Preekvoorstelle vir Heilige Gees

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

PREEKSKETS 1

WEEK 1

DIE KRAG VAN DIE HEILIGE GEES

 

EEN EN DIESELFDE MAN?

 

VOTUM EN SEËNGROET

2 Korintiërs 12:9

God se genade is genoeg vir jou! Sy krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is!

 

SKRIFLESING

Matteus 26:69-75

Handelinge 2

 

SELFVERTROUE IS NIE GENOEG NIE

Matteus 26:69-75 moet gelees word teen die agtergrond van Matteus 26:35.

  • Petrus het nou reeds drie jaar in die voetspore van Sy Meester gestap. Hy het Jesus goed geken en baie goeie kennis aangaande Sy leringe gehad.
  • Hy was reeds vantevore in ʼn posisie, waar Hy van God ʼn buitengewone openbaring ontvang het, vgl. Matteus 16:17—19.
  • Hy was ʼn vurige man met ʼn onverskrokke liefde vir Jesus.

Toe Jesus Sy dissipels daarop begin voorberei het dat Hy vervolg gaan word en gaan sterf, het Petrus vir Jesus daarvan verseker dat hý nooit teen Hom sou draai nie. Hy was daarvan oortuig dat hy in alle omstandighede aan Jesus getrou sou kon bly. Hy was selfs bereid om saam met Jesus te sterf.

Teen die tyd dat Matteus 26:69-75 egter afgespeel het, was Petrus in ʼn skoktoestand:

  • Jesus is verraai deur een van Sy eie dissipels en gevange geneem, Matteus 26:47-56.
  • Hy is op grond van vals getuienis aangekla en die Joodse Raad het Hom verhoor en skuldig bevind aan godslasterlike uitsprake, Matteus 26:57-67.
  • Die bystanders is toegelaat om op Jesus te spoeg, Hom te klap, met die vuis aan te rand en uit te tart.
  • Jesus het ernstige vervolging en selfs die dood in die gesig gestaar.
  • Toe Petrus besef dat hy dalk dieselfde paadjie as Jesus sal moet stap as hy erken dat hy Hom ken, kon hy nie langer by sy oortuigings van vroeër bly nie. Die druk was eenvoudig te intens en Petrus het geknak.

Wie van ons sou bereid wees om fisies te ly en dalk te sterf vir Jesus, vgl. Matteus 5:11-12?

Wat kan ons hieruit leer?

  • Ons kan nie op ons eie vermoëns staat maak nie.
    • ʼn Goeie selfbeeld en selfvertroue gaan nie verseker dat ons die geestelike stryd, waarin ons as gelowiges gewikkel is, sal kan hanteer nie.
    • Ons het Gód nodig!

        

GOD TREE TOE!

Handelinge 2:14 e.v.

VAN VREESBEVANGE TOT VREESLOOS

Dieselfde man wat te bang was om teenoor ʼn diensmeisie en van die omstanders by Jesus se verhoor te erken dat hy die Here ken, getuig nou vreesloos voor duisende mense. Nie alleen kon Petrus getuig nie, hy vermaan en leer die skare aangaande Jesus. En sy woorde dra gesag. Drieduisend mense kom tot bekering! Wat sou die rede wees?

 

DIE UITSTORTING VAN DIE HEILIGE GEES!

Handelinge 2 (Kies toepaslike verse)

Daar is lering wat die gelowige motiveer om in God se gesag te opereer; die Bloed van Jesus op situasies af te roep en met krag te opereer. Dit is egter baie belangrik dat ons nie mislei raak om te begin dink dat Jesus se verlossingswerk en die Heilige Gees se inwonende Teenwoordigheid van óns besonderse mense maak nie. Ons buitengewone toerusting word nie begrond op ons buitengewone vermoëns nie, maar op ons oorgawe aan ons God, wat al hierdie werkinge van Sy Gees deur ons kanaliseer.

Paulus se woorde in 2 Korintiërs 12:9, waarmee die gemeente geseën is met die aanvang van die erediens, verduidelik hoekom hierdie man wonder op wonder beleef het. Kyk na die lys van ervarings wat hy nie slegs oorleef het nie, maar terselfdertyd nie groter prioriteit laat geniet het as Sy God nie! Hy het nie toegelaat dat bitterheid of onvergewensgesindheid hom bind nie, maar heeltyd bly fokus op Jesus, wat hom deur al hierdie dinge beskerm het.

  • Hy het vyf keer 39 houe gekry, 2 Korintiërs 11:24.
  • Hy is drie keer met stokke geslaan, 2 Korintiërs 11:25.
  • Hy is een keer met klippe gegooi, 2 Korintiërs 11:25.
  • Hy het drie keer skipbreuk gelei, 2 Korintiërs 11:25.
  • Hy het een keer ʼn dag en ʼn nag op die oopsee oorleef, 2 Korintiërs 11:25.
  • Op reis was hy dikwels in gevaar van riviere, rowers, volksgenote, heidene en en ander gevare in stede én verlate gebiede, 2 Korintiërs 11:26.
  • Hy het hard gewerk en swaarkgekry, 2 Korintiërs 11:27.
  • Hy was nagte lank wakker, honger en dors, baie keer koud en sonder klere, 2 Korintiërs 11:27.
  • Hy het homself nie eens die weelde gegun om oor sy lyding te spog nie, 2 Korintiërs 11:5.
  • En hy homself ook nie besig gehou met die sonde, wat ander aan hom gedoen het nie. Dit was slegs moontlik as hy Jesus se vermaning aan Petrus dat hy 70×7 keer moes vergewe, ernstig opgeneem het, Matteus 18:21-35.

Daar was ook buitengewoon seënryke ervarings. En nogeens het hy hoogmoed en trots weerstaan, sodat die krag van Christus voortdurend deur hom kon werk, 2 Korintiërs 12:9b. Kyk na ʼn paar van die wonders:

  • Hy het ʼn hemelse ervaring gehad, 2 Korintiërs 12:2.
  • Elimas het tydelik blind geword, Handelinge 13:11.
  • ʼn Verlamde het begin loop, Handelinge 14:10.
  • Bose geeste is uitgedryf, Handelinge 16:8; 19:12.
  • Siekes is genees, Handelinge, 19:11-12; 28:8-9.
  • ʼn Seun is uit die dood opgewek, Handelinge 20:10-12.
  • Hy skud ʼn giftige slang van sy hand af en kom niks oor nie, Handelinge 28:5-6.

Die wonder van ‘n lewe deur die Gees is in die Een, wat in ons kom woon het. God is in ons en in Hom is die krag! Dis Hý, wat deur die inwonende Teenwoordigheid van Heilige Gees wonders verrig en kragtige werkinge doen! Sy krag word in ons swakheid volbring! As jy dink aan alles wat God in Sy groot ontferming vir jou gedoen het, gee dan jouself aan Hom as ʼn lewende en heilige offer, Romeine 12:1 en beleef hoe Hy jóú ook gebruik om mense te genees en wonders te doen!

Laat God toe om GOD te wees! Ook in jou lewe!

 

GEBED

Lei die gemeente in ʼn gebed van oorgawe aan God-Drie-enig.

Bid ook dat Heilige Gees elkeen vervul.

Bid dat elke lidmaat ʼn kragtige instrument in God se Hand sal wees.

 

(Dit blyk baie meer effektief te wees wanneer die gemeente hardop saambid aangesien woorde krag dra,       vgl.  o.a. ook Spreuke 18:21a. Andersins dink meeste mense slegs saam sonder om ʼn daadwerklike keuse te maak of ʼn doelgerigte besluit te neem. Vir dié doel kan die prediker vooraf ʼn gebed formuleer en projekteer tydens die diens. Lees die gebed sin vir sin af en laat die gemeente dit sin vir sin herhaal. Om blote repetisie te verhinder, vereis van prediker om met diep erns self ook elke sin met totale oorgawe aan God te bid.)

Baie seën met hierdie week se prediking en moenie vergeet om elke oomblik te geniet nie!

Elza Meyer

 

 

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

PREEKSKETS 2

WEEK 2

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES (1)

 

JY IS DIE TEMPEL!

Hierdie onderwerp leen homself tot ʼn praktykgerigte erediens, waartydens leraars die gemeente stap vir stap kan begelei tot ʼn duideliker verstaan van ʼn lewe saam met God.

 

RIGLYNE VIR PREDIKING

  • Gebruik die verskillende voorwerpe wat in die Tabernakel/Tempel voorgekom het as aksie punte, waar gelowiges doelgerig hul verlossing kan ontvang, wat in Christus in vervulling gegaan het.
  • Erediensgangers word begelei om by elke voorwerp God se oorspronklike bedoeling daarmee hul eie te maak en in Christus die voltooïng van hul verlossing te vier.
  • Indien getalle dit toelaat, kan plakate van die onderskeie voorwerpe gedruk word en op strategiese plekke in die erediensruimte geplaas word. Lidmate kan dan daarheen gaan tydens die verskillende erediens momente.
  • Indien gemeentegetalle dit nie toelaat nie, kan die onderskeie voorwerpe met teksverse op die skerm(s) vertoon word.
  • Dis belangrik dat deelnemers genoegsame tyd gegun word om by elke voorwerp te vertoef. Die leraar kan deurgaans tydens hierdie momente die gemeente met voorstelle en gebed begelei.

 

Lees Eks. 40, Hebreërs 8 en 1 Kor. 3:16-17; 6:19-20

Selekteer toepaslike tekste vir die erediens 

Inleidende Opmerkings

Meer as 50 hoofstukke van die Bybel is aan die tabernakel gewy. In totaal beslaan die verwysings en beskrywings aangaande die tabernakel meer bladsye as Matteus en Markus saam.

Meeste mense wil graag naby aan God of ʼn godheid wees. In die tyd van Moses het die tabernakel vir die Joodse gelowiges bepaalde riglyne verskaf, waarvolgens hulle hul lewens kon inrig volgens God se wil en kon leer om vanuit Sy Teenwoordigheid te opereer. En alhoewel Hebreërs 8:5–6 waar is, en hulle slegs ‘n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom geken het, verskaf die betekenis van elke voorwerp en daarmee gepaardgaande geloofshandeling in die tabernakel steeds kosbare riglyne vir die Christen van vandag.

Hebreërs 8:5–6

Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: Sorg dat julle alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het. Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.

 

N DIAGRAMATIESE VOORSTELLING VAN DIE UITLEG VAN DIE TABERNAKEL

 untitled1

 

ELKEEN WAT IN JESUS GLO, WORD TEMPEL

Verduidelik nou aan die gemeente dat die tabernakel en tempel in Christus geskuif het na die gelowige en dat God deur Sy Gees in húlle tabernakel, 1 Kor. 3:16-17; 6:19-20.

Die doel van die erediens is dus daarop gemik om op ʼn praktiese wyse te illustreer, wat Christus se verlossingswerk en ʼn lewe deur die Gees die gelowige bied.

 

VOORHOF

Die Voorhof was ‘n groot oop area rondom die Heilige en Allerheiligste/Tent van ontmoeting. Twee voorwerpe het die Joodse gelowiges in God se Teenwoordigheid ingelei:

  • Die Brandofferaltaar
  • Die Waskom

(Meer inligting word in Week 2 se Dagstukkies hieroor verskaf.)

 

Die brandoffer altaar

Eks. 27:1-8; 38:1-7

untitled2
Die brandofferaltaar was van koper en daarop is diere geoffer om versoening te doen vir die volk se sondes.

Die brandofferaltaar het in die Voorhof regoor die hek of poort gestaan, wat Die Weg, genoem was. Enigeen wat deur die eerste deur van die Tabernakel tot in die Voorhof gestap het, het die weg/pad na God gevind. Net so is Jesus volgens Johannes 14:6 ook die Weg tot die Vader. Sonder Hom kan niemand by God uitkom nie. Die Jode moes dadelik geweet het waarvan Jesus gepraat het toe Hy destyds hierdie uitspraak gemaak het – hulle sou deur Jesus moes gaan as hulle by God wou uitkom.

In die Voorhof het besoekers aan die tabernakel en later ook die tempel begryp dat die brandofferaltaar ʼn sentrale rol in hul verhouding met God speel. Daar was geen manier om in die Heilige te kom sonder om by die brandofferaltaar stil te staan nie.

By die brandofferaltaar is daar versoening gedoen vir hul sondes. Die Jode het ʼn offerdier aan die priester gegee vir hierdie doel. Sondevergifnis is ʼn voorvereiste vir ʼn lewe saam met God.

Die eerste stap in enige individu se verhouding met God berus nog steeds op sondebelydenis en vergifnis. Niemand is sonder sonde nie, ons het almal verlossing nodig, Romeine 3:26. 

Aangesien die kruis van die Here Jesus die brandofferaltaar van die Ou Testament vervang, word daar nou ʼn voorstelling van die kruis op die skerms vertoon met toepaslike teksverse, bv. Johannes 3:16 en daaropvolgend Johannes 1:12.

Begelei nou kerkgangers om hul sondige verlede voor die kruis van die Here Jesus te bely en Sy verlossingswerk hul eie te maak. Die leraar kan ʼn oorgawe gebed bid en die gemeente uitnooi om hardop sin vir sin saam te bid.  

Dis belangrik om deelnemende lidmate daarvan te verseker dat hulle hede, verlede en toekoms nou in Christus verlos is. Hulle is nuwe mense en hoef nooit weer terug te kyk of te vrees vir die toekoms nie. Hulle redding berus ook nie op verdienste nie, maar op God se genade, Efesiërs 1:7; 2 Korintiërs 5:17-21.

By die kruis gee ons dan ook aan God oor en kies ons om nie langer deur die vlees te leef nie, maar deur die Gees!       Romeine 12:1-2  En nou doen ek ʼn beroep op julle op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is… Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Wie Jesus se Heerskap oor sy/haar lewe erken, betree terselfdertyd ‘n lewe van voortdurende kommunikasie met God!

 

Die waskom

Eks. 30:17-21, 38:8

 untitled3
Voordat die priesters toegelaat is in die tent van ontmoeting moes al die bloed, wat tydens die offerproses op hulle hande en voete gekom het, afgewas word. Hulle moes dus klaarmaak met die brandofferaltaar en die versoening van sondes, voordat hulle kon verder gaan.

Die Waskom, die tweede voorwerp in die Voorhof, was geleë tussen die Brandofferaltaar en die Heilige. Dit het volgens oorlewering uit twee komme bestaan, waarin die priesters hul hande en voete afsonderlik gewas het. Die bakke was binne-in gepoleer – blink soos spieëls. Daarin kon hulle hulself spieël en omdat die Voorhof sonder dak was ook die hemelruim weerkaats sien – hulle moes huself ook sien vanuit God se dimensie.

1 Johannes 1:9 verduidelik die proses, waardeur elke gelowige moet gaan om te begryp wat Christus se verlossingswerk vir ons bewerkstellig het.

Sonde het ʼn manier om aan ons te bly kleef, nadat ons met berouvolle harte voor God gekniel en opreg om vergifnis gevra het. Selfs nadat mense doelgerig Jesus se verlossingswerk hul eie gemaak het, sukkel hulle baie keer selfs na intensiewe berading steeds met selfverwyt, woede, vrees en talle ander afbrekende emosies. Tipiese voorbeelde:

  • ʼn Vrou wat ʼn aborsie gehad het
  • Verkragtingslagoffers
  • ʼn Huweliksmaat wat ontrou was
  • Oud-soldate wat in opdrag “die vyand” moes skiet

Die praktiese bediening van 1 Johannes 1:9 bied uitstekende materiaal om diegene te begelei:

  • Wanneer ons ons sonde bely, vergewe God ál ons sonde.
  • Maar Hy gaan ook een stap verder. Sonde lei tot ongeregtigheid, wat ons spreekwoordelik besmet. Ongedefinieerde skuldgevoelens, woede teenoor iemand wat teenoor ʼn persoon oortree het en vreesgevoelens kom onder andere voor. Dis gewoonlik hierdie belewenis van onreg wat plaasgevind het, wat die gelowige bybly. Sulke gevoelens is baie keer vaag en in die onbewussyn van die “slagoffer.”
  • Daarom het die gelowige nodig om ook doelgerig vryspraak te ontvang van die ongeregtigheid, wat met sonde gepaard gegaan het. Niemand is veronderstel om langer te dra aan enigiets wat Jesus reeds terwille van hom/haar gedra het nie, 1 Petrus 2:24.
  • Die fisiese uitbeelding van hierdie proses was die Waskom – hier is die laaste bewyse van die sonde afgewas. Die resultaat van dít wat verkeerd gegaan het in die Nuwe Testamentiese gelowige se lewe, is ook deur die bloed van Jesus bedek en kan nie meer as aanklag teen hom/haar ingebring word nie. Terselfdertyd mag dit ook nie langer teen die persoon, wat hom/ haar seergemaak het, gehou word nie. Onvergewensgesindheid bind mens aan die verlede en verhinder ‘n
  • Daarom is vergifnis ʼn voorvereiste om self vergifnis uit God se Hand te ontvang. Lidmate moet begelei word om self ook diegene wat teen hulle oortree het te vergewe en vry te spreek, vgl. Matteus 6:12,14; 18:21-35.

In die kerkgebou se voorportaal kan daar skottels met water staan, waar lidmate kan stilstaan en hul hande kan was voor hulle huis toe gaan. Gooi dalk bietjie sout in elke skottel, dit help om die water skoon te hou. Moedig lidmate aan om vir ʼn paar oomblikke daar te vertoef voor hulle vertrek en Christus se verlossing van sonde en die daarmee gepaardgaande ongeregtigheid finaal te ontvang.  

Die seëngroet kan hul uitstuur as nuwe skepsels. Mense wat in Godgewe vryheid opereer!

 

VIR DIE LERAAR

Lees sommer vir die lekker Johannes 13:1-17 en dink bietjie daaroor na of Jesus dalk bogenoemde gebeure wou illustreer toe Hy Sy dissipels se voete gewas het. 

In volgende week se Preek Skets behandel ons die Heilige en die Allerheiligste.

Baie seën met die erediens!

Elza Meyer

 

 

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

PREEKSKETS 3

WEEK 3

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES (2)

JY IS DIE TEMPEL (2)

SKRIFLESING

Eks. 40:1-8

DIE HEILIGE

Hierdie week vertoef ons by die Heilige met sy drie voorwerpe, wat daarop gerig was om die gelowiges van die Ou Testament aan God te bind en terselfdertyd aldrie op die Messias gedui het.

Die Heilige was ‘n pragtige tent van geweefde doek. Die mure het uit verskeie lae bestaan: Die eerste laag was van fyn linne in blou, pers en rooi met engele daarop ingeweef. Die tweede laag was van bokhaar en die derde laag van rooi ramsvel.

Die drie voorwerpe in die Heilige was aldrie ryk aan geestelike betekenis:

  • Tafel met Toonbrode
  • Lampstaander
  • Wierookaltaar

 

TAFEL MET TOONBRODE

Eks. 25:23-29; 37:10-16

 toonbode

 

Die tafel van 1 meter lank, ½ meter breed, ¾ meter hoog was heeltemal oorgetrek met goud. Weekliks het die priesters vars toonbrode op dié tafel voor die Here neergesit. Die vorige week se brode was aan hulle toewys vir ʼn gemeenskaplike maaltyd. Terwyl hulle saam geëet het, het hulle terselfdertyd ook maaltyd met God geniet. Etes in die tyd van die Bybel het gedui op die mees intieme vlak van saamkuier en saamwees. In hul saamwees met God en met mekaar is hulle nie slegs fisies versadig en opgebou nie, maar ook geestelik.

In Johannes 6:32-33, 35 vind die Tafel met die Toonbrode sy vervulling in Jesus, wanneer Hy aandui dat Hý die Brood van die lewe is. Elkeen wat in Jesus Christus glo word ook gevoed, ja geestelik versadig. Jesus se offerdood verseker vir elkeen wat in Hom glo ʼn ewigheid saam met God.

Johannes 6:32–33, 35

Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

 

PRAKTIESE MOMENT: NAGMAALSVIERING

Die voorafgaande inligting bied nou die ideale geleentheid vir die bediening van die nagmaal. Met die instelling van die nagmaal word die liggaam van Christus in verband gebring met die brood, vgl. Lukas 22:19; 1 Korintiërs 11:23b. En gesien in die lig van Johannes 6:32-33, 35 vier die gelowige die waarheid dat Jesus hom/haar tot in ewigheid versadig met Sy inwonende Teenwoordigheid.

(LW hierdie moment is een van drie momente in hierdie erediens en moet verkieslik nie langer as 15 minute opneem nie.)

Bedien die liggaam van Christus (die gemeente) met die elemente van brood en wyn. Begelei lidmate om te begryp dat Jesus se offerdood die diepste en innigste vorm van gemeenskap met God moontlik maak en dat Hý wat die Brood van die lewe is, ook vir húlle Lewe verseker!

 

DIE LAMPSTAANDER

Eks. 25:31-40; 37:17-24

 

lampstaander

Wanneer ‘n mens by die Heilige ingestap het, sou dit pikdonker gewees het sonder die lig van die lampstaander. Géén sonlig kon deur die drie lae materiaal dring nie. Die enigste lig het van die kandelaar met sy sewe lampe gekom.

Die Lampstaander uit geplateerde goud met die sewe vlammetjies, gevoed deur die suiwerste olyfolie, is ryk aan geestelike betekenis:

  • Die platgeslaande goud simboliseer ʼn gelowige wat sy/haar wil aan God onderwerp en Godgevormde gedagtes dink. Die olyfolie dui op die Heilige Gees se werking. Wanneer die gelowige vanuit God se Teenwoordigheid lewe, beteken dit dat 2 Korintiërs 10:5 kenmerkend raak van die gelowige se lewe: Elke gedagte word gevange geneem en gehoorsaam gemaak aan Christus en die argumente wat teen die kennis van God ingebring word, verloor hul krag.
  • Die gelowige se lewe word nou deur Heilige Gees gerig en bepaal, vlg. o.a. Romeine 8:2, 6b, 9b, 15-16; Galasiërs 5:16, 18, 22-25.

  Die Gees …

  • Bevry ons van die greep van die sonde
  • Verseker vir ons ware lewe en vrede, wanneer Hy ons denke regeer
  • Bevry ons van vrees
  • Getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is
  • Roep in en deur ons uit dat God ons Vader is
  • Stel ons in staat om nie toe te gee aan die begeertes van die sondige natuur nie
  • Bevry ons van die slawerny van wettisisme
  • Vorm in ons die karakter van God


PRAKTIESE MOMENT

ʼn Aangewese persoon kan ʼn menorah voor in die erediensruimte aansteek, terwyl die leraar kerkgangers die geleentheid bied om hul gedagtes aan Christus se heerskappy te onderwerp en hul lewens onder beheer van die Heilige Gees te plaas.

Openbaring 21:23 leer ons dat die Hemelse Jerusalem nie die son of die maan nodig het om dit te verlig nie, want die heerlikheid van God verlig die hemelse dimensie en die Lam is die kandelaar. Al die nasies sal in die stad se lig leef.

In Christus word ons ook lig!

Seën nou die gemeente met Jesus se woorde in Matteus 5:14-16:

  • Julle is die lig vir die wêreld!
  • Julle is soos ʼn stad op ʼn berg!
  • Julle verskaf lig vir almal in die huis!
  • Mense sal die lig sien wat julle uitstraal en God daarvoor prys!


DIE WIEROOKALTAAR

Eks. 30:1-5; 38:1-7

 altaar

Die wierookaltaar van doringhout het by die ingang na die Allerheiligste vlakby die voorhangsel gestaan. Die wierookaltaar moenie verwar word met die brandofferaltaar, waarop daar offers gebring is om versoening vir sonde te doen nie. Op die wierookaltaar is daar in opdrag van God soggens en saans wierook geoffer. Die bedoeling was dat die wierook, volgens Goddelike voorskrif, daglank en naglank soos ʼn aangename aroma voor God moes opgaan. Die wierook bestaande uit vier gelyke hoeveelhede hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook kon slegs aan God geoffer word; niemand is toegelaat om dit vir hulself of enige ander doel te gebruik nie, Eksodus 30:34-38. Dit het gedui op die suiwerste vorm van gebed en aanbidding, vgl. Jesaja 56:7, Psalm 141:2, Openbaring 8:3-4.

Soos elke ander voorwerp in die tabernakel en later in die eerste en tweede tempel, het die wierookaltaar ook op Christus gedui. Hy is dié Intersessor wat vir elkeen wat in Hom glo intree, vgl. Johannes 17, Romeine 8:34.

 

PRAKTIESE MOMENT

In plaas van lofprysing en aanbidding aan die begin van die erediens, kan die gemeente aan die einde van hierdie erediens deur die aanbiddingspan gelei word om God met hart en siel te aanbid.

Tydens hierdie moment kan daar ook tyd opsy gesit word vir intersessie gebed, waartydens lidmate hul hartsbehoeftes voor God kan uitstort.

Indien hierdie moment met aanbidding begin word, kan die liedere mettertyd oorgaan in lofprysing en kan die erediens met ʼn jubeling afgesluit word. Indien lofdanse in die gemeente bekend is, kan die erediens met vlae en lofdanse afgesluit word.

Mag almal dit geniet om die Here te eer! Mag die hele gemeente Sy lof besing! Mag die erediens uitloop op ʼn loffees!

 

SEËNGROET

Agter die gordyn van hart en brein, op ʼn ongekende plek vanuit jou gees leef jy nou in en deur die Gees van God!

Die allerheiligste van jou menswees is geskape vir net Een!

Dis Hy wat vir jou voorsien. Hy lei jou en leer jou.

God het by jou kom tabernakel.

Jy is Syne en Hy is jou God!

Elza Meyer

 

 

DIE HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

PREEKSKETS 4

Week 4

DIE SWAARD VAN DIE GEES

SY ASEM OP JOU WANG

GOD SE WOORD IN MENSETAAL – ‘N STORIE VIR KINDERS (EN GROOTMENSE)

Eendag lank, lank gelede was daar ʼn miernes. Dit was die grootste mierkolonie in die heelal. Die miernes was geleë op ʼn vlakte. Die Departement van Waterwese het beplan om ʼn massiewe dam te bou, wat die hele vlakte sou oorstroom. Natuurbewaring wou baie graag die die mierkolonie behou en het alles in hul vermoë gedoen om die miere sover te kry om te trek.

Dit sou nie help om die miernes te breek nie, die miere sou doodgaan. Daar moes ʼn manier wees waarop die miernes verskuif kon word. Daar was een natuurliefhebber, almal het gedink hy het dit ʼn bietjie verloor, wat probeer het om met die miere te kommunikeer. Hy het by die miernes gaan sit en eers net sag met hulle gepraat. Dit het niks gehelp nie. Later het hy ʼn megafoon in die hande gekry en die boodskap uitgebulder sodat hulle dit tot diep onder die grond kon hoor, maar die miere het nie beweeg nie.

Toe een oggend het sy seuntjie by hom kom staan en gesê: Pappa, daar is net een manier waarop die miere die boodskap sal kry. Een van ons sal ʼn mier moet word en hulle gaan vertel.

Ons sukkel ook partymaal om te weet wat God bedoel en wil. Soms gaan God se Woord in mensetaal ook by ons verby. Ander kere lyk dit asof die Bybel homself weerspreek. En dan het die mense van ons tyd ook nog so slim geraak. Hulle praat van God se Woord wat binne konteks verstaan moet word. Waar laat dit die Bybelleser?

Die Bybel is nie bedoel om ons deurmekaar te maak nie, maar juis om helder, duidelik en in eenvoud tot ons te spreek. Daarom kan ons die proses heelwat vereenvoudig deur altyd ʼn enkelvoudige vraag te vra:

WAT WAS DIE BEGINSEL WAT GOD WOU OORDRA? Want die beginsel wat in die teks ingebed is, bevat God se bedoeling daarmee. Wanneer ons dít verstaan, sal ons meeste van die tyd by ʼn sinvolle antwoord uitkom.

Om nou by hierdie week se boodskap uit te kom. Ons praat hierdie week oor die Swaard van die Gees en hoe ons veronderstel is om die Bybel toe te laat om ons daaglikse lewe praktykgerig te beïnvloed. Hoe moet die 21ste eeuse gelowige oor die Tien Gebooie dink? Jesus het in Matteus 6 aangedui dat daar nie ʼn enkele jota of tittel van die Wet weggeneem mag word nie en Paulus het keer op keer gesê die gelowige leef nie meer onder die Wet nie. Na wie moet ons luister? Het Jesus en Paulus mekaar weerspreek?

Of sal dit ons dalk nogeens help om te onderskei wat die beginsel was wat hulle onderskeidelik wou beklemtoon? Sal dít ons dalk by God se bedoeling met die Wet uitbring?

 

JESUS SE WOORDE OOR DIE WET

Matteus 5:17-20

Julle moenie die rede vir My koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ʼn streep deur die wet of die profete te trek nie. Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.

Ek verseker julle, al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly. Ja, die wet sal geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is.

As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se Koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in Sy Koninkryk.

Wees gewaarsku! As julle nie die Skrifkenners en Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in Sy Koninkryk nie.

 

JESUS HET DIE WET VERVUL

Ons weet almal dat Jesus die Wet vervul het en dat Hy deur Sy offerdood en opstanding vir ons ʼn lewe saam met God verseker het. Van al die apostels het Paulus die meeste klem gelê op die verskil tussen die mensgemaakte verstaan van die Wet en God se bedoeling met die Wet.

Paulus die Skrifkenner en Fariseër het voor sy redding die wet stiptelik en in detail gehoorsaam tot op die dag wat hy ʼn radikale ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus gehad het. Daarna het sy hele lewe verander – ook sy verstaan van die Wet. In Galasiërs 1:11-23 verduidelik hy dié proses waardeur sy gedagtes vernuwe geraak het. Hy verduidelik in hierdie gedeelte vir die inwoners van Galasiërs:

  • Die Goeie Nuus wat hy verkondig het, is nie deur homself uitgedink nie. Hy het dit ook nie by ʼn mens gehoor of geleer nie.

Jesus Christus het dit vir hom oopgebreek.

  • Voor sy redding was Paulus ʼn Hy het die kerk vervolg en oral verwoesting gesaai, omdat hy die gedink het dat hy God daardeur dien.
  • Hy het bokant baie van sy volksgenote uitgestaan en alles in sy vermoë gedoen om die tradisies van sy voorvaders in stand te hou.
  • En toe besluit God om Paulus aan Jesus voor te stel, omdat Hy hom uitgekies het om die evangelie buite die grense van die Joodse gemeenskap te verkondig.
  • Paulus se radikale ontmoeting met Jesus het hom genoop om vir drie jaar in die Arabiese woestyn te gaan vertoef, waar Jesus hom geleer het wat God se ware bedoeling met die Skrifte en die Wet is.
  • Eers na drie jaar van afsondering het hy Jerusalem toe gegaan, waar hy Petrus ontmoet het en ook vir Jakobus, Jesus se broer.
  • Daarna het hy na Sirië en Silisië toe gegaan. Toe eers het die gemeentes in Judea gehoor dat Paulus die evangelie begin verkondig het en God daarvoor geprys.

Wat het Jesus o.a. vir Paulus in die Arabiese Woestyn geleer? Van die inhoud word in die res van die Brief aan die Galasiërs vervat:

  • ʼn Mens nie vrygespreek word deur die Wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo, Galasiërs 2:16-21
  • Die Wet is gegee om mens van jou sonde bewus te maak en jou soos ʼn kinderoppasser na Jesus toe te lei, Galasiërs 3:19-25.
  • Jesus Christus koop almal wat in Hom glo vry en neem hulle aan om voortaan kinders van God te wees. Nou leef Heilige Gees in diegene en Hy maak hulle vry van die slawerny van die Wet en omvorm hulle tot erfgename van God, hul Vader, Galasiërs 4:4-7.
  • Deur Heilige Gees se inwonende Teenwoordigheid verander diegene van mense wat die Wet op ʼn kliptafel of in die Bybel gevind het na mense wat die Wet in hul harte dra. Heilige Gees leer hulle wat God wil hê en hoe hulle moet lewe, Galasiërs 5:16-25.

Maar hoe moet ons dan die Tien Gebooie verstaan? En wat moet ons nou met Matteus 5:17-20 maak?

 

JESUS HET DIE WET VERVUL MAAR NIE ONGELDIG VERKLAAR NIE

Om terug te keer tot Matteus 5:17-20 – as Jesus ons onder die juk van die Wet sou uithaal, waarom het Hy steeds geleer dat:

  • Die wet in detail geldig sou bly?
  • Ons gehoorsaamheid dié van die Fariseërs en Skrifgeleerdes van destyds moet oortref?

Want Jesus het Skrifbeginsels geleer en self ook só geleef – nie wette nie. Kom ek verduidelik:

Wie die Bybelse riglyne tot wet maak sonder om die beginsels daaragter te verstaan, ontneem die Wet van die Hart van God en verloor in die proses God se oorspronklike bedoening met die Wet.

Al die riglyne in die Bybel dien as beginsels, waarop ons waardes en norme gebaseer behoort te word. Wie die beginsels verstaan, kan in ooreenstemming met God se bedoeling leef!

 

GOD SE OORSPRONKLIKE BEDOELING MET EKSODUS 20:2-17

‘n Eertydse rabbi en nou ʼn Messianse Christen met ʼn grondige kennis van antieke Hebreeus verduidelik die Tien Gebooie as volg:

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het.

ʼn Versekering dat God Almagtig Homself aan Sy verbondsvennoot verbind het om in alles Homself as God te betoon.

God sal in alle omstandighede Homself as jou Redder openbaar. 

 

Jy mag naas My geen ander gode voor My aangesig hê nie.

Jy mag nie vir jou ʼn beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.

God leef van Aangesig tot aangesig met jou. Sy asem is op jou wange; Sy Ruag is jou Asem tot die Lewe.

Hý bevry jou van die geestelike mag wat dinge, mense, sisteme en organisasies hulself aanmatig. Daar is geen God buiten Hy nie.

 

Ek reken die kinders die sondes van hul vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar ek Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Maak jou kinders in die Here groot, anders beroof jy hulle van Sy seën! Wys hulle hoe om in verhouding met God te leef, anders gaan hulle nooit Sy liefde leer ken nie.

 

Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat Sy Naam misbruik nie ongestraf laat bly nie.

God is jou Gód. Jy mag nooit Sy Naam vir persoonlike gewin gebruik nie. Hy is nie in jou diens nie. Jy is in Sý diens. 

 

Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie; nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Jou rusdag is deur God self geheilig. Hier gaan dit nie soseer oor wat jy doen of nalaat nie, vlg. Jesus se dissipels wat graan uitgevryf het en Jesus wat self ook ʼn man op die Sabbatdag genees het. Die beginsel agter die Sabbat is dat jy jouself moet vind, terugvind en uiteindelik bevind in God se rus,

vgl. Hebreërs 4:1-11. 

 

Eer jou vader en moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou nie.

Die enigste opdrag met ʼn belofte. Eerbied en respek teenoor jou ouers kan vir jou ʼn lang lewe verseker.

 

Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen ʼn ander gee nie. Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy brou begeer nie, ook nie ʼn slaaf of slavin, ʼn bees of ʼn donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Wees lief vir jou medemens. Baie lief. So lief soos vir jouself.

 

SLOTWOORDE

Wanneer jy ophou om jouself blind te staar teen die letter van die wet en jouself begin afvra wat God se bedoeling daarmee was, sal Heilige Gees vir jou die Skrifbeginsels een vir een begin verlewendig. Dan kom jy agter die Bybel weerspreek homself nie en ontdek jy algaande meer en meer ook God se hart. Jy leef mos nou van aangesig tot Aangesig met God. Sy Asem vee oor jou wang!

En Jesus het jou vrygekoop! Hy het jou van slawerny verlos. Hy het jou God se kind gemaak. Julle is nou Bloed-famile! Om Hom te ken, te eer en lief te hê bring vir jou vreugde! En deur Matteus 5:17-20 wou Hy beklemtoon hoe waardevol God se voorskrifte vir ʼn geseënde lewe is. Dit kan jou nie red nie – Hy is jou Redder, maar dit kan vir jou vreugde verseker. God se voorskrifte vir ʼn oorvloed-lewe skep ʼn veilige ruimte waarbinne jy kan floreer. Hy het nét voorspoed vir jou in gedagte.

Daarom kon Paulus ook Romeine 3 afsluit met vers 31: As ons dan geloof beklemtoon, beteken dit dan dat ons die wet ter syde stel? Natuurlik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom wanneer ons glo.

 

PRAKTIESE MOMENT

Kies vandag vir God. En kies daarmee saam ook vir die Swaard van die Gees. Daarmee kan jy al die brandpyle van die Bose afweer! Die Bybel in praktyk verseker ʼn lewe van oorwinning!

Liturg skep nou geleentheid vir lidmate om ʼn keuse uit te oefen om vir God en ʼn Bybelsgefundeerde lewe te kies.

 

Baie seën met hierdie week se erediens!

Elza Meyer

 

 

HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

PREEKSKETS 5

WEEK 5

DIE GAWES VAN DIE GEES

 

DIE HEILIGE GEES PRAAT IN, MET EN DEUR ONS 

 

INLEIDEND

God is onmeetlik, onbeskryflik groot. Hy is almagtig en alomteenwoordig en deur Sy Gees in elkeen teenwoordig, wat deur Jesus Christus met God versoen is.

In die afgelope week het ons ʼn verskeidenheid gawes onderskei, waarop die apostel Paulus gefokus het. Vandag gaan ons aandag gee aan een van die buitengewone openbarings van die Gees, wat Petrus ook in Handelinge 2 aangehaal het om die buitengewone werk van die Heilige Gees te verduidelik, naamlik profesie.

 

Handelinge 2:17-21

So sal dit in die laaste dae wees sê God. Ek sal my Gees uitstort op alle mense. Julle seuns en julle dogters sal as profete optree. Julle jongmense sal gesigte sien. Julle oumense sal drome droom. Op my dienaars en dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee. Bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en die glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees: elkeen wat die naam van die Here aanroep, sal gered word.

 

PROFESIE

Julle seuns en julle dogters sal as profete optree, Handelinge 2:17.

‘n Profesie is kennis wat God vir iemand aangaande iemand anders gee. Dit is openbaringskennis en nie algemeen bekende inligting nie. Die Griekse woord vir profeteer beteken om namens iemand anders te praat, in hierdie geval namens die Heilige Gees.

Baie maal sal Christene sê: Die Here het vir my gesê… en dan maak so ’n persoon ’n uitspraak aangaande my of jou lewe. Partymaal voel dit vir ons asof daar ’n geheime verstandhouding tussen dié persoon en God oor ons lewe bestaan. Ons mag selfs wonder waarom God met ander mense oor ons praat. Soms is so ‘n uitspraak presies in die kol ten opsigte van waar ons onsself bevind en beskryf dit ons omstandighede haarfyn. Ander kere lees dit nuwe inligting in ons lewe in, wat nie voorheen deel van ons lewensraamwerk was nie. En soms praat mense gewoon onsin, wanneer hulle sê: Die Here het vir my gesê…

Wanneer mense met jou praat en sê dat die Here hulle ’n bepaalde openbaring aangaande jou gegee het, kan jou maatstaf altyd wees of dit in lyn is met waarmee God op daardie stadium met jou besig is. Selfs nuwe openbarings sal ‘n vrede in jou binneste verseker. Behalwe natuurlik, as jy totaal uit lyn is met wat God vir jou lewe in gedagte het. Dan kan sulke woorde ’n mens maan om terug te draai na God toe. Die waarde van profesie moenie onderskat word nie. Dit laat die verborge dinge van ons hart aan die lig kom en spreek tot diep in ’n mens se gewete in (1 Kor. 14:24-25).

Jy sal weet dat dit is God wat met jou praat, as die inhoud daarvan jou aanspreek of alternatiewelik as jy vrede ervaar oor die boodskap. Die voorvereiste om te kan onderskei wanneer God aan die woord is, bly ‘n intieme verhouding met Hom. Daarsonder sal niemand Sy stem kan onderskei nie.

 

RIGLYNE RAKENDE PROFESIEË

  • Wanneer ons oor profesieë praat, moet ons vooraf vir mekaar sê: profesieë kan nooit die Woord van God vervang, óf in stryd met Bybel wees nie.
  • Dit kan toekomstige gebeure of die hede belig. ’n Profetiese woord stel mens in staat om deur God se oë na jou werklikheid te kyk.
  • Met ‘n profesie werk dit net soos met ‘n belofte uit die Bybel, daarmee sê die Here: Dis jou potensiaal in My. Dis wat jy kan bereik as jy jou toekoms aan my toevertrou. ‘n Profesie werk amper soos ’n voertuig. Dit gee ons die vermoë om te beweeg van waar ons nou is, na waar God ons sien.

 

PROFETE IN DIE BYBEL

In die Ou Testament was daar talle profete. Hulle woorde was daarop gerig om Israel terug te lei na ’n intieme verhouding met God. Telkens moes hulle sonde aanspreek en die volk met striemende woorde tot inkeer roep. Dink maar aan Jesaja, Jeremia, Hosea, Miga, Sagaria, Haggai, en andere.

Ook in die Nuwe Testamentiese kerk was profesieë een van die wyses waarop die Here vanuit die hemelse dimensie met Sy kerk gepraat het. Ons lees byvoorbeeld in Handelinge 21:9 van Filippus se dogters, wat ‘n profetiese bediening gehad het. In vers 10 van dieselfde hoofstuk lees ons ook van Agabus wat na Paulus toe gekom het, Paulus se gordel van sy lyf afgehaal het en sy hande en voete daarmee vasgebind het. Daarmee het hy geprofeteer dat Paulus in Rome gevange geneem sou word. Ook in Handelinge 11:28 word vertel dat Agabus ’n hongersnood wat die hele wêreld sou tref, profeties aangekondig het en dat dié profesie in die tyd van keiser Claudius in vervulling gegaan het.

In Handelinge 27:10-11 profeteer Paulus dat hulle in groot gevaar sou wees indien hulle Mooi Hawens sou verlaat. Die Romeinse offisier het egter Paulus se woorde geminag en verder gevaar met noodlottige konsekwensies.

 

BEOORDEEL ELKE PROFETIESE UITSPRAAK

Dit is belangrik dat ons sal weet hoe ’n profetiese woord beoordeel behoort te word. God sal nooit vir iemand anders iets aangaande jou sê, wat Hy nie ook binne-in jou sal bevestig as jy Hom daarna vra nie.

Wanneer ’n mens ’n profesie ontvang, behoort jy baie versigtig daarmee om te gaan. Op die uiteinde is dit die persoon, aan wie die profetiese woord gerig is, wat oortuig moet wees dat dit God is wat aan die woord is. Solank daar nog enige twyfel in jou hart is, moet jy nie die profesie jou eie maak nie. Voordat God nie met jou self gepraat het nie, gaan jy in elk geval nie vrede hê nie. ’n Voorvereiste is natuurlik dat jy God eerlik sal soek in dié verband en nie jouself sal mislei deur doelbewuste te ontken wat God aan jou openbaar nie.

Moenie huiwer om te wag vir ‘n tweede en ‘n derde bevestiging as ’n profetiese woord jou onrustig laat voel nie. Omdat God nie skinder nie, sal Hy nooit eerste vir ander mense iets sê, wat nie in jou binneste sal verlewendig nie.

Dit is ook baie keer so dat iemand nog nie regtig genoeg tyd saam met God spandeer om self God se stem duidelik te kan onderskei nie. In só geval kan ’n profetiese woord rigtinggewend wees. Om egter van die een persoon na die ander te gaan in ’n poging om God se stem te hoor, is dwaasheid. Uiteindelik moet elkeen van ons self by God hoor.

 

PROFESIEË IS NIE SELFVERVULLEND NIE

Baie mense moes al worstel met die feit dat dié beloftes en profetiese woorde, wat God deur iemand oor hul uitgespreek het, nog nie in vervulling gegaan het nie. Baie van ons wag op die vervulling van God se beloftes en woorde met ‘n bepaalde passiwiteit: God het dit gesê – Hy moet dit doen! Dis egter nie so eenvoudig nie. ‘n Bepaalde ingesteldheid is nodig voordat ons sal ontvang wat God beloof het. As jou eindbestemming Kaapstad is, kan jy nie in enige rigting ry en dan verwag om in Kaapstad op te eindig nie. Nee, dis nodig om doelgerig te beplan om Kaapstad te kan bereik en om ook op die regte roete te wees.

Presies dieselfde gesindheid is nodig, wanneer jy ‘n belofte van die Here ontvang.Doellose optrede kan jou laat ontspoor en laat wegdraai van die pad wat God vir jou bedoel het. Dit het telkemale met Israel gebeur dat hulle rebellie en ongehoorsaamheid hulle laat ontspoor het. Gehoorsaamheid aan God is ‘n belangrike voorvereiste as jy God se woorde oor jou lewe in vervulling wil sien gaan.

Geloof speel eweneens ‘n baie belangrike rol. ’n Mens moet glo dat dit God is wat met jou praat en dat Hy by magte is om te doen, wat Hy belowe het. Ons lees in Psalm 33:4 dat wat die Here gesê het, sál gebeur!

Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur Sy bevel al die hemelliggame, vs. 6. Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê, want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar, vs. 8. Die planne van die Here staan vir altyd vas, sy besluite van geslag tot geslag, vs. 11.

As jy dus ‘n woord van God ontvang het én oortuig is dat dit Hy was wat met jou gepraat het, mag en moet jy verwag dat dit in vervulling sal gaan. God se woorde is nooit ydele uitsprake nie. Wanneer Hy praat, doen Hy wat Hy gesê het, omdat Hy daardeur wil skep en tot stand wil bring.

 

WERK SAAM MET GOD

Elke profetiese woord het twee fasette. Dít wat ons kan doen en dít wat God moet doen. Die grootste fout wat ons kan maak, is om onsself besig te hou met dit wat God moet doen. As jy byvoorbeeld ’n profetiese woord ontvang dat die Here jou gaan oprig om ’n leier te word, is dit nie jou verantwoordelikheid om jou in elke moontlike leiersposisie in te wurm nie. Nee, dan is jy besig om te doen wat God moet doen. Jy moet jouself egter voorberei om te verstaan wat leierskap behels en jouself in alles aan God se leiding onderwerp. Ons taak is om abosluut gehoorsaam aan God te bly, odat ons saam met Hom kan beweeg en beskikbaar is vir Sy magtige dade.

 

EERBIEDIG GOD SE SEISOENE

Partymaal is die tyd nog net nie ryp vir wat God wil doen nie. Dan moet ons bereid wees om op God te bly wag, totdat Sy woord in vervulling gaan. Dit is een van die moeilikste eise van ’n profesie. Baie keer laat God toe dat ons ’n profesie ons eie maak; dat ons daaroor bid en droom; dat ons uiteindelik alle hoop laat vaar dat die profesie in vervulling sal gaan om dan op ’n dag opnuut te bevestig dat dit steeds is wat Hy wil doen. Wanneer die vlammetjie van hoop dan opnuut in ons opvlam, is dit nie ‘n passiewe hoop vir die beste nie. Wanneer ‘n mens dan opnuut aktief begin bid en glo dat God sal doen wat Hy beloof het, is dit vanuit ’n hart wat nie meer sal spog oor God se groot dade in en deur jou lewe nie.

 

PROFETETIESE WOORDE BOU – HULLE BREEK NIE

Die doel met ’n profetiese woord is om mense op te bou, te bemoedig en te vertroos, 1 Korintiërs 14:3. Hierdie maatstaf stel ons in staat om te bepaal of ons ’n bepaalde woord vir ons lewens kan aanvaar, aldan nie.

Volgens 1 Korintiërs 14:5 is die profetiese gawe die belangrikste van al die gawes en behoort ons almal die begeerte te hê om profeties te bedien. 1 Tessalonisense 5:19-20 maan ons ook om nie die werking van die Heilige Gees te weerstaan en profesieë gering te skat nie.

Wanneer ’n profetiese woord in ’n gemeentelike byeenkoms gebring word, maan Paulus dat dit op ’n ordelike wyse moet geskied; dat twee of drie die geleentheid moet kry om profeties te bedien en dat die ander dan moet beoordeel wat gesê is, vgl. 1 Korintiëts 14:29-32. Die egtheid van ’n profetiese woord kan getoets word aan die feit dat dit in vervulling gaan aldan nie, vgl. Jeremia 28:9.

Profetiese woorde kan ’n bron van inspirasie wees. Meet enige profesie aan die vraag of dit opbou, versterk en bemoedig. Is daar ook ander bevestigings dat hierdie woord waar is? Is dit in ooreenstemming met die beginsels van die Bybel? Uiteindelik sal die vervulling van ’n profetiese woord bevestig dat God self aan die woord was!

 

PRAKTIESE MOMENT

Skep geleentheid vir twee tot drie lidmate om ʼn profetiese woord in die erediens te bring. Wys een of twee leiers in die gemeente aan om eers die woord vooraf te toets, voordat die persoon toegelaat word om dit oor die gemeente uit te spreek.

Die liturg kan ʼn lied aankondig en lidmate nooi om tydens die lofprysing of aanbidding met die aangewese leiers te kom gesels. Dit kan ook tydens die offergawe geskied. Na afloop van die lied of offergawe kan diegene oor wie se profetiese woord die leiers vrede het toegelaat word om die profetiese woord wat hulle ontvang het te bring.

Meeste van die tyd sal die profetiese woorde mekaar aanvul en bevestig en sodoende ook aandui dat die Heilige Gees aan die woord is.

Moet egter nie huiwer om liefdevol dog ferm vir ʼn bepaalde persoon te sê indien die tyd of geleentheid nie gepas is vir die woord, wat hy/sy graag wil bring nie.

Elza Meyer

 

 

HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

PREEKSKETS 6

WEEK 6

DIE GAWES VAN DIE GEES

GOD VAN WONDERS

 

SKRIFLESING:

Matteus 17:14-20

Vers 19: “Waarom kon ons hom nie genees nie?”

 

INLEIDEND

Miskien voel jy ook soos die dissipels:

  • Jy volg al lank in Jesus se voetspore
  • Jy is lief vir God
  • Jou lewe is uitverkoop aan jou Here
  • Jy vertrou Hom om jou ook te gebruik om op ʼn spesiale manier aan mense te raak, maar op een of ander manier bly wonders jou ontwyk.

Die dissipels het keer op keer in verwondering gestaan oor die grootheid van Jesus se mag. Hulle het gesien hoe hy vyf broodjies en twee vissies gebruik om duisende te voed; hulle het blindes se oë sien oopgaan en hoe dowes op Jesus se bevel begin hoor. In Matteus 10:7-8 het Jesus hulle selfs opdrag gegee om op soortgelyke wyse aan mense te raak en genesing uit te deel. Waarom kon hulle nie daarin slaag om die Pa, wat sy besete seun vir bevryding gebring het, te help nie?

 

ONTVANGERS VAN WONDERS WIL SOMS OOK WONDERS DOEN

Dis wonderlik om wonders te sien gebeur en selfs te ervaar, maar wanneer mens so saam met die Here lewe, ontstaan daar in jou hart ʼn begeerte om self ook só deur die Here gebruik te word. Dis ’n natuurlike resultaat van ons geestelike groeipad dat ons ook in wonders en tekens sal wil begin opereer. Soos die vroeë Christene wil ons ook graag beleef hoedat God se aanraking omstandighede, mense rondom ons en gebeure in lyn bring met Sy wonderwerkende vermoë. Hierdie verlange is tekenend van geestelike progressie. Tog is dit juis hier waar ons ook baie keer in moedeloosheid verval. Wanneer ons verwagtinge en die werklikheid nie ontmoet nie, is ons nie seker waarom dinge nie gebeur soos ons verwag het nie. Dis dan dat vrae ons teister:

  • Het ek die Here gemis?
  • Waarom ontbreek Sy salwing in my lewe?
  • Waarom gebeur daar so min wonders en tekens waar ek werksaam is in God se Koninkryk?

 

Jy kan baie antwoorde hierop verwag. Die meeste antwoorde gaan iemand/iets blameer:

  • Daar is nie genoeg gebid nie
  • Die eenheid in die gemeente laat veel te wense oor
  • Iemand se geloof was te klein

Miskien steek daar waarheid in een of meer van hierdie antwoorde, maar daar is meer!

 

MEDEWERKERS IN GOD SE KONINKRYK

Diegene wat in wonders en tekens wil opereer, word nes die dissipels in Matteus 17, oor ʼn ander kam geskeer as die vader wat Jesus vertrou het om sy seun te genees. Diegene wat met dieselfde gesag as Jesus wil opereer, word uitgedaag om met dieselfde gesindheid as Jesus te bedien. ’n Vormingsproses wag op diegene wat al meer en meer in Jesus se voetspore wil loop. Hierdie proses is glad nie glorieryk nie, maar dit belowe buitengewone resultate.

Diegene wat nie bereid is om hierdie baie belangrike omvorming deur te gaan nie, word deur Dave Richardson beskryf as: …looking for the spectacular and missing the miraculous!

 

DIE EENVOUD ÉN KRAG VAN DIE EVANGELIE

Jesus se lering was nooit ingewikkeld nie. Enigeen kon verstaan wat Hy sê en presies onderskei wat God van ons verwag. Sy opdragte was altyd eenvoudig, al was hulle moeilik, dink maar aan Sy woorde in Matteus 5:48: Wees julle dan volmaak soos julle Hemelse Vader… Die eenvoud van Jesus se optrede en lering stroop ons van al die byvoegsels tot die evangelie waaraan ons soveel tyd spandeer. Dit is bevrydend om weer te onderskei hoe eenvoudig die Koninkryk van God eintlik deur mense opereer.

 

DIE DOEL VAN DIE KERK

In Sy laaste opdrag aan die dissipels het Jesus die doel, waaraan Sy volgelinge hul lewens moes wy, baie eenvoudig opgesom, Matteus 28:19-20 en Markus 16:15-18:

  • Vertel mense van Jesus en leer hulle om Sy lering te gehoorsaam, sodat hulle gered kan word
  • Genees die siekes
  • Bevry diegene wat in die mag van die bose vasgevang is

Die opdrag is eenvoudig, maar moeilik. Lering aangaande Jesus kan meeste van ons doen, maar genesing en bevryding bly baie keer agterweë. Ons wéét steeds God kan mense genees en bevry, maar ons kan dit nie uitdeel nie. Die rede is eenvoudig en ooglopend: mens kan niks uitdeel, wat jy nie besit nie.

Ons moet self eers deur ʼn proses gaan, waar ons in ons persoonlike verhouding met God ontvang wat Hy wil doen, voordat ons dit kan uitdeel. Jesus het hierdie proses in vandag se teksgedeelte beskryf toe Hy gesê het: Hierdie soort gaan slegs deur vas en gebed uit, nadat Sy dissipels nie daarin kon slaag om die siek seun te help nie, Matteus 17:21. Dis maklik om oor Hom te praat, dis egter heeltemal anders om Hom in Sy wonderwerkende krag aan mense voor te stel. Ons moet eers self wees waar Hy is, voordat ons ander kan uitnooi na waar ons is. Die buitengewone krag van die evangelie word eers gedemonstreer, nadat die rykdom van die Koninkryk binne in óns gestalte gekry het.

 

’N BONATUURLIKE EN DIEP WERK BINNE-IN ONS

Die wonders en tekens waarvoor ons bid, begin almal by ’n dieper openbaring en verstaan van God se wysheid en kennis en Woord binne-in ons, vgl. Efesiërs 1:17-19.

Hier bid Paulus vir die Efesiërs dat:

Die Vader aan wie al die heerlikheid behoort vir die Efesiërs die gees van:

  • wysheid
  • openbaring
  • kennis van Hom sal gee.

Sodat hulle sal begryp:

  • watter hoop hulle roeping inhou
  • wat die rykdom van Sy heerlikheid in hulle is
  • en hoe groot God se krag is, wat in hulle werk

Ek en jy het van God nodig:

  • wysheid
  • openbaring
  • kennis

Aangaande:

  • ons roeping
  • die heerlikheid van God in ons
  • en die opstandingskrag van Christus wat deur ons funksioneer

Dis nie ek en jy wat die wonders en tekens verrig nie. Dis God en Hy alleen. God begin ons gebede vir Sy bonatuurlike aanraking antwoord deur binne-in ons ’n dieper verstaan te bring van Homself, die krag van sy Woord en die vermoë van sy Gees, wat in en deur ons opereer!

Daar is nie ʼn kitsresep vir ʼn lewe van Godgegewe gesag nie. Die geloofsreuse deur wie God baie wonders en tekens verrig het se lewens getuig van ure en ure in Sy Teenwoordigheid.

Dink na oor hierdie waarhede!

Bedink dit nogeens!

Bid daaroor!

Ontvang hierdie waarhede!

Word wie Heilige Gees jou maak!

Amen.

Elza Meyer

 

 

HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

PREEKSKETS 7

WEEK 7

DIE VRUG VAN DIE GEES

DIE DISSIPLINE WAT EINDIG IN ‘N GODDELIKE KARAKTER

 

INLEIDEND

Wanneer ons graag wil groei in ons verhouding met Jesus, vra dit van ons om algaaande meer van Jesus se karaktereienskappe te begin openbaar. Ons moet meer soos Hy word.

Nou werk dit so dat ons nie terselfdertyd soos Hy én soos onsself kan wees nie. Om soos Hy te word, moet óns verander. Óns karakter moet nuwe eienskappe begin openbaar.

As ons meer soos Jesus wil word, kan ons by die Meester leer hoe om te groei in ʼn goddelike karakter. In Filippense 2 beskryf Paulus hoe Jesus Sy goddelike karakter kom demonstreer het deur Homself prys te gee. En aangesien Jesus vantevore ook gesê het: Geen dienskneg is groter as sy Meester nie, is dit waarskynlik ook die manier waarop Jesus se karakter in ons gevorm sal word.

 

SKRIFLESING: FILIPPENSE 2:5-11

  • Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.
  • Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
  • maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het,
  • het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
  • Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
  • sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,
  • en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

 

Om ‘n Christusvormige karakter te ontwikkel, vra van ons om op 4 terreine te buig:

 

ONS KOPPE MOET BUIG – NEDERIGHEID

Vers 7:

Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

Diensknegte of slawe het nie die reg gehad om op te kyk in die teenwoordigheid van hulle baas/meester nie. ʼn Dienskneg moes sy kop in nederigheid buig – hy was slegs daar om aan die behoeftes van sy Meester te voldoen.

Trots maak dit moeilik maak om ʼn mens se kop te buig. ‘n Trotse mens buig sy kop vir niemand nie. Trots is telkens die dolksteek vir nederigheid. Bernard van Clairvaux, wat ernstig was oor ʼn Christosentriese karakter het in die 11e eeu geleer dat daar vier Christelike waardes is:

  1. Nederigheid
  2. Nederigheid
  3. Nederigheid
  4. Nederigheid

Ons moet bereid wees om ons kop te buig en die swaar kroon van ons eie ego af te haal. Ego kan maklik die hindernis tussen ons en God, en Sy drome vir ons lewe wees.

Hoe kan ons ontsnap aan wat die wêreld van ons vra en meer soos Jesus word? Deur soos Jesus onsself te ontken, wat nie binne God se wil vir ons lewens is nie. Om ‘n Jesusvormige karakter te kry, moet ons soos Jesus ook ʼn dienskneg gestalte ontwikkel. Dis net ʼn dienskneg wat sal vra: Wat kan ek vir U doen, Jesus?

Wie bereid is om ʼn dienskneg vir Jesus te wees, ontdek ʼn wonderlike geheim: ongeag hoe vreemd dit ookal klink, dis waar: hoe minder ons word, hoe groter word ons invloed!

GEBED:

Here, ek haal die kroon van my eie ego af en ek kroon U as my Heer!

 

ONS HARTE MOET BUIG – GEHOORSAAMHEID

Vers 8:

Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Na die mate waarin ons koppe in doelgerigte nederigheid begin buig, begin ons harte ook meer in gehoorsaamheid buig.

Geestelike integriteit en gehoorsaamheid gaan hand aan hand. Jesus bied hier nogeens ʼn uitnemende voorbeeld aan die kruis. Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader het tot Sy dood aan die kruis gelei. Sekerlik kon Jesus baie ander makliker dinge met Sy lewe vermag het:

  • Hy kon by die Skrifgeleerdes aangesluit het en ‘n teoloog van formaat geword het!
  • Hy kon ‘n boek geskryf het: Hoe om werklik gelukkig te wees!
  • Hy kon op ‘n uitgebreide reis gegaan het en sy wonderwerkende krag bemark het!

Maar Hy het nie. Hy het kruislangs gegaan.

Wat dom gelyk het, was wysheid.

Wat soos dood gelyk het, het lewe gebring.

Niemand kon dit vooraf sien nie, behalwe God.Daarom was gehoorsaamheid so geweldig belangrik.

Gehoorsaamheid is dié belangrikste faset van ‘n dissipel se lewe.

Deur onvoorwaardelik gehoorsaamheid aan God, verloor ander aansprake op ons lewensdoel hul krag.

GEBED:

Here, ek weet nog nie wat dit alles van my gaan vra nie, maar ek kies om my hart voor U te buig jou en sonder voorwaarde aan U gehoorsaam te wees.

 

ONS KNIEË MOET BUIG – OORGAWE

Vers 10

… sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig.

‘n Mens kniel nie maklik nie. Ons hou daarvan om te staan. Ons hou daarvan om sterk te wees. Om te kniel beteken dat jy jou posisie van gesag en krag prysgee. Niemand kan homself suksesvol beskerm op sy knieë nie. Niemand kan ‘n geveg wen op sy knieë nie. Of kan jy?

‘n Onderdaan is iemand wat kniel en buig voor ʼn koning en daarmee sê: Ek erken u gesag!

‘n Bedelaar is iemand wat kniel met leë hande en vra: Sal u asb. voorsien?

Sien jouself in perspektief met betrekking tot Christus. Dan is dit maklik om in oorgawe te kniel voor Sy groter gesag. Wanneer die knie van ‘n aanbidder buig, daag die Koning op! Sien jouself as arm sonder Christus en kniel! Knielend sal jy ontvang – meer as wat jou leë hande kan hou!

GEBED:

Here, ek buig my knieë voor U heerskappy!

 

ONS TONG MOET BUIG – BELYDENIS

Vers 11

… en elke tong sal erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Ons praat so baie. Ons het soveel te sê oor soveel dinge. En tog het so baie van wat ons sê geweldig min waarde. Die heelal is vol leë uitsprake en kragtelose opmerkings. Groot gedeeltes van ons lewe word bepaal en selfs gerig deur woorde wat nie opbou of skep nie! En ons laat self toe dat dit met ons gebeur.

Van die begin af was die manier waarop God geskep het by wyse van woorde. Deur woorde het die ganse skepping tot stand gekom. Ons kan baie daarby baat om die waarde van woorde te besef. Wanneer jy oor jou lewe aankondig: Jesus is die Here!, verplaas dit jou na ‘n lewe waarin God regeer.

Toe Paulus geskryf het: Jesus is die Here! het die mense van sy tyd ‘n baie ryk betekenis aan sy woorde toegeskryf. Hulle het die Griekse woord wat ons met Here vertaal, baie goed verstaan: kurios was die titel/benaming waarmee die keiser vereer is. Mense het letterlik in die strate neergebuig en uitgeroep: Kurios! wanneer die keiser verbygekom het. Hulle het daardeur aan die keiser reg van heerskappy oor hulle lewens gegee. In ruil vir die erkenning van sy heerskap, het hulle al die voordele van ‘n stabiele Romeinse Ryk ontvang. Wanneer ons só ons lewens oorgee aan Jesus, word al die byvoordele van Sý koninkryk ons deel.

Uiteindelik sál elke tong bely: Jesus is Heer! Dis net ‘n kwessie van tyd. Ateïste met verwyt in hul harte. Geleerdes in verdwaasde ongeloof. Onverskilliges met verbasing in hul oë. Verwaandes huilend: O my God! Óf ʼn mens erken en bely Jesus as Here oor jou lewe óf jy erf wat jy geleef het – ʼn lewe sonder Jesus word ‘n ewigheid sonder God!

Wanneer ons begin praat as mense wat die karakter van Jesus begin openbaar, sal ons tonge noodwendig bely: Jesus is Here! En wanneer ons Jesus Here van ons lewe gemaak het, kan die eise van die lewe nie meer oor ons nie baasspeel nie! Jesus regeer!

GEBED

Jesus ek gee aan U die heerskappy oor jou elke woord wat ek sê!

 

EVAN ROBERTS

Van al die name wat verbind word aan die 1904 herlewing, staan dié van Evan Roberts uit. Op 26jarige leeftyd was hy oral bekend.

  • Nie vir sy geleerdheid nie – hy moes op elfjarige ouderdom skool verlaat om saam met sy pa in ‘n steenkoolmyn te gaan werk.
  • Wel a.g.v. ‘n gebed wat sy hele lewe verander het. In 1904 het hy gebid: Bend me oh Lord!

In antwoord op hierdie gebed het God hom ‘n boodskap vir Wallis gegee wat uit vier dele bestaan het:

  • Bely alle sonde
  • Los alles wat twyfelagtig is
  • Wees gereed om die Heilige Gees onmiddellik te gehoorsaam
  • Bely Jesus openlik

Nadat hy hierdie boodskap ‘n week lank verkondig het, het 60 mense hulle tot God bekeer. Binne ‘n jaar is meer as 100 000 mense by die Walliese Kerk gevoeg. Wat was die geheim van sy lewe? Dieselfde woorde wat Jesus in Getsemané gebid het en die redding van alle mense van alle eeue moontlik gemaak het: Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.

God wil nie van almal van ons evangeliste maak nie. Maar Hy wil politici, dokters, ouditeurs, advokate, onderwysers, ja, elkeen van sy volgelinge oprig, wat bereid is om heelhartig te bid: Buig my, o Heer! Die resultaat van hierdie gebed lewer altyd wonderlike onvoorspelbare resultate op!

GEBED:

Buig my, my Here!

Buig my kop in nederigheid.

Buig my hart in gehoorsaamheid.

Buig my knieë in oorgawe.

Buig my tong in die belydenis: Jesus, U is waarlik die Here!

 

Geniet hierdie week se erediens! Mag God se guns en seën vir jou ʼn lewende werklikheid wees!

Elza Meyer

 

 

HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

WEEK 8

PREEKSKETS 8

DIE VRUG VAN DIE GEES

DIE MOEDERHART VAN GOD

 

INLEIDEND

What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us. Man’s spiritual history will positively demonstrate that no religion has ever been greater than its idea of God, het A.W. Tozer in sy boek oor die karakter van God, The knowledge of the Holy, gesê.

God is onbeperk, maar ons …

  • pyn en plesier
  • storie en geskiedenis
  • vooropgestelde idees en die oneindige hoeveelheid leuens waarmee ons daagliks gekonfronteer word, het ʼn beperkende invloed op hoe ons God ken en beleef!

God is oneindig groot! En Hy wil ons uitnooi om tuis te kom in Sy onbegrensde liefde vir ons, want dan sal ons beter verstaan, wat Paulus bedoel het toe hy sy betoog oor die vrug van die Gees met liefde begin het.

Die vrug van die Gees kom nie vanself nie, ons moet doelgerig kies om Heilige Gees toe te laat om die vrug van Sy Teenwoordigheid in ons sielsdimensie en karakter te vorm. Die ander fasette van die vrug van die Gees sal net soveel makliker in en vir ons ʼn werklikheid word, as hulle uit die vrug van Godgegewe liefde kan ontwikkel.

 

DIE MOEDERHART VAN GOD AS ‘N METAFOOR

Ons weet almal dat God Gees is en dat Hy nie manlik óf vroulik is nie. Maar vanweë die kompleksiteit waarmee Hy as Ouer teenoor ons optree, word daar in die Bybel vaderlike én moederlike eienskappe aan God toegedig.

God het ʼn asemrowende Vaderhart. Baie is al daaroor gesê, geskryf en gepreek. Maar God se karakter en Persoon is baie omvangryker as dié van ʼn Vader. Ek glo God het ook ʼn Moederhart. Sy Persoon is so omvattend dat toe Hy die mens na Sy beeld en gelykenis gemaak het, het Hy hulle as man én vrou gemaak om Hom meer toereikend te weerspieël. Van al die profete hou Jesaja die heel meeste daarvan om na God se moedereienskappe te verwys:

 

‘N MOEDER IS LEWEGEWEND

In Jesaja 42:14 is God aan die woord:

Ek het baie lank stilgebly.

Ek was stil en Ek het My ingehou.

Maar nou gaan Ek skree soos ʼn vrou

Wat in kind in die wêreld bring.

Ek sal hyg en snak na asem.

Jesaja vergelyk God se skeppende vermoë met die buitengewone gawe, wat Hy aan vroue gegee het om uit ʼn enkele bevrugte selletjie ʼn kindjie in die wêreld te kan bring.

Wanneer God se stem weerklink – skep Hy. Dan …

  • maak Hy berge en heuwels gelyk met die grond
  • verander Hy donkerte in helder lig

Job skryf op dieselfde wyse in hoofstuk 38:29 oor God, wanneer hy oor God se skeppingsvermoë praat:

Wie is die moeder van ys?

Wie gee geboorte aan ryp uit die lug?

GOD GEE LEWE

  • Uit Sy Woorde het die hemel en die aarde voorgekom
  • Met die uitblaas van Sy asem het die sterre ploffend tot stand gekom
  • Wanneer God se vingers grond optel, word ʼn mens gevorm
  • Waar en wanneer Hy ookal praat, asemhaal of aanraak – ontspring daar lewe!

SATAN BRING DOOD VOORT

  • Die eerste woorde wat Satan met Eva gepraat het, het die saad van dood in haar geplant
  • Die dinge wat mense doen, omdat hulle na hom luister, maak seer
  • Die leuens wat hy vertel, breek en bind ons
  • En wanneer ons begin deelneem aan sy planne sal hy ons uiteindelik vernietig

As jy tot nou toe die strategie van dood in enige van sy vorme ervaar het, is vandag jou dag! Hierdie is die oomblik om uit die strategie van dood oor te stap na die strategie van lewe! Moenie vir ʼn oomblik terugdeins of huiwer nie!

  • Jy sal niks neerlê, wat God nie met iets buitengewoon wonderlik sal vervang nie
  • Jy het nie nodig om ʼn enkele minuut langer te spandeer op ʼn verbrokkelde bestaan nie. God integreer liggaam, siel en gees en stel léwe vry in ons totale menswees
  • Hy het jou geskep om self ook lewegewend te wees!

Aan vroue is die goddelike vermoë gegee om nuwe lewe te kan dra en voort te bring, sodat die menslike ras kan voortbestaan.

Maar elkeen wat kies om uit die strategie van dood oor te stap na die strategie van lewe, ontvang die goddelike vermoë om ook lewe voort te bring:

  • Seuns en dogters
  • Manne en –vroue
  • Jonk en oud
  • Oral en altyd
  • In sisteme en strukture
  • In institusies en organisasies
  • By die huis en op kantoor
  • In verhoudings

Elkeen aan wie God die gawe van lewe gee, ontvang ook die vermoë om

  • Deur hindernisse te sien
  • Bo-oor beperkings te stap
  • Om skeppend te wees

Het jy nuwe lewe nodig?

Jy is op die regte plek!

Daar is meer!

 

‘N MOEDER IS VERTROOSTEND

Soos ʼn moeder haar kind troos, so troos ek julle…,   Jesaja 66:13.

In ons leefwêreld is daar heeltemal teveel verwerping, verwaarlosing en alleenheid. Teveel mense is geïsoleer en eensaam.

As jy vandag só voel, stel jou gees oop om van Jesus Christus te ontvang, hoe Hý jou sien en wat Sy verlossingswerk met jou ID maak:

Jy is wonderlik en buitengewoon aanmekaar gesit

God het jou na Sy beeld en gelykenis gemaak

Hy is baie lief vir jou

Hy het bepaal dat jy die reg het om op aarde te wees

En Hy beskou elke oomblik van jou lewe as kosbaar

Hy het elke keer gesien toe die strategie van dood oor jou pad gekom het – jy was nie alleen nie – Hy was daar – reg by jou

Hy het nie goedgekeur wat mense onder die invloed van die Bose vir jou gesê en aan jou gedoen het nie

Hy bied jou in hierdie oomblikke Sy vertroosting.

Hy wil jou…

  • pyn vervang met heelheid
  • woede met ʼn verwagting
  • vrees met vryheid

Hy wil jou in staat stel om ook ander te troos, maar jy moet eers toelaat dat God jóú vertroos.

  • Laat die Bloed van Jesus jou gedagtes skoon was en jou wonde genees!
  • Laat toe dat Hy jou met hoop vul!
  • Kom vry sodat jy Sy vertroostende Teenwoordigheid kan vrystel, oral waar jy gaan.

 

‘N MOEDER-KIND VERHOUDING BESTAAN VIR ALTYD

Alle ma’s weet dat Jesaja die waarheid gepraat het, toe hy gevra het:

Kan ʼn ma die baba vergeet wat aan haar bors drink?

Kan sy geen medelye hê oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie?

Selfs ʼn ma wat haar kind onder moeilike omstandighede en in gebrokenheid moes afteken, sal beaam dat hierdie ʼn retoriese vraag is – dis onmoontlik!

Dan voer Jesaja 49:16 aan:

Selfs al sou dit moontlik wees, Ék sal jou nooit vergeet nie, (sê die Here)!

Kyk, Ek het jou naam in My Hand gegraveer!

 

Omstandighede mag jou beroof het van ʼn gesonde moeder-kind verhouding.

Gebrokenheid en sonde mag jou ontnugter en kwaad gemaak het.

Of jy het dalk die wonderlikste ma onder die son gehad.

Hoe dit ookal sy, sy sal altyd jou ma wees, haar bloed is in jou are.

Hoor wat sê die Here vir jou: Meer as wat enige ma ooit haar kind kan koester, is My omgee vir jou! Niks wat jy gedoen of nagelaat het, sal jou uit My geheue vee nie. Ek sal jou altyd op die hart dra en die bewys daarvoor het Ek op My Hand gegraveer. Ek sal nooit van jou vergeet nie, want Ek het jou lief!

 

N MA SAL OORLOG TOE GAAN VIR HAAR KINDERS

Rigters 4-5

Gedurende ʼn moeilike tyd toe leierskap in Israel ontbreek het en die mense swaar gekry het (verse 1-3)

  • Koning Jabin van Kanaän het die Israeliete onderdruk
  • Hy het ʼn sterk leër o.l.v. Sisera gehad
  • Sisera het beheer gehad oor 900 ysterwaens – feitlik ʼn onvernietigbare mag vir die wêreld van destyds

Het ʼn vrou opgestaan (verse 4-5)

  • Debora, die vrou van Lappidot
  • Sy was ʼn profetes en het as regter opgetree
  • Sy was ʼn wyse vrou en baie prakties – in plaas daarvan dat sy in ʼn warm tent of gebou die regsake van mense aangehoor het, het sy onder ʼn palmboom gesit, waar dit lekker koel was

Debora het ʼn boodskap van die Here af ontvang (verse 6-13)

  • Sy moes vir Barak laat roep en die Here se boodskap aan hom oordra: hy moes Israel verlos van Jabin se oorheersing en Sisera se leër
  • Barak het ingestem, maar daarop aangedring dat Debora saam met hom gaan
  • Sy was vreesloos, want sy was maar net ʼn boodskapper van die Here. Daarom was dit nie vir haar moeilik om in te stem nie – sy het geweet dat die Here niemand sal stuur sonder om Self saam te gaan nie!
  • Haar teenwoordigheid sou egter vir Barak ʼn prys kos: Die Here sou Sisera deur ʼn vrou oorwin!

Debora het God se Teenwoordigheid geken en kon die tye onderskei

  • Een oggend het sy Barak geroep en aangekondig: Vandag is die dag!
  • Die Here marsjeer voor jou uit!
  • Hy gee jou vyand in jou mag!

Debora was vreesloos, wys, prakties én tog uiters sensitief vir die Here se Teenwoordigheid en Sy tydsberekening. Want Debora het saam met God gelewe!

Jael het opgetree in ooreenstemming met die profetiese woord uit Debora se mond (verse 15-23)

  • Nie ʼn Israeli vrou nie, maar ʼn Kenitiese vrou, wie se volk vriendskaplike verhoudinge met koning Jabin gehad het, het die verantwoordelikheid opgeneem wat die Here aan haar toevertrou het.
  • Sy het nie die vyande van God se volk ge-eer nie, maar God se roeping op haar lewe.
  • Sy het die aanvoerder van die vyandelike leër om die lewe gebring en Israel van hul vyande verlos.
  • En sodoende die deur oopgemaak vir bonatuurlike guns oor Israel!

Israel het hul vyande verslaan

  • Die Israeliete het al hoe sterker geword
  • En uiteindelik die vyandelike juk van Jabin finaal afgeskud

Debora se lied beskryf die omstandighede waarbinne Israel die oorwinning behaal het (5:6b-7)

  • Die hoofpaaie het stil geword
  • Reisigers het op kronkelpaadjies afgedraai in ʼn tyd toe dit te gevaarlik was om op bekende roetes te reis
  • Die platteland het gekwyn
  • Almal wou in stede gaan woon, waar hoë mure en hekwagte beskerming bied
  • Die volk was vasgevang in afgodery
  • En het die deur oopgemaak vir oorlog in hul poorte en die swaard en spies in hul nasie ingenooi

En dan sing Debora in haar oorwinningslied

  • Die oorwinning is behaal – nie toe sy as …
  • Profetes opgetree het nie
  • As regter uitspraak gelewer het nie
  • As visioenêr God se boodskap met Barak gedeel het nie
  • God se Teenwoordigheid en tyd vir optrede onderskei het nie
  • As soldaat tot die stryd toegetree het nie
  • Maar toe ʼn moeder in Israel opgestaan het!

Sy sing van die dag toe ʼn ma opstaan het en ʼn nasie gered het!

ʼn Ma wat oorlog maak, veg nie vir rykdom, mag en posisie nie. ʼn Ma veg vir haar kinders en hulle kinders. En daarom laat sy nie toe dat enigiets of enigiemand haar stop nie!

  • God het ook oorlog toe gegaan – vir jou en my!
  • Hy het bepaal dat die afstammeling van ʼn vrou Satan se kop sal vermorsel.
  • Jesus het gekom om die helse magte teen te staan en die laaste skanse wat die Bose tussen God en die mensdom opgerig het, te vernietig.
  • Hy het ons liefgehad tot die mate dat Hy oorlog gevoer het teen ons ewige vyand.
  • Hy het jou en my lewe hoër geag as Sy eie.
  • Hy het gesterf om die mag van die dood oor ons lewens te breek en Hy het oorwin!
  • Hy is uit die dood opgewek en vandag wil Hy jou opwek in ʼn lewe saam met Hom!
  • Laat Jesus Christus, God die Vader en die Heilige Gees toe in jou lewe.
  • Laat toe dat God se Moederhart jou vir altyd verander!
  • God wil jou toevou in Sy ewige liefde vir jou!                                                                                       

 

GEBED

Laat God toe om Sy Moederhart ook binne in jou te skep:

  • ʼn Hart wat nie die vyand sal toelaat om die mense rondom jou te vernietig nie
  • ʼn Hart vol liefde, wat sal opstaan vir wat God wil doen in ons tyd.
  • ʼn Hart wat liefde ontvang het en daarom ook in staat en bereid is om ook liefde te word en liefde te gee! Amen.

 

Mag hierdie week se erediens vir almal in die geloofsgemeenskap ʼn groot seën wees!

Elza Meyer

 

HEILIGE GEES WERK IN EN DEUR ONS

WEEK 9

PREEKSKETS 9

DIE HEILIGE GEES PRAAT

TUSSEN DIE EGIPTENARE EN DIE DIEP BLOU SEE


INLEIDEND

Miskien voel jy ongemaklik wanneer mense sê dat God met hulle praat. Jy is ʼn logies-beredeneerde mens en jy het God nog nooit deur drome, visioene of profetiese insigte met jou hoor praat nie. Wanneer jy jou Bybel lees, het die inhoud vir jou waarde en betekenis en jy rig dan ook jou lewe dienooreenkomstig in. Dis goed so. Vir jou wil die Here vandag sê: Ek is jou God. Meer nog: Ek wil vir jou ʼn Verbondsgod wees, wat jou vir tyd en ewigheid sal liefhê en koester. Vertrou My. Ek wil nuwe dimensies in My verhouding met jou ontvou.

Toe die Israeliete na jare van onderdrukking en slawerny onder Moses se leiding op die Here begin vertrou het om hulle uit Egipte weg te lei, moes hulle God op ʼn veel dieper vlak leer ken en vertrou. Die pad wat hulle gestap het, was gevul met uitdagings wat slegs deur goddelike ingrype hanteer kon word. Ontgin die wonderlike verhaal in Eksodus 14:1-30 en miskien ontdek jy nuwe fasette van verhouding met God.

 

JAHWE DIE VERBONDSGOD

Israel het geweet dat Jahwe hul God is.

  • Hy het wonder op wonder in Egipte gedoen
  • Hy het die doodsengel by hul bloedbesmeerde deurkosyne weggehou
  • Hy het hul in een nag uit slawerny bevry
  • Hy het ‘n massa slawe tot ʼn volk verenig
  • En nou lei Hy hulle op onbekende paaie met ‘n wolk- en vuurkolom deur die woestyn

Maar al weet ‘n mens dat God jou God is, kom daar tye dat jy ten spyte van gister en eergister se wonders steeds skrik, bang word en terugdeins.

Die gebeure by Migdol teen die See was so ‘n gebeure. Daar was nêrens om heen te gaan nie. Aan die een kant was daar ‘n massa water en aan die ander kant was daar gewapende Egiptiese soldate op oorlogswaens. Israel was vasgekeer.

Hulle het egter met een saak nie tred gehou nie. Jahwe is ‘n Verbondsgod. ‘n Verbond is ‘n lewenslange verbintenis tussen twee partye. En Jahwe het belowe dat Hy Israel se God sal wees en in hulle belang sal optree solank hulle Hom in alles as hul God erken.

In ‘n verbond is daar altyd twee partye. So ʼn verbond word deur voorwaardes gerig. Albei partye stem dan in tot hierdie voorwaardes. In meeste gevalle is die een party sterker as die ander party. In sulke gevalle is dit natuurlik tot voordeel van die swakker party.

Een van die algemene voorwaardes tot ʼn verbond is dat albei partye mekaar in tye van nood sal bystaan. Dus: die oomblik toe Israel in die moeilikheid was, het God opgedaag om in hulle belang op te tree! Hiermee het en kon Egipte nie rekening hou nie. Dis omtrent soos ‘n Pa wat tot sy kleuterseuntjie se redding kom in ‘n vuisgeveg met ʼn ander kleutertjie. Israel moes vertrou dat God vir hulle veg en dat hulle die Egiptenaars wat hulle met vrees sien nader kom het, nooit weer sou sien nie, vgl. Eks. 14:13-14.

 

‘N ONGEWONE STRATEGIE

GOD STEEK ISRAEL WEG

Die eerste ding wat God gedoen het, was om sy teenwoordigheid/engel wat heeltyd voor Israel uitgegaan het tussen hulle en hul vyande te laat stelling inneem, vgl. vers 19. Wanneer gevaar dreig gaan staan God self tussen sy volk en hul vyande. ‘n Mens kan sê Hy interposisioneer Homself tussen sy volk en hul vyande.

Aan Israel se kant het dit lig gebly en aan Egipte se kant was dit nag. Sommige van die Rabbynse verklarings lui dat dit dalk was, omdat God met sy gesig na Israel toe gestaan het dat dit nie donker geword het by hulle nie. Was dit dalk God se liefde en heerlikheid wat van Hom af uitstraal, wat vir hulle lig verskaf het?


GOD MAAK ‘N PAD

Die tweede ding wat God gedoen het, was om die Engels te gebruik: “to make a way where there was no way.” Toe die Israeliete nêrens gehad het om heen te gaan nie, het hul sterker Verbondsvenoot en Gids tot hulle redding gekom en vir hulle ‘n pad deur die see gemaak!

En as ‘n mens die werkwoord in vers 21 lees, waar daar staan: Die Here het die water oopgekloof, sê van die Rabbynse verklarings lyk dit of die skrywer probeer sê het dat die Here die water met sy Hande in twee gebreek het. Amper soos wanneer mens ‘n stukkie brood sou vat en dit in twee sou breek. Kan dit wees dat die Here sy magtige Hand onder die see ingedruk het en die see in twee gebreek het? Dit maak seker nie regtig saak hoe ‘n mens hierdie sinsnede vertaal nie, maar dit laat mens net weer vars kyk na God se grootheid.

Hoe dit ook al sy, terwyl God tussen Israel en Egipte stelling ingeneem het, sodat die Egiptenare nie aan sy volk kon raak nie en ook nie kon sien wat daar by hulle gebeur nie, het Hy Self vir Israel ‘n pad gemaak.

 

GOD NEEM STELLING IN BOKANT ISRAEL EN HUL VYANDE  

Toe Israel veilig op die oewer aan die ander kant van die see was, het God posisie ingeneem bokant Israel en Egipte. Solank die Here se teenwoordigheid hulle verblind het en in die duister gehou het, het Israel ‘n vreemde pad deur die see gevind. Dink net hoe verbaas die Egiptenare moes gewees het met die toneel wat hulle begroet het toe hulle weer die Israeliete kon sien:

  • Net ‘n paar uur gelede was Israel voor die Rietsee vasgekeer, nou het hulle aan die oorkant van die oewer gestaan.
  • Voor dit donker geword het was daar net water, nou was daar ‘n pad deur die see.

Die Egiptenare het besluit om van die nuwe pad gebruik te maak. Net om halfpad oorval te word deur water toe God sy magtige Hande onder die water uittrek.

 

WAT MAAK GOD WANNEER SY KINDERS IN NOOD NA HOM ROEP?

Hy neem stelling in tussen hulle en hul vyande; tussen hulle en hul moeilikheid.

Hy gee uitkoms, waar daar geen uitkoms was nie; Hy maak ‘n pad deur die see.

Wanneer sy kinders veilig is, maak Hy hul vyande se oë oop om die pad te sien, wat Hy gemaak het.

Dan laat Hy toe dat hulle die pad gebruik, wat net bedoel is vir hulle wat op Hom as hulle Here vertrou.

Diegene wat op dié pad gevind word met die verkeerde motiewe, sal vind dat dié pad hulle einde beteken.

Dan bars daar in God se kinders ‘n loflied oop en kan hulle nie anders as om Hom met alles in hulle te dank nie.

 

ISRAEL SING VIR JAHWE

Langs die Rietsee het hulle met verwondering gestaan en kyk hoe God hulle vyande voor hulle oë oorwin. Hulle Verbondsvennoot het opgedaag en Hy het al hul moeilikheid uitgesorteer!

En met verwondering in hul harte, het hulle begin om Hom te loof en te dank. As ‘n mens Israel se lied in Eksodus 15 lees, kom jy agter dit was nie ‘n bekende lied nie. Dit was ‘n lied uit die hart.

Die eerste 5 verse het waarskynlik uit die mond en hart van een van Farao se voormalige klipkappers gekom: Die farao se oorlogswaens en weermag het Hy in die see gegooi. Die dapperste van farao se offisiere het in die Rietsee verdrink. Massas water het oor hulle toegevou; hulle het soos ‘n klip in die dieptes weggesink, verse 4-5.

Toe stap waarskynlik een van die strooi versamelaars, wat strooi vir die steenmakers bymekaar gemaak het, vorentoe en roep uit: U woede bars los, U verwoes hulle soos vuur wat strooi verbrand, vers 7.

En terwyl die manne aan die Here lof en eer vanuit hul konteks met opregte harte gebring het, vat die vroue o.l.v. Mirjam hul tamboeryne en begin voor die Here sing en dans: Sing vir die Here, want Hy is geweldig hoog. Perd en ruiter het Hy in die see gegooi, verse 20-21.

 

GOD IS STEEDS ‘N VERBONDSGOD

‘n Verbondsverhouding is ‘n permanente verhouding. God wil steeds met elkeen van ons in ‘n ewige verhouding staan. In Christus het Hy sy verbond met ons kom vernuwe. Ons lees in Hebr. 10:16: Dit is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle verstand sodat hulle dit kan verstaan. En Ek sal dit in hul harte graveer sodat hulle dit sal gehoorsaam.

 

In Christus is God se verbond met ons nie meer ‘n ooreenkoms buite ons nie, maar binne-in ons. God het ín ons kom woon! Vir óns kan God se verbond met ons dus méér werklik wees as vir die gelowiges uit die ou verbond! Ons moet dit net heelhartig glo.

Jesaja 7:9c gryp mens altyd aan die hart. Daar staan: Julle glo My nie? As julle wil hê dat Ek julle moet beskerm, moet julle leer om te glo wat Ek sê. 

Glo jy die Here?

Glo jy wat Hy vir jou deur Sy Woord sê?

Glo jy ten diepste dat Hy jou nie in die steek sal laat nie?

Glo jy dat Hy sal opdaag vir jou?

Glo jy dat Hy sal opdaag ter wille van jou?

Wat sê ons vir mekaar? Indien jy God nog nooit deur drome, visioene, gesigte of profetiese woorde met jou hoor praat het nie, wees daarvan verseker dat dit heeltemal genoeg is om Hom op Sy geskrewe Woord te neem. Sy Woord is verseker vir jou bedoel en Hy wil sonder twyfel jou God wees!

 

VERBONDSLUITING

 Kom ons bevestig ons verhouding met die Here.

Kom ons maak vas dat ons sy kinders is en Hy ons God.

Kom ons vra Hom om lewenslank ook ons Verbondsgod te wees! Amen.

 

Ek vertrou dat u as leraar ʼn geseënde tyd met hierdie Handleiding en preeksketse agter die rug het en dat u geloofsgemeenskap daardeur kon groei. Dit was vir my ʼn voorreg om saam met u ʼn stukkie van die pad te kon stap.

 

Elza Meyer

Share