Preekvoorstelle vir Dissipelskap

Week 1: God se verteenwoordigers.

Tema: Geskep om in gemeenskap met God te leef.
Perikoop: Gen. 1:25-28 en 3:1-9.
Skopus: God skep ons om in gemeenskap met Homself te leef, vry van enige vergelyking en kompetisie met ander mense.

Opmerkings oor die teks
Die doel van hierdie eerste boodskap is nie om streng net by die gelese perikope te bly, en dit uit te lê nie. In hierdie reeks van boodskappe oor dissipelskap, wil ons veral ook kyk na die breër verbande in die Skrif en na dit wat ons kan leer van God se bedoeling met die mens vanuit die hele openbaring.

Wanneer ons die gedeeltes lees, kan dit tog goed wees om net ‘n opmerking te maak oor die feit dat die doel van hierdie hoofstukke oor die skepping en die sondeval (soos ook baie ander gedeeltes in die Bybel), nie is om vir ons presiese, historiese of wetenskaplike feite oor die skepping te gee nie.

Hierdie verhale wil slegs vir ons sê DAT God die Skepper van hemel en aarde, en alles daarop is. Nie HOE hy geskep het nie. Dit wil ook vir ons vertel wat fout gegaan het in die verhouding tussen Skepper en skepsel. Daarvoor word verhaal van die tuin en die eet van die vrug gebruik. Dit gaan dus nie daaroor of daar regtig ‘n boom, ‘n vrug of ‘n slang was nie. Dit gaan oor dit wat verkeerd geloop het tussen God en mens.

Om meer agtergrond te kry oor dit wat ons met hierdie eerste boodskap wil bereik, lees die dagstukkies vir die week. Die gedagte is om ook die kernwaarhede daarvan in die preek uit te lig. Ek neem aan dat daar in elke gemeente ‘n klompie lidmate gaan wees wat nie noodwendig die dagstukkies op hulle eie deurwerk, en ook nie deel is van kleingroepe nie. Daar kan dus nie in die prediking veronderstel word dat die mense alreeds die kennis het van dit wat in die dagstukkies staan nie.

Voorstel vir ’n preek
Die bedoeling met die boodskap, is om iets van God se oorspronklike doel met die skepping van die mens weer te gee, en watter gevolge die mens se ongehoorsaamheid aan God vandag nog het.

Wie is die God wat skep?
Na die Skriflesing, kan begin word deur te verduidelik as ons die volle omvang van wat hier gedeel word oor die skepping van die mens, wil verstaan, moet ons eers probeer om ‘n idee te kry van wie die God is wat skep. Daarvoor het ons die getuienis van die hele Skrif, nie net Genesis nie.

Daar kan dan verduidelik word dat ons vir God in die Skrif leer ken as hierdie volmaakte wese, Vader, Seun en Heilige Gees wat geen begin en einde het nie. God leef in volmaakte gemeenskap tussen Vader, Seun en Gees. Volmaakte eenheid, harmonie en liefde. Daar kan dan uitgebrei word wat ons verder van die grootheid van God in die Skrif leer ken. Dat aan Hom al die lof, eer, aanbidding, wysheid, mag, rykom, ens behoort (Openb 5 en 7). Dat ons kan aanvaar dat hierdie volmaakte verhouding, dit is wat ons ook in Gal 5:22 van lees, die vrug van die Gees wat in volmaaktheid in God aanwesig is. Hierdie God het niks van niemand nodig nie, het geen behoeftes nie.

God skep ‘n mens na sy beeld, as sy verteenwoordiger.
Die tweede belangrike punt wat dan gemaak kan word, is dat die verrassende ding wat ons dan van die God lees, is dat Hy op ‘n punt besluit het om ‘n mens te skep (Gen 1:25-27), ‘n mens “soos Hy”, na sy beeld en gelykenis. Dit beteken ‘n mens wat ook in verhoudinge kan leef, kan liefhê, keuses kan maak, ens. Hierdie mens word as sy verteenwoordiger geskep. Die bedoeling is dat hierdie mens deel word van hierdie volmaakte gemeenskap tussen Vader, Seun en Gees, die volmaakte eenheid, harmonie en liefde.

God kan Homself egter nie dupliseer nie, daarom kan geen mens volledig “soos God” in sy volheid wees nie. Nee, elkeen ontvang unieke gawes, ‘n unieke persoonlikheid en vermoëns waardeur hulle God moet verteenwoordig. Die bedoeling is dat hulle uit hierdie alleroorvloedigste fontein van goedheid leef, uit sy oorvloed van dag tot dag versadig word en dan saam met Hom oor die skepping heers. Elkeen op sy of haar unieke manier, met hulle unieke gawes, almal in volmaakte onderwerping van God se wil en heerskappy. Almal erken Hom as Koning en dat net sy wil goed en reg is.

Hier kan ook genoem word dat dit is wat die Bybel bedoel met “God het hulle geseën”. Hy het die mens met Homself geseën, met die oorvloed van sy God-wees. Om deel te wees van die volmaakte gemeenskap tussen Vader, Seun en Gees is om in alle opsigte geseënd te wees.

Daar is dus by die mense geen afguns, jaloesie, vergelyking of kompetisie nie. Almal is 100% tevrede met wie hulle is, met hulle gawes en met die unieke manier waarop hulle vir God verteenwoordig. Dit was en is nog altyd God se bedoeling vir die mens.

Die versoeking.
Die volgende vreemde verhaal wat ons lees, is die van die versoeking. Hier kan maar net weer genoem word dat dit nie gaan oor of daar ‘n slang was wat kon praat of oor watter soort vrug dit was nie. Dit is totaal irrelevant. Wat saak maak is om te hoor wat die versoeking was, naamlik: Om soos God te wees deur goed en kwaad te ken.

Dit gaan dus daaroor dat hulle versoek word om nie langer as verteenwoordigers van God, onderworpe aan sy wil, te leef nie. Nee, hulle kan self “soos God” wees, klein godjies word in eie reg. Hier kan dan die kenmerke genoem word van ‘n verteenwoordiger: iemand wat die persoon wat hulle verteenwoordig se naam groot maak; wat sy belange dien; wat sy wil doen. Om nou self godjies te word, beteken dat jy nou jou eie naam kan grootmaak, jou eie belange kan dien en jou eie wil kan doen. Jy hoef net jouself te verteenwoordig. Dan kan jy eer, lof, aanbidding, rykdom, mag ens vir jouself toeëien.

Die versoeking was te groot vir die mens, gee daaraan toe. Gebruik dan weer die skets wat in die dagstukke voorkom om te wys hoe daar dan twee dinge in die wêreld inkom wat God nie geskep het nie, naamlik: vergelyking en kompetisie. Nou is mense nie meer tevrede hoe God hulle gemaak het nie. Nou begin hulle vergelyk om te sien wie is die mooiste, slimste, beste ens. Daarom kom daar ook kompetisie die wêreld in. Dit gee weer aanleiding tot jaloesie, agterdog, afguns, haat, oneerlikheid, ens.

Dit is die gemors wat veroorsaak is deur die mens se ongehoorsaamheid. Dit is ook wat vandag nog die meeste seer, pyn, misverstand, verkleinering, onreg ens in die wêreld veroorsaak – die feit dat almal so hard kompeteer om hulle eie name groot te maak, om hulle eie koninkryke te bou en hulle eie wil te laat geld; om net hulleself te verteenwoordig. Hierdie vergelyking en kompetisie begin al in ons voorskole en word dikwels deur ouers aangemoedig, sonder dat hulle besef dat hulle eintlik hulle kinders aanmoedig om self godjies te wees; en nie besig is om vir hulle te leer dat hulle eintlik verteenwoordigers van God is nie.

Hier kan dalk net genoem word dat dit in die Bybel, in God se koninkryk, glad nie gaan oor sukses of “bo uitkom” nie. Dit gaan slegs oor gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid mag lei tot ‘n lewe wat in die oë van die wêreld “suksesvol lyk”, maar dit is nie waaroor dit gaan nie. Dit kan ook lei tot ‘n lewe wat in die oë van die wêreld pateties en swak lyk, maar ook dit maak nie saak nie. God sal op die ou end daardeur verheerlik word.

Dit is en was egter nooit God se bedoeling vir ons nie, daarom kon Hy ons nie net so los nie. Dan sou Hy ontrou wees aan wie Hy is. Die res van die Bybel gaan dus daaroor om vir ons te vertel wat God gedoen het om weer van die mens ware verteenwoordigers van God te maak, dissipels, leerlinge, wat onderworpe is aan sy wil en gesag. Ons gaan in die volgende weke kortliks kyk hoe God dit gedoen het.

 

 

Week 2: Ek sal jou seën.

Tema: Iemand van groot betekenis.
Perikoop: Gen. 12:1-3 en 17:1-7.
Skopus: God se bedoeling om die mens te seën verander nooit. Hy wil steeds hê dat die mens weer sal deel word van die volmaakte gemeenskap wat bestaan tussen Vader, Seun en Heilige Gees, want dit is waarvoor hulle geskep is.

Opmerkings oor die teks
In hierdie boodskap wil ons veral die breë lyne dwarsdeur die Skrif trek en nie net by een of twee tekste stil staan nie. Wat wel na vore moet kom, is juis hoe die beloftes vanuit hierdie teskte deur die hele Skrif uiteindelik in vervulling gaan. Ons gaan dus na ‘n hele paar tekste verwys. Ek stel voor dat dit op ‘n powerpoint uitgetik word, sodat die vloei van die boodskap nie kort-kort onderbreek word deur in die Bybel rond te blaai nie.

Gee eers weer bietjie agtergrond. Die verhale wat vir ons in Genesis vertel word, dui daarop dat daar nou ‘n totale onvermoë was om volgens God se bedoeling te leef (Gen. 6:5-6).

God weier egter om op te gee om die mens met Homself en sy oorvloed te seën, daarom begin Hy van voor af. Hy roep vir Abram uit die heidendom en gee aan Hom beloftes wat vir almal na hom bedoel is.

Voorstel vir ’n preek
Maak eers ‘n paar opmerkings oor die agtergrond van die teks en oor die bedoeling van vandag se boodskap om te sien hoe hierdie beloftes uiteindelik in vervulling gaan. Daarom gaan na breë lyne in die Skrif kyk.

Lees dan die twee tekste:

Verduidelik dan dat ons God se hart vir elke mens hoor in die woorde van Gen 12:2b. “Ek sal jou seën en jou ‘n man (persoon) van groot betekenis maak.” Dit is hoe God is en dit is van die begin af sy bedoeling met die mens.

Om egter iemand van groot betekenis te wees onder die heerskappy van God, in sy koninkryk, lyk dalk baie anders as wat ons daaroor dink. Vir Abraham beteken dit dat hy die land, die plek, die mense waar hy waarskynlik ‘n naam en betekenis gehad het, moet agterlaat in gehoorsaamheid aan God. Hy moet dus sy eie naam, belang en wil prysgee om weer verteenwoordiger van God te word.

In Gen 17:1-7 verduidelik God dan eintlik vir Abraham hoé Hy hom gaan seën. Hy gaan dit doen deur vir hom en sy nageslag ‘n God te wees. Hierdie belofte staan nie los van die vorige een nie, want dit verduidelik in waarheid hoe God mense seën, deur vir hulle ‘n God te wees wat Homself, sy wysheid, sy insig, sy raad, sy liefde, sy genade, sy volheid, sy oorvloed met hulle deel. Hulle hoef nie op hulle eie te probeer oorleef en vir altyd te kompeteer nie. Hulle kan onder sy seën in gehoorsaamheid aan Hom leer leef. Hierdie is dan die belofte wat God sou waar maak, kom wat wil.

Hier kan dan vertel word hoe Israel telkens maar weer misluk het daarin om te leef as God se verteenwoordigers, dat hulle Hom net nie wou toelaat om vir hulle ‘n God te wees nie. Ten spyte daarvan het God male sonder tal na hulle teruggekom met die belofte. Kies ‘n paar van die tekste uit wat deur die OT na vore kom om uit te lig en te wys hoe God vasbeslote hieroor is. Wees ook versigtig om nie te veel aan te haal nie.

God wil naby sy kinders wees, tussen hulle.
Wys dan ook daarop dat God van die begin af die begeerte het om naby sy kinders te woon en te werk, as Immanuel. Hoe anders kan Hy hulle God wees. Daarom is een van die eerste bevele wat Moses ontvang toe hulle die tog deur die woestyn begin om die Ark te bou, die tent van ontmoeting. God se woonplek “tussen hulle”. Dit sou later vervang word met die tempel, die simbool van God se teenwoordigheid by sy volk, van waar Hy heers en regeer.

Die tragiese – Israel wou Hom nooit regtig toelaat om vir hulle ‘n God te wees nie. Bly afvallig en draai na afgode. Lei tot sterk waarskuwings deur die profete. Dan kom daar ‘n tyd wat die volk in ballingskap weggevoer word. Maar ook dan gee God nie op nie, die profete kom terug met die belofte: Jer 31, Eseg. 37 van ‘n tyd wat God sy Gees sal stuur om die wet op hulle harte te skryf, wat hy hulle sal reinig en dan: dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees! Dan sal hulle die seën van God se God-wees ervaar.

God kom nog nader.
Tog word nie waar in die OT. Net wanneer wil moedeloos word, lees ons vroeg in die NT: Joh. 1:14, die Woord het vlees geword en onder ons kom “tabernakel”, tent opslaan, woning maak. God kom nou nog nader, kom woon tussen sy kinders, want Hy wil hulle seën.

In Gal 3:13-14 som hy eers op wat Christus kom doen het en verduidelik hoe dit vir ons, wat nie Jode is nie, die moontlikheid geskep het om deel te kry aan die seën wat aan Abraham beloof is. Lees 3:13-14 en sê kortliks iets daaroor.

Dan lees ons hierdie ongelooflike, belangrike vers: ongeveer 2000 jaar na die belofte aan Abram gemaak is:

“God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling”, net een, en hierdie nakomeling is Christus. (Gal. 3:16).

Paulus pas dus hierdie belofte wat aan Abraham gegee is, toe op Christus, want in Christus het dit vir die eerste keer volledig waar geword. Christus is die eerste mens ooit wat volledig onder die seën van God geleef het, omdat Hy God toegelaat het om vir Hom ‘n God te wees. Hy is die eerste mens ooit wat volledig as verteenwoordiger van God op aarde geleef het.

Wat dan van ons? In Gal 3:29 sê Paulus wat van ons. “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God”. Watter belofte: Die belofte van seën, van iemand van betekenis, van “Ek sal vir jou ‘n God wees en jy sal vir my ‘n kind wees”. Dit alles word dan in en deur Christus vir ons waar.

God kom NOG nader.
Dit is dan wat op Pinksterdag gebeur, wanneer die Heilige Gees kom en volgens die beloftes van profete binne ons kom woning maak om vir ons weer deel te gee aan die volheid van God, aan die gemeenskap tussen Vader, Seun en Gees, aan dit waarvoor ons geskep is.

Ons het gesê om vir ons ‘n God te wees, wil God naby sy kinders wees. Hy het al nader en nader gekom: tabernakel, tempel, Jesus en nou binne ons deur sy Gees – alles om sy belofte van God-wees waar te maak.

Mense vra dikwels: waarom ervaar ek dit nie? Wil dan vra: waarmee is jy besig en waar is jou aandag? Is jy besig om te vergelyk en te kompeteer, besig om self ‘n godjie te probeer wees? Dan sal jy niks van sy teenwoordigheid en leiding ervaar nie, of baie min daarvan. Jy sien, Jesus het jou nie gered om hemel toe te gaan nie, maar om hier op aarde, nou, daar waar jy is, te leef as sy verteenwoordiger. En om dit te kan doen, moet jy leer om aan Hom aandag te gee, na Hom te luister, jouself in te stel op sy inwonende Gees wat gekom het om jou in die waarheid te lei. En onthou! Sy doel is om jou los te maak van vergelyking en kompetisie en jou te leer hoe om in gehoorsaamheid aan sy wil as sy dissipel te leef. Dit is waaroor dissipelskap gaan.

 

 

Week 3: Volmaakte Dissipel.

Tema: Jesus kom demonstreer die lewe van ‘n dissipel aan ons.
Perikoop: Joh. 4:34; 5:19-20; 12:49-50 en 17:4.
Skopus: Met hierdie boodskap wil ons probeer aantoon dat Jesus hier op aarde die volmaakte voorbeeld gestel het van hoe ‘n dissipel van die Vader moet leef.

Opmerkings oor die boodskap
In hierdie boodskap gaan ons veral kyk na die lewe van Jesus en hoe Hy geleef het as volmaakte verteenwoordiger van God. Om dit te kan doen, kan ons nie onsself net tot een perikoop beperk nie. Ons gaan eerder kyk na dit wat Jesus geleef en geleer het tydens sy openbare bediening. Daarom kyk ons na verskillende uitsprake wat Hy gemaak het, veral die waar Hy sy eie ingesteldheid, waardes en doelwitte gedeel het.

Voorstel vir ’n preek
Inleiding
Soms is dit goed om ‘n boodskap te begin met ‘n vraag wat mense laat nadink – daardeur kry jy onmiddellik hulle aandag. Begin dus met die vraag:

Waarom het Jesus ‘n mens geword? Jy sou selfs vir ‘n paar mense die geleentheid kon gee om hierop te antwoord as jy dink dit kan werk in julle gemeente.

Ek skat die meeste mense sal iets sê in die lyn van: “Hy het mens geword om in ons plek te kom sterf vir ons sonde, sodat ons gered kan word en eendag hemel toe gaan”. Jy kan in elk geval dit wat die mense sê kortliks saamvat en dit dan opsom met die gedagte hierbo genoem, dat dit die mees algemene siening is oor die vraag.

Jy kan dan verduidelik dat dit wel waar is, maar dat dit nie al is nie. Dit gaan beslis nie daaroor dat ons net gered moet word om eendag hemel toe te gaan nie. Wat gebeur dan intussen met ons lewens terwyl ons nog op aarde is, nadat ons nou gered is? Gaan ons dan maar net doodgewoon aan om te leef soos voor ons gered is met die enigste verskil dat ons nou weet dat ons hemel toe gaan? Moet ons dan net ‘n bietjie meer fatsoenlik probeer leef en darem ook gereeld kerk toe gaan, sel toe aan en dankoffer gee?

Maar wat het dit dan te doen met die plek waar ek elke dag werk (studeer of wat ook al) en die meeste van my tyd deurbring? Is ek daar maar nog altyd net besig om my eie ding te doen en te hard te werk sodat ek “kan goed doen vir myself?”

Verduidelik dan nog een van die redes waarom Jesus mens geword het, was om vir ons te kom wys hoe ‘n MENS nou, hier op aarde, kan leef as verteenwoordiger van God. Hy het kom demonstreer wat dit beteken om te sê: “Ek is ‘n verteenwoordiger van die lewende God, iemand wat toelaat dat God vir my ‘n God is en wat leef as sy gehoorsame kind.” Ons almal is baie bekend met Jesus se lewe en met al die verhale wat oor Hom vertel word, sowel as die wat Hyself vertel het. Ons is egter so goed bekend daarmee, dat ons soms baie belangrike aksente mis. Dit is waarop ons vandag wil fokus.

Kom ons gaan toets Jesus se lewe aan die kenmerke van ‘n verteenwoordiger. Wat is belangrik in die lewe van ‘n verteenwoordiger? Jy kan dalk ‘n paar voorbeelde noem, soos bv iemand wat die skool verteenwoordig, of ‘n sportspan, of sy provinsie of land. As daar heelwat kinders is, kan die kinders betrek word deur te vra wat word van jou verwag as jy die skool se uniform aanhet? Dan is daar veral drie goed wat belangrik is:

  1. Jy moet jou goed gedra, want dit gaan dan nie oor jou naam nie, maar oor die skool se naam. As jy jou wangedra sal die mense sê dit is ‘n kind van daardie skool wat so opgetree het.
  2. Jy moet ook die skool se belange op die hart dra. Alles in en om die skool, is die skool se eiendom. So jy kan nie maar daarmee maak wat jy wil en dit wegdra as jy wil nie. Daar sal van jou verwag word om dit op te pas en te beskerm.
  3. Jy kan ook nie maak soos jy wil nie. Die skool het reëls en daar sal van jou verwag word om daardie reëls te gehoorsaam.

Dit is dan wat belangrik is in die lewe van ‘n verteenwoordiger. Dit gaan nie oor sy eie naam nie; dit gaan nie oor sy eie belange nie; dit gaan nie oor sy eie wil nie. So, as ons wil sien of Jesus werklik ‘n goeie verteenwoordiger van die Vader was, moet ons gaan kyk of Hy volgens die beginsels geleef het.

Jesus se eer of die Vader se eer (naam).
Lees Joh. 7:16-18. Sien hier en oral deur die NT dat Jesus baie bewus daarvan was dat Hy ‘n gestuurde van die Vader was. Iemand wat optree as gestuurde, is ook dan ‘n verteenwoordiger. As ek my seun stuur om iets namens my te gaan doen, dan moet hy my verteenwoordig.

Hier maak Jesus dit baie duidelik dat dit nie vir Hom oor sy eie eer gaan nie, maar oor die eer (naam) van die Vader. Hy het nie gekom om vir Homself ‘n “naam” te probeer maak en hard probeer om vir almal aanvaarbaar te wees nie. So lank as wat Hy gehoorsaam aan die Vader was en Hy oortuig was dat die Vader se naam nie oneer deur sy optrede aangedoen word nie, was Hy tevrede. Selfs al het die mense Hom uitgeskel as ‘n vraat en ‘n wynsuiper, as ‘n vriend van tollenaars en sondaars, het dit vir Hom glad nie saak gemaak nie.

Kom ons dink net vir ‘n oomblik aan ons eie lewens as verteenwoordigers van God. Ons is ook gestuurdes. Jesus het aan die einde van sy lewe vir sy dissipels (en so ook aan alle toekomstige dissipels) gesê: “soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook… (Joh. 20:22).

In hoe ‘n mate staan jou eie naam vir jou voorop in jou lewe? Wat die mense van jou sê of dink? Hoe gereeld bepaal dit jou optrede?

Soek eers die Koninkryk van God.
Wat Jesus se ingesteldheid was teenoor aardse gerief en gemak, aardse besittings ens word baie mooi opgesom in sy gesprek met die skare in Mat. 6. Jy kan gedeeltes hiervan lees, of net aanhaal om dit uit te lig.

Jesus sê dan vir mense wat “eers die koninkryk van God soek”, is daar geen rede om besorg te wees oor kos, klere en besittings nie. Hoekom nie? Want hulle moet tog weet dat hulle alreeds deel is van die koninkryk van die Vader en dat hy vir hulle ‘n God sal wees; hy weet wat hulle alles nodig het. Hy het die mag om vir hulle alles te voorsien wat nodig is (nie noodwendig wat hulle wil hê nie), maar wat nodig is (vers 33).

Dis ook hoe Jesus geleef het. Self het Hy glad nie probeer om vir hom iets “op te bou” sodat Hy kan “goed doen vir Homself” nie. Jy kan die gedagte noem dat Hy vir ongeveer 15 jaar lank saam met sy Pa, Josef, gewerk het as skrynwerker. As Hy dan so effens soos ons was, soos die meeste mense vandag, sou Hy dan vir sy aardse Pa kon sê: “Pa, ons dink heeltemal te klein. Ons kan baie beter doen vir onsself. Kom ons maak nog meubelwinkels oop in Jerusalem en Betlehem? Waarom sal ons net hier in Nasaret bly? Hier gaan ons nêrens kom nie.”

Noem dan die gedagte dat dit vreemd klink om so oor Jesus te praat, want dit is nie waarvoor Hy na die aarde gekom het nie. Maar dit is ook nie waarvoor ons op aarde is nie. Net soos Hy, is ons ook verteenwoordigers van God wat nie geroep word om vir onsself te leef nie, maar vir Hom wat sy lewe vir ons afgelê het (2 Kor. 5:15).

Jy kan dan moontlik hier bietjie uitbrei en ‘n paar vrae vra oor watter rol speel die bou van ‘n eie koninkryk in elke persoon se beplanning en manier van lewe.

Doen die wil van die Vader.
Lees Joh 4:34 en 5:19-20.

In H 4:34 sê Jesus dit is sy voedsel om die wil van die Vader te doen. Jy kan vra wat is die funksie van voedsel? Dit gee energie, dis ‘n bron van energie. Jesus sê dit gee vir Hom energie om te weet dat Hy die wil van die Vader doen en daarmee saam, is dit sy passie om die werk te voltooi wat Hy van die Vader ontvang het.

Hier kan jy dan eers vra: Met wie se werk is jy besig van dag tot dag? Is dit ook jou passie om die werk te voltooi wat jy van die Vader ontvang het? Of is dit jou enigste passie om jou eie koninkryk op te bou en goed te doen vir jouself? ‘n Dissipel van die Vader se voedsel is om die wil van die Vader te doen.

Nou is daar baie mense wat vra: Maar hoe kan ek weet wat is die wil van die Vader vir my? Hoe kan ek weet wat verwag Hy van my? Dit is op die ou end glad nie so ingewikkeld as wat baie mense dink nie. Al wat dit vra, is om te leer aandag gee. Aandag waaraan?

Dis wat Jesus in Joh 5:19-20 sê. Die Seun doen NIKS uit sy eie nie. Hy doen net wat Hy die Vader sien doen. Wow! Jesus, die Seun van God, doen NIKS uit sy eie nie. Waar is sy aandag? By die Vader. Hy gee tyd daarvoor om te probeer agterkom wat op die Vader se hart is.

Hier kan dan iets gesê word oor die dissiplines in Jesus se lewe, van een kant gaan om te gaan stil word met die Vader.

Jesus het dus nie net ‘n “bloudruk” van die vader ontvang van wat Hy moet kom doen nie. Hy het ook daagliks by die Vader gehoor en probeer agterkom wat is vandag op die Vader se hart. Wat wil Hy vandag doen? Baie gelowiges dink dit gaan oor ‘n “bloudruk” van watter werk hulle waar moet gaan doen. Dit is glad nie al waaroor die “wil van God” gaan nie. Dit is God se wil dat jy sal leer om daar waar jy is van dag tot dag, daar by jou werk, by jou skool, daar waar jy jou bevind, Hom sal verteenwoordig. Dat jy daar sal leef met ‘n ingesteldheid van: Wat is U besig om hier te doen? Hoe wil U my deel daarvan maak? Om daar net te doen wat jy die Vader sien doen. Dit is wat dit beteken om in die wil van God te leef. Dan word jou lewe nie bepaal deur jou eie wil en begeertes nie.

Weer kan jy deur ‘n paar vrae probeer vasstel watter rol elkeen se eie wil en begeertes nog in hulle daaglikse lewe speel.

Som op:
So daar het ons dit, baie duidelik. So leef ‘n verteenwoordiger van God.

Aan die einde van sy lewe som Jesus dit alles op in sy laaste gebed vir sy dissipels in Joh 17:4.

Vader ek het verheerlik (dit is wat ‘n verteenwoordiger doen – hulle verheerlik die Vader se Naam, nie hulle eie nie). Dit is ons primere doel op aarde, om Hom te verheerlik.

Hoe doen mens dit? Hoe verheerlik mens die Vader? Deur deel te neem aan lofsang waar sy naam grootgemaak en geprys word? Dit miskien ook, maar dit is nie wat Jesus hier uitlig nie. Hy sê: “Ek het U verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen”. Dit is hoe mens die Vader verheerlik, verteenwoordig. Deur die werk te voltooi wat Hy vir jou gegee het om te doen. As jy besig is met werk wat net gaan oor jou eie planne, wil en begeertes en die naam, koninkryk en wil van God kom nooit eers ter sprake by jou werk nie, wie word dan deur jou werk verheerlik? Net jyself?

Wie word dus geroep vir die lewe van dissipelskap? Net sekere mense, net die wat daardie bietjie ekstra wil doen? Nee, alle mense. Almal word geroep om weer te beantwoord aan die doel waarvoor God ons oorspronklik geskep is, soos ons dit in Gen 1:27 al gehoor het – as verteenwoordigers van God.

 

 

Week 4: Lewe in oorvloed.

Tema: Jesus gee vir ons weer deel aan God se oorvloed.
Perikoop: Joh. 10:1-10.
Skopus: Met hierdie boodskap wil ons probeer aantoon dat Jesus oa ook na die aarde gekom het om vir ons weer deel te gee aan die oorvloed van God wat ons agv die sondeval verloor het.

Opmerkings oor die boodskap
Hierdie boodskap fokus meer op die tema van “oorvloed” as net op een teks. Daarom gaan dit nie soseer oor die uitleg net van Johannes 10 nie, maar om in die breër verband van die Skrif aan te toon dat dit op God se hart is om vir ons weer te laat deel kry aan Homself en sy oorvloed.

Lees dus weer die dagstukkies van die week om daar ook ‘n idee te kry van wat die mense alreeds gedoen het, en wat bedoel word met God se oorvloed.

Voorstel vir ’n preek
Ons bedoeling is om te begin deur by die hoorder in indruk te skep van wat bedoel word “oorvloed” wanneer daaroor gepraat word as iets wat God met ons wil deel.

Daar kan begin word deur inleidend te verduidelik dat wanneer die Skrif ook al oor God praat, dit gedoen word in terme van oorvloed.

Dwarsdeur die Skrif, kom ons onder die indruk van die oorvloed van God se liefde, van sy goedheid, van sy omgee, van sy ontferming, van sy genade, van sy guns.

Psalm 65:12 – U kroon die jaar met u goeie gawes, oral waar U gaan is daar oorvloed.

Wanneer die OT praat oor hoe God is, klink dit soos ‘n refrein oor en oor op: Want U is genadig, barmhartig en vol van liefde!” (Psalm 145:8).

Jona sê oa vir God: “Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het” Jona 4:2.

Psalms 118 en 136, wat baie gereeld deur Israel gesing het, het die refrein: “want aan sy liefde is daar geen einde nie”, wat oor en oor herhaal word.

Die woord wat hier in die oorspronklike taal gebruik word, is die woord “Hesed”, wat ‘n baie voller en ryker woord as die woord liefde is. Dit beskryf God se goeheid, sy guns, sy omgee, sy genade, sy skoonheid – in kort: dit omskryf iets van die “oorvloed” van God. Dit word ook dikwels met die woord “trou” vertaal.

As die verlore seun by die varkhok sit, dan onthou hy dat sy pa se huurlinge, ‘n oorvloed (oorgenoeg kos) het.

Dis veral in die NT waar die gelowiges al meer en meer onder die indruk gekom het van die feit, dat hierdie “oorvloed” niks te doen het met aardse rykdom en gemak, met weelde nie. Dit gaan oor wie God is en hoe Hy vir sy kinders is. Daarom kan Paulus die volgende sê:

2 Kor 6:8-11. Lees die gedeelte.

Dit gaan dus veral ook oor ‘n oorvloed van “lewe”, van ‘n sekere kwaliteit van lewe wat God deel met sy kinders.

Ons kom onder die indruk hiervan as ons Openb 21 en 22 lees. Die beelde wat in Openb 21 gebruik word, getuig alles van God se oorvloed. Dan praat H 22 van die rivier met die water van die lewe. Dit stroom uit die troon van die Lam van God, langsaan staan die boom van die lewe wat 12 keer ‘n jaar vrugte dra, onophoudelik – weer eens ‘n simbool van oorvloed. In die blare van die boom is daar genesing vir die nasies. In sy oorvloed, kom daar dus heelheid, herstel en volkomenheid, word die lewe wat God in Homself besit, weer gedeel met sy kinders.

TOTALE VERLIES SKEP DORS.

Dit is wat die mens verloor het deur sy rug op God te draai. Voor die sondeval het die mens spontaan gedeel in hierdie oorvloed agv die intieme gemeenskap met God waarvan Hy deel was.

Die verlies aan die oorvloed het egter van die mens iemand gemaak wat geweldig dors is – wat weer dors na dit wat hulle verloor het. Ons lees ook net so gereeld van hierdie dors in die Bybel. Van die volgende tekste kan aangehaal word.

Psalm 42:2; 63:1; 143:6; Jes 55:1-3; Joh. 7:37-39. Openb 22:17.

Augustinus kan dalk aangehaal word: God het ons vir Homself geskep en ons sal nie rus vind voordat ons dit nie in Hom gevind het nie.

DIE HERDER WYS DIE PAD AAN.

Wanneer God dus weer met die mens bemoeienis maak, dan gaan dit nie daaroor om vir hulle in die eerste plek net ‘n gemaklike, gerieflike lewe hier op aarde te verseker nie. Dit gaan daaroor dat Hy weer hierdie dors wil les. Hy wil hulle weer laat deel aan die oorvloed van sy Persoon.

Dit is waarom Jesus hier kan sê: Die dief kom net om te steel, … maar ek het gekom sodat julle lewe kan hê en dit in oorvloed.

Hierdie lewe in oorvloed, is gekoppel aan ‘n lewe van dissipelskap, van navolging, van ‘n skaap wees vir die Herder. Hy is die Goeie Herder wat weet wat sy skape nodig het. Hy kan en weet hoe om hulle te versorg. Dit het die Jode alreeds geweet vanuit Psalm 23. Jesus sluit dus by die bekende beeld aan om weer klem te lê daarop dat sy skape sy stem moet leer ken en Hom moet volg. Dit is al manier waarop hulle kan deel verkry aan sy oorvloed.

Hier kan die beeld van die Herder wat in die midde-ooste voor sy skape uitloop, dalk verduidelik word. Dit is werklik daar so dat die skape die herder se stem ken, dat hy hulle op hulle name roep en dat hulle net op sy stem reageer. Hulle word dus nie aangejaag nie, maar hulle volg die herder wat hulle lei na die beste weiplekke en na water toe. Dit is ook die volmaakte beeld van dissipelskap en navolging.

Die skape moet egter bewus wees daarvan dat daar ook baie ander stemme is, stemme wat ander beloftes maak. Beloftes wat inspeel op ons dors, maar wat dit op ‘n manier wil les wat ons eintlik net gaan besteel en beroof, ons lewens gaan verwoes. Daarom is dit net so belangrik om agter te kom wat die motief is van die rowers, wat wil steel en slag.

TOEPASSING

Hier kan gevra word wat elkeen doen om hulle dors te probeer les. Almal is bewus daarvan dat hulle dors is, maar baie besef nie dat dit ‘n dors na God is nie en probeer die dors les met ander dinge: besittings, geld, vermaak, prestige, prestasies, ens.

Gebruik dan die geleentheid om mense opnuut uit te nooi om te commit tot ‘n lewe van dissipelskap. Noem dat dit belangrik is om te verstaan dat dit nie gaan oor bloot “groter betrokkenheid by die kerk” of deur net “in te skakel by ‘n kleingroep nie”. Nee, om die Herder te begin volg, gaan daaroor dat jy jou totale lewe in sy hande oorgee; alles wat jy besit en alles wat jy doen, kom onder sy leiding. Jy commit dus tot ‘n lewe van navolging, van onderskeiding van dit waarmee God elke dag besig is. God is elke dag besig om Homself en sy oorvloed, sy egte, ware lewe, met jou te deel. Jy sal egter min daarvan ervaar as al jou aandag opgeneem word deur ander goed waarmee jy jou dors probeer les; dinge wat moontlik besig kan wees om jou lewe te verwoes.

 

 

Week 5: Waak oor jou hart.

Tema: Jou “hart” se inhoud bepaal jou hele lewe.
Perikoop: Spr 4:20-27.
Skopus: Met hierdie boodskap wil ons die belangrikheid daarvan beklemtoon om bewus te wees van dit wat in jou hart aangaan en hoe dit jou lewe raak.

Opmerkings oor die boodskap
In die boodskap gaan dit oor die belangrikheid daarvan om te leer om “met aandag te lewe”. Dit wil sê dat jy so moet leer lewe sodat jy ten volle “bewus is van dit wat in en rondom jou gebeur”. Om met groter bewustheid te lewe van dit wat werklik jou optredes, keuses en lewe bepaal. Dit gebeur maklik dat mens opgevang word in die “ratrace” en later net so besig raak, dat hulle as’t ware “geleef word” in plaas daarvan om te lewe.

Spreuke is deel van die wysheidsliteratuur, wat juis vir ons raad wil gee oor dit wat regtig saak maak in die lewe. Wat dit beteken om met wysheid te lewe. Dirkie Smit wys daarop dat die Heilige Gees en wysheid in die OT tradisies feitlik sinonieme is (Wat sien ons in Spieël? Bl. 13).

Let op hoe die volgende begrippe in die teks onderstreep en beklemtoon word:

  • Hoor; luister goed – oproep om aandag te gee.
  • Moenie vergeet nie, hou dit in gedagte – die belangrikheid daarvan om dit toe te pas in jou lewe, nie net kennis te neem en weer aan te gaan met jou lewe nie.
  • Dit beteken lewe, ‘n volle lewe – hier kan weer verwys word na die “lewe in oorvloed” van die vorige week.
  • Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan. Die kern van wat hier staan, dit wat veral belangrik is.
  • Hou koers! Oë op die pad vorentoe, kyk reguit vorentoe, baken koers af; moenie afdraai nie; weerhou jou van die verkeerde koers.

Voorstel vir ’n preek

Inleiding.
Daar kan begin word deur iets te sê oor die “spoed” waarteen mense vandag leef. Hoe vinnig die internet, die ontwikkeling van slimfone en tablette ons lewens gemaak het. Daar is net nie meer tyd om “af te skakel” nie. Om nie dadelik te reageer op ‘n boodskap nie, kan jou ‘n klomp geld kos, want iemand anders mag jou voorspring. Jy mag ‘n transaksie verloor of ‘n geleentheid laat verbygaan.

Die wêreld waarin ons leef, vra nie ons aandag op ‘n mooi, ordentlike manier nie. Dit word eenvoudig opgeeis. Luister nou na my of jy bly agter!

Mense het eenvoudig nie tyd nie. Hulle het nie tyd vir “stil word” en nadenke nie. Baie mense sal bv sê dat hulle graag wil, maar regtig nie tyd het om elke dag “stiltetyd” te hou nie. Dit vat net te veel tyd.

Gee aandag!
Teenoor hierdie dolle gejaag, kom hierdie antieke skrywer na vore met ‘n baie belangrike stukkie wysheid. Hy is van mening dat dit belangrik is om aandag te gee en te luister, om bewus te wees van dit wat in en rondom jou gebeur. Veral van dit wat in jou hart aangaan – want dit BEPAAL JOU HELE LEWE! Dis nogal ‘n groot ding om te sê.

Ek wil beweer dat as ons werklik verlang daarna om dissipels te wees van Jesus Christus, Hom werklik wil navolg met erns, dan is hierdie teks van wesenlik belang. Ons moet dit hoor en toepas. Wat eintlik hier van ons gevra word is om te leer om “stadiger te leef”, om “met meer aandag te leef”. As ons dit nie doen nie, dan word ons dissipels van baie ander dinge wat ons najaag, maar wat ook daartoe lei dat ons die pad van navolging van Christus byster raak.

Robert Wicks vra oa die vraag: “How practical is it to run as fast you can without taking time to pick up your head and see where you are going?” (RJ Wicks, Simple Changes, 2000: bl. 52).

Die gedagte wat hier beklemtoon word, het ook ‘n baie belangrike rol gespeel by die sg. woestynvaders. Hierdie manne en vroue het in die vierde eeu nC hulleself onttrek in die woestyn, om daar die verwêreldliking wat deel van die kerk geword het, nadat Konstantyn die kerk tot staatskerk verklaar het, te ontvlug. Hulle het gereken dat hulle die wêreld kan ontvlug, maar gou agtergekom dat die “wêreld” hulle in hulle gedagtes gevolg het in die woestyn in.

Daar het hulle dus geleer hoe belangrik mens se gedagte wêreld is. Hulle het geleer hoe belangrik dit is om toe te pas wat hierdie teks sê, nl om te waak oor jou hart (soos hulle dit uitgedruk het).

Om dit anders te stel, hulle het agtergekom dat “gedagtes saak maak” en dat dit wat Jakobus sê baie waar is. Elke versoeking begin by ‘n gedagte of begeerte (1:14-15). Hulle het agtergekom dat die proses min of meer soos volg verloop.

“Ons kan dit as volg opsom:

  1. Eerste gedagte (ontstaan bv agv eksterne prikkel).
  2. Word gevolg deur nog `n gedagte, wat lei tot `n derde gedagte, sodoende word dit `n trein van gedagtes.
  3. Die gedagtes gaan oor in `n gevoel of emosie.
  4. Die gevoelens gee aanleiding tot allerhande begeertes (bv vir besittings, kos, seks, wraak, ens).
  5. Dit word dan mettertyd `n passie om die begeerte `n werklikheid te laat word.

Die insig wat die woestynvaders hieruit gekry het, is dat dit baie moeiliker is om `n passie teen te staan as `n gedagte. As `n nuwe gedagte na vore kom, wanneer `n indruk nog jonk is en pas na vore gekom het, dan is dit nog maklik om dit te hanteer. Dit behoort tog redelik duidelik te wees dat as jy bogenoemde proses wil teenstaan, dit baie makliker sal wees om daardie eerste gedagte te eien en te hanteer, eerder as om te wag totdat dit gegroei het tot `n volwaardige passie wat jou lewe verteer. Op die vlak van `n begeerte is dit alreeds `n stryd om die gedagtes te verminder of om daarop te reageer. Op die vlak van `n volwaardige passie, is die energie so sterk dat dit bykans onmoontlik is om dit te weerstaan. Juis daarom het hulle so `n groot klem gelê daarop dat daar gewaak moet word oor die hart. Dit is dan ook presies wat ons in Spreuke 4:23 leer. Dit is van die allergrootste belang om te waak oor dit wat in jou hart omgaan, “want dit bepaal jou hele lewe.” (Deon Loots, Die Wil van ‘n Dissipel, bl 34).

Dit wat “in ons harte omgaan” begin alles by ‘n gedagte. Daarom moet ons leer om bewus te word van die gedagtes wat by ons opkom. Ons moet leer om hierdie gedagtes te onderskei, sodat dit nie al groeiend oorgaan in begeertes en later passies word waarteenoor ons “magteloos” staan nie.

Dit beteken natuurlik nie dat alle gedagtes wat by ons opkom ons op die verkeerde pad sal lei nie. Daar is ook gedagtes wat van God af kom, wat Hy onder ons aandag wil bring. Juis daarom is dit so belangrik om te leer onderskei waarvandaan kom elke gedagte. Om die oorsprong van die gedagtes te onderskei, is die volgende vrae dan gevra:

  1. Waarvandaan kom dit?
  2. Waarheen lei dit?
  3. Waar is God in dit?

As die eerlike beantwoording van die vrae, nie daarop dui dat dit van God af kom en dat Hy besig is om iets aan my uit te wys nie, dan kan dit weerstaan en afgesny word. So word daar dan gewaak oor jou hart – of is jy versigtig met dit wat in jou hart omgaan.

Hoe belangrik is dit vir jou?
So, al wat jy eintlik dan nog vir jouself moet afvra is: Hoe belangrik is dit vir my om ‘n dissipel van Jesus Christus te wees? Wil ek Hom regtig navolg?

Indien my antwoord op die vraag ‘n “Ja” is, dan het ek nie eintlik ‘n ander keuse as om te leer om versigtig te wees met dit wat in my hart omgaan nie. As ek dit nie doen nie, gaan ek verseker eerder ‘n dissipel van iets of iemand anders word.

Net so belangrik is dat ons weer sal gaan dink oor wat stiltetyd regtig is. Wat my aan betref, is stiltetyd nie “iets wat jy doen” naamlik “Bybel lees en bid” omdat dit iets is wat dissipels “behoort” te doen nie.

Stiltetyd is ‘n tyd van refleksie en nadenke in die teenwoordigheid van God, waar ek bewus probeer word van dit waarmee Hy besig is in my lewe. Natuurlik speel die Skrif ‘n belangrike rol in hierdie stilword en nadenke, want die Gees van wysheid werk deur die Woord. Dis ‘n ontmoeting waar ek myself, met al my beperkinge en onkunde, kan oopstel en blootstel aan die Grootste Intelligensie wat bestaan; aan die Bron van alle wysheid; aan die beste Raadsman wat daar is; aan die grootste Bron van krag wat bestaan; aan die enigste ware Lig wat is, wat belowe het dat Hy sy lig oor my lewe sal laat skyn; aan die Bron van ware, egte LEWE.

Dit is ‘n tyd waar ek my hart voor Hom kan oopmaak en vir Hom kan vra om my bewus te maak van wat regtig in my hart omgaan; om my bedekte motiewe en my verskuilde begeertes aan myself te ontbloot. Dit is ‘n tyd waar ek leer om versigtig om te gaan met dit wat in my hart leef.

Ek het eenvoudig nie tyd daarvoor nie.
Die opmerking hoor ek gereeld, maar kan slegs deur mense gemaak word wat nog nie agtergekom het wat dit inhou om met God te ontmoet en om ‘n lewe van onderskeiding te leef nie. Die wat dit wel leer ken het, sal weet dat niks jou meer tyd spaar, jou meer onnodige moeite spaar, jou meer verdriet spaar, jou die vermorsing van onnodige energie spaar as die insette van die Gees van wysheid nie. Hy ken die koers en wys die pad aan en weerhou jou daarvan om afdraaipaaie te neem wat baie geld en tyd kan kos!

Waarom wag jy nog? Jy kan kies, ‘n lewe waar jy leer om versigtig te wees met dit wat in jou hart omgaan, met ‘n vaste koers wat deur God bepaal word; of ‘n lewe waar jou hart oorlaai word met die sorge en die versoekings van die lewe en die lewe so bietjie vir bietjie uit jou tap.

 

 

Week 6: Dissipelskap vra ‘n kruis.

Tema: Neem jou kruis op en volg My.
Perikoop: Lukas 14:25-33.
Skopus: Met hierdie boodskap wil ons probeer verduidelik wat Jesus daarmee bedoel het dat niemand sy dissipel kan wees as “hy nie sy kruis opneem en Hom volg nie.”

Opmerkings oor die boodskap
Lees weer die dagstukke van die week goed deur om die agtergrond te kry van waaroor dit regtig gaan.

In hierdie gedeelte gaan dit oor die hart van dissipelskap of navolging. Jesus probeer hier verduidelik wat dit vir mense (ons almal) sal “kos” as ons Hom wil volg. Hy verduidelik dit deur ‘n beeld te gebruik wat vir die mense van sy tyd baie bekend was, naamlik die beeld van “kruis dra”. Jesus het in al sy gelykenisse, boodskappe, lering, gebruik gemaak van alledaagse beelde en simbole wat die mense geken het. So doen hy ook hier.

Die mense van sy tyd sou baie goed verstaan wat is die “lot” van iemand wat ‘n “kruis opgeneem” het. Dit sal nie vreemd wees as daar op daardie oomblik iemand met ‘n kruis op sy skouers by hulle verby gestap het nie. Kruisiging was immers ‘n baie algemene praktyk in daardie tyd.

Vir so iemand, is daar net een werklikheid: binne ‘n paar ure sal hy sterf. Daar is geen toekoms meer oor nie.

Ek glo dat Jesus deur hierdie beeld probeer aandui, dat dit onmoontlik is om Hom te volg as die mens wat sy rug op Hom gedraai het in ‘n poging om “self ‘n godjie te wees”, nie daardie lewe wat hulle vir hulleself probeer skep het, afsterf nie.

Ons het tot nou toe al aangetoon dat die lewe wat die gevalle mens self probeer skep het, daarin bestaan dat hulle nie langer “verteenwoordigers” van God wou wees nie, maar “self soos God” wou wees.

Dit beteken dat almal van ons agv hierdie afwyking nie langer daarop ingestel is om:

  1. in die eerste plek God se Naam groot te maak nie, maar ons eie naam probeer vestig. Ons probeer aandag trek om vir onsself ‘n “naam” te maak.
  2. Ons is nie langer tevrede om God se koninkryk te dien as “mede-heersers” wat net doen wat die Vader sê nie; maar ons probeer vir onsself ‘n koninkryk opbou wat ons ons sekuriteit verskaf, wat aan ons ‘n toekoms verseker soos ons dit verstaan; wat aan ons rykdom en mag gee.
  3. Ons is ook nie langer daarop ingestel om net die wil van die Vader te doen nie. Ons geneigdheid is eerder om ons lewens te bou rondom ons eie planne en ambisies en vir God daarby te probeer betrek.

As dit dus gaan oor “kruis opneem” of oor “sterf aan jouself”, dan gaan dit veral oor hierdie drie dinge. Dit is wat in die pad staan van navolging en dissipelskap. Dit is die rede (glo ek), waarom Jesus sy dissipels die Onse Vader leer bid het. Hierdie gebed begin met ‘n oorgawe aan God se Naam, aan God se koninkryk en aan God se wil. In ander woorde, dit begin elke keer weer met ‘n sterf van die self.

Voorstel vir ’n preek
Met hierdie boodskap wil ons graag bg gedagtes op ‘n praktiese wyse probeer oordra.

Inleidend kan daar dus verduidelik word wat bedoel word met “kruis opneem en agter My aan kom”.

Jy kan ook moontlik die beeld gebruik wat in die dagstukke voorkom van God wat in een rigting beweeg; en ons wat van geboorte af in die teenoorgestelde rigting beweeg. Nou sê Jesus: as jy agter My aan wil kom, moet jy omdraai, ophou met die manier van lewe wat jy aangeleer het; agter My aan kom en My volg. Jy moet jou onderwerp aan my heerskappy (deel word van My koninkryk). Jy moet leer om My te gehoorsaam en sodoende My wil leer doen.

Jy kan dan uitbrei oor wat dit prakties sou kon beteken om te sterf aan jou naam, jou koninkryk, jou wil nav die gedagtes wat ook in die dagstukke genoem word.

Om af te sluit.
As jy met die gedeelte afsluit, is dit belangrik om ook mense se grootste vrese te konfronteer. Jy kan dan sê dat jy jou kan voorstel dat hierdie boodskap vir baie mense ietwat bedreigend klink; dat dit hulle bang maak oor die toekoms. Wat sal gebeur as hulle hulleself werklik op die manier aan God “oorgee”. Sê bv dat jy jouself kan voorstel dat hier ‘n hele paar mense sit met die gedagte: “sê nou net ek doen dit en môre of oormôre vra die Here van my om ‘n sendeling in Afghanistan te word! Ek sien nie kans daarvoor nie!”

Sê dan: “Jy kan maar ontspan! God sien ook nie kans daarvoor nie!” God is nie “stupid” nie en werk ook nie op ‘n onverantwoordelike manier met sy kinders nie.

Verduidelik dan dat hierdie gedagte baie algemeen is en sy oorsprong het by ‘n verwronge beeld van wie God is. Dat Hy een of ander gemene Persoon is wat jou lewe heeltemal sal opmors as jy dit aan Hom oorgee! Of jou lewe heeltemal hel gaan maak.

God word egter aan ons oa aan ons voorgehou as ‘n liefdevolle Vader. Geen liefdevolle Vader sal so werk met sy kinders nie. Gebruik dan die beeld van ‘n Pa of Ma wat vir ‘n vierjarige kind werk uitdeel. Sal so ‘n ouer aan die kind vra: “neem gou die motor en gaan koop vir my ‘n paar goedjies by die winkel”. Nee, glad nie! Die ouers is mos nie so dom of onnosel nie. Hulle weet watter tipe take om aan hulle kinders te gee wat hulle kan behartig en ook wat hulle kan geniet om te doen. Hoeveel te meer dan nie die alwyse God en Vader wat ons geskep het, wat self aan ons gawes en ‘n persoonlikheid gegee het, wat weet hoe en waar Hy ons die beste kan gebruik nie.

Al wat God vra, is dat jy Hom sal vertrou as Vader. As die Een wat jou geskep het met ‘n doel. Dat jy sal aanvaar dat hy ook vir jou lewe ‘n doel het en dat jy daardie doel net kan bereik as jy jouself oorgee om in gehoorsaamheid aan Hom te lewe en van dag tot dag doen wat Hy van jou vra. Die meeste van ons is heel waarskynlik alreeds op die plekke waar God ons nodig het. Al wat Hy van jou vra is dan om daar waar jy is sy Naam groot te maak, sy Koninkryk te verteenwoordig en sy wil te doen. Jy moet leer om na sy belange om te sien, om op te tree as verteenwoordiger van die lewende God. Dit is die manier hoe God Homself in die wêreld wil bekend stel, deur sy kinders wat oral oor werk en leef.

Dit mag wel ook wees dat God van sommige van ons vra om te skuif om een of ander rede. Dit sal egter nie kom met ‘n skielike opdrag wat jy soos ‘n “bliksemstraal uit die hemel” ontvang nie. Dit sal alleen duidelik word as jy leer om met jou aandag op God gefokus te leef van dag tot dag. As jy leer om te onderskei waarmee God besig is en wat Hy deurlopend van jou vra.

 

 

Week 7: Dissipelskap maak jou vry vir God se visie.

Tema: Wy jou lewe aan die goeie dade wat God vir jou voorberei het.
Perikoop: Ef. 2:1-10.
Skopus: Met hierdie boodskap wil ons aantoon dat oorgawe aan God se heerskappy in jou lewe op ‘n plek bring waar jy vry is van vergelyking en kompetisie. Jy kan dan jou lewe wy aan dit wat God self vir jou in gedagte het.

Opmerkings oor die boodskap
Lees weer die dagstukke van die week goed deur om die agtergrond te kry van waaroor dit die week gaan.

Belangrike aksente in die teks:

2:1-3 Die mens sonder Christus het geen “vrye wil” nie, maar ‘n wil wat verslaaf is aan die sonde. Dit is net Christus wat ons vry kan maak van die verslaafdheid, sodat ons dan weer in vryheid die regte keuses kan maak.

2:4 Die woorde: “maar God”, kom telkens in die Skrif voor om aan te toon hoe God weier om die mens oor te gee aan die sonde en die mag daarvan. Sy genade is te groot daarvoor en word gemotiveer deur sy oneindige liefde.

2:5 Belangrik is die regte verstaan van die begrippe dood en lewe. Om sonder Christus te wees, afgesny van Hom en besig met jou eie ding, is om “dood” te wees. Daar is geen ware lewe, die volheid van lewe soos God dit bedoel het nie. Daarom ontvang ons nuwe “lewe” wanneer die gemeenskap met Hom as die Bron van Lewe herstel word.

2:6 “Hemel” dui nie noodwendig een of ander plek aan “waar God op oomblik, iewers in die heelal, woon nie”. Hemel moet eerder gesien word as ‘n aanduiding van God se teenwoordigheid, daar waar Hy heers en waar sy wil geld. Daarom kan daar nou al iets van die “hemel” in jou lewe waar word, as jy oorgee aan sy sorg en leiding.

2:10 Hier staan letterlik dat ons deel is van sy “vakmanskap”. Soos ‘n goeie vakman, het Hy ons met ‘n doel geskep, gevorm na sy wil. Hier dui dit veral op die herskepping in Christus, sodat dit wat verword het deur die sonde, weer herstel kan word.

Voorstel vir ’n preek
In die gedeelte kan weer aangesluit word by die gevolg wat die sondeval op ons almal gehad het; dat dit ons in ‘n wêreld gedompel het waar dit gaan oor vergelyking en kompetisie. Almal probeer “suksesvol” wees, die beste wees, “soos God wees” om vir hulleself ‘n naam te maak, vir hulleself ‘n koninkryk te bou en vir hulle eie wil te doen.

Gebruik die skets by Week 8, Dag 3 om dit mee te verduidelik. Verduidelik dan dat Paulus eintlik hier en Ef. 2:1-3 sê, is dat ons almal geleef het soos dit daar onder die lyn aangedui word, vol van agterdog, jaloesie, haat, onmin, stryery, rugstekery. Net soos almal in hierdie sondige wêreld leef. Onbewustelik word mens dan eintlik gelei deur die vors van die onsigbare bose magte. Ons grootste dryfveer, was maar net ons eie sondige begeertes.

Hierdie pad kan net op selfvernietiging uitloop. Gelukkig vir ons staan daar dan: “Maar God…”

Hier kan dan weer daarop gewys word dat die enigste rede waarom God by ons lewens wil “inmeng”, wil deel word daarvan, ons op ‘n nuwe koers wil lei, is nie omdat Hy ons pret wil bederf nie, maar omdat Hy ons innig lief het.

Met behulp van die skets kan dan aangedui word hoe Hy dit gedoen het deur Christus (die kruis stel Christus se lewe en werk voor). Deur Hom kry ons dan weer ‘n plek in die “hemel”, dit beteken dat ons weer deel kry aan die gemeenskap met Vader. Seun en Gees. Ons word dus weer op ‘n plek gebring waar dit moontlik is om die “seën van God” te kan ontvang, waar ons weer blootgestel is aan sy liefde, sy genade, sy leiding, sy goedheid, sy guns ens.

Op hierdie “plek”, wat eintlik net ‘n lewe in gemeenskap met die lewende God aandui, sal ons algaande al hoe meer ontdek hoe “geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het” (:7).

Hier sal dit ook goed wees om daarop te wys dat die doel waarom God ons red is nie in die eerste plek, sodat ons “eendag as ons sterf kan hemel toe gaan nie”. Nee, Hy red ons sodat ons nou, hier op aarde al, weer kan leef in die gemeenskap en verhouding waarvoor Hy ons geskep het, onder sy heerskappy en as mede-heersers in sy koninkryk, terwyl ons sy wil doen. Hy bring ons terug na die plek waar ons weer erken dat die wêreld nie gaan oor my en my planne nie; dit gaan oor Hom en sy planne.

Die wonder is juis dat Hy in sy planne ook vir my “goeie dade” voorberei het. Hy het ‘n plek vir my, ‘n rol in sy koninkryk, ‘n plek waar Hy my iemand van betekenis in sy koninkryk wil maak. Dit is sy doel dat ek my lewe daaraan moet wy.

Hier kan meer gesê word oor wat dit inhou om jou “lewe aan iets te wy”. Dit vra volledige aandag, fokus. Dit word die primêre doel van alles wat jy doen. Dit is om te ontdek wat God se visie vir jou lewe is.

Om dit te ontdek en jou lewe daaraan toe ty wy, is die mees bevrydende ding wat met enige mens hier op aarde kan gebeur. Die oomblik as jy dit gesnap het en dit sien as die doel van jou bestaan, is jy weer vry van vergelyking en kompetisie. Dan weet jy dit waarmee jy besig is, is nie in kompetisie met enige ander mens nie; dit is alleenlik in gehoorsaamheid aan Christus. Daarom kan jy dit met oorgawe doen, na die beste van jou vermoë, maar nie om daardeur roem vir jouself te verwerf, of om vir jouself ‘n naam te maak nie, maar juis om Hom te verheerlik deur alles wat jy doen. Jy doen dan ALLES tot eer van God.

Jy hoef jouself ook nooit weer met enige mens te vergelyk nie. Jy weet God het jou met ‘n doel gemaak soos jy is, met jou gawes en jou persoonlikheid, omdat Hy jou wil gebruik soos Hy jou gemaak het. Hy kan jou dus nie gebruik as jy iets of iemand anders probeer na-aap, of probeer om anders te wees as wat Hy jou gemaak het nie. Al wat Hy verlang is dat jy aan Hom die beheer van jou lewe sal oorgee, dat Hy jou sal lei om te doen wat op sy hart is.

Daar kan dan afgesluit word met ‘n uitnodiging aan die hoorders om hulle opnuut toe te wy en oor te gee vir die doel waarvoor God hulle geskep het. Die prediker kan self dink aan ‘n gepaste manier om dit mee te doen.

Daar kan eers ‘n paar oomblikke van stilte gegee word waarin elkeen met die Here kan praat en kan antwoord op dit wat hulle vanuit die Woord gehoor het.

Dit is soms ook goed om vir mense te vra om iets konkreets te doen waardeur hulle hulle keuse bevestig, soos bv:

“Staan op en sê opnuut saam met my die woorde van die Apostoliese geloofsbelydenis om te bevestig dat dit jou keuse is”.

Of: “Kom net vorentoe, druk jou hand in die doopvont om opnuut te bevestig dat jou lewe deur Christus gereinig is en dat jy jouself opnuut aan Hom toewy”.

 

 

Week 8: Nuwe lewe

Tema: Bly in My.
Perikoop: Joh. 15:1-7.
Skopus: Met hierdie boodskap wil ons aantoon dat ons onsself nie kan verander of vernuwe nie, maar dat dit gebeur wanneer ons in gemeenskap met God leef.

Opmerkings oor die boodskap
Lees weer die dagstukke van die week goed deur om die agtergrond te kry van waaroor dit die week gaan.

Hierdie is van Jesus se laaste gesprekke met sy dissipels waarin Hy dan veral vir hulle lering gee en toerus vir die tyd wat gaan kom, die tyd wanneer Hy teruggegaan het na die Vader toe (Joh. 14).

Soos gewoonlik gebruik Jesus ‘n beeld uit die alledaagse lewe, ‘n beeld wat hulle baie goed ken. Die moontlikheid is groot dat daar ook wingerdstokke naby hulle was wat hulle kon sien, waar die snoeiers waarskynlik besig was om die wingerd te snoei.

Hierdie is ook een van die sewe “Ek is” uitsprake van Jesus in die Johannes evangelie. Johannes gebruik die uitsprake veral om aan te toon dat Jesus, God self is. Sy “naam” is “Ek is wat Ek is” (Eksodus 3). Dit dui daarop dat Hy alles is wat ons nodig het. In Johannes word dit dan uitgebeeld deur verskeie beelde soos Lig, Brood van die Lewe, Goeie Herder, die Deur, Wingerdstok, Opstanding en die Lewe, die Weg, die Waarheid en die Lewe. Voorwaar, alles wat ons nodig het.

Hierdie teks is dan weer eens ‘n uitnodiging om in gemeenskap met Hom te lewe, sodat ons lewens daardeur verander en verryk kan word.

Voorstel vir ’n preek
Daar kan begin word deur te noem dat hier nogal ‘n ernstige waarskuwing aan die dissipels van Jesus gegee word. Hy sê immers as hulle nie vrug dra nie, sal hulle “afgesny” en weggegooi word.

Dan kan gevra word: hoeveel vrug sou jy sê is daar in jou lewe? Is dit genoeg om te voorkom dat jy “afgesny” word?

Sê dan: Gelukkig is dit nie die bedoeling van die teks om ons bang te praat of af te dreig nie. Dit is nie in Jesus se aard nie. Baie van ons, veral van die ouer lidmate, het in ‘n tyd grootgeword waar die evangelie (goeie nuus) dikwels eerder na bangmaakpraatjies of dreigemente geklink het, as na goeie nuus. Daarom vind ons dit dikwels moeilik om die UITNODIGING in die teks te hoor.

Die gedeelte gaan eerder oor ‘n uitnodiging tot ware lewe, tot vrug dra tot groei. Dit is immers nie iets wat enigeen van ons sal “regkry” deur hard te probeer om dit te doen nie. Enigeen wat hard probeer om “reg te lewe” en “vrug te dra” en die ervaring het dat hy of sy dit “regkry” sal dikwels eerder ander mense deur hulle optrede, houding en gedrag afstoot as aantrek. Hoekom? Omdat dit eintlik maar deur die ego gedryf word, die ego wat graag self wil probeer goed wees en beter as ander wil wees. Die ego wat vergelyk en kompeteer, ook om te kyk wie die “beste Christen” is.

Wat is dus die uitnodiging wat ons in die teks moet hoor?

15:5 “bly in My sodat jy kan vrug dra, want sonder My kan jy niks doen nie!” Hoor jy dit? Dit gaan weer oor die verhouding, oor die gemeenskap, oor die intimiteit tussen Christus en sy dissipels.

Christus kom hier terug op ‘n tema wat Hy vroeër al oor gepraat het, iets wat Hy eers deur sy eie lewe aan hulle gedemonstreer het. Dit is ‘n baie belangrike waarheid vir die geestelike reis, iets wat ons baie nodig het om te hoor en te verstaan.

“Want sonder My kan julle niks doen nie.” Glo jy dit werklik, dat ook jy sonder Christus niks kan doen nie? Miskien sal baie van ons sê: “ag nee wat, dis sommer praatjies. Ek is dan nog die grootste deel van my lewe besig om dinge sonder Christus te doen en ek het al baie vermag”. Dit mag wel waar wees, maar daardie dinge wat jy sonder Hom gedoen het, beteken niks vir sy koninkryk nie, want alles wat jy sonder Hom doen, gaan oor jou eie naam en jou eie koninkryk.

Jesus het hierdie manier van lewe deurlopend aan sy dissipels demonstreer. Ons hoor en sien dit veral in Joh 5:19-20 en :30. Daar sê Jesus aan sy dissipels dat Hy niks sonder die Vader kan doen nie. Wat ‘n stelling om te maak? Hier is die Seun van God in die gestalte van ‘n mens en Hy bely, dat Hy as mens NIKS sonder die Vader kan doen nie. Hoe doen Hy dan dit wat Hy doen. As mens het Hy eenvoudig in die Vader gebly en die Vader het in Hom gebly, net soos die loot in ‘n wingerdstok bly. Die gevolg is dat die werke van die Vader deur Hom openbaar is, dat sy lewe geweldig vrugbaar was in die koninkryk van God.

Dit is presies wat Jesus hier aan die dissipels probeer oordra: “Hierdie lewe wat julle My sien leef het, van voortdurend leef in gemeenskap met die Vader, dit is ook vir julle bedoel”. Hy nooi hulle uit om ook deel te word van hierdie manier van lewe. Van sy kant af is daar geen probleem nie. Hy verlang daarna om in hulle te bly, om hulle te lei, om deel van hulle lewens te word, om so in hulle te werk dat hulle lewens vrugbaar word. Al mense wat dit kan verhinder, is hulleself. Dit is as hulle nie in Hom wil bly nie, as hulle te besig is met hulle eie sake en programme, hulle eie agendas en doelwitte.

Dit het nog nooit verander nie. Dis vandag nog so. Daar is ‘n manier van lewe wat Jesus vir ons kom voorberei het. ‘n Lewe in gemeenskap met God, ‘n lewe van bly in Hom, van rus in Hom, van oorgawe in Hom. (Hier kan weer die skets gebruik word van dag 3 van die week).

As mens so begin leef, in Hom begin bly, aan Hom begin aandag gee, na Hom begin luister, dan gebeur daar iets. Dit is onmoontlik dat daar net NIKS sal gebeur nie. Geen mens kan so intiem met die lewende God omgaan en onveranderd bly nie. Daar vind dan vernuwing in jou lewe plaas, daar kom insig, daar kom verwagting, daar kom hoop, daar kom nuwe lewe. So ‘n mens begin anders praat, anders optree, anders leef, anders omgaan met ander mense. Nie omdat hulle hard probeer om dit te doen nie, dit gebeur net. Hulle dra vrug! Die vrug vloei voort uit die verhouding. Die aanraking en gemeenskap met die lewende God bewerk die verandering. Dikwels sal sulke mense nie eers self bewus wees van hoe hulle verander het nie. Ander mense sal dit wel raaksien en dikwels ook vir hulle sê: “maar jy het verander, wat het gebeur?”

Ek het al baie sulke getuienisse gehoor van mense wat ‘n pad van dissipelskap loop. Hulle vertel dikwels hoe familie en vriende net op ‘n punt vir hulle gesê het: “Julle het verander. Vertel vir ons wat gebeur het.” Sulke gesprekke gee dan dikwels weer aanleiding daartoe dat die familie en vriende ook ‘n pad van dissipelskap begin loop. Jy sien, dit is vrug dra. Dit gebeur net. Dit is nie iets wat jy probeer doen nie. Iemand wat “in Christus bly” het nie nodig om ‘n kursus te doen wat vir hulle leer hoe om te getuig nie. Hulle sal getuies wees deur vrug te dra. Hulle kan nie anders nie. ‘n Loot wat in die wingerdstok geplant is, dra vrug. Dit is soos dit werk in die natuur en dit is soos dit werk in die geestelike lewe.

Dan sê Jesus nog ‘n belangrike ding in vers 7: “As julle… vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” Dit klink darem wonderlik! Is dit regtig so dat jy dan enigiets kan vra en dat jy dit sal kry. Die teks word dikwels so misbruik deur mense wat ‘n soort van “voorspoed teologie” verkondig.

Dit is egter glad nie die dieper bedoeling van die teks nie. Nee, as iemand in Hom bly en sy woorde in jou, dan gebeur daar nog iets in jou lewe. Behalwe dat jy vrug dra, vorm sy woorde jou. Dit rus jou toe, dit verander jou denke, dit vernuwe jou verstand, dit gee jou insig. In die proses gebeur daar dan ‘n baie belangrike ding in jou lewe – hy bring ook jou wil in lyn met sy wil. Hierdie “bly in” het hierdie effek, dit kan nie anders nie.

Jy kom agter hoe verwronge en verdraaid jou eie wil is. Jy begin insien hoe goed en volmaak die wil van God is. Dan lê jy jou eie wil neer en onderwerp jou aan sy wil. En dan, dan kan jy maar vra net wat jy wil (want dit sal in lyn wees met sy wil), en jy sal dit verkry. Die gevolg is dat die Vader verheerlik sal word, want dit is deel van die vrug van die verhouding.

Kan ek vanoggend vir u vra, want ek verstaan dit nie altyd nie. Waarom sou enige regdenkende mens so ‘n uitnodiging van die hand wys? Waarom sou enige mens wat weet wie Hy is, naamlik die lewende God. Die grootste Bron van insig en wysheid, die grootste Bron van krag en steun, die grootste Bron van liefde en sorg, die grootste Bron van kreatiwiteit en moontlikhede. Waarom sou iemand vir so ‘n Persoon sê: “Nee dankie, ek is te besig! Ek gaan eerder op my eie probeer regkom!” Deur sulke dwaasheid, sê die teks vir ons, sny jy dan eintlik jouself af van die wingerdstok en die gevolg: Jy sal verdroog.

Dis egter nie nodig nie. Dink nou vir ‘n paar oomblikke na: Hoe sal jy vanoggend wil reageer op die uitnodiging?

Sê dan vir die Here wat nou op jou hart is. Dink ook hoe jy dit wat jy nou besluit gaan opvolg in die tyd wat kom.

 

 

Week 9: Betekenisvolle lewe.

Tema: Ek sal jou iemand van betekenis maak.
Perikoop: Ef. 4:1-16.
Skopus: Met hierdie boodskap wil ons net weer van die belangrikste aksente waarby ons die afgelope nege weke stilgestaan het, saamvat. Ons wil ook probeer aantoon hoe mense se lewe weer betekenis kan kry in die koninkryk.

Opmerkings oor die boodskap
Jy kan weer die week se dagstukkies lees om te sien waarin ons daar aandui ons betekenis as kinders van God alles lê.

Ons gee eers kortliks ‘n opsomming van dit waarby ons die afgelope tyd stilgestaan het. Daarna gaan kyk ons na Ef. 4 vir riglyne vir die pad vorentoe.

Soos dikwels in sy briewe, begin Paulus ook die brief deur in die eerste drie hoofstukke leerstellige materiaal oor ons verlossing in Christus te hanteer. In die laaste drie hoofstukke raak hy dan meer prakties en spreek prakties sake aan rondom die lewe van God se kinders. In Hoofstuk 4 verduidelik hy dan eers waarom God ons ingevoeg het in ‘n liggaam, die gemeente.

Voorstel vir ’n preek
Inleidend kan genoem word dat ons net weer kortliks gaan kyk na wat ons oor die afgelope tyd geleer het rondom die tema van dissipelskap.

Ons het begin deur te sê dat ons net kan verstaan waaroor dit gaan in die lewe van ‘n dissipel as ons verstaan met watter doel God ons geskep het. Hy het ons geskep om sy verteenwoordigers te wees en om as sodanig saam met Hom te heers oor die aarde. As verteenwoordigers was ons dus veronderstel om so te leef dat ons sy Naam groot maak, sy koninkryk dien en sy wil doen. Dit beskryf basies die lewe van ‘n dissipel.

Die versoeking waaraan die mens toegegee het, naamlik om “soos God” te wees, het toe ‘n einde gebring aan die manier van lewe. In die plek daarvan het die mens vir hulleself begin leef: “My naam, my koninkryk, my wil”.

Maar God is genadig en het ons oneindig lief, daarom het Hy die mens nie daar gelos nie. Dit was en is sy doel om van ons mense van betekenis te maak, mense wat Hom verteenwoordig en wat ‘n sinvolle lewe onder sy heerskappy lewe. Daarom het Hy ‘n nuwe pad met die mens begin stap en weer beloftes gemaak wat hierdie doel van Hom ‘n werklikheid sou kon maak. Die hart van die belofte is: “Ek sal vir jou ‘n God wees en jy sal vir my ‘n gehoorsame kind wees.” Hy wil die mens dus terugbring na ‘n lewe van dissipelskap.

Ons het gesien hoe die volk van God hierin misluk het, maar God het nie opgegee met sy doel en sy plan nie. Uiteindelik het Hy vir Jesus gestuur as volmaakte verteenwoordiger van God. Jesus het vir ons kom demonstreer hoe leef ‘n dissipel en ook weer vir ons die pad oopgemaak na intieme gemeenskap met die Vader, na die verhouding wat ons verloor het. Daarna het Hy die Gees gestuur om in ons te kom woning maak en vir ons te kom leer en lei in die lewe van gehoorsame kinders van God. God het dus die pad vir ons almal oopgemaak om nou weer as dissipels, of verteenwoordigers van God te kan leef. Dit is egter nie iets wat maar sommer net outomaties gaan gebeur as ons sy kinders word nie, daarom het Hy ook verder voorsiening gemaak. Daarvan lees ons in Ef. 4.

Hier kan die teks dan stadig en met aandag gelees word. Hier en daar kan die prediker dalk iets uitlig of beklemtoon.

Paulus wys dus eers op ons lewenswandel in die algemeen, dat ons moet leef met die gesindheid van Christus en so teenoor mekaar optree. Dit sal gebeur as ons “In Hom bly” soos ons verlede week gesien het. Maar dan gaan hy verder en sê dat God aan die gemeente sekere gawes gegee het, ook met ‘n spesifieke doel. God doen immers niks wat doelloos is nie. Hy doen nie maar iets om sommer net tyd om te kry nie.

Hy het jou nie sonder ‘n doel geroep nie. Hy het ook nie hierdie gemeente sonder ‘n doel gevorm nie. Hy het ook sekere gawes aan die gemeente met ‘n doel gegee, naamlik: apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Dit is dit voorgangers, die leiers van die gemeente. Sy doel daarmee is en was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.

Die doel is dus tweeledig:

  1. Om die gelowiges toe te rus vir hulle diens. Die gelowiges is mense wat op een of ander plek of manier moet dien. Dit is wat Christus sy dissipels geleer het. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Op dieselfde manier is die gelowiges hier, as sy verteenwoordigers, om te dien. Dit beteken nie dat jy alles moet los waarmee jy besig is om God op een of ander sendingveld te gaan “dien” nie. Nee, dit beteken daar waar jy elke dag leef en werk, is jou sendingveld en daar moet jy dien. Hiervoor moet die leiers in die gemeente jou toerus.

Wat beteken dit? Hoe moet hulle jou toerus vir hierdie diens? Ek glo dat hulle die laaste opdrag van Jesus moet gehoorsaam om van jou ‘n “dissipel” van Christus te maak, deur jou te leer om alles te onderhou wat Hy ons beveel het om te doen (Mat. 28:18-20). Dit gaan dus daaroor dat gelowiges toegerus moet word as dissipels, as navolgers van Christus, om Hom altyd en oral na te volg en te dien.

  1. Die toerusting moet ook plaasvind sodat die liggaam van Christus daardeur opgebou kan word. God het aan elke lid ‘n bepaalde gawe gegee wat beteken hy of sy het ‘n sekere funksie om in die liggaam te vervul. Hierdie toerusting moet dus ook daartoe lei dat ek my plekkie in die liggaam sal ontdek, sal agterkom wat my funksie is. Hoe ek bydra om die liggaam reg te laat funksioneer.

Hierdie toerusting vind nie sommer net vanself plaas nie. Ongelukkig is die prediking op Sondae ook nie voldoende daarvoor nie. Jy weet self dat jy meeste van die tyd teen die aand al die grootste deel van die oggend se preek vergeet het.

Daarom glo ek dat dit ‘n wesenlike deel van ‘n gemeente se verantwoordelikheid is om mense te begelei op ‘n pad van dissipelskap. Jesus het nêrens die opdrag gegee om van mense “Christene” te maak nie. Vandag word ‘n “Christen” gesien as iemand wat aan ‘n Christelike kerk behoort, wat gedoop is, wat lidmaat van ‘n gemeente is en miskien nog ook as iemand wat weet dat hy of sy “eendag hemel toe sal gaan” omdat Jesus vir ons sonde gesterf het.

Nee, Jesus het gesê: “Maak dissipels”. Dissipels is leerlinge, navolgers. Mense wat nie ophou om van die Leermeester te leer nie. Mense wat “in Hom bly”. Mense wat Hom van dag tot dag volg. Mense wat sonder Hom niks kan doen nie. Mense wat Hom verteenwoordig omdat hulle net doen wat hulle die Vader sien doen en net sê wat hulle die Vader hoor sê. Mense wat weet dat hulle hier is om te dien en om ‘n funksie in die liggaam van Christus te vervul.

Sulke mense se lewe kry sin en betekenis. Hulle ervaar dit ook so, want hulle ervaar dat hulle ingesluit word in God se groter plan met die wêreld. Hulle is deel van die mees sinvolle projek in die heelal, die koms van die koninkryk van God. Hulle weet hulle toekoms, hulle lot of hulle hoop is nie afhanklik van een of ander regering wat besig is om of goed te doen of droog te maak nie. Nee, hulle lewens is in die hand van die Koning van die heelal en Hy alleen gee daaraan betekenis, ongeag omstandighede. Hierdie Koning het nie beloof om hulle omstandighede te verander sodat hulle gerieflik en gemaklik kan leef nie. Nee, Hy het beloof om hulle te verander in mense wie se lewe betekenis het en betekenis gee aan ander, maak nie saak hoe haglik die omstandighede is waarin hulle leef nie.

Soek jy betekenis vir jou lewe? Gee jouself oor aan sy heerskappy. Laat jouself toerus deur die gawes en instrumente wat Hy daarvoor gegee het. Jy sal nooit spyt wees nie!

(Indien die Here dit op jou hart lê, kan jy dalk op die punt die mense uitnooi om deel te word van ‘n dissipelskap program in die gemeente. Jy kan dan aal hulle die geleentheid gee om hulle name daarvoor op te gee deur dit neer te skryf op ‘n stuk papier. Indien jy materiaal vir so ‘n program nodig het, kan jy my gerus kontak by dissipel@gmail.com. Jy kan ook op my webblad gaan kyk wat met die program beoog word by: dissipelskap.co.za. Deon Loots).

Share