Preekvoorstelle vir Gestuurdes

Week 1

Eks 3 Roeping van Moses of enige ander roepings verhaal

1 Roepingsverhale – sekere kenmerke

  • Iets gebeur wat jou aandag trek, en dan besef jy God is hier.

Die geroepene word by die naam geroep “Moses, Moses!”

  • Die gebeure

God hoor die noodkrete van Israel en HY wil Moses stuur om hulle te bevry.

  • Wat beteken roeping vir jou

Dis belangrik dat ek besef God roep elkeen van ons. Elke roep elke gelowige.

 

2 Waarom roep God mense?

2 Waarom roep God mense as medewerkers?

2.1 Lees hooftsuk 3:7 en 9 God sien mense in nood raak. Dit raak Hom diep om mense in ellende en lyding te sien.

2.2 Derhalwe roep God mense ter wille van ander mense.

God sien telkens deur die nood en gesukkel van mense raak.

2.3 Roeping gee sin

Dit mag jou met vrees vervul, maar dit is altyd ʼn geleentheid om deel te neem aan die genesing wat God in die wêreld inweef.

 

3 Waarom deins geroepenes terug?

3.1 Moses deins terug vir sy roeping.

Hy maak allerlei verskonings. Baie gelowige mense doen dit ook.

3.1.1 roeping vra gehoorsaamheid. ʼn Roeping verg opoffering, toewyding, en persoonlike ontbering.

3.1.2 ons geneig om te veel van onsself – en veral ons eie gebreke – bewus te wees.

3.1.3 ons word gewoonlik nie maklik geraak en geroer deur die nood en deur die swaarkry van ander nie.

 

4 God bemoedig en versterk

4.1 Hoe reageer God op ons onwilligheid? Kyk na verse 11 en 12:

Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

Die Here gee aan die mense wat Hy roep die belofte en versekering van sy teenwoordigheid en sy bystand.

 

5 Ons reaksie

5.1 Die Here roep elkeen wat glo. Elkeen van ons is God se geroepenes.

5.2 Ons moet die Here dien in ons verhoudings en op al die plekke waar ons ons bevind.

5.3 Hoe identifiseer mens hierdie roeping? Sommige mense het ʼn helder brandende doringbos-ervaring waar jy God se leiding duidelik beleef. Ander voel ʼn oortuiging in hulle groei, beleef dat ʼn bepaalde diens hulle vul met lewe en energie en passie in hulle opwek. Nog ander word aangegryp deur ʼn situasie en reageer met toewyding daarop.

 

Week 2
Matt 4:18-23 Nuwe vertrekpunt

Roeping
Wie die Matteus-evangelie lees kom duidelik agter dat Jesus mense roep – vandag nog – en van ons vra om op sy roepstem te reageer.

Dramatiese roepingstoneel
Die roeping van die eerste dissipels word in ‘n dramatiese toneel beskryf. Jesus stap langs die groot binnelandse meer, die See van Galilea, en roep vissermanne om Hom te volg. Dit is ‘n publieke toneel, en mense wat aan die werk is, word geroep. Die verstommende reaksie is dat hulle hul werkplek net so verlaat en agter Jesus aanstap. In Jakobus en Johannes se geval is dit die familiebesigheid wat hulle verlaat. Hulle snap die heroriëntering wat Jesus vra, en gee hulle lewe daarvoor. Vanuit ‘n menslike perspektief is die dissipels se optrede ondenkbaar en onverstaanbaar.

Roeping het ‘n prys
Roeping ontwrig mens. Simon-Petrus en Andreas moet hulle dagtaak agterlaat, die wyse waarop hulle hulself en moontlik die families waaraan hulle behoort het, versorg het. Jakobus en Johannes verlaat die familiebesigheid. Die Christelike roeping is nie maklik nie. Jesus vra dat geroepenes hulle kruis moet optel en Hom volg (Matt 8:19-22; 10:28, 38 ev; 16:24 ev; 19:29). Roeping verg dat die wil van die Vader gesoek en gedoen moet word (Matt 7:21; 12:46 ev). Dit is ook moeilik.

Veral die Gereformeerde tradisie, Christus roep ons tot ons dagtaak, tot gehoorsame navolging in die verbande waarin ons onsself bevind.
Hiervan het ons baie nodig. Geroepe onderwysers, sakemense, bestuurslui, ambagslui, werkers, leiers. Ons het mense nodig wat hul dagtaak heroriënteer aan die navolging van Jesus, en op die plekke waar hulle werk, ontspan, en die gesinne en huwelike waarin hulle verkeer, die Here dien en gehoorsaam op die radikale wyse wat Jesus vra.
Roeping is altyd ontwrigtend – of jy jou dagtaak verlaat, en of jy jou dagtaak vanuit Jesus as oriëntasiepunt aanpak. Dieselfde geld die ander verbande waarbinne ons leef. Daar is altyd ‘n kruis om op te neem.

Jesus, die Geroepene
Die Jesus, wat dissipels roep, tree self op as Geroepene. Reeds vanaf die aankondiging van Jesus se geboorte, is dit duidelik dat Jesus ‘n bepaalde roeping het. Die Engel sê aan Josef om Hom Jesus te noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sal verlos (1:21). Hierdie roeping blyk ook wanneer Johannes Jesus met ‘n bekeringsdoop doop, en Jesus só die sonde van mense op sy skouers neem. In ons teks begin Jesus sy roeping aktief uitvoer. Ons kan ‘n paar dinge leer oor ons eie roeping as dissipels deur te let op die wyse waarop Jesus sy roeping uitgeleef het. Drie kenmerke van Jesus se roeping is (4:23):
Verkondiging, Lering, Genesing

Verkondiging as roepingsvervulling
In ons teks word die verkondiging van Jesus saamgevat deur te sê: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemele is naby”. Dit is wat Johannes verkondig het (Matt 3:2), wat Jesus verkondig het (Matt 4:17) en wat aan ons opgedra is om te doen (Matt 10:7). Verkondiging is die publieke bekendmaking dat daar ‘n nuwe werklikheid ter sprake is. God regeer, en mense moet hulle daaraan oriënteer.
Om jou te bekeer is ook iets wat weer en weer, keer op keer deur elke geroepene gedoen moet word. Ons het nodig om daagliks te kies om God deur Jesus te gehoorsaam.

Lering as roepingsvervulling
Dit verkondiging van bekering en koms van die koninkryk hou verband met die funksie van onderrig en leer. (Matt 11:1; 13:54). (Matt 28:19).

Genesing as roepingsvervulling
Jesus se roeping behels ook genesing. Genesing kom in baie vorme, en op baie maniere. Daar is sosiale of kollektiewe soorte siekte, soos armoede, geweld en verslawing. Daar is ook baie gestaltes van genesing, van wonderbaarlike genesing deur gebed tot genesing deur mediese ingrepe, of die aanpas van mense se lewensstyle, die veranderinge van onderlinge gesindhede en die impak van vergifnis op mense se gesondheid. Hierdie genesing kan nie van mekaar losgemaak word nie

Ons en ek as geroepenes
Jesus roep ons om ons lewe aan Hom te wy, Hom na te volg en te doen wat Hy ons geleer het. Hy leer ons deur sy woorde en deur sy dade.

God stuur ons om te leef

Week 3
Matt 28:16-20 Geroep en Gestuur
Goeie nuus bestaan uit verskeie lyne en elemente. As jy die hart van die goeie nuus wil verstaan, moet jy kliek hoe al die lyne bymekaarkom. In die Matteus-evangelie gebeur dit hier in die laaste vier verse. Kom ons kyk na ‘n paar belangrike lyne uit die evangelie.

“Aan My is alle mag gegee…”
Die koningskap van Jesus word deurgaans in Matteus beklemtoon. Nou, hier is hoofstuk 28, ontvang Jesus van die Vader dit waarmee die Satan Hom wou omkoop: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde…” (28:18).
Hiermee vervul Jesus die profesie uit die Ou Testament aangaande die Seun van die Mens aan wie alle mag, eer en krag gegee sal word. “Alle mag” beskryf Jesus se identiteit, koningskap en gesag.

Gaan dan… maak dissipels… doop hulle
Die Groot Opdrag wat Jesus gee, bestaan uit drie elemente:
Gaan maak dissipels van al die nasies;
Doop hulle in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees;
Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Hier word vier werkwoorde gebruik: Gaan, maak dissipels, doop en leer. Die belangrik om tesnap dat “maak dissipels” (matheteusate) die enigste werkwoord is wat in die bevelsvorm staan. Die ander drie werkwoorde is deelwoordvorme. Dit beteken dat “maak dissipels” die primêre opdrag is, waaraan die ander drie ondergeskik staan.

Die kern van die Groot Opdrag is: Maak dissipels van die nasies, terwyl julle na hulle gaan, hulle doop en hulle leer om alles te onderhoud wat Jesus julle geleer het. Die kerk is ‘n gemeenskap van dissipelmakers wat oor alle denkbare grense gaan na alle mense, hulle doop en hulle leer.

Dit word moontlik om dissipels te maak as ons gaan, leer en doop.
Gaan verwys na die oorsteek van grense na die nasies toe. Dit gaan oor grense, van my groep na ander groepe, na die nasies. Leer is om alles wat Jesus die apostels geleer het, aan ander te leer. Alles wat Jesus met hulle gekommunikeer en voorgeleef het, is in die opdrag ingesluit; of dit onderrig, spreuke, seëninge, gelykenisse, profesieë of voorbeeld was.
Doop verwys na die nuwe gemeenskap wat tussen die gedoopte en Vader, Seun en Heilige Gees tot stand kom. Om gedoop te word, is om in die gemeenskap van verlostes met die lewende God tuis te kom.

Die Groot Opdrag vandag
As gemeente moet ons doelgerig daaraan werk om uitvoering aan Jesus se opdrag te gee. Dit beteken onder andere:
Elkeen van ons moet doelgerig daaraan werk om te groei in die kwaliteit van ons eie dissipelskap. Die uitdaging is om te doen wat Jesus ons geleer het, omvoortdurend uit ons eie gemaksones te kom oor ons eie navolging van Jesus.

Ek is by julle…”
Jesus sluit sy laaste woorde af deur te sê: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld”.
Aan die begin van die Matteus-evangelie sê die engel vir Josef Jesus sal Immanuel, God by ons, genoem word. In die middel van die evangelie hoor ons waar twee of drie in Jesus se Naam bymekaar is, is Jesus by hulle. En hier teen die einde nog kom ‘n belangrike tema in die Evangelie tot uitdrukking as Jesus beloof Hy is tot aan die einde van die wêreld by ons, by sy dissipels.

Week 4:
2 Kor 5:16-26 Verhoudings ‘n ander manier van doen.

Vernuwing
Kom ons kyk wat Paulus oor versoening sê, en vra dan tweedens waarom hierdie boodskap so belangrik vir die verhouding tussen Paulus Korintiërs was.

Bedien die versoening
Twee begrippe “versoening” en die “bediening van versoening” tree vanaf vers 18 op die voorgrond. Die woord wat met versoening vertaal word, kan teruggevoer word tot die Hebreeuse woord wat ruilwaarde aandui. “Paulus het begryp dat die dood van Christus aan die kruis ’n handeling van God was waarby die ruilwaarde vir ons sondes aangebied is.”
Die Here se kerk kry die opdrag om die boodskap van die versoening uit te dra, of eerder, te bedien. Dis ’n roeping tot selfprysgawe. Versoening kos ’n prys! Nuwe mense leef versoenend en bedien ander met versoening. Die kerk is nie ‘n magsgroep of ‘n sosiale beweging wat sy gewig probeer rondgooi nie. Die kerk bedien die versoening. Die kerk bring mense in Christus se Naam bymekaar. Versoening kan nie afgedwing word nie. Dit word af gepleit. Mense word aangemoedig om versoenend te leef in Christus se Naam.

Die agtergrond van die brief is die gespanne verhouding wat daar tussen die apostel en die gemeente is oor
sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl. ook 7:5-16),
die kollekte (hfst. 8-9),
sy apostelskap (2:14-7:4 – die hoogtepunt van die brief om sy “skat-in-kleipotte”-apostelskap te verduidelik), en
die vals apostels (hfst. 10-13; vgl. ook 2:14-4:6).
Vandaar die intens persoonlike trant van die brief, wat sy verontwaardiging (2:17; 3:1; 6:14-16 – “Hoe kan daar …?”) en die bytende sarkasme (10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”), afgewissel met die sagte appèl (6:1,11; 7:2 – “Maak vir ons plek in julle harte”) aan die gelowiges in Korinte om tot hulle sinne te kom, verklaar.
Versoen ter wille van ‘n gemeenskaplike roeping
Weens die gespanne verhouding, moet daar versoening tussen die gelowiges kom. Daar is immers ‘n gemeenskaplike roeping, nl. om die versoening van Christus te verkondig.
Paulus se argument is dat hy en die gelowiges in Korinte op ‘n nuwe manier na mekaar moet kyk. Hulle is immers nuwe mense. Hulle is in Christus nuutgemaak. Hulle moet ‘n manier vind om mekaar se hande op die pad van die evangelie te vat. Hy en die Korintiërs moet leer om na mekaar deur die oë van Christus te kyk. Hulle is Christus se verteenwoordigers. Hulle moet vir die wêreld illustreer dat God versoening bring.

‘n Versoende gemeenskap
In ‘n land waar gelowiges uit mekaar geskeur is, het Paulus se boodskap verreikende betekenis en implikasies.
Ons moet onsself afvra: Hoe lyk ’n gemeenskap wat in Christus versoen is? Versoening het verreikende implikasies, vol uitdagings en struikelblokke, maar dit behoort verrykende nuwe geleenthede en ervarings mee te bring. ’n Nuwe bevryde gemeenskap – een nuwe mensheid in Christus wat met ’n nuwe blik, met die oë van Jesus na ander mense kyk.
Beliggaam versoening
Versoening kan mens ‘n duur prys kos. Dit beteken dikwels dat jy jou trots moet sluk en die minste moet wees. Dit beteken jy moet jou aanspraak dat jy reg is, prysgee. Jy moet vrede maak en versoen, want die versoening geskied in Christus se Naam. Hy het die prys vir ons almal se sonde betaal. Om Christus ontwil versoen en vergewe ons. Ons Christus ontwil vat ons hande en leef die evangelie saam uit.
Versoening moet spesifiek ook met ander gemeenskappe gesoek word. Ons moet as gelowiges uitreik na mekaar, mekaar leer ken, misverstande uit die weg ruim, mekaar se bona fides leer aanvaar, en saam soek na die praktiese doen van Christus se versoening.
Op hierdie manier skep ons ‘n helder, kleurvolle blik op die wonder versoeningswerk van God deur Christus Jesus. ‘n Blik wat helder is, omdat die vullis wat die blik op die kruis verduister, weggewas is.

Week 5
Joh 1 Die woord het vlees geword
Dit gaan om ’n lewe met Jesus nie oor Jesus!

Johannes begin sy verhaal in die proloog by God en Jesus vóór die skepping. Hy gebruik doelbewus motiewe en woorde wat aan die eerste skepping herinner (“in die begin”, “lig”, “lewe” en “duisternis”) om aan te dui dat daar ’n kontinuïteit is tussen die eerste skepping en die nuwe skepping wat beide deur Jesus tot stand sou kom.
[1]. Vers 1 maak dit duidelik dat God nie vir Jesus geskep het nie – Hy was eerder altyd by God en het self deelgeneem aan die skepping.
In die proloog gee Johannes ’n aanduiding van hoe die verhaal van Jesus gaan ontvou. Dit skets Jesus as die Woord in ’n viertal verhoudinge, naamlik tot God (vers 1-2), tot die skepping (vers 3), tot die mensheid in die algemeen (vers 4-11) en tot die gelowiges (vers 12-13). Nie almal van hulle sou gepas op God se Kersgeskenk (die Christuskind) reageer nie.

So het:
– die duisternis hom nie begryp nie (letterlik “uitgedoof” – Die hele sin kan ook vertaal word: die duisternis het dit nie besef nie) (vers 5).
– die wêreld wat deur Hom ontstaan het, Hom nie geken nie (vers 10).
– Sy eiendom (Israel) – sy eie mense – hom nie aangeneem nie (vers 11). Hulle het Hom soos ’n uitlander behandel. Hy het huis toe gekom en hulle het Hom verwerp.
– So was daar egter ook dié wat met vreugde en geloof gereageer het (die “ons” van vers 12) – aan hulle het Hy die reg gegee om kinders van God te wees (vers 12). Let op hoedat Johannes hier in persoonlike terme begin praat (“ons”).
Vir Johannes is die wonder van Kersfees dat die ewige lig en waarheid – te wete Jesus – vlees (sarx) geword het. Vers 14 stel dit dat Hy onder ons kom woon het. Letterlik Sy tent (of tabernakel) tussen ons kom opslaan het. Dit het radikale implikasies, te wete:
– Vir ons as mense: God het aan ons kant kom staan. Jesus het vlees geword. By ons kom tent opslaan (tabernakel). Dit leer ons onomwonde dat God werklik lief is vir mense.
Die vleeswording van Jesus leer ons dat sowel die siel as die liggaam vir Hom belangrik is. Die ewige en die tydelike, die innerlike en die uiterlike. Hy red mense van hulle ewige sondes – én was die stof van hulle voete af. Hy gee die brood van die lewe, maar ook die van die daaglikse lewe.
– Vir die wêreld: die wêreld is deur Jesus geskep, ge-onderhou en gered. Daarom is die wêreld nie vir God onbelangrik nie. Om dié rede sal Hy dit ook nie aan die duisternis oorgee nie, maar dit eerder verlos en verheerlik.
– Vir Gelowiges: Diegene wat Jesus in die geloof aanvaar het, het familie van Hom geword (letterlik kinders van God). Die term “kinders” beklemtoon die innige verhouding van God die Vader met die gelowiges. Ons is nie deel van God se familie as gevolg van afstamming (van nature – letterlik bloed) nie, of deur fisieke menslike drang nie, ook nie deur ’n menslike wilsbesluit nie, maar slegs deur die verlossende en skeppende daad van God die Vader deur die Woord Jesus Christus. Om kind van God te wees, is ’n “bloed”-gawe wat Hy skenk deur sy Seun.
– Jesus lê dan ook vir ons uit wie God is. Volgens Hom is God Waarheid en genade (vers 14).

Week 6:
Ef 2:1-22 onthou ons is deel van ander gelowiges

Onthou is belangrik

Mens se herinneringe oriënteer jou. Jy onthou hoe jou lewenspad geloop het om jou hier te bring waar jy nou is. Jou herinneringe verbind jou aan jou verlede en hou jou sin vir identiteit en lewenskoers orent. Wanneer jy begin vergeet, vergeet jy nie net feite nie. Jy vergeet wie jy is. Jy vergeet waar jy tuishoort. Jy vergeet hoe die wêreld rondom jou inmekaarsteek, waar jy inpas, en wie die mense is wat saam met jou deur die lewe reis.
Vergeet is katastrofies.

Onthou ALLES
‘n Mens se geheue kan uiters selektief wees. Die meeste mense onthou eerder mooi dinge as lelike dinge. Die onreg wat aan jou gedoen is, onthou jy makliker as die onreg wat jy aan ander gedoen het. Mens onthou én vergeet selektief, om jouself te beskerm. Ons moet mense mekaar help onthou. Ons moet die volle prentjie onthou, ook die slegte dinge. Ook die sonde wat ons teenoor ander en teenoor God begaan het.

Onthou is belangrik vir ons geloofslewe
Paulus skryf aan die Efesiërs: “Hou dan in gedagte wat julle vroeër was.” (11) Wat dan volg, is nie ‘n aangename lysie dinge om te onthou nie. Die Efesiërs was:
Heidene – mense wat nie deel van God se volk was nie;
“Onbesnedenes” – mense wat nie die teken van God se genade gedra het nie;
Sonder Christus;
Uitgesluit uit die verbond tussen God en God se volk;
Mense wat sonder die beloftes van God moes lewe;
Sonder hoop en sonder God in die wêreld.
Terwyl baie Christene die boeke op die slegte verlede wil toemaak, sê Paulus die boeke van die verlede moet oop bly. Onthou wie julle was.
Dit het alles met die vorming van die nuwe identiteit in Christus te doen. Wie weet wat jy vroeër was, wéét óók wie jy nie langer is nie. Op grond van Christus se werk in jou lewe, durf jy nie langer wees wat jy vroeër was nie. Christus het jou verander, jy is ‘n nuwe mens. Jy is nou anders.
Mens moet versigtig wees om hierdie gedeelte individueel te verstaan. Dit gaan hier om veel meer as die individu. Paulus praat trouens deurgaans van julle. Die gemeente moet onthou wat hulle vroeër was, en wie hulle nou is. Hy is veel meer geïnteresseerd in die korporatiewe identiteit, die groepsindentiteit, van die Here se kerk in Efese as bloot in die individu se lewe.

Die drie funksies van onthou
Een: Onderstreep identiteit en roeping
Ons het reeds heelwat aandag geskenk aan die feit dat die kontras tussen wat die Efesiërs vroeër was, en wie hulle nou in Christus is, die fokus op hulle identiteit in Christus laat val. Die onthou herinner hulle dat hulle nou anders is. Hulle diepste wese is verander. Hulle IS nuwe mense. Die onthou het ‘n etiese dimensie. Hulle is geroep om nou anders te lewe.
Twee: Fokus die aandag op God se wonderbaarlike werk
In ons teks word die kontras tussen die ou en nuwe lewe direk gekoppel aan die aktiewe betrokkenheid van Vader, Seun en Heilige Gees in die lewe van die Efesiërs. Sonder God sou hulle steeds in die vorige lewe vasgevang wees.
Dieselfde geld ons. Tussen ons en ‘n lewe sonder Christus en sonder hoop staan die aktiewe betrokkenheid van die drie-enige God in ons lewe. Dit is God wat geslag na geslag aan God vasbind. Dit is God wat ouers as sendelinge na hulle kinders stuur. Dit is God wat gemeentes na hulle jongmense stuur en geloof in hulle hulp bou.

Die drie-enige God se aktiewe betrokkenheid in ons lewens klink soos ‘n refrein in ons teks. Enkele voorbeelde:
Ons kom deur die bloed van Christus tot by God
Christus het sy lewe vir ons gegee
Christus het ons deel van die volk van God (deel van Israel) gemaak.
Drie: Fokus die aandag op die doel van God se werk
Wat is die doel van God se werk in die lewe van die Efesiërs? Baie moderne Christene sal sê dis sodat die Efesiërs hemel toe kan gaan. Hoewel dit nie onbelangrik is nie, het ons teks ‘n ander dinamika. God sluit die Efesiërs by God se volk in met ‘n ander doel. God bewerk een nuwe mensheid hier op aarde. God skep een nuwe volk, bestaande uit voormalige vyande wat tot een nuwe liggaam, die liggaam van Christus verenig word. Dit word veral in verse 13-18 uitgespel.

Deur God se verlossing word die krag van God gedemonstreer. God vee vyandskap en verdeeldheid uit die weg. God skep ‘n nuwe mensheid. Hy breek skeidsmure af en maak sy volgelinge een. Hy bring vrede tussen Jood en nie-Jood, Hy sluit mense in gemeenskap in. Hy is almal se Vader en gee deur die een Gees vir almal toegang tot sy teenwoordigheid.
Waarom skep God ‘n nuwe mensheid, een nuwe volk? Dit is die volgende logiese vraag.

God bou ‘n heilige tempel
Die Ou Testamentiese tempel is gesien as die plek waar hemel en aarde ontmoet. Dit is waar God woon. God woon egter nie regtig in ‘n gebou wat met klip en steen opgerig is nie. Nee, God bou ‘n nuwe gebou, ‘n tempel. God se gelowige kinders, die lede van God se huisgesin, is die lewende stene waaruit hierdie gebou opgerig word:
Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.
In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon. (20-22)

God woon in God se kerk. En by verstek bestaan God se tempel nie net uit die Ou Testamentiese Israel nie. God het altyd die nasies in die oog gehad. Reeds by Abraham se roeping (Genesis 12) is dit duidelik dat Israel bloot God se manier is om by die nasies uit te kom.
Met die Nuwe testament breek die tyd aan om die nasies in te sluit in God se gebou. God bind mense oor allerlei natuurlik grense saam tot een, heilige tempel waarin God hier op aarde woon.
Só is God teenwoordig in God se wêreld. Deur die mense wie aan God behoort. So word God se krag en heerlikheid in die wêreld uitgestal: deur die mense wat God oor alle denkbare grense tot een nuwe gebou saam opbou.

“Onthou” verander ons lewe
Die uitdaging is om te onthou dat ons deel van God se volk is. Ons is ‘n deel van God se tempel.
Daarom moet ons die eenheid wat Christus tussen ons skep baie ernstig neem. Dit moet ons lewens rig. Waar ons verdeeld is, soos vyande optree, en mekaar afkraak, verbreek ons die skoonheid van die tempel wat God skep.
Daar is diep klowe tussen mense en tussen gemeenskappe. Dit geld ons land, maar ook die hele wêreld. Ons vergeet dat God eenheid skep tussen God se kinders. Daarom is verdeeldheid en verskeurdheid tussen Christene en kerke vir ons so normaal. Ons kan soveel goeie redes onthou waarom ons nie een kan wees nie. Daar is stryd, verontregting, konflik, verdeeldheid uit die verlede wat so maklik is om te onthou. Hoe meer ons die redes vir verdeeldheid onthou, hoe meer ontkrag ons die verlossende en verenigende werk wat God die Vader, Seun en Heilige Gees.
Ons word opgeroep om te onthou. En ons word uitgedaag om vanuit ons eenheid te gaan lewe.
Wees versigtig vir geestelike Alzheimer’s. Vergeet is katastrofies.

Week 7:
Johannes 16:12-15 Kerk en Gees help ons

Koms van die Parakleet
In sy afskeidswoorde verduidelik Jesus sy weggaan is voordelig omdat dit die koms van die Parakleet, die Heilige Gees, sou inlui.
Die Griekse woord paraklētos is moeilik om te vertaal. In gewone Grieks het dit gedui op die persoon wat ’n aangeklaagde in ’n hof bygestaan het. (Die Latynse vertaling advocatus het later ’n tegniese term vir die persoon geword.)
Jesus verstaan egter veel meer onder die term Parakleet as bloot ‘n advokaat. Parakleet verwys na die spesifieke rol wat die Gees in sy gemeenskap speel in die tydperk wat begin het met Jesus se terugkeer na sy Vader en wat sal eindig met sy wederkoms. In dié tydperk sal die Gees gelowiges aan die woorde van Jesus herinner en hulle begelei in hoe hulle daarvolgens in hulle eie konteks moes leef. Die Gees vervul dus volgens Johannes ’n verskeidenheid rolle in die tyd voor Jesus se wederkoms. Woorde soos “trooster”, “advokaat”, “raadsman” en “helper”, is almal goeie vertalings vir Parakleet.
Wat doen die Parakleet alles? Kom ons gee aandag hieraan. Aanvanklik fokus ons op die breë wyse waarop die Johannes-evangelie die werk van die Heilige Gees beskryf, om dan ten slotte samevattend na die troos van die koms van die Parakleet te verwys.

Help die kerk getuig
Die Parakleet, die Heilige Gees, staan eerstens die geloofsgemeenskap by in hulle getuienis in die wêreld. Hy sal deur die gelowiges in die wêreld getuig (15:26-27) om laasgenoemde van hulle sondes te oortuig (16:7-8). In dié verband tree die parakleet soos ’n aanklaer op wat bekend maak wie glo in Jesus en wie nie (16:7-11). Hy sal dit ook duidelik maak dat Jesus regverdig was en dat God se oordeel oor die heerser van die wêreld aangebreek het.
Die Gees oortuig ook van sonde. Die Gees maak die wêreld van haar sonde bewus, sodat mense na Christus kan gryp.

Werk in die gemeente
Die Parakleet is tweedens in ’n verskeidenheid rolle intiem betrokke by die geloofsgemeenskap self. Hy is hulle leermeester van die woorde en openbaring van Jesus (14:26) en verheerlik sodoende vir Jesus (16:14). Jesus het egter volgens 16:12 nog dinge gehad wat Hy sy dissipels wou leer, maar wat hulle toe nog nie kon begryp nie. Hulle het naamlik nog nie die Gees gehad wat hulle in die waarheid sou lei en onderrig nie, en Jesus self het nog nie uit die dood opgestaan nie. Eers na laasgenoemde sou aspekte van Jesus se leer (oor bv. sy dood en opstanding) vir hulle volledig sin maak.
Die “dinge wat gaan kom” waaroor die Gees die dissipels sou inlig (16:13), is nie slegs sake aangaande die voleinding nie. Ook nie bloot die komende vervolging van die dissipels nie, want Jesus het hulle toe reeds daaroor ingelig. Die dinge wat gaan kom dui ook op die Pinkstergebeure (Handelinge 2) wat in verband met die Gees se koms staan.

Vestig intieme verhoudings
Die Parakleet “vestig ook ’n intieme verhouding” (14:16-20) tussen Jesus en die Vader met die geloofsgemeenskap. Die Gees sal naamlik in gelowiges wees (14:17) en optree as die voortgaande teenwoordigheid van Jesus (14:15-31; 15:26; 16:5-15). Soos wat die Seun glorie aan die Vader verleen (7:18; 17:4), so bring die Gees met sy koms glorie aan Jesus.
Daar is dus ’n wesenlike verband tussen die werk van die drie Goddelike Persone. Die Gees gaan ook nie verder as die openbaring van God deur Jesus – die Woord – nie. Jesus is God se definitiewe selfbekendmaking. Die Gees hoef daarom niks by te voeg by Jesus se woorde en dade nie. Hy moet bloot Jesus verkondig, of soos Johannes dit stel, verheerlik (7:39).
Op die manier sit die Parakleet die bediening van Jesus, wat in 1 Johannes 2:1 ook as ’n parakleet beskryf word, voort. In 14:16 sê Jesus dat Hy ’n ander Parakleet aan sy dissipels sou gee en toon daarmee dat Hy die eerste was. Deur die Gees is Jesus dus, volgens Johannes, ook as Parakleet teenwoordig by sy kerk in elke tydvak en konteks. Die ervaring van die Heilige Gees in sy gemeenskap dien daarom vir Johannes as bewys dat Jesus se belofte oor sy voortdurende teenwoordigheid by sy kerk waar geword het.

Week 8:
Sefanja 3:14-20

Vergifnis, ‘n nuwe begin, die opskort van oordeel, liefde in plaas van haat, is alles moontlik omdat Jesus gekom het. Dit is ‘n geskenk van God, deurdat God ons wêreld in die koms van Jesus as Mens aangeraak het.
Maake Masango, voormalige moderator van die Presbiteriaanse kerk in SA, vertel hoe vergifnis en ‘n nuwe begin grondgevat het in ons land.
Maake se ware verhaal gaan oor ‘n bejaarde Suid-Afrikaanse vrou in ‘n hofsaal. Sy het pas geluister hoe lede van die polisiemag die gruweldade erken wat hulle in die menseregtestryd in SA gepleeg het. Polisieman Van de Broek het verantwoordelikheid vir die dood van haar seun aanvaar. Saam met ander het hy haar seun op kort afstand doodgeskiet. Hy en ander het daarna partytjie gehou terwyl hulle die dooie se liggaam tot as verbrand het.
Sowaar: daar is vergifnis moontlik, selfs vir die grootste sondaars.
Hiervan getuig die profeet Sefanja.

Die dag van die Here
Sefanja profeteer in Juda vóór die val van Nineve in 612 v.C. Sy prediking dra waarskynlik by tot die hervormings van koning Josia in 622-621 v.C. toe die wetboek van die Here weer ontdek word en die volk God opnuut begin gehoorsaam. Josia het dus heel moontlik Sefanja se boodskap ter harte geneem, soos hy dit ook gedoen het met die boodskap van Jeremia.
Sefanja beklemtoon dat die “dag van die Here” (1:7,14) gaan aanbreek. Hierdie dag van die Here sluit soos by al die ander profete oordeel en genade in. God se oordeel kan ook ‘n geleentheid tot bekering wees, ‘n afwending van die oordeel van die Here, vergifnis in plaas van straf.
Die boek eindig in hoofstuk 3 met ‘n wonderlike beskrywing van die verlossing wat God sal bring. Die eerste belofte word gegee in die gedeelte van hoofstuk 3 net voor ons teks begin, terwyl die tweede en derde die inhoud van ons teksgedeelte vorm:
3:9-13 – Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak
3:14-17 – Die Here jou God is by jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde
3:18-20 – Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het
Wanneer die dag van die Here aangekondig word, skep dit dus die geleentheid vir mense om opnuut na God te draai en God se vergifnis vas te gryp. Dit is God se bedoeling om verlossing te skenk.

“God is by jou”
Die kerngedagte van ons teks word in vers 15 en 17 beklemtoon: “Die Here God is by jou.” Vandag lees ons hierdie teks deur die bril van die Adventstyd. Wanneer Jesus gebore word, is dit ook deel van die aankondiging. Hy is God by ons.
Die nabyheid van God kan ons op ‘n intense manier ervaar omdat Jesus, die Koning, naby gekom het, mens kom word en onder ons kom woon het. Sy koms, waaraan ons in Adventstyd dink, verseker ons, volgens Sefanja, van twee dinge. Dit bring ‘n einde aan die oordeel sodat ons met blydskap deel kan hê aan die vernuwende teenwoordigheid van Jesus. Dit bring ook die herstel en regverdiging van die kerk van die Here teenoor ‘n vyandige wêreld.
1. ‘n Einde aan die oordeel
God spreek hier sy volk Israel aan deur die profeet Sefanja, ongeveer die jaar 640 v.C. In die lig van die Nuwe Testament praat God hierdeur ook vandag met sy volk uit alle nasies; met die wêreldwye kerk van Jesus Christus. Dit beteken die oordeel oor Israel en die nasies waarvan Sefanja praat, asook die herstel van Israel en die nasies, is nie beperk tot die tydperk in die ou bedeling nie.
Die kerk is nie uitgesluit uit die oordeel van God nie. Sefanja vra: Wat kom op ons af? En sy antwoord is: donker en stormagtige tye. Die vervolging waaraan die kerk deur die eeue deel kry, is ‘n lydensweg in navolging van Christus, dit is ons deel wat lei tot die uitkoms: die verlossing van die wêreld. Maar Sefanja leer ons dat die lyding van die kerk ook ‘n Goddelike gerig kan wees, ‘n waarskuwing waardeur Hy die gemeente oproep tot selfbesinning en voortgaande bekering.

Loutering eerder as verwoesting
Die troos van Sefanja is egter dat die gerig nie die einde van die gemeente beoog nie, maar sy loutering. Sefanja verbind die oordeel en die heil dus direk aan mekaar; die oordeel het die heil in die oog. Maar wonderlik, die bevryding, die jubellied spreek die laaste woord.
Vir ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges is daar ‘n besondere verbintenis tussen die oordeel en die heil en redding in die koms van Jesus. In Hom het die toorn en oordeel van God op Golgota saamgetrek. Nou kan uit hierdie oordeel vernuwing kom. Jesus se koms na ons het dit moontlik gemaak dat God se toorn van ons afgeweer is. Nou kan ons vrede en vreugde ervaar.
Elke gelowige en die kerk as geheel, kan elke dag opnuut toe-eien dat ons vrolik en bly kan wees, dat die oordeel verby is en die heil ons deel is. Ook ons is nou stil-tevrede in ons liefde vir Hom (vgl. Jesaja 30:15). Soms loop dit oor in jubel of protesteer teen dit wat verkeerd is, altyd vanuit ‘n diepe bewussyn daarvan dat God in beheer is, dat Hy op die einde alles goed sal laat afloop.

2. ‘n Nuwe tyd van eenheid en regverdiging
Hy sal almal wat verstrooid geraak het weer bymekaarbring. Hierin sien ons iets van God se diep drang dat sy volk ‘n eenheid moet wees. Later in die Nuwe Testament is dit een van die sterk lyne wat deurloop, dat die kerk van Jesus een liggaam is wat deur sy eenheid ‘n getuienis in die wêreld is. Vers 20 laat mens dink aan die bymekaarmaak van die skape waarvan Jesus praat: ” . . . en hulle sal een kudde wees met een herder” (Joh. 10:16). Jesus se koms en sy teenwoordigheid by ons is soos ‘n vlag op ‘n heuwel wat al die gelowiges as oorwinnaars om Hom laat vergader.
Volgens Sefanja loop die weg na die regverdiging van die kerk, na roem en eer (20), deur die bymekaarmaak van almal. Vandag sluit dit in: die sending- en evangelisasiewerk van die kerk; ‘n groter mate van eenheid onder die kerke in Suid-Afrika. In Suid-Afrika bly die strewe na groter eenheid onder die getuienis van gelowiges vol struikelblokke. Baie het vandag die droom laat vaar, maar die strewe moet lewendig gehou word. Juis die onderlinge verbondenheid van die gelowiges kan ‘n verskil in Suid-Afrika se huidige impasse maak.

Roem in plaas van vernedering
God gaan aan sy volk eer en roem gee in elke land waar hulle verneder is (18-20). Die vernederings van die ballinge sal verander word in roem oor die hele aarde, op ‘n tyd deur die Here daarvoor bestem. Mens dink hier aan die lyding van die kerk deur die eeue. Ongeag hoe dit vergelyk met ander tye en plekke, ervaar gelowiges vandag ook lyding in die wêreld. In besonder hier in Suid-Afrika beleef ons tans dat dit ‘n mode is om die kerk te kritiseer. In die media is dit vandag polities korrek om die kerk te verneder en as irrelevant af te maak. Verder van ons af is gelowiges wêreldwyd baie bewus van Christene wat vervolg word deur radikale Islamiete, soos ISIS en Boko Haram.
Tog kan die kerk en elke gelowige daagliks leef uit die oorwinning van Jesus oor alle magte met sy kruis en opstanding, met die wete ons is in God se oë geregverdig. Sy koninkryk kan nie omver gegooi word nie. Te midde van die lyding wat gelowiges ervaar omdat die wêreld nie ons woning is nie, gebeur dit soms – onverwags, uit die bloute – dat gelowiges eer en roem kry (dink in ons tyd aan Moeder Theresa), dat ‘n geloofstandpunt die deurslag gee in sosiale spanning, of dat die kerk se belange in ag geneem word in politieke besluite. Veral ons Christene in Suid-Afrika het baie om voor dankbaar te wees. Jesus het gekom, Hy is by ons, en Hy regeer, ook in die skyn van teendeel.

3. Môre, vandag reeds
Jesus het gekom, maar belangrik, Hy kom weer. Daarom is God se diep liefde vir ons en sy reddingswerk ons deel – nou reeds, maar nog meer so in die toekoms. Vir ons sal daar ook ‘n dag kom waarna ons soos die profeet Sefanja, met verwagting kan uitsien. Die dag wanneer ons die einde van die oordeel en die heelheid wat God gee, volkome sal ervaar. Hy sal uiteindelik ook ons vyande vernietig en aan ons oorwinning gee. Die belofte dat God uiteindelik ons saak sal regverdig en ons sal herstel, kan hoop en bemoediging vir God se mense vandag gee. Hy sal in ons belang optree, en ons sal vreugde vind in ons gemeenskap met Hom. Ons vernederings sal verander in glorie!
Die wonderlike is dat die toekoms nou reeds gebeur! Want die Koning het gekom. Hy is nou hier by ons. Hy is op so ‘n manier hier dat ons nou reeds die einde van die oordeel kan vier en God se liefde kan geniet. Verder, Hy is op so manier hier dat Hy elke dag vir ons die Heilige Gees gee om stukkies gehoorsaamheid en oorwinning te kan ervaar. Hy sal hier en nou in die wêreld sy krag en liefde tot ons beskikking stel en ons sal in staat sal wees om met blydskap op ons beproewinge te reageer en ons hoop bely te midde van alles. Met die manier waarop gelowiges lewe, bring hulle ‘n stukkie van die toekoms die hede in.

Ons liefde vir God
Wat God vir Israel gesê het in Sefanja, laat geld Hy vir ons, sy volk uit alle nasies, op ‘n nuwe manier. Jesus het gekom en Hy sal kom. Hoe verniel ons ook al deur die sonde is, hoe skuldig ons ook al voor God is, hoe verguis hierdie volk ook al mag word deur die vyande van die kruis, ‘n jubel sal uiteindelik opklink. Ons stil-tevrede liefde vir God sal oorborrel in die jubel van mense wat bevry is, die jubel van mense wat leef vir ‘n nuwe Jerusalem, ‘n jubel wat vir altyd sal opklink.
‘n Bejaarde Suid-Afrikaanse vrou, van wie Maake Masango vertel, nooi ons vandag uit om vanuit die bevryding te lewe

Week 9:
Joh 10:10 – lewe van oorvloed

Gaan stem! is die opskrif van ‘n berig in een kerkblad, terwyl ‘n ander kerkblad selfs ‘n advertensie van ‘n spesifieke party en die leier daarin het.
Sedert Maartmaand is ons gereeld in die pers aan die verkiesingsdag herinner. Die geleentheid om leiers vir plaaslike regering te kies, breek dié week aan. ‘n Groot verskeidenheid partye en groepe het moontlike leiers geïdentifiseer en aan die plaaslike gemeenskappe voorgestel.
As verantwoordelike rentmeesters en bestuurders van die Here hier op aarde, is dit ook gelowiges se plig om goeie leiers aan te wys. Dit is daarom verstaanbaar dat verskillende kerkleiers hulle lidmate aangemoedig het om te gaan stem. Die uiteindelike doel is om ‘n gemeenskap te hê waar leiers met integriteit kan voorloop en hulle volgelinge in harmonie kan saamleef, saamwerk, sáám gedeelde waardes nastreef en mekaar ondersteun.
Binne die kerklike raamwerk is leierskap ook ‘n baie belangrike saak. Ons word daarvan bewus gemaak in elke Bybelboek. Hier vind ons ook talle voorbeelde van gebrekkige leierskap – leiers wat hul volgelinge mislei en hulle skuldig maak aan magsbeheptheid (Jer 23:1–4, Eseg 34:1–4)
Jesus het met sy “intreepreek” (Luk 4:16 ev) duidelik uitgespel wat sy leierskapstyl behels – iemand met integriteit wat kom om te dien. Soos sy aardse bediening verder ontvou – veral hier in Johannes 8, 9 en 10 – vind hy dit nodig om die saak duidelik uit te spel, met bekende metafore.

Die gebeure in Johannes 8:1–11 en 9:1-41 skets twee botsende wêreldbeskouings. Jesus ontbloot die leiers se gebrek aan wysheid, liefde en barmhartigheid … en onderstreep hulle selfgerigtheid, selfsug en gebrekkige leierskap. Aan die een kant is hulle mense wat gesagsposisies beklee, wette toepas en op dié manier gesag probeer afdwing. Dáárteenoor het Jesus leierskap deur diensbaarheid kom illustreer. Anders as die leiers van Israel, is Hy die Goeie Herder, want Hy gee om vir God se mense soos ’n goeie herder vir sy skape omgee. Hy het die mense lief. Hy spandeer tyd om na hulle te luister. Hy vergewe hulle en herstel hulle menswaardigheid. Hy help hulle om op God te fokus en bemagtig hulle om voluit te leef!
Sy ingesteldheid teenoor mense is verrassend nuut en vars – eintlik dit wat in die Ou Testament deur Jesaja aan leiers voorgehou is (Luk 4:18–19, Jes 61:1–3), en wat hulle so ‘n bietjie vergeet het. Dit maak dat mense hom vertrou. Hy word tussen hulle bekend as ‘n leier met integriteit. Hy vul die begrip herderskap en leierskap met sy liefde, met sy sorg en met sy omgee. Hy is self die volmaakte voorbeeld van die goeie herder.

Onderlinge sorg
In dié nuwe herdersgemeenskap is die dissipels onderling aan mekaar verbind – hulle het dieselfde leier, deel dieselfde waardes en dieselfde opdrag!
Vanaf die ontstaan van die kerk in die Nuwe Testament is Christus die Leier wat sy volgelinge leer om ook onderling vir mekaar verantwoordelikheid te neem. Dié onderlinge verbintenis noop hulle om as ‘n versorgende gemeenskap te leef.
Só kry Christus se sorg gesig in sy volgelinge se onderlinge sorg. Sy omgee kry gesig in hulle onderlinge omgee vir mekaar en vir ander. Hulle onderlinge omgee, versorging en diensbaarheid, word mettertyd kenmerke van die eerste gemeentes (Hand 2:42-47).
In verkiesingstye in die besonder word baie gekla oor gebrekkige versorging, dienslewering en swak leierskap. Nou is die tergende vraag: Is die geloofsgemeenskap self nie ook maar so nie? Of is ons werklik ‘n alternatiewe gemeenskap waar dit anders daaraan toegaan en ons wél reageer op mekaar se nood?

Met die aanloop na, of tydens elke jaar se Pinkstertyd, word gereeld na die kenmerke van die eerste gemeentes verwys. Ook in ons moderne era is die kerk sonder hierdie kenmerke nie geloofwaardig nie.
Vandag het elke gemeente tog voorbeelde van toegewyde lidmate wat die voorbeeld van Jesus prakties uitleef. Daar is tog baie gelowige mense wat as ‘t ware deur God se oë na ander mense en situasies kyk – gelowiges wie se diensbaarheid voorop staan. Gelowiges wat gereed is om uitdagings te aanvaar. Omdat hulle fokus op die Koninkryk, is geen opoffering is te groot nie.
Die noodsaaklike behoefte hieraan word opnuut onderstreep deur die gebrokenheid van die wêreld waarin ons leef – gebeure in Japan het weer illustreer hoe gelowiges daar plaaslik, maar spesifiek ook vanuit Suid-Afrika, by onderlinge versorging betrokke kan raak.
Maar soos in Jesus se bedieningstyd toe melaatses in die gemeenskap uitgeskuif is en mense nie veel kontak met hulle wou hê nie, kry ons steeds situasies waar mense as’t ware eenkant gelaat word, waar hulle weens vooroordele nie inpas by die gemeenskap nie. Jesus neem egter leiding en bring genesing en lewe – ook vir melaatses (Luk 5:12 ev).

Een so ‘n groep mense wat dikwels nog soos melaatses hanteer word, is mense wat MIV-positief is. Selfs die nuwe herdersgemeenskap verstaan nie oral hoe dié situasie reg hanteer moet word nie.
Deesdae word baie gepraat (en soms ook gedoen) oor armoede en werkloosheid. Daar is plek-plek daadwerklike pogings om mense wat hierdeur geknel word, te help. Wanneer ons oor MIV-positiewe mense praat, is daar egter dikwels huiwering om as ‘n herdersgemeenskap na vore te tree.
Terwyl die pandemie al groter word, lyk dit ook nie altyd of die regering genoeg doen om hulp te verleen aan die MIV-positiewe persone, relevante inligting aan almal te verskaf en die regte waardes te beklemtoon om voorkomend op te tree nie. (Preekstudies en Liturgiese voorstelle bl 163 en 164 gee waardevolle riglyne hieroor. Baie verwysings en bronne is beskikbaar vir predikers om gemeentes te begelei).

‘n Versorgende gemeente en kerk in die wêreld
Wanneer ons verhouding met die Goeie Herder onderliggend en bepalend is vir al die ander verhoudings in ons lewe, kan ons nie anders as om in ’n stukkende wêreld vir mekaar en ons medemense om te gee en om medeverantwoordelik vir mekaar te aanvaar nie!

Hoe lyk dit met ons leierskap op dié terrein? Na watter soort oorvloed soek politieke leiers? Korporatiewe leiers en leiers in die sakewêreld? Predikante en kerkraadslede? Ons as ouers wat leiding in ons huise neem en aan ons gesinne gee? Wie is ons voorbeeld? Met Paasfees het ons weer bewus geword van ‘n ander soort leierskap en ‘n ander soort oorvloed – leiers wie se oorvloed nie gekenmerk word deur grypsug en selfgerigtheid nie, maar deur ‘n oorvloed wat juis uitmond in ontlediging, in leegmaking van jouself ter wille van ander, ‘n oorvloed wat bestaan uit omgee en diensbaarheid.
Die kerk bestaan ter wille van die wêreld. Ons sal ál meer deur God se oë na ander mense, gebeure en situasies in ons midde moet kyk – met diensbaarheid wat voorop staan: Ons sal gereed moet wees om uitdagings te aanvaar, nie te terug te deins vir opofferings nie, voor te loop en leiding te neem!

Joh 10:10 – lewe van oorvloed
Gaan stem! is die opskrif van ‘n berig in een kerkblad, terwyl ‘n ander kerkblad selfs ‘n advertensie van ‘n spesifieke party en die leier daarin het.
Sedert Maartmaand is ons gereeld in die pers aan die verkiesingsdag herinner. Die geleentheid om leiers vir plaaslike regering te kies, breek dié week aan. ‘n Groot verskeidenheid partye en groepe het moontlike leiers geïdentifiseer en aan die plaaslike gemeenskappe voorgestel.
As verantwoordelike rentmeesters en bestuurders van die Here hier op aarde, is dit ook gelowiges se plig om goeie leiers aan te wys. Dit is daarom verstaanbaar dat verskillende kerkleiers hulle lidmate aangemoedig het om te gaan stem. Die uiteindelike doel is om ‘n gemeenskap te hê waar leiers met integriteit kan voorloop en hulle volgelinge in harmonie kan saamleef, saamwerk, sáám gedeelde waardes nastreef en mekaar ondersteun.
Binne die kerklike raamwerk is leierskap ook ‘n baie belangrike saak. Ons word daarvan bewus gemaak in elke Bybelboek. Hier vind ons ook talle voorbeelde van gebrekkige leierskap – leiers wat hul volgelinge mislei en hulle skuldig maak aan magsbeheptheid (Jer 23:1–4, Eseg 34:1–4)
Jesus het met sy “intreepreek” (Luk 4:16 ev) duidelik uitgespel wat sy leierskapstyl behels – iemand met integriteit wat kom om te dien. Soos sy aardse bediening verder ontvou – veral hier in Johannes 8, 9 en 10 – vind hy dit nodig om die saak duidelik uit te spel, met bekende metafore.

Die gebeure in Johannes 8:1–11 en 9:1-41 skets twee botsende wêreldbeskouings. Jesus ontbloot die leiers se gebrek aan wysheid, liefde en barmhartigheid … en onderstreep hulle selfgerigtheid, selfsug en gebrekkige leierskap. Aan die een kant is hulle mense wat gesagsposisies beklee, wette toepas en op dié manier gesag probeer afdwing. Dáárteenoor het Jesus leierskap deur diensbaarheid kom illustreer. Anders as die leiers van Israel, is Hy die Goeie Herder, want Hy gee om vir God se mense soos ’n goeie herder vir sy skape omgee. Hy het die mense lief. Hy spandeer tyd om na hulle te luister. Hy vergewe hulle en herstel hulle menswaardigheid. Hy help hulle om op God te fokus en bemagtig hulle om voluit te leef!

Onderlinge sorg
In dié nuwe herdersgemeenskap is die dissipels onderling aan mekaar verbind – hulle het dieselfde leier, deel dieselfde waardes en dieselfde opdrag!
Vanaf die ontstaan van die kerk in die Nuwe Testament is Christus die Leier wat sy volgelinge leer om ook onderling vir mekaar verantwoordelikheid te neem. Dié onderlinge verbintenis noop hulle om as ‘n versorgende gemeenskap te leef.
Só kry Christus se sorg gesig in sy volgelinge se onderlinge sorg. Sy omgee kry gesig in hulle onderlinge omgee vir mekaar en vir ander. Hulle onderlinge omgee, versorging en diensbaarheid, word mettertyd kenmerke van die eerste gemeentes (Hand 2:42-47).
In verkiesingstye in die besonder word baie gekla oor gebrekkige versorging, dienslewering en swak leierskap. Nou is die tergende vraag: Is die geloofsgemeenskap self nie ook maar so nie? Of is ons werklik ‘n alternatiewe gemeenskap waar dit anders daaraan toegaan en ons wél reageer op mekaar se nood?

Met die aanloop na, of tydens elke jaar se Pinkstertyd, word gereeld na die kenmerke van die eerste gemeentes verwys. Ook in ons moderne era is die kerk sonder hierdie kenmerke nie geloofwaardig nie.
Vandag het elke gemeente tog voorbeelde van toegewyde lidmate wat die voorbeeld van Jesus prakties uitleef. Daar is tog baie gelowige mense wat as ‘t ware deur God se oë na ander mense en situasies kyk – gelowiges wie se diensbaarheid voorop staan. Gelowiges wat gereed is om uitdagings te aanvaar. Omdat hulle fokus op die Koninkryk, is geen opoffering is te groot nie.
Die noodsaaklike behoefte hieraan word opnuut onderstreep deur die gebrokenheid van die wêreld waarin ons leef – gebeure in Japan het weer illustreer hoe gelowiges daar plaaslik, maar spesifiek ook vanuit Suid-Afrika, by onderlinge versorging betrokke kan raak.
Maar soos in Jesus se bedieningstyd toe melaatses in die gemeenskap uitgeskuif is en mense nie veel kontak met hulle wou hê nie, kry ons steeds situasies waar mense as’t ware eenkant gelaat word, waar hulle weens vooroordele nie inpas by die gemeenskap nie. Jesus neem egter leiding en bring genesing en lewe – ook vir melaatses (Luk 5:12 ev).
Deesdae word baie gepraat (en soms ook gedoen) oor armoede en werkloosheid. Daar is plek-plek daadwerklike pogings om mense wat hierdeur geknel word, te help. Wanneer ons oor MIV-positiewe mense praat, is daar egter dikwels huiwering om as ‘n herdersgemeenskap na vore te tree.

‘n Versorgende gemeente en kerk in die wêreld
Wanneer ons verhouding met die Goeie Herder onderliggend en bepalend is vir al die ander verhoudings in ons lewe, kan ons nie anders as om in ’n stukkende wêreld vir mekaar en ons medemense om te gee en om medeverantwoordelik vir mekaar te aanvaar nie!

Hoe lyk dit met ons leierskap op dié terrein? Na watter soort oorvloed soek politieke leiers? Korporatiewe leiers en leiers in die sakewêreld? Predikante en kerkraadslede? Ons as ouers wat leiding in ons huise neem en aan ons gesinne gee? Wie is ons voorbeeld? Met Paasfees het ons weer bewus geword van ‘n ander soort leierskap en ‘n ander soort oorvloed – leiers wie se oorvloed nie gekenmerk word deur grypsug en selfgerigtheid nie, maar deur ‘n oorvloed wat juis uitmond in ontlediging, in leegmaking van jouself ter wille van ander, ‘n oorvloed wat bestaan uit omgee en diensbaarheid.
Die kerk bestaan ter wille van die wêreld. Ons sal ál meer deur God se oë na ander mense, gebeure en situasies in ons midde moet kyk – met diensbaarheid wat voorop staan: Ons sal gereed moet wees om uitdagings te aanvaar, nie te terug te deins vir opofferings nie, voor te loop en leiding te neem!

Share