gaan niks behalwe vir jou verander nie.” Nou ja, met sulke plat op die aarde wysheid en ʼn hele Bybel vol versekering dat God in die moeilike dae net soveel ons God is as op die maklike dae, moet ék skuif!

Paulus het dit seker ook agtergekom. Dis hoekom hy met soveel oortuiging kon skryf: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus, Filippense 4:4-7.

Nou ja, daar is niks verder te sê oor hierdie onderwerp nie! God is in beheer. Hy regeer. Ek kan net sowel my lewe geniet en bly wees in Hom. En nie vir ʼn oomblik langer die lewe toelaat om my te regeer nie. In Jesus kan ek oor my lewe regeer en diep gaan wegkruip in dié Vrede, wat alle verstand te bowe gaan. Hy gee genoeg wysheid vir die oomblik, genoeg krag vir die hele dag én deur Sy Gees herskep Hý my chaos in lig! Prys die Here! Want weet jy wat? Hy is goed – altyd!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 1 BLOG 3

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 1

BLOG 3

 

Ek het jare gelede ’n aanhaling uit ’n boek van die bekende evangelis, pastor, opvoeder en skrywer, R.A. Torrey (28 Oktober 1856 – 26 Oktober 1928) neergeskryf, wat my steeds aan die hart gryp: “Ek sidder vir diegene wat die Evangelie in sy eenvoud, in sy suiwerheid en in sy volheid verkondig, maar dit verkondig in oorredende woorde van menslike wysheid en nie in die betoning van Gees en krag nie, 1 Kor. 2:4. O, ‘n mens kan die gesondste en regsinnigste waarheid verkondig en sy gehoor tot in die hel preek. Die ergste vorm van dood op aarde is dooie regsinnigheid! Dit is nie genoeg dat ons die evangelie verkondig nie, nie genoeg dat ons dit in sy eenvoud, sy suiwerheid, sy volheid verkondig nie, maar ons moet dit verkondig in die krag van die Heilige Gees. En ons kan dit alleen doen vir sovér ons met die Heilige Gees gedoop is en vir sovér ons beslis keer op keer met Sy heerlike krag vervul is vir elke nuwe geval van Christelike diens.

 

Daar was darem maar iets buitengewoon aan die ou geloofsreuse se toewyding, nie waar nie? Dit laat my sommer terugdink aan die Ou Testamentiese geloofsreus, Dawid. Dié geliefde aanbidder, vurige krygsman, sterk leier en magtige koning het ook ‘n paar geestelike geheime verstaan, wat my steeds inspireer.

Toe die jong Dawid teen Goliat optrek het, was God met die totale destydse leër van Israel in ʼn verbondsverhouding. Tog het net Dawid met vertroue vanuit daardie verhouding opgetree. Toe hy in 1 Samuel 17:45, 47 uitgeroep het: “Jy kom na my toe met ʼn swaard en ʼn spies en ʼn kromswaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy beledig het… Die hele wêreld sal weet dat Israel ʼn God het. Almal sal weet dat die Here nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die Here sʼn en Hy sal julle in ons mag oorgee,” het hy vanuit God se krag opgetree en nie op sy eie vermoëns staatgemaak nie.

ʼn Lewe in en deur die krag van die Heilige Gees is vir almal wat Jesus ken, bedoel – ook vir jou en my. Ons moet net leer om op God se onbeperkte krag te vertrou! Hy kan baie meer doen as wat ons kan dink of bid!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 1 BLOG 2

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 1

BLOG 2

Niemand wat sy/haar lewe oorgee aan Heilige Gees verwag dat daar soveel op- en afdraandes gaan wees nie. Daar is sekere geestelike geheimenisse wat ons slegs op die toppe van berge leer en ander, wat ons net in die dieptes van die valleie ontdek. Daar is darem een heerlike troos: nie een van hierdie geestelike waarhede wat ons op reis na die ewigheid proefondervindelik ons eie maak, is waardeloos nie. Die lewe hier op aarde saam met Hom berei ons voor vir ʼn lewe, wat vir ewig gaan aanhou.

Ek lees weer die afgelope naweek hoedat die meisies in die harem saam met Ester enigiets kon kies vir hulle ontmoeting met koning Ahasveros. Dit moes ʼn baie belangrike keuse gewees het, want daardie enkele ontmoeting het hulle óf lewenslank in die byvroue se harem laat beland, of ʼn kandidaat vir die troon gemaak. En dan slaan die beeldskone jong Ester mens se asem weg met haar wysheid. Haar keuse vir ʼn uitrusting berus nie op haar eie smaak nie, sy vra Hegai, die haremopsigter wat die koning se smaak geken het, om vir haar ʼn uitrusting te kies, Ester 2:13, 15.

Dis toe dat ek bietjie nadink oor oor die spierwit klere, waarvan Openbaring praat, waarmee ek en jy in die ewigheid beklee gaan word. Hoofstuk 19:8 verduidelik dat dié pragtige, fyn linneklere ons regverdige dade is. Ek is seker dat Johannes nie hier verlossing deur werke verkondig nie, want hy lê gewoon teveel klem op die feit dat ʼn mens in Jesus moet glo om die ewige lewe te verkry. Dink maar aan tekste soos Johannes 1:12 en 3:16.

Johannes 5:28-29 kan mens egter weer besorgd laat wanneer jy lees dat Jesus self geleer het dat goeie dade tot die lewe lei en slegte dade tot oordeel. Hierdie vraagstuk het nie slegs akademiese waarde nie, want as ons dit verkeerd verstaan kan dit ʼn invloed op ons ewigheid hê! Gelukkig verskaf vers 24 die antwoord: Dit verseker Ek julle, wie My woorde hoor en vertrou op Hom wat my gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.

Die fyn, hemelse linnedrag van Openbaring 19 kan ook gelees word binne ʼn soortgelyke konteks in Openbaring 14:13, waar Johannes skryf dat diegene wat in Christus gesterf het se dade hulle volg. Ons word regverdig verklaar op grond van Christus se verlossingswerk, nie op grond van ons goeie dade nie! Johannes verwys na die werke wat ons gedoen het as in-Christus-mense!

Of jy tans op ʼn kruin is of onder in die vallei, moenie hoop verloor nie! Jy is ʼn in-Christus-mens en elke keer wanneer jy kies om vanuit jou verlossing op te tree, is jy ook besig om aan jou ewigheidsuitrusting te werk!

Elza

Share

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS WEEK 1 BLOG 1

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

WEEK 1

BLOG 1

 

Ek luister vanoggend na die getuienis van ‘n boer, wat aangedaan vertel van geleentheid ‘n paar jaar gelede toe hy die krag van God op sy plaas gesien het.

 

Dit was droog, maar toe die weer opsteek was dit van vér af duidelik dat die reën gaan skade bring. Die weer het van die verkeerde kant af gekom, menend reën uit daardie rigting dra gewoonlik hael en sterk wind. Elke omgewing het mos maar so ‘n verkeerde kant. Hy vertel die wind was geweldig sterk en hy en die arbeiders het in die stoor gaan skuiling soek. Die volgende oomblik het dit begin reën – groot druppels het in die stof geplof. En toe kom die hael. Die haelkorrels was so groot soos golfballe. Hulle was saaiboere en die mielies was pragtig en vol in die saad.

 

Hy het uitgehardloop in die reën en hael en God aangeroep. Met ‘n harde stem het hy na die God van die hemel en die aarde geroep: “Here, ek vra van U twee dinge: Stop asseblief die wind, sodat daar geen wind sal wees nie! En Here, verander asb. die hael in reën!” Terwyl die trane oor sy wange stroom, vertel hy verder. “Dit was seker so dertig sekondes toe verander die hael in reën! En die wind het gaan lê. Daar was geen wind nie!”

 

Hy vertel hoe een van die plaaswerkers, Ou Johannes, diep aangegryp is deur die gebeure. Hy het terwyl dit nog reën die trekker gevat en al met die lyndraad langs gery. Toe hy terugkom berig hy: “Nie een van ons mielies het seergekry nie! Nie een nie! Maar anderkant die draad, ai! Dit lyk sleg by die bure!”

 

En nog diep bewoë voeg die boer by: “Sê jy nou vir my hoe kan enigiemand wonder of God leef en of Hy ons hoor en verhoor as hy sien, wat ek gesien het?”

Elza

Share
1 2 3 4 30