Preekvoorstelle vir Identiteit

WEEK 1
Week 1: God het ons geskep
Genesis 1:26-28
Tema: God het ons geskep
Preekstudie – Genesis 1:26-28  

Skopus:
Ons verteenwoordig God in ons omgewing. God het mense gemaak om Hom te verteenwoordig. Die diepste aspek van ons identiteit is daarom dat ons beeld van God is, dat ons God
verteenwoordig waar ons onsself ook al bevind en in waarmee ons ook al besig is.

Genesis 1:26-28
26 Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”
27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger,
as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
28 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers …”

Opmerkings oor die teks
Die teks is deel van die eerste skeppingsvertelling in Genesis (1:1-2:4a). Saam met verse 24 en 25 handel dit oor God en sy aktiwiteit op die sesde skeppingsdag. “Elohim” אֱלֹהִים) ) is ‘n Hebreeuse selfstandige naamwoord wat in die enkelvoud én meervoud as benaming vir God gebruik word. In die tweede skeppingsvertelling (Genesis 2:4b-25) word JHWH daarmee saam (אֱלֹהִ֖ים יְהוָ֥ה) as God van die Israeliete gebruik.

Met elke skeppingsdag was daar ‘n bepaalde patroon. Elke keer word gesê: “Toe het God gesê: …” en dan word dit opgevolg met “Laat …” en dan word beskryf wat toe gebeur het.

Aan die begin van vers 26 verbreek die skrywer sy patroon. Met “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, …”, sê die skrywer dat God eers met Homself of met iemand anders – byvoorbeeld die leërskare engele rondom sy troon – gepraat het voordat Hy die mens geskep het.

In Hebreeus word “ons” gebruik wanneer daar ‘n gesprek is of wanneer iemand met hom-/haarself praat. Iets van die besondere verhouding tussen Skepper en skepsel is hierin teenwoordig.

In die Hebreeus word hier nie ‘n geslag aan “mens” gekoppel nie. Mens is hier dus nie “man” of “vrou” – of “manlik” of “vroulik” – nie, maar dieselfde as die Engelse human. Die skrywer wil nie sê wanneer of hoe God die mens gemaak het nie, maar dát God die mens gemaak het. God het álle mense gemaak het en met die mensdom gesamentlik, asook met élke mens in ‘n besondere verhouding staan.

God het die mens met ‘n spesifieke doel geskep: as sy verteenwoordiger, sy beeld. In die Babiloniese skeppingsvertelling – waarteen die skrywer polemiseer – het die gode mense gemaak om hulle te dien. Nee, sê die skrywer van ons teks: God het mense gemaak om Hom te verteenwoordig. Mense regeer God se skepping namens Hom.

In Babilonië het daar nie ‘n dag verbygegaan sonder dat die ballinge in hulle onderdrukker se koninklike stela’s – plat klippe waarop konings se name en dade en die gode aan wie hulle daarvoor hulde bring aangebring is – moes vaskyk nie. Vir húlle word gesê dat God nie stela’s maak en oprig nie, maar ménse.

Die ballinge hoor húlle was die “aankondigende herinneringstekens” van God en sy grootse dade. God het nie tussen die bouvalle en rommel van hulle land klippe met huldebetuigings daarop aangebring nie, maar ín en déúr mense sigbaar en aan ‘t werk geraak.

Wanneer hulle gevra het: “Wie is ons?”, “Waar kom ons vandaan?” en “Wat maak ons hier?”, moes hulle antwoord op ‘n stewige fondasie rus: God het ons geskep. God word sigbaar en werk ín en déúr ons.

Aan die einde van vers 27 en in vers 28 lees ons God het die mens as man en vrou geskep én dat God hulle geseën het om vrugbaar te wees, te vermeerder, die aarde te bewoon, dit te bewerk en dit te bestuur.

Seksualiteit is deel van die identiteit wat God aan mense geskenk het. In die tyd waarin die teks geskryf was, was dit uiters belangrik “om baie te word” en het God se seën vir hulle direk met voortplanting verband gehou. Om hierdie rede is manlikheid en vroulikheid deur baie beklemtoon. Mense wat nie tot voortplanting bygedra het nie, is deur heeltemal te veel Judeërs met afguns bejeën.

God word sigbaar in hoe ons werk én in hoe ons tot rus kom en rus. God wys Homself as Iemand wat doen en as Iemand wat rus. Ons werk omdat ons daartoe geroep word en nie net omdat dit nodig is om ons besig te hou of inkomste te verseker nie. Ons rus omdat ons daartoe getaak word en nie net omdat ons moeg word – van werk – nie. Wanneer ons rus verklaar ons sonder woorde dat ons God vertrou: ons mág ontspan, beheer prysgee en nie-besig-nie wees.

Dit is deel van ons identiteit dat ons werkende mense is én dat ons rustende mense is. God word sigbaar terwyl en in hoe ons bésig is en terwyl en in hoe ons nié besig is nie. Werk en rus is deel van God se sorg vir ons. Ons het die heerlike roepingsopdrag om – namens God! – vir mekaar en ons wêreld te sorg.

Binne die konteks waarin die mense vir wie die teks geskryf is hulleself bevind het – tydens en ná die ballingskap – het hulle dikwels gewonder en gevra waar God is. Vir húlle sê die skrywer om net rondom hulle te kyk: in élke mens wat julle sien – in mans én vroue – is God bý, ín en déúr julle teenwoordig en bésig.

Voorstel vir ’n preek
Die preek kan vanuit verskillende invalshoeke begin word. Een moontlikheid is om met die bekende vertelling oor die eienaar van ‘n groot bosboumaatskappy wat in ‘n woud verdwaal (sien die voorwoord) te begin.

Die gemeente kan dan gevra word of hulle al vir hulleself antwoorde op hierdie twee kernbelangrike vrae begin formuleer het. Wie is jy régtig? Wat maak jy hier? Die vraag wie ons elkeen wíl wees kan hierby gevoeg word.

Hierna kan op die belangrikheid van sekerheid oor ons identiteit gefokus word. Ons moet weet wie ons is en waarom ons hier is. Sonder om dit te weet kan ons nie ons roeping na behore vervul nie. Ons verhouding met onsself, ons omgewing en die mense rondom ons, sowel as ons verhouding met God word ook hierdeur bepaal.

Bring nou die teks in die gesprek in. Predikers kan uit dit wat hierbo en in die week se stukkies daaroor geskryf is put na gelang van hulle kontekste. Lyne kan ook na Psalms 8 en 139 deurgetrek word.

Bring die fokus telkens na God toe. Ons is beeld van God en Wie God is en wat God doen bepaal ons identiteit en roeping. Die teks – en daarom ook die prediking – handel nie primêr oor óns nie, maar oor Gód.

Sluit die preek af deur te vra Wie God is en wat God doen. Stel die kern van dit wat die teks oor God sê duidelik. Stel dan ook dat God ons as sy beeld gemaak het en dat ons God verteenwoordig. Roep die gemeente op om vir hulleself as roeping te stel: “Ek is beeld van God. Ek lééf voluit!”

Nog ‘n moontlikheid is om met die vraag in Psalm 8:1 te begin: “Wat is die mens …?” Noem ‘n klompie moontlike beskrywings en vra ook vir persone in die erediens wat húlle sou sê.

Genesis 1:26-28 kan dan aan die bod gebring word. Psalms 8 en 139 kan betrek word, maar dis nie noodsaaklik nie. Indien Psalm 139 betrek word, kan die gebed in verse 23 en 24 ingewerk word. Dit lui: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”

‘n Oproep om ons identiteit in ons beeld van God wees terug te vind moet gemaak word.

Vertoon die video “Fearfully and wonderfully made” by:
https://www.youtube.com/watch?v=enNkUHRZWZI voordat gebid word.

Ander tekste:
Psalm 8 en 139.
Markus 1:29-39.

Moontlike hulpmiddels
Kyk gerus na Communitas se preekriglyne op hulle webblad:
http://communitas.co.za/

Bronne:
Ferdinand Deist 1990. Jy is ‘n nuwe mens. Pretoria: J.L. van Schaik.
H.L. Fouché 1988. Genesis 1:1-2:4a, in Riglyne vir prediking oor die Genesis­verhale (Woord teen die Lig II/3). Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers, 19-44
Julian Müller 1989. God se beeld en verteenwoordiger. Genesis 1:1 tot 2:4a, in Cas Vos & Julian Müller (reds.), Geboorte en Kindwees (God, mens en wêreld), Pretoria: Orion, 1-10
Annene Mullins & Kobus Myburgh 2006. ‘n Venster op ons Vader. Die verhaal van God en mense in Genesis 1-11. Wierdapark: Biblaridion.

Die Biblia Hebraica Stuttgartensia-teks:
וַיֹּ֣אמֶר אֱלֹהִ֗ים תֹּוצֵ֨א הָאָ֜רֶץ נֶ֤פֶשׁ חַיָּה֙ לְמִינָ֔הּ בְּהֵמָ֥ה וָרֶ֛מֶשׂ וְחַֽיְתֹו־אֶ֖רֶץ לְמִינָ֑הּ וַֽיְהִי־כֵֽן׃
25וַיַּ֣עַשׂ אֱלֹהִים֩ אֶת־חַיַּ֨ת הָאָ֜רֶץ לְמִינָ֗הּ וְאֶת־הַבְּהֵמָה֙ לְמִינָ֔הּ וְאֵ֛ת כָּל־רֶ֥מֶשׂ הָֽאֲדָמָ֖ה לְמִינֵ֑הוּוַיַּ֥רְא אֱלֹהִ֖ים כִּי־טֹֽוב׃
26וַיֹּ֣אמֶר אֱלֹהִ֔ים נַֽעֲשֶׂ֥ה אָדָ֛ם בְּצַלְמֵ֖נוּ כִּדְמוּתֵ֑נוּ וְיִרְדּוּ֩ בִדְגַ֨ת הַיָּ֜ם וּבְעֹ֣וף הַשָּׁמַ֗יִם וּבַבְּהֵמָה֙וּבְכָל־הָאָ֔רֶץ וּבְכָל־הָרֶ֖מֶשׂ הָֽרֹמֵ֥שׂ עַל־הָאָֽרֶץ׃
27וַיִּבְרָ֨א אֱלֹהִ֤ים׀ אֶת־הָֽאָדָם֙ בְּצַלְמֹ֔ו בְּצֶ֥לֶם אֱלֹהִ֖ים בָּרָ֣א אֹתֹ֑ו זָכָ֥ר וּנְקֵבָ֖ה בָּרָ֥א אֹתָֽם׃

 

Week 1 dag 1 :  God word sigbaar en werk ín en déúr ons
Tema: God het ons geskep
Teks: Genesis 1:26-27

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld …”
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep.

Dis moontlik om te glo dat God die mens gemaak het wanneer ons die mooi in mense raaksien. Dit is egter nie so maklik om dit te aanvaar wanneer ons mense se seer, swaarkry en sukkel of die stukkende in die wêreld raaksien nie. Dis nóg moeiliker wanneer mense hulleself, ander mense en die omgewing verniel, breek of bemors.

Ná hulle lang stap na vryheid uit ballingskap in Babilonië het die Israeliete hard daaraan gewerk om hulle land én hulleself weer op te bou. Alles wat hulle oor hulleself – wie hulle was, waar hulle vandaan gekom het en waarom God hulle in daardie deel van die wêreld laat lee fen woon het – én oor God geglo het is deur die feit en impak van die ballingskap inmekaar laat tuimel.

Vir dié mense het God ‘n boodskap gehad. Almal saam én elkeen individueel moes dit duidelik hoor. Die twee dele van die boodskap moes soos bene wees waarop hulle stewig en vás kon staan. Hulle moes dit hoor en glo: “Gód het ons gemaak” en “Ons is God se verteenwoordiger, sy beeld.”

In Babilonië het daar nie ‘n dag verbygegaan sonder dat hulle in hulle onderdrukker se koninklike stela’s – plat klippe waarop konings se name en dade en die gode aan wie hulle daarvoor hulde bring aangebring is – moes vaskyk nie.

Nou hoor hulle dat God nie stela’s maak en oprig nie, maar ménse. Húlle was die “aankondigende herinneringstekens” van God en sy grootse dade. God het nie tussen die bouvalle en rommel van hulle land klippe met huldebetuigings daarop aangebring nie, maar ín en déúr mense sigbaar en aan ‘t werk geraak.

Wanneer hulle gevra het: “Wie is ons?”, “Waar kom ons vandaan?” en “Wat maak ons hier?”, moes hulle antwoord op ‘n stewige fondasie rus: God het ons geskep. God word sigbaar en werk ín en déúr ons.

Toewydingsmoment
Dank God daarvoor dat Hy ín en déúr ons sigbaar word en optree.
Verklaar dat jy graag met God in ‘n verhouding staan.

Gebed
Here God,
Baie dankie dat U in en deur ons – ook in en deur mý – sigbaar word en dinge doen.
Ek stel myself wéér tot U beskikking: doen net wat U wil, Here, ú wil met my.

Amen.

Taak
Maak ‘n lys van dinge wat jy dink daarop sou staan as Gód ‘n stela met beskrywings van Wie God is en wat God vermag het sou oprig daar waar jy is.

Toegif
Luister na die lied “Doen slegs u wil, Heer” of sing dit.

 

 

WEEK 2
Week 2: Ons is versoeningsagente en medewerkers van God
2 Korintiërs 5:17-21
Tema:Ons is versoeningsagente en medewerkers van God
Preekstudie – 2 Korintiërs 5:17-21

Skopus:      God het Homself met ons versoen. Gód het hierdie versoening bewerk en Hy het dit deur Christus gedoen. Ons behoort aan Christus en is God se “eiendom.” Ons is letterlik ‘n “nuwe skepping.” As núwe mense word ons al meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word. God het die boodskap van die versoening én die bediening daarvan aan ons toevertrou.

2 Korintiërs 5:17-21

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Dit alles is die werk van God.
Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.
Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie.
Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen.
Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!
Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Opmerkings oor die teks
Ons perikoop is deel van 2 Korintiërs 5:11-21 (en verder tot by 6:10). Paulus skryf hierin oor God se versoening en ons as met-God-versoendes en Christus se verteenwoordigers. Die gedeelte begin met die stelling dat ons bediening in die eerbied, ontsag en respek vir God gegrondves is. Hy skryf dat die dryfkrag agter die dien van mense Christus se liefde en die insig dat Christus “in diens aan God en mense” gesterf het is. Die sleutelterm hier is “versoening”.

In vers 17 skryf Paulus dat daar in terme van die evangelie van God en dit wat God in en deur die sterwe en opstanding van Jesus bereik het, iets heeltemal nuut gebeur het. Almal wat aan Jesus-groepe – dit is: persone “in Christus” – behoort, is ‘n núwe skepping; vir hulle het álles nuut geword.

Natuurlik spruit dit alles voort uit dit wat Gód gedoen het, sê Paulus in vers 18-19. In terme van dit wat God deur Christus gedoen het, het Hy hy sy toorn opsygeskuif. Dit beteken dat dit nie nodig is om énigiets te doen om die eer wat deur die voortdurende dade wat tot openbare skande lei verloor is, te herwin nie. Deur sy Christus het die God van Israel afstand gedoen van die vereistes wat Hy gestel het om tevrede gestel te word. God het as ‘t ware die reg om op restitusie aanspraak te kan maak kwytgeskeld. In Christus het God die wêreld met Homself versoen. Die begrip “die wêreld” (κόσμον) dien hier as ‘n metafoor vir die hele Israelitiese gemeenskap. Die proses behels dat God nie énige oortredings teen sy eer in berekening bring (dit “tel”) nie.

Paulus skryf dat hy en sy Jesus-groep veranderingsagente in die diens van hierdie versoening staan en proklameer hierdie versoening van God en Israel aan die Israeliete wat die evangelie van God aanvaar. Hy is ‘n veranderingsagent, skryf Paulus, en sê hy dien as gesant of ambassadeur vir God (die “veranderings­agentskap”) en verkondig die innovasie van die evangelie van God en die versoening wat dit behels. Húlle wat in Christus glo, glo in God se evangelie én is met God versoen. Ons kan dit glo en hoef nie daaroor te twyfel nie.

Oor Jesus se rol in dit alles skryf Paulus dat die God van Israel ter wille van die Israeliete vir Jesus volkome deel van die heersende kultuur van die Israeliete, naamlik om God in die skande te bring (dít is die betekenis van sonde: hamartia), gemaak het. Omdat Jesus God egter nooit in die skande gesteek het nie, is ons aanvaarbaar vir én goedgekeur deur God.

Alles het op grond van Christus se sterwe nuut geword. Alles moet nuut gesien en beoordeel word en núwe waardes heers nou. Daarom is Paulus se wens dat alle mense nie vir hulleself moet lewe nie, maar – ter wille van God en sy Christus en gedronge deur liefde – vir die versoening met mekaar. God het die inisiatief hierin geneem, gedoen wat daarvoor nodig is, én die dien van mense deel van ons wat glo se bestaansdoel gemaak.

Om ons met God te laat versoen is nie ‘n núwe manier van “doen” nie. Geloof – of dan, “om te glo” – is nie die “nuwe” (Christelike!) wetsweg waarlangs godsdienstige mense hulleself moet red nie, skryf Smit (1982:153). Versoening is nie ‘n menslike moontlikheid nie, maar iets wat jy jouself hoogstens kan laat welgeval.” Gelowiges moet hierdie oproep verstaan in terme van “laat hierdie (objektiewe) weldaad julle welgeval, laat julle daardeur oorrompel, aanvaar dit, berus daarin, verbly julle daarin, gryp dit aan, leef daarvan, vertrou daarop, “vervoeg” julleself daarna, beoordeel julleself in die lig dáárvan, moenie daarteen stry nie …” Ons moet die “passiewe” of nie-verdienstelike, die sogenaamde “reseptiewe” (teenoor die “kreatiewe”) aard van die geloof áltyd voor oë hou en beklemtoon.

Voorstel vir ’n preek
Veral aangesien hierdie reeks oor ons identiteit gaan, kan ons in die prediking meer op die dát en die wát van die versoening, as op die hóé daarvan fokus. Die fokus is dat ons mense is met God
Homself versoen het, dat ons mense is aan wie dit opgedra is om mense te dien sodat versoening kan plaasvind en ons héle lewe rondom hierdie versoening in te rig.

Dit gaan dus oor die verhouding tussen God en ons en ons en mekaar en ander mense. Die doel is om oor verhoudinge te preek en by versoening in verhoudinge uit te kom. Christene n God deur versoening te bedien – soos gemeentes en kerke – is deel van ‘n verhoudings-gemeenskap, nié ‘n “verlossingsbesigheid” nie. God hét versoening met Hom – of dan, “verlossing” – bewerk. Ons “werk” is gefokus op versoening in verhoudinge met en tussen mense.

Omdat ons met ‘n reeks oor ons identiteit besig is, kan reguit gestel word (1) dat ons mense is met wie God Homself versoen het, (2) dat ons mense is aan wie dit opgedra is om mense te dien sodat versoening kan plaasvind en (3) dat ons mense is wat ons héle lewe rondom hierdie versoening inrig. Daar kan dan oor elkeen van hierdie aspekte van ons identiteit gepreek word.

Vrae soos “Weet jy dat God Homself met jou versoen het deur Christus?”, “Het jy al daarin berus dat God Homself met jou en ons versoen het deur Christus?” en “Hoe rig jy jou lewe rondom die geloof dat God Homself met ons versoen het deur Christus in?” kan gevra word. Hiervandaan uit kan die preek dan ontplooi word om die hoorders se identiteit op te helder en te versterk. Hulle moet ook aangemoedig word om nie oor mense se (of ons eie!) verlossing bekommerd te wees nie, maar ál hulle energie in die vestiging van en versoening in verhoudinge belê.

Hierdie verhoudinge is nie net persoonlik nie, maar veral ook kerklik, sosiaal én ekologies van aard. Daar is soveel met die wêreld gefoeter en soveel met die mense gemors (ala Koos du Plessis) dat die verhoudings tussen God en mense, mense en mense, mense en die omgewing én mense met hulleself gebroke en broos is. God het gelukkig ‘n “plan” gemaak. In en deur sy Christus het God broos geword en die gebrokenheid geheel en ‘n “héélmaakproses” aan die gang gesit. As mense wat dít te hore gekom het en dit aanvaar het, aanvaar en vier ons hierdie versoening en skakel ons by God se proses in deur mense in liefde te dien.

Ons is versoeningsagente en medewerkers van God
Ons is God se versoeningsagente (vers 20) aan wie Hy die bediening van versoening (vers 18), sy “versoeningsprogram vir die wêreld” toevertrou het. As beeld van God verteenwoordig ons God in sy herskepping. As beeld van Christus verteenwoordig ons God in sy herstel van verhoudings tussen God, mense en die omgewing. God se versoening met ons het ons núwe mense gemaak (vers 17) en God is besig om álles te vernuwe. Ons het die heerlike voorreg om hieraan deel te hê as versoeningsagente en medewerkers van God.

Ons bedien God se versoening
Die versoening is nie goedkoop nie, maar dúúr. God het dit be-werk (vers 18). God het die versoening “deur Christus” (vers 18) bewerkstellig. Daarom is ons nuut gemaak, word ons oortredinge nie teen ons gehou nie én word ons as “bedienaars van die versoening”, tot “God se verteenwoordigers” deur Hom aangestel. Het jy opgemerk dat God se núwe skepping ook ‘n nuwe styl van ons vra? Lees gerus die tweede deel van vers 21: ons dreig en manipuleer nie, maar “smeek” mense.

Ons verloën onsself – net soos wat Christus dit gedoen het – en leef nie meer vir onsself nie (vers 15). Ons dink ook núút – dit wil sê, ánders – oor mense. Ons klim uit ons ou skoene uit en verbreek grense. Ons jaag nie meer ons eie voordeel na nie, maar dié van ander. Ons word die mense met wie ons te doen het se bedienaars, hulle slawe wat soos kelners aandra wat vir versoening nodig is.

God bedien sy versoening ín en déúr ons
Net soos wat God in en deur sy Christus broos geword het om gebrokenheid tot in die dood in te heel, bedien God sy versoening in en deur ons. Die heilige Fransiscus se gebed help ons om dit te verwoord:

“Here maak my ‘n instrument van u vrede;
Waar daar haat is, laat my liefde bring;
Waar daar leed is, laat my die gees van vergifnis bring;
Waar daar twyfel is, gee dat ek u geloof mag versprei;
Waar daar wanhoop is, help my om u hoop te bring;
Waar duisternis is, om lig te bring;
Waar droefheid is, om vreugde te skep” (Taute 1993:65).

In gemeentes en kerke is christene nie deel van ‘n “verlossingsbesigheid” nie, maar deel van ‘n “verhoudingsgemeenskap.” God hét verlossing bewerk. Daarom fokus ons daarop om verhoudings te help versoen.

Ons is mense wat met God versoen is. Ons is versoeningsagente en mede-werkers van God.

Moontlike hulpmiddels
Kyk gerus ook na Communitas se preekriglyne op hulle webblad:
http://communitas.co.za/

Nestle-aland XVIII-Teks
17 ὥστε εἴ τις ἐν Χριστῷ, καινὴ κτίσις· τὰ ἀρχαῖα παρῆλθεν, ἰδοὺ γέγονεν καινά.
18 τὰ δὲ πάντα ἐκ τοῦ θεοῦ τοῦ καταλλάξαντος ἡμᾶς ἑαυτῷ διὰ Χριστοῦ καὶ δόντος ἡμῖν τὴν διακονίαν τῆς καταλλαγῆς,
19 ὡς ὅτι θεὸς ἦν ἐν Χριστῷ κόσμον καταλλάσσων ἑαυτῷ, μὴ λογιζόμενος αὐτοῖς τὰ παραπτώματα αὐτῶν καὶ θέμενος ἐν ἡμῖν τὸν λόγον τῆς καταλλαγῆς.
20 Ὑπὲρ Χριστοῦ οὖν πρεσβεύομεν ὡς τοῦ θεοῦ παρακαλοῦντος δι’ ἡμῶν· δεόμεθα ὑπὲρ Χριστοῦ, καταλλάγητε τῷ θεῷ.
21 τὸν μὴ γνόντα ἁμαρτίαν ὑπὲρ ἡμῶν ἁμαρτίαν ἐποίησεν, ἵνα ἡμεῖς γενώμεθα δικαιοσύνη θεοῦ ἐν αὐτῷ.

Bronne:
Bruce J Malina & John J Pilch, 2006. Social Science Commentary on the Letters of Paul. Minneapolis: Fortress Press.
Ralph P Martin, 1986. 2 Corinthians (Word Biblical Commentary: 40). Waco, Texas: Word Books.
Dirkie, J Smit, 1982. Eerste Lydenssondag: 2 Korintiërs 5:18-21, in CW Burger, BA Muller & DJ Smit (reds.), Riglyne vir Lydensprediking (Woord Teen die Lig 2/I). Kaapstad: NG Kerk
Uitgewers.
Johan Taute, 1993. Seisoen vir Versoening. Teologiese riglyne en preke oor die bediening van die versoening. Kaapstad: Lux Verbi.

 

WEEK 3
Week 3: Ons is beeld van Christus
Perikoop: Filippense 3:10-11

Skopus: Ons is één met Christus. Daarom is daar één wens, één begeerte, één dryfkrag is ons lewe: om aan Christus se lyding én oorwinning te hê. Christus se lyding en sterwe en sy opwekking en opstanding uit die dood is as ‘t ware soos die twee kante van ‘n muntstuk.

Filippense 3:10-11
“Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood”

Opmerkings oor die teks
Die teks is deel van die groter eenheid, Filippense 3:1-4:9. In dié gedeelte skryf Paulus oor die ware geregtigheid en die gelowiges se blydskap wat daaruit voortvloei. Ware blydskap in die Here is om in Christus en sy gawes, asook in diens vreugde te vind eerder as om op uiterlike dinge te vertrou (3:1-6), om insig in die waarde van die kén van Christus te hê (3:7-11), om die weldade van Christus ons eie te maak (3:12-16), om die regte mense as voorbeeld na te volg (3:17-4:1), om eensgesing te wees (4:2-7) en en te besef hoe noodsaaklik dit is om reg te dink én reg te doen (4:8-9).

Om Christus te ken oortref álle ander dinge vir Paulus, skryf hy (verse 7-8). Daarom het hy alles prysgegee om met Christus één te wees (verse 8-9). Omdat vryspraak by God vanuit hierdie eenheid met Christus kom, gló ons – letterlik – in Christus in en laat vaar ons die illusie van wetsonderhouding (vers 9). Deelhê aan Christus se lyding en die krag van sy opstanding is onlosmaaklik aan mekaar verbonde (verse 10-11). Paulus se wens en sy verwagting is nie aan net die een en nie aan die ander hiervan nie verbonde. Vers 10 is deel van een lang sin wat in vers 8 begin.

Paulus stel dit dat Jesus by sy opstanding uit die dood uitgekom het deur lyding. Hy het dit in die himne in Filippense 2:6-11 uitgedruk en verwys in verse 10-11 daarna. Paulus wil hierdie patroon navolg. Hy roep die Jesus-groep se mense in Filippi op om dieselfde te doen. Ons kan nie in Christus lewe / uit die dood opstaan indien ons nie eers aan onsself (in die) dood(in)gaan nie.

Ons fokus is dus Christus en moet voortdurend Chrístus bly. Ons kan nie ons fokus na óf ‘n lewe van lyding óf ‘n lewe in “die krag van sy opstanding” verskuif nie. Net soos wat dit in die ontdekking van ons eie identiteit oor die “beter ken” van onsself gaan, gaan dit hier oor die kén (τοῦ γνῶναι) van Christus. Ons kan as ‘t ware sê: ken Christus en ken jouself. Of ook: ken jouself en ken Christus.

Paulus was diep onder die indruk daarvan dat hy nie self sy geregtigheid voor God kan verwerf nie, maar sonder enige verdienste in Christus begenadig is, “sodat die leë hand van die geloof dit maar net kan gryp” (Smit 1982:189-190). Dís die diepste grond van die ommekeer in sy lewe.

Die “sodat” aan die begin van vers 11 sluit by die gedagte aan die einde van vers 8 aan. Die nuwe sin en doel van die lewe is die ken van Christus en daarmee saam die soeke om Christus al beter te ken. Die ken van Christus is alles-insluitend. Dít word in die parallelle uitdrukkings duidelik gemaak. In die gebruik van “krag” (δύναμις) sien ons die ken van Christus is ‘n eksistensiële, lewensveranderende kennis. Dis nie ‘n bloot intellektuele instemming met stellings óór Christus nie.

Die ken van Christus gaan ook oor “gemeenskap” (“koinonia”) met Christus (in “lyding om Christus wil”). Paulus het die “algemene” lyding van gelowiges – omdat hulle aan Christus gehoorsaam is – in gedagte. Jesus het mos geleer dat iemand wat hom wil volg (en dus sy wil kén) sy kruis in hierdie navolging moet opneem (Markus 8:34-37; Matteus 10:38; 16:24-26).

Die ken van Christus gaan ook – soos wat dit in die derde parallelle uitdrukking voorkom – om die bekende tema van die afsterwe saam met Christus ten einde wáárlik te kan leef (sien byvoorbeeld Galasiërs 2:20, 6:14 en Romeine 6).

Ons sien alreeds in die Ou Testament dat die verhouding tussen God en mens om ‘n kén van mekaar gaan. ‘n Persoonlike verhouding van liefde en ingesteldheid op mekaar is kenmerkend hieraan. Ons kan sê dat ons Christus “intiem, in liefde, in gehoorsaamheid, as antwoord op sý verkiesende genade, liefde en betrokkenheid by ons” (Smit 1982:192) ken en dieper wil leer ken.

Voorstel vir ’n preek
In ‘n tydperk wat ons daarop fokus om onsself as beeld van God in terme van ons identiteit beter te leer ken, is dit belangrik om Christus beter te leer ken. In en deur ons soeke daarna om Christus beter te leer ken, hoe beter leer ons onsself ook ken.

Ons is één met Christus. Daarom is daar één wens, één begeerte, één dryfkrag is ons lewe: om aan Christus se lyding én oorwinning te hê. Christus se lyding en sterwe en sy opwekking en opstanding uit die dood is as ‘t ware soos die twee kante van ‘n muntstuk.

Wens jy om jouself te kén? Wens jy jy kan weet wie jy ten diepste is en word? Totdat jy jouself nie ten diepste ken nie, sal jy nie jou wáre self kan wees, behoorlik kan funksioneer of tot wasdom kan kom nie.

Ons is beeld van Christus. Daarom ontdek ons onsself in Christus. Buite om Christus kry ons ‘n onegte beeld van onsself. Totdat ons onsself nog nie in terme van wie ons in Christus is bekyk of beskryf het nie, het ons nog nie die laaste woord oor onsself gespreek nie.

Omdat ons beeld van Christus is en ons onsself in Christus ontdek, is dit belangrik om Christus te ken en hom al beter te leer ken. Net iemand wat Christus nie ken nie sal sy lyding en opstanding uit die dood van mekaar losmaak. Ons wéét dat hierdie aspekte van Christus se identiteit én optrede – wie hy ís en wát hy doen – soos die kruis- en munt-kant van ‘n geldstuk is.

In ons lyding is ons oorwinnend en in ons oorwinning lý ons. Nés Christus. Daarom leer ons onsself ken wanneer ons swaarky, seer het en sukkel én wanneer dit met ons goed gaan en terwyl ons blóm of op die hande gedra word.

Christus se dieperdringende lyding word nie opgehef of nietig gemaak wanneer hy uit die dood opgewek word of daaruit opstaan nie. Ons kan as ‘t ware sê dat die opstanding die hoogtepunt van sy lyding is. Die hyser na sukses – lui die spreekwoord immers – is stukkend; die weg daarheen is met die trappe op.

Wanneer ons Christus só ken, deins ons nie van ons skadukant of lyding wat ons lewenspad kruis weg nie, maar omhels ons dit juis sodat ons die inherente krag van die eenheid met Christus leer ken. Dís wie ons as mense wat beeld van Christus is is: mense wat Christus se lyding en heerlikheid só ken dat ons die triomf van lyding en die broosheid van heerlikheid wil peil.

Ons ontdek wie ons is en word in ons ken en dieper leer ken van Christus. Christus maak ons nie béter mense nie, maar intiemer één met hom en kragtiger in ons vasklou aan hom.

Ons ken van Christus en die belewing van ons verhouding met God én die ontginning van ons eie identiteit hang te nouste saam met ons eie subjektiewe prosesse saam.

Geloof gaan oor baie meer as blote inhoud of proposisies. Dit gaan oor om Christus te ken sowel as dit wat deur sy opstanding teweeg gebring is, asook deelname in die lydinge van Christus én om in Christus se dood te deel.

Christus se verhouding met ons staan in die teken van beide sy heerlikheid (opstanding) én sy swaarkry (lyding).

Die prediker kan hierdie inhoud ooreenkomstig die unieke aard en konteks van die eie gemeente ontplooi.

Daar kan dan afgesluit word met: Wens jy om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat jy self deel sal hê aan die opstanding uit die dood? Dan sál jy Christus ken. Jy sal jouself ook ken. Omdat jy deel het aan Christus se lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood en aan die opstanding daaruit, sál jy die krag van sy opstanding ondervind.

Moontlike hulpmiddels
Kyk gerus na Communitas se preekriglyne op hulle webblad:
http://communitas.co.za/

Nestle-aland XVIII-Teks
10 τοῦ γνῶναι αὐτὸν καὶ τὴν δύναμιν τῆς ἀναστάσεως αὐτοῦ καὶ [τὴν] κοινωνίαν [τῶν] παθημάτων αὐτοῦ, συμμορφιζόμενος τῷ θανάτῳ αὐτοῦ,
11 εἴ πως καταντήσω εἰς τὴν ἐξανάστασιν τὴν ἐκ νεκρῶν.

BRONNE
Bruce J Malina & John J Pilch, 2006. Social Science Commentary on the Letters of Paul. Minneapolis: Fortress Press.
Dirkie, J Smit, 1982. Vyfde Lydenssondag: Filippense 3:7-11, in CW Burger, BA Muller & DJ Smit (reds.), Riglyne vir Lydensprediking (Woord Teen die Lig 2/I). Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.

WEEK 4
Week4: Ons leef deur die Gees
Galasiërs 5:25 (5:13-6:10)
Tema: Ons leef deur die Gees
Preekstudie: Galasiërs 5:25 (5:13-6:10)

Skopus: Die Gees laat ons lewe. Omdat ons deur die Gees lewe, roep Paulus ons op om ons gedrag te bepaal. Ons is vrygekoop. Ons moet ons vryheid reg gebruik; ons moet dit nie misbruik nie, maar mekaar dien in liefde (v13-15). Ons moet die Gees ons in die ware lewe van vryheid in lei (v16- 26). Ons moet ons vryheid beoefen deur mekaar te help (6:1-6). Ons moet bewus bly van die uitkomste van beide die korrekte én die vekeerde aanwending van ons vryheid (6:7-10).

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983)
13 Julle, broers, julle is tot vryheid geroep.
Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie,
maar dien mekaar in liefde.
14 Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat:
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
15 Maar julle byt en verskeur mekaar;
pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.
16 Wat ek bedoel, is dít:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word,
dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.
17 Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil,
en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer.
Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar,
en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.
18 Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.
19 Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend:
onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid,
20 afgodsdiens, towery,
vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21 afguns,
dronkenskap, drinkpartye en al dergelike dinge.
Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het:
Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.
22 Die vrug van die Gees, daarteenoor,
is liefde, vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, 23 nederigheid en selfbeheersing.
Teen sulke dinge het die wet niks nie.
24 Dié wat aan Christus Jesus behoort,
het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.
25 Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
26 Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

6:1 Broers, as iemand in die een of ander sonde val,
moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.
En pas op: jy kan self ook in versoeking kom.
2 Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. 3 As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself.
4 Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is,
kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ‘n ander te vergelyk.
5 Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.
6 Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.
7 Moenie julleself mislei nie:
God laat nie met Hom spot nie.
Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.
8 Wie op die akker van sy sondige natuur saai,
sal van die sondige natuur dood en verderf oes.
Maar wie op die akker van die Gees saai,
sal van die Gees die ewige lewe oes.
9 Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie,
want as ons nie verslap nie,
sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.
10 Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen,
veral aan ons medegelowiges.

Opmerkings oor die teks
Vers 25 is deel van die derde hoofdeel in die brief (5:13-6:10). Hierdie hoofdeel handel oor die lewe van vrygekoopte – of dan, vrygemaakte – mense. Die gedeelte is soos volg saamgestel:
Leef dan nou as vry mense deur
–        mekaar in liefde te dien (5:13-15)
–        julle deur die Gees te laat beheer (5:16-26) en
–        verantwoordelikheid te neem (6:1-10).

Die vers vir die prediking is duidelik: Εἰ ζῶμεν πνεύματι, πνεύματι καὶ στοιχῶμεν.

Letterlik vertaal, lui die teks: As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. In Engels: “If we live by the Spirit, let us also be guided by the Spirit” of “Since we live in the Spirit, let us keep in step with the Spirit.”

Die Gees (πνεύματι) is die kern van die vers. Ons lewe (ζῶμεν) én gedrag / lewenswandel (στοιχῶμεν) staan in direkte verband met die Gees as kern daarvan.

Hierdie is die derde keer in hoofstuk 5 dat Paulus die gelowiges oproep om hulleself onder beheer van die Heilige Gees te laat wees. In vers 16 lê hy daarop klem dat hulle die Gees hulle leefstyl moet laat bepaal en in vers 18 gaan dit daaroor om die leiding van die Gees te volg.

Die Nuwe Afrikaanse Vertaling gee die skrywersintensie in vers 25 goed weer. ‘n Stelling word gemaak: “Ons lewe deur die Gees.” Dit is ‘n gegewe aangesien God dit bepaal en deur die Gees tot praktyk bring. Op grond van hierdie gegewe kom die oproep: “laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”

Die Galasiërs het in ‘n wêreld geleef wat deur sogenaamde “manlike” eienskappe van destyds, soos arrogansie, ‘n uitdagende houding en afguns gekenmerk is. Paulus wil hê dat hulle – omdat hulle deur die Gees lewe – van dié kultuur moet afstand doen en núwe gewoontes ontwikkel. Hulle moet meer kollektief en groep-georiënteerd dink, optree en leef. Vanweë hulle beeld van God-wees, kan ons sê, moet hulle op die basis van ‘n kollektiwistiese persoonlikheid en groepsintegriteit bou. Dit wat hulle in die familieverband waarin hulle opgevoed is geleer het moet dus afgeleer word en plek maak vir die wat hulle moet aanleer om as núwe familie – wat uit Jesus-groep lede bestaan – te leef.

Ons kan nie sonder die Gees lewe nie. Ons bring aan God eer wanneer ons ons gedrag al hoe meer in pas bring met die vrug wat die Gees is ons lewens werk en waartoe die Gees ons lei.

In verse 24 en 25 word aktiewe en passiewe aspekte van die lewe deur die Gees naas mekaar en in wisselwerking met mekaar gestel. Die indikatief en die imperatief kan nie van mekaar geskei word nie en moet nie los van mekaar behandel word nie.

Omdat ons mense is wat deur die Gees leef tree ons op soos mense wat deur die Gees leef. Ons identiteit bepaal ons gedrag. Omdat ons beeld van God is, vra dit van ons om “in pas met God te kom”.

Voorstelle vir die prediking
Ons fokus in die reeks op ons identiteit as christene. Ons het reeds na ons identiteit as mense wat as beeld van God geskep is (Week 1) gekyk. Ons het ook na ons identiteit in verhouding met God as Vader (Week 2) en Seun (Week 3) gekyk. Hierdie week fokus ons op aspekte van ons identiteit in terme van God as Heilige Gees se verhouding met ons. Vandaar die tema: Ons is mense wat leef deur die Gees.

Die vyf “lense” waardeur ons na ons identiteit gekyk het, help ons onsself verstaan as mense wat (1) vrugdraers, (2) deel van Christus se liggaam, (3) gawes van God ontvang het, (4) óns-mense en (5) mense wat ons laat lei, is.

Predikers kan Galasiërs 5:25 aan hand van die konteks waarin dit voorkom tot prediking bring. Die prediker kan ook die teks aan die bod bring en dit dan vanuit hierdie vyf tema’s belig en versterk.

Inleidend kan die belangrikheid om te weet wie ons is weereens gesetel word. Identiteit gaan oor wie ons is én wie ons besig is om te word. Omdat ons beeld van God is, is dit belangrik om dit Wie God is en wat God doen in ons soeke na ons eie identiteit te verreken. In die verhouding wat God as Gees met ons smee kom hierdie week onder die vergrootglas.

Ons lewe deur die Gees.
Daarom laat ons die Gees ons gedrag bepaal.

Ons reageer op ‘n oproep om kreatief te doen waartoe die Gees ons roep en lei. Wat is die effek van God as Heilige Gees se verhouding met ons op ons praktiese lewe elke dag? Waarmee moet ons in pas kom?

Ons het hierdie week na vyf aspekte van ons identiteit as mense wat deur die Gees lewe gekyk. Ons is: (1) vrugdraers, (2) deel van Christus se liggaam, (3) gawes van God ontvang het, (4) óns-mense en (5) mense wat ons laat lei, is.

Die prediker kan elkeen hiervan met eie konteks in ag genome tot prediking bring. Die dagstukke en blogs bied genoeg stof waaruit predikers self kan sif.

Ter afsluiting kan Franciskus se gebed of “The dancing guy” gebruik word om die indikatief in die teks uit te lig en die imperatief op grond daarvan sterk te belig.

* Dit kan gevind word by:

http://www.ngsederpark.co.za/Liedboek/LB%20284.mp3 en
www.youtube.com/watch?v= IAwhrLHsIGQ

Nestle-aland XVIII-Teks
13 Ὑμεῖς γὰρ ἐπ’ ἐλευθερίᾳ ἐκλήθητε, ἀδελφοί· μόνον μὴ τὴν ἐλευθερίαν εἰς ἀφορμὴν τῇ σαρκί, ἀλλὰ διὰ τῆς ἀγάπης δουλεύετε ἀλλήλοις.
14 ὁ γὰρ πᾶς νόμος ἐν ἑνὶ λόγῳ πεπλήρωται, ἐν τῷ· ἀγαπήσεις τὸν πλησίον σου ὡς σεαυτόν.
15 εἰ δὲ ἀλλήλους δάκνετε καὶ κατεσθίετε, βλέπετε μὴ ὑπ’ ἀλλήλων ἀναλωθῆτε.
16 Λέγω δέ, πνεύματι περιπατεῖτε καὶ ἐπιθυμίαν σαρκὸς οὐ μὴ τελέσητε.
17 ἡ γὰρ σὰρξ ἐπιθυμεῖ κατὰ τοῦ πνεύματος, τὸ δὲ πνεῦμα κατὰ τῆς σαρκός, ταῦτα γὰρ ἀλλήλοις ἀντίκειται, ἵνα μὴ ἃ ἐὰν θέλητε ταῦτα ποιῆτε.
18 εἰ δὲ πνεύματι ἄγεσθε, οὐκ ἐστὲ ὑπὸ νόμον.
19 φανερὰ δέ ἐστιν τὰ ἔργα τῆς σαρκός, ἅτινά ἐστιν πορνεία, ἀκαθαρσία, ἀσέλγεια,
20 εἰδωλολατρία, φαρμακεία, ἔχθραι, ἔρις, ζῆλος, θυμοί, ἐριθεῖαι, διχοστασίαι, αἱρέσεις,
21 φθόνοι, μέθαι, κῶμοι καὶ τὰ ὅμοια τούτοις, ἃ προλέγω ὑμῖν, καθὼς προεῖπον ὅτι οἱ τὰ τοιαῦτα πράσσοντες βασιλείαν θεοῦ οὐ κληρονομήσουσιν.
22 ὁ δὲ καρπὸς τοῦ πνεύματός ἐστιν ἀγάπη χαρὰ εἰρήνη, μακροθυμία χρηστότης ἀγαθωσύνη, πίστις
23 πραΰτης ἐγκράτεια· κατὰ τῶν τοιούτων οὐκ ἔστιν νόμος.
24 οἱ δὲ τοῦ Χριστοῦ [Ἰησοῦ] τὴν σάρκα ἐσταύρωσαν σὺν τοῖς παθήμασιν καὶ ταῖς ἐπιθυμίαις.
25 Εἰ ζῶμεν πνεύματι, πνεύματι καὶ στοιχῶμεν.
26 μὴ γινώμεθα κενόδοξοι, ἀλλήλους προκαλούμενοι, ἀλλήλοις φθονοῦντες.

61 Ἀδελφοί, ἐὰν καὶ προλημφθῇ ἄνθρωπος ἔν τινι παραπτώματι, ὑμεῖς οἱ πνευματικοὶ καταρτίζετε τὸν τοιοῦτον ἐν πνεύματι πραΰτητος, σκοπῶν σεαυτὸν μὴ καὶ σὺ πειρασθῇς.
2 Ἀλλήλων τὰ βάρη βαστάζετε καὶ οὕτως ἀναπληρώσετε τὸν νόμον τοῦ Χριστοῦ.
3 εἰ γὰρ δοκεῖ τις εἶναί τι μηδὲν ὤν, φρεναπατᾷ ἑαυτόν.
4 τὸ δὲ ἔργον ἑαυτοῦ δοκιμαζέτω ἕκαστος, καὶ τότε εἰς ἑαυτὸν μόνον τὸ καύχημα ἕξει καὶ οὐκ εἰς τὸν ἕτερον·
5 ἕκαστος γὰρ τὸ ἴδιον φορτίον βαστάσει.
6 Κοινωνείτω δὲ ὁ κατηχούμενος τὸν λόγον τῷ κατηχοῦντι ἐν πᾶσιν ἀγαθοῖς.
7 Μὴ πλανᾶσθε, θεὸς οὐ μυκτηρίζεται. ὃ γὰρ ἐὰν σπείρῃ ἄνθρωπος, τοῦτο καὶ θερίσει·
8 ὅτι ὁ σπείρων εἰς τὴν σάρκα ἑαυτοῦ ἐκ τῆς σαρκὸς θερίσει φθοράν, ὁ δὲ σπείρων εἰς τὸ πνεῦμα ἐκ τοῦ πνεύματος θερίσει ζωὴν αἰώνιον.
9 τὸ δὲ καλὸν ποιοῦντες μὴ ἐγκακῶμεν, καιρῷ γὰρ ἰδίῳ θερίσομεν μὴ ἐκλυόμενοι.
10 Ἄρα οὖν ὡς καιρὸν ἔχομεν, ἐργαζώμεθα τὸ ἀγαθὸν πρὸς πάντας, μάλιστα δὲ πρὸς τοὺς οἰκείους τῆς πίστεως.

BRONNE
Naas kommentare oor Galasiërs, is die volgende gebruik en nuttig:
Andrie du Toit, 2012. Vier jou bevryding. Die Boodskap van Galasiërs vir vandag. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
Bruce J Malina & John J Pilch, 2006. Social Science Commentary on the Letters of Paul. Minneapolis: Fortress Press.
Annes Nel, 2009. Vierde Sondag in Koninkrykstyd, 27 Junie 2010, Galasiërs 5:1, 13-25, Eddie Orsmond & Johan Botha (reds.), Preekstudies met Liturgiese Voorstelle gebaseer op die kerkjaar. RCL Jaar C. Advent 2009 tot Koninkrykstyd 2010. Matieland: Communitas & Bybel-Media. 180-185.
Gert MM Pelser, AB du Toit, MA Kruger, HR Lemmer & JH Roberts, 1992. Discourse analysis of Galatians. Addendum to Neotestamentica 26(2). Bloemfontein: NG Sendingpers.

 

 

WEEK 5
Tema: Ons is mense wat luister
Perikoop: Jesaja 50:4-9 (4-6)

Skopus: God praat in woord en daad. En ons leef luisterryk. God praat en laat ons luister. God leer ons luister. Ons dien vanuit ‘n luisterende, lerende en dienende posisie en grondhouding. Al vra dit iets van ons of kos dit ons iets.

Jesaja 50:4-9 (4-6)

Hebreeuse Teks:
4 אֲדֹנָ֣י יְהֹוִ֗ה נָ֤תַן לִי֙ לְשֹׁ֣ון לִמּוּדִ֔ים לָדַ֛עַת לָע֥וּת אֶת־יָעֵ֖ף דָּבָ֑ר יָעִ֣יר׀
אֲד בַּבֹּ֣קֶר בַּבֹּ֗קֶר יָעִ֥יר לִי֙ אֹ֔זֶןלִשְׁמֹ֖עַ כַּלִּמּוּדִֽים׃
5 אֲדֹנָ֤י יְהוִה֙ פָּתַֽח־לִ֣י אֹ֔זֶן וְאָנֹכִ֖י לֹ֣א מָרִ֑יתִי אָחֹ֖ור לֹ֥א נְסוּגֹֽתִי׃
6 גֵּוִי֙ נָתַ֣תִּי לְמַכִּ֔ים וּלְחָיַ֖י לְמֹֽרְטִ֑ים פָּנַי֙ לֹ֣א הִסְתַּ֔רְתִּי מִכְּלִמֹּ֖ות וָרֹֽק׃
7 וַאדֹנָ֤י יְהוִה֙ יַֽעֲזָר־לִ֔י עַל־כֵּ֖ן לֹ֣א נִכְלָ֑מְתִּי עַל־כֵּ֞ן שַׂ֤מְתִּי פָנַי֙ כַּֽחַלָּמִ֔ישׁ וָאֵדַ֖ע כִּי־לֹ֥א אֵבֹֽושׁ׃
8 קָרֹוב֙ מַצְדִּיקִ֔י מִֽי־יָרִ֥יב אִתִּ֖י נַ֣עַמְדָה יָּ֑חַד מִֽי־בַ֥עַל מִשְׁפָּטִ֖י יִגַּ֥שׁ אֵלָֽי׃
9 הֵ֣ן אֲדֹנָ֤י יְהוִה֙ יַֽעֲזָר־לִ֔י מִי־ה֖וּא יַרְשִׁיעֵ֑נִי הֵ֤ן כֻּלָּם֙ כַּבֶּ֣גֶד יִבְל֔וּ עָ֖שׁ יֹאכְלֵֽם׃

Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983)
4 Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,
Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister.
5 Die Here my God het my geleer om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6 Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan,
my wang vir dié wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.
7 Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.
8 Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby;
wie wil ‘n aanklag teen my inbring? Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla? Laat hom vorentoe kom.
9 Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar?
Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met ‘n lap wat deur motte gevreet word.

Opmerkings oor die teks
Die teks is deel van die groter gedeelte vanaf vers 4 tot vers 11. Dit gaan hierin oor die missie van die profeet en dié van die nasie. Vir die prediking fokus ons egter op verse 4 tot 6, aangesien ons vandeesweek op ons identiteit as mense wat luister reflekteer. Baie eksegete baken die teks as verse 4 tot 9 af.

Verse 4 tot 5 en 6 tot 9 funksioneer as samehangende eenhede

‘n Letterlike vertaling van ons teks kan soos volg gedoen word:
4 Die here JHWH het gegee vir my – die tong van dissipels,
sodat ek kan weet om te help die wat uitgeput is –
met woorde wat weer energie gee;
oggend vir oggend wek hy my oor op – om te luister soos dissipels.
5 Die here JHWH het my oor oopgemaak
en ek was nie opstandig nie; – ek het nie weggedraai nie.
6 My rug het ek gegee vir die wat my slaan –
en my wang vir die wat die baard uittrek;
my gesig het ek nie weggesteek; – van belediging en gespoeg nie.
7 Die here JHWH help my – daarom is ek nie verneder nie
daarom het ek my gesig gemaak soos vuursteen –
ek weet ek sal nie tot skande wees nie
8 Naby is hy wat my regverdig verklaar;
wie wil my aankla – laat ons in saam opstaan;
wie is meester van my oordeel; – laat hy my konfronteer.
9 Kyk die here JHWH help my – wie sal my veroordeel?
Kyk, almal van hulle, soos klere sal hulle vergaan – die motte sal hulle eet.

Die Hebreeuse לִמּוּדִ֔ים / כַּלִּמּוּדִֽים in vers 4 beteken letterlik “dissipels/leerlinge”. ’n Goeie Afrikaanse vertaling sal wees om dit te vertaal met iets soos “een van die dissipels”. Die profeet is ‘n dissipel van ouer/vroeëre profete. Hy leen voortdurend by hulle woorde en uitsprake. Hy toon ook aan hoedat dit wat hulle gesê het vir hulle tyd wáár was en in sy en sy lesers se tyd aktueel en van toepassing is.

Ten opsigte van die Here JHWH is hy ‘n “luisterende” dissipel. Die Here JHWH het hom luisterend gemaak (sy ore opgewek) en laat hom môre na môre nuut luister. Die profeet reageer op die Here JHWH se optrede én daarvandaan uit. Hier is reeds ‘n aanduiding dat die profeet wil hê dat die mense in hulle verhouding met God dieselfde moet doen as wat hý gedoen het in reaksie op die Here JHWH se woorde. Hulle moenie opstandig wees nie. Hulle moenie wegdraai nie.

Die Here se woorde maak nuut, dit gee energie. Die dinamika van die Here JHWH en sy woorde staan in kontras met die statiese uitgeputte mense wat die energie wat die Here deur sy woorde gee nodig.

Dat die Here JHWH die handelende Een is en die profeet en die mense op sý optrede (en gawes: Hy géé, hy maak ore oop/luister moontlik) reageer en moet aanhou reageer, is opmerklik. Die profeet tree as “agent” tussen die Here en die mense op. Die Here kom in en deur sy woorde via die profeet na die mense toe. Daar word ‘n reaksie verwag. Die reaksie wat geantisipeer word, is dieselfde as dié van die profeet.

Die rare Hebreeuse werkwoord לְמֹֽרְטִ֑ים – “om hare uit te trek” – in vers 6 dui op ‘n formele en doelbewuste vorm van vernedering (“shaming” = “om in die skande te kom / gesteek te word”). Deutero-Jesaja het net soos al die Israeliete in die ballingskap gely. Hy het geglo dat hierdie lyding regverdig was en aanvaar dit. Hy het nie ontwykend opgetree om openbare skande te ontkom nie. “God was reg. Ons wás verkeerd”, sê hy as ‘t ware. Omdat God getrou is – ánders as óns is – verwag hy vindikasie. God se eer / dat God “reg” was, sál erken word.

Die Hebreeuse woord יַֽעֲזָר־לִ֔י in vers 7 kan met “help/hulp/ondersteuning” vertaal word. Dit word gewoonlik in ’n juridiese konteks gebruik. Dié vorm van hulp of ondersteuning word dikwels in verband met openbare vernedering (“shaming”) gebruik. Die bedoeling is dan dat iemand se eer herstel word en dat hy/sy dus as ‘t ware van skande en gepaardgaande vernedering bevry word. Die profeet erken dat dit nie sý optrede is wat die here JHWH tot skande bring nie, maar die here JHWH Sélf wat sy openbare eer in stand hou.

Die woordeמִֽי־בַ֥עַל מִשְׁפָּטִ֖י  in vers 8 kan saam gelees word en dan vertaal word as “heer van my oordeel”. Die Hebreeuse woord בַ֥עַבַּ word soms as eienaam vir een van die Kanaänitiese gode gebruik. Dit is egter ook die woord wat gewoonlik met “heer” of “meester” vertaal word.

Die kneg is hier aan die woord. Hy verstaan wat dit beteken om onderrig te gee sodat mense energie daaruit kan put. Hy weet dit kom na vore uit luister. Hy is iemand wat hom laat leer. Hy laat toe dat God sy oor oopmaak, selfs vir dit wat hy nie noodwendig sou wou hoor nie.

Nou het dit wat hy by God gehoor het, hom in die stadspoort gebring waar die regsaak teen hom gehou word. Hy word beledig oor sy keuse – die keuse wat hy gemaak het nadat hy God gehoor het. Dit gaan oor Jesaja se keuse om in sy omgewing betrokke te raak by die gebrokenheid en standpunt in te neem teen die magsmisbruik en onreg van sy tyd. Sy beledigers is mense wat kies om hulle te onttrek, of om militant te raak, sommiges gee boedel oor en andere raak na binne godsdienstig.

In die wêreld waarin die kneg geleef het, het ‘n belediging – of aanklag – jou eer aangetas. Jy kon jou eer terugkry indien jy ‘n groter belediging kon terugslinger. Die kneg tree egter anders as wat mense sou verwag op. Hy ontwapen die beledigings deur hom na die beledigings te keer. Hy hoef homself nie te verdedig nie, want God doen dit.

By ‘n hofsaak in die poort kan die aangeklaagde in die gelyk gestel (“gevindikeer”) word. As God die kneg regverdig verklaar beteken dit dat nie die oudstes in die poort nie, maar God self die kneg in die gelyk stel. Teenoor al die getuies teen hom verklaar God dat die kneg se pad sal standhou.

God Sélf sê dus as ‘t ware dat die kneg reg was om te luister en te doen wat die here JHWH vir hom gesê het, al het dit teen die poulêre konvensies ingedruis. Om na God te luister is wat ook al daarna gebeur werd, want God sál die openbare skande omkeer in herstelde eer.

Voorstel vir ’n preek
Predikers moet besluit of hulle hierdie teks wil preek, en of hulle die saak van ons identiteit as mense wat luister – met aanvulling uit die tema’s in die dagstukkies – aan die bod wil bring.

My voorstel sou wees dat die indikatief duidelik verkondig word en die imperatief – met die kneg as “voorbeeld” – daaruit in die prediking betrek word. Hier kan die vier waardes van die Luisterseisoen dan betrek word.

Daar kan begin word met die návertelling van die advertensie waarin Edwill van Aarde mekaar voortdurend misverstaan. Misverstand én nie-luister-nie bring dikwels baie seer, sukkel en swaarkry in die lewe mee. Die Israeliete wat in ballingskap weggevoer is het dit geweet én ons weet dit vandag net do goed. Om te luister en om te leer luister is dus baie belangrik.

In dié teks sien ons hoe belangrik luister is. Die kneg van die Here kón die mense van sy tyd moed inpraat, want die Here het hom daartoe geroep én hom daartoe instaat gestel. Net soos vir ons ook. Ons praat nie “namens die Here” om te kan sê dat ons “namens die Here optree” nie. Dit gaan oor die wat ons hoor, dié wat die Here se lewegewende woorde nodig het. Húlle moet gehelp, gere-energeer word. Ons fokus is dus nie die praat nie, maar die luister.

Daarom luister ons weer en weer en weer na die Here. Daarom is ons voorgangers en mede-soekers na wat God vir ons in óns konteks sê so belangrik. Die Here gee vir ons wat nodig is. Sý woorde gee weer en weer energie. Ons moet lúíster.

Sou dit gebeur dat ons – soos die kneg – ly, sal God ons ter ere herstel. Vrees vir verwerping en pyn moet ons nie laat afskrik of wegdraai nie.

Uit wat ons vandeesweek oor luister gelees en geleer het, weet ons dat openheid, leerbaarheid, vertroue en deernis nodig is. Die prediker kan hieruit put wat vir sy konteks en hoorders aktueel is.

Ons is beeld van God, sy verteenwoordigers. Ons is mense wat luister. Wil jy jou dissipelskap uitleef? Wil jy graag vir ander van die Here vertel? Dan moet jy luister en aanhou om te leer luister. Die Here sál ons leer luister. Die Here sál ons versterk en ook deur ons woorde krag, nuwe moed en nuwe energie gee.

Hiermee saam is ‘n meditasie wat deur Fanie Cronjé (NG Gemeente Riviera-Jakaranda) geskryf is:

Kom stap saam met my na die stadspoort… (video insetsel oor die stap in die stadspoort in).
Staan saam met my in die kring van die oudstes. Hulle wat die reg het om ander aan te kla en te besluit oor hulle lot.
Voor ons staan die kneg.

In hierdie wêreld van eer en skande werk dinge anders.

Wanneer jy beledig word, moet jy net ‘n groter belediging teruggooi. Dit is die enigste manier om jou eer terug te kry. Hier werk verbale geweld. In ‘n wêreld van eer en skande is die lewe in jou gesig en op jou rug.  Draai jy jou wang. Hou jou baard. Gee jou rug.  In hierdie kring staan die kneg.

En hy is deel van ‘n wêreld van verlies, van uitsigloosheid.
‘n Wêreld waar geloof daagliks uitgedaag word en dikwels verdamp. ‘n Wêreld waar jy die mense hoor sê : “Ag, man,jy wat dink God het jou geroep, los als. Jy leef in ‘n droomwêreld. Word wakker. Kyk om jou rond en sien die ellende. Jou pogings is verniet…”

In hierdie harde ballingskapwêreld hoor die kneg ook die vrae verander. Die aanvanklike vrae oor skuld : “Hoekom het hierdie ding ons oorgekom” word nuwe vrae : “Maar wie is ons noudat die ballingskap aan ons lywe kom sit het?” “Wat het oorgebly?” “Wat is die pilare waarop ons bou?”

In so deurmekaar wêreld is daar baie stemme.

Sommiges wat net terug verlang na dit wat was. Hulle wat praatjies maak en met verlange sê: “ As ons maar net die horlosie kon terugdraai na die goeie ou dae.”
Ander stemme wat met meer sekerheid sê : “Ons moet net die mag terugkry. As ons dit net kan regkry. Al moet ons dan nou ook geweld gebruik.”
En nog ander wat sê : “Ons verwag eintlik niks. Hoekom ontstel julle julleself? Vergeet van die wêreld. Los alles, God sal die mense regsien.”

In hierdie warboel staan die kneg. Die dienaar van God. En hy is anders.

In die stadspoorte, in die kring van die oudstes, verwag hulle dat hy sal terugbaklei. Hulle wag op sy beledigings sodat sy eer herstel kan word. Maar dit gebeur nie. Hy gee sy rug, wat terugbaklei onmoontlik maak. Hy kies kwesbaarheid. Hy hou sy baard waaraan hulle pluk om hom te verneder. Hy draai sy wang en word verag.

Is dit ‘n lafaard wat so optree?

Nee, want ‘n lafaard veg of vlug. Maar die kneg deins nie terug vir die skerp kante nie. Hy ly juis omdat hy kies om deel te wees van die stukkende samelewing. Hy ervaar pyn omdat hy onreg in die gemeenskap uitwys. Hy is bereid om op te staan vir dit wat reg is en om die slegte te ontbloot.

Dit verg moed om die regte woorde te gebruik in ‘n verkeerde wêreld. Dit vat durf om weg te loop van mag en deel te word van gebrokenheid. Om deel te word van ‘n wêreld waar daar moeilikheid en pyn is.

In die oë van die wêreld lyk hierdie keuse nie te goed nie, maar dis die keuse wat die Here goedkeur. Die keuse waar jy ontdek : Jou krag lê nie in jou volledigheid nie, maar juis in jou gebrokenheid. Vanuit jou pyn kan jy dien. Jy kan dié wat moeg is, moed inpraat. Jy kan hulle optel met jou woorde.

Hierdie keuse : om deel te wees van ‘n wêreld wat moeg geword het, om deel te wees van dit wat om jou gebeur, dit is die regte keuse. Dit is ook ‘n besluit om te stry teen selfsug…Om nie die kollig op jouself te laat val nie, maar op die Here wat jou roep. Die Een wat jou inspireer om te dien.

Want dit is al wat die kneg in sy eie gebrokenheid regop hou… sy stilword by God. Elke môre, elke dag soek hy God se teenwoordigheid. Hy luister. Hy stel hom in om te hoor. Hy leer ons dat die luister na God ‘n proses is. Dis nooit afgehandel nie, dis nooit voltooi nie.

Dis alleen voor God se aangesig waar ons saam met die kneg kan uitroep : wie wil ‘n aanklag teen my inbring? Wie wil my aankla?

“Kom, julle wat in die kring staan. Julle wat met harde stemme roep dat die kerk tog net moet bykom. Die kerk moet net wakker word. Die kerk moet nog betaal aan die skuld van die verlede. Julle wat roep : Die kerk het nie meer ‘n plek het in ‘n post modernistiese wereld nie. Kom vorentoe, kom stel jou saak. Maar onthou, daar is ook ‘n ander kant.”

‘n Ander kant en ‘n Ander Stem. Die stem van God wat roep.God wat die kneg en die kerk in die gelyk stel en vryspreek. Vryspreek van al die beledigings en aanklagte.Vryspreek van die stemme wat ons roeping en keuses bevraagteken.

Kom ons word stil vanmore. Kom ons luister na die Here ons God se stem. Kom ons stel ons oopnuut in om te hoor.

Want God is hier. Ons is hier. Hy is by ons, rondom ons, binne ons. Ons is vrygespreek van al die stemme wat so hard rondom ons raas. Ons word in die gelyk gestel sodat ons kan doen wat ons geroep is om te doen… om deel te word van die wêreld. Om ander te dien vanuit ons eie pyn.  Want dit is hoe God sigbaar word.

Moontlike hulpmiddels
Kyk gerus na Communitas se preekriglyne op hulle webblad:
http://communitas.co.za/

Bronne:
Fanie Cronjé, 2012. Jesaja 50:4-9. Ongepubliseerde eksegetiese nota’s en preek.
Hennie Kruger, 2008. Sesde Sondag in Lydenstyd, 5 April 2009, Jesaja 50:4-9a, Eddie Orsmond & Johan Botha (reds.), Preekstudies met Liturgiese Voorstelle gebaseer op die kerkjaar. RCL Jaar B. Advent 2008 tot Koninkrykstyd 2009. Matieland: Communitas & Bybel-Media. 103-106.
The Jewish Publishing Society, 2004. The Jewish Study Bible. Tanakh Translation. New York: Oxford.

 

 

WEEK 6
Tema: Ons is mense wat in God tot rus kom
Perikoop: Psalm 23

Skopus: Ons is mense wat in God tot rus kom. Die Here is ons Herder, Gids, Gasheer en Vader. Hy lei ons tot rus en in gemeenskap met Homself en ander mense in.
Hy laat ons in Hom tuis- en tot rus kom. Vanuit hierdie rus laat God ons visie ontwikkel en ‘n impak maak deur gasvryheid en die gee van onsself en meer.  Die

Hebreeuse Teks:
1מִזְמֹ֥ור לְדָוִ֑ד
יְהוָ֥ה רֹ֝עִ֗י לֹ֣א אֶחְסָֽר׃
2 בִּנְאֹ֣ות דֶּ֭שֶׁא יַרְבִּיצֵ֑נִי עַל־מֵ֖י מְנֻחֹ֣ות יְנַהֲלֵֽנִי׃
3 נַפְשִׁ֥י יְשֹׁובֵ֑ב יַֽנְחֵ֥נִי בְמַעְגְּלֵי־צֶ֝֗דֶק לְמַ֣עַן שְׁמֹֽו׃
4גַּ֤ם כִּֽי־אֵלֵ֨ךְ בְּגֵ֪יא צַלְמָ֡וֶת לֹא־אִ֘ירָ֤א רָ֗ע כִּי־אַתָּ֥ה עִמָּדִ֑י שִׁבְטְךָ֥ וּ֝מִשְׁעַנְתֶּ֗ךָ הֵ֣מָּה יְנַֽחֲמֻֽנִי׃
5 תַּעֲרֹ֬ךְ לְפָנַ֨י׀ שֻׁלְחָ֗ן נֶ֥גֶד צֹרְרָ֑י דִּשַּׁ֖נְתָּ בַשֶּׁ֥מֶן רֹ֝אשִׁ֗י כֹּוסִ֥י רְוָיָֽה׃
6 אַ֤ךְ׀ טֹ֤וב וָחֶ֣סֶד יִ֭רְדְּפוּנִי כָּל־יְמֵ֣י חַיָּ֑י וְשַׁבְתִּ֥י בְּבֵית־יְ֝הוָ֗ה לְאֹ֣רֶךְ יָמִֽים׃

Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) :
1 ‘n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
2 Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
3 Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.
4 Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,
want U is by my. In u hande is ek veilig.
5 U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.
6 U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Nuwe Direkte Vertaling (2014) :
Die HERE is my herder;  ek ly nie gebrek nie.
2 In groen weivelde laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
3 Hy gee my nuwe lewenskrag;
Hy lei my op die regte paaie  ter wille van sy Naam.
4 Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,
is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my.
Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
5 U dek vir my ‘n tafel  voor die oë van my teenstanders.
U verfris my kop met olyfolie;  my beker loop oor.
6 Net goedheid en troue liefde sal my volg  al die dae van my lewe,
en ek sal bly terugkeer na die huis van die HERE, tot in lengte van dae.

Opmerkings oor die teks
Ons kyk na hierdie bekende psalm deur die lens van ons identiteit as mense wat in God tot rus kom. Hierdie motief omarm die teks waarin daar ‘n beweging vanuit tot rus kom in rús in beweeg word. Die teks begin – ná die verklaring dat die Here JHWH (יְהוָ֥ה) die psalmis se herder (רֹ֝עִ֗י) is en dat hy (daarom) niks kort kom nie – met “Hy laat my rus …” Aan die einde van die teks verklaar die psalmis dat hy by die Here tuis is: hy het tot rus gekom en ‘n “rusplek” gevind.

As die psalm getipeer moet word, kan dit as ‘n vertroostingspsalm beskryf word. Christene, sowel as Jode, vind al vir eeue in hierdie psalm troos, versterking en bemoediging én ‘n uitdrukking van hulle geloof en vertroue in die Here. Die psalmis se vertroue is in JHWH as ‘n persoonlike herder (herder).

Die woord “skaap” kom nêrens in die teks voor nie. Daarom hou die metafoor waarskynlik met die judese beskouing dat die koning – wat die volk se “vader” is – vir hulle soos ‘n goeie herder moet wees. Konings moet vir hulle mense sorg en hulle beskerm en lei. Die psalmis sê die Here JHWH is sý herder, maar Hy is nie sommer ‘n alledaagse herder nie. JHWH is ook Heerser, of te wel Opperheerser.

Dis nie slegs “herder” wat as metafoor benut word nie. Die metafore vir JHWH is dié van die herder (vers 1-2), die gids (vers 3-4), die gasheer (vers 5) en die vader (vers 6).

Die psalm bestaan uit drie strofes, naamlik 1b-4a, 4b-5b en 6a-6b. 4b dien as nexus of oorgangsvers en speel dus ‘n belangrike rol in die teks. Die strofes staan nie onafhanklik van mekaar nie, want hulle word op verskeie vlakke (sintakties, stilisties én semanties) aan mekaar verbind. Die psalm vorm ‘n dinamiese, geïntegreerde geheel en beskik oor ‘n netwerk van verbindingslyne.

In die psalm word baie geykte stof – vanuit die Eksodus én die Ballingskap sowel as buite-Bybelse trajekte – gebruik. Daarom kan dit op verskeie situasies van toepassing gemaak word, en moet dit nie tot net één – soos byvoorbeeld die uittog uit Egipte – beperk word nie. Die psalmis se belewenis van JHWH as “rusplek” was immers binne ‘n konkrete situasie.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                           Omdat daar baie probleme met omtrent elke poging om ‘n datering aan die psalm te heg is, moet die psalm eerder nie in enige hipotetiese situasie ingeforseer word nie. Alhoewel die psalm vir ‘n spesifieke situasie geskryf is, styg die betekenis en toepaslikheid daarvan bo enige situasie uit.

Die psalmis wil met die herder-metafoor – wat as die motto van die psalm beskou kan word – en die ander metaforiese elemente wil sê dat daar te midde van gevare en probleme volkome geborgenheid, veiligheid en vreugde by JHWH te vinde is. Die sorg vir voedsel, veiligheid en vreugde staan in die psalm voorop.

In die eerste strofe (1b-4a) word ‘n samevatting van dié strofe en eintlik van die hele psalm gegee. Hierna word beskryf wat die psalmis nie sal kortkom nie: voedsel, veiligheid, vreugde.

Sonder die herder sou die kudde verlore wees, lees ons in vers 2. Hý weet waar die groen weivelde en die water is, maar meer: hy lei die kudde daarheen. In die semi-woestyngebied van Palestina is dít ‘n skaars ding en eintlik net ‘n kolletjie gras by ‘n fontein. Die fokus op die versorging deur die herder word deur stylfigure soos die parallelisme, chiasme en nog uitgelig.

Die herder-metafoor word in 3a met “hy gee my nuwe lewenskrag” (נַפְשִׁ֥י יְשֹׁובֵ֑ב) deurbreek. Dié uitdrukking word nêrens in Hebreeus ten opsigte van diere gebruik nie. Vir mense wat lewensmoeg is en self nie meer kan aangaan nie, is dít ‘n vertroostende én bemoedigende wete. Dit bring ‘n mens in beweging.

Die tweede deel van 3b is veral binne die destydse gemeenskap belangrik: JHWH doen dit “ter wille van sy Naam” (לְמַ֣עַן שְׁמֹֽו). Onthou: álles in die destydse Mediterreense wêreld het rondom eer en skande gewentel. JHWH het dus sy reputasie gestand gedoen en is ‘n eerbare herder: hy bring sy mense tot rus, hy beveilig hulle en sorg vir hulle.

Die psalm sê nie dat alles in die gelowige se lewe groen weivelde en waters van rus is nie. In 4a word hierdie strofe afgerond deur JHWH en “die kwade/gevaar” (רָ֗ע) as teenoorstaande pole te stel. Die nomen בְּגֵ֪יא צַלְמָ֡וֶת – wat met “donker dieptes” (diep, nou klowe met min sonlig, waar rowers of vyande reisigers dikwels ingewag het) weergegee word – kan metafories ook op die dood of lewensgevaar dui (sien byvoorbeeld Job 10:20-22). Net soos wat die Here voorsien, beskerm Hy ook.

“Wanneer ek in ‘n gevaarvolle plek – teenoor JHWH as “rusplek” – kom, is JHWH ook dáár. Daarom sal ek nie bang wees nie”, is wat die psalmis as ‘t ware hier sê. Die grootsheid van JHWH se “effektiwiteit” as herder transendeer die gevaarlike paaie in Judea. JHWH se teenwoordigheid bínne die harde werklikhede van elke dag is wat ons rus, nuwe krag en visie gee.

4b speel ‘n skarnierfunksie in die psalm. Hierdie wentelpunt bevestig die vertroostende vertrouensuitspraak dat JHWH teenwoordig is:אַתָּ֥ה עִמָּדִ֑י . JHWH word van hier af in die tweede persoon deur die persoonlike voornaamwoord “U” aangespreek en voorop geplaas.

“Stok” (שִׁבְטְךָ֥) en “staf” (מִשְׁעַנְתֶּ֗ךָ) is ‘n digterlike woordpaar waarmee die omvattende beskerming van JHWH beklemtoon word. 4b sê dus in digterlike taal wat tot hiertoe deur die herdermetafoor gesê is.

In 5a en 5b word die gedagte van die vorige gedeelte voortgesit. JHWH word nou as gasheer geskets. JHWH is die hoof van die ganse kosmiese huishouding en as sodanig die gasheer by uitnemendheid. Deur die “in die reine stel” (vindikasie) van die psalmis herstel JHWH die psalmis se eer binne die gemeeskap. Waaroor die spanning en konflik was, kan nie uit die psalm afgelei word nie. Die fokus is daarom vir ons nie op die spesifieke konteks van die teks of die “teenstanders” teenoor wie (נֶ֥גֶד צֹרְרָ֑י) JHWH optree nie. Die fokus bly op JHWH en sý herderskap: hy is getrou en kan vertrou word.

Nie gevaarplekke of teenstanders kan JHWH verhinder of verhoed om oorvloedig te sorg nie. Dít word met die olie (‘n simbool vir oorvloed en vreugde) waarmee die psalmis gesalf word én die beker wat oorloop beklemtoon word.

Die hoogtepunt van die psalm is 6a/b wat by die voriges aansluit en die omvattende beskerming van JHWH met nóg ‘n woordpaar uitdruk. Hier staan letterlik dat “goedheid en liefde” (טֹ֤וב וָחֶ֣סֶד) die psalmis sal “agtervolg” (יִ֭רְדְּפוּנִי = “hulle agtervolg my”). Deur hierdie werkwoord – wat gewoonlik in ‘n negatiewe sin gebruik word – in orde om te keer, sê die psalmis dat JHWH op ‘n konkrete wyse – in goedheid en liefde – sy verhouding met die psalmis bevestig. Met JHWH dáár is dit nie meer die psalmis se vyande nie, maar JHWH se goedheid en liefde wat bý hom bly.

Beide die begin én die einde van 6a (כָּל־יְמֵ֣י חַיָּ֑י) en 6b (לְאֹ֣רֶךְ יָמִֽים) dui aan dat die liefde en beskerming van JHWH permanent van aard is. Daarom moet “die huis van die Here” (בְּבֵית־יְ֝הוָ֗) nie – al is dit ‘n tegniese term daarvoor – as wonend in die tempel of ‘n vorm van kultiese blyplek beskou word nie. ‘n Beter verstaan hiervan in terme van die hele psalm hou verband met die innige en voortdurende gemeenskap en die permanente belewing van die teenwoordigheid van JHWH. Die laaste strofe vat die inhoud van die hele psalm saam en gryp terug na die begin van die psalm waar JHWH as herder aangedui word.

Voorstel vir ’n preek
Psalm 23 is besonder geskik om mense wat ly, sukkel of swaarkry te vertroos en aan hulle rigting te verleen sodat hulle tot eer van God kan lewe. God is ons Vader. Alles wat van ‘n goeie vader waar is word van mense in leiers- en gesagsposisies verwag.

Om die Here as herder te erken is nie ‘n towerstaffie waarmee alle probleme soos mis voor die son opgelos kan word nie. Te midde van die harde werklikhede van die lewe, probleme en ander “donker dieptes” kan en mag ek op die persoonlike teenwoordigheid van die Here in my lewe vertrou.

Omdat die Here is Wie Hy is kry die lewe betekenis sodat ons niks kortkom nie en nie bang hoef te bly wanneer ons bang geword het nie.

Die Here gee aan ons die voorreg om in die Here tot rus te kom, in Hom in te woon, om sy gas te wees: om in God se teenwoordigheid te leef.

Hierdie geloof bring ons in beweging. Wanneer ons besef dat ons mense is wat in God tot rus kom, dring dié geloof ons om rus in Gód te ving en vanuit hierdie rus in beweging te kom. Ons reageer op die volkome geborgenheid, veiligheid en vreugde wat ons by God vind in ons lewens te integreer en ander mense binne dié raamwerk te hanteer. Ons word die agente van die goedheid en liefde van God deur ‘n ruimte te skep waarbinne ander ook dié geborgenheid, veiligheid en vreugde kan beleef.

Veral twee bewegings in die teks help ons hiermee. Aan die begin van die psalm word God as “Hy” – in die derde persoon – aangedui. Daarna word Hy as “U” aangespreek. Ons weet dus dat God nie ver en eenkant staan (of op ‘n troon sit) nie. God kom nader. God is hier en tree ín ons midde in.

Die tweede beweging kom voor in wat dan gebeur: die Here tree as gasheer vanuit sy oorvloed binne die konteks van ‘n feesmaaltyd bedienend op. Die psalmis hoop dat ons besef dat dít is wat God wil hê óns moet doen. Ons moet die alledaagse omskep in ‘n ruimte waarin geborgenheid, veiligheid en vreugde beleef word.

Ons doen dit deur in God tot rus te kom, gasvry te wees en te gee wat binne bepaalde kontekste nódig is ooreenkomstig mense se situasies. Dáárvoor ontwikkel ons visie en maak ons impak.

Vanuit die tuis wees by die Here werk ons as ‘t ware terug in die elkedagse werklikheid in. Ons vind vertroosting, versterking en visie in ons God se teenwoordigheid en ons saam aan tafel wees. Hier eet ons, drink ons en gesels ons saam oor ons Vader se visie vir ons en hóé die impak van sy teenwoordigheid in óns praktiese lewe ‘n impak op die tyd wat vir ons voorlê het. Waar is mense wat te kort het? Waar is mense wat rus, sorg, nuwe lewenskrag, veiligheid en vreugde nodig het? Waar is mense bang?

Ons werk uit hoe om op weë te kom – en bly! – wat tot eer van God as ons Here lei. Ons is mense wat in God tot rus kom. Soos God is ons gasvry en gee ons uit sý oorvloed waarin ons ook deel. Ons is mense met visie op die impak van God se wees en werk in ons wêreld.

Predikers kan hieruit put om hulle hoorders van God se identiteit as Vader wat Herder, Gids en Gasheer is, bewus te maak. Omdat ons beeld van God is word ons eie identiteit hierin teruggevind. Ons is nie sélf God nie, maar be-liggaam God se hier-wees in ons omgang met mekaar en ander mense en die omgewing. (Al gewonder hoe voed God ons in groen weivelde sonder dat oorweiding plaasvind?)

Moontlike hulpmiddels
Kyk gerus na Communitas se preekriglyne op hulle webblad:
http://communitas.co.za/

Bronne:
Peter C Craigie, 1983. Psalms 1-50, Word Biblical Commentary (Volume 19), Waco, Texas: Word Books.
Jewish Publishing Society, The, 2004. The Jewish Study Bible. Tanakh Translation. New York: Oxford.
DH Odendaal & CW Burger, 1988. Psalm 23, in CW Burger, BA Müller & DJ Smit (reds.), Riglyne vir prediking oor die Psalms (Woord Teen die Lig II/4). Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers. 56-64.
Riempies (WS) Prinsloo, 1991. Die Psalms leef! Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Nico Simpson, Ewald van Rensburg & Breda Ludik, 2000. Die Wonder van Gebed. Psalms – oopgetrapte paadjies na God toe. WellingtonL Lux Verbi.BM.
Cas JA Vos, 2005. Theopoetry of the Psalms. Pretoria: Protea Book House.

 

 

 

WEEK 8
Tema: Ons is mense met eie persoonlikhede
Perikoop: Markus 8:27-29  

Nestle-Aland XXVIII:
27 Καὶ ἐξῆλθεν ὁ Ἰησοῦς καὶ οἱ μαθηταὶ αὐτοῦ εἰς τὰς κώμας Καισαρείας τῆς Φιλίππου· καὶ ἐν τῇ ὁδῷ ἐπηρώτα τοὺς μαθητὰς αὐτοῦ λέγων αὐτοῖς· τίνα με λέγουσιν οἱ ἄνθρωποι εἶναι;
28 οἱ δὲ εἶπαν αὐτῷ λέγοντες [ὅτι] Ἰωάννην τὸν βαπτιστήν, καὶ ἄλλοι Ἠλίαν, ἄλλοι δὲ ὅτι εἷς τῶν προφητῶν.
29 καὶ αὐτὸς ἐπηρώτα αὐτούς· ὑμεῖς δὲ τίνα με λέγετε εἶναι; ἀποκριθεὶς ὁ Πέτρος λέγει αὐτῷ· σὺ εἶ ὁ χριστός.
30 καὶ ἐπετίμησεν αὐτοῖς ἵνα μηδενὶ λέγωσιν περὶ αὐτοῦ.

 

Nuwe Afrikaanse Vertaling:
27 Daarna het Jesus en sy dissipels na die dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Langs die pad het Hy vir die dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is Ek?”
28 Hulle antwoord Hom: “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete.”
29 “Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”
Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”
30 Toe belet Hy hulle om dit vir iemand anders te vertel.

Opmerkings oor die teks
Hier is ‘n wending in die Markus-evangelie. Van hier af tot by Markus 11:1 is die reis wat Jesus en sy dissipels te voet vanaf Sesarea-Filippi na Jerusalem onderneem het die fokus. Dit begin waar Jesus invra op sy identiteit. “Wie sê die mense is ek? … En julle? Wie sê júlle is ek?”, het Jesus gevra.

Sesarea-Filippi is in die verre noorde van die land, by een van die oorspronge van die Jordaanrivier, geleë. Die rivier borrel hier uit ‘n fontein in ‘n grot voort. In sekere kringe is geglo dat hierdie plek die poorte van die doderyk was. Daar is vandag nog oorblyfsels van ‘n antieke heiligdom vir die god Pan te vinde. Jerusalem was die Judeërs se heilige stad. Die tempel het híér gestaan. Dis híér wat die hartklop van die Judeërs se politieke en godsdienstige lewe was.

In die wêreld waarin Jesus geleef het, het die identiteit van die individu anders gelyk en gefunksioneer as ons s’n vandag. In die westerse wêreld beskou ons ‘n individu se psigologiese samestelling as die sleutel tot die verstaan van wie hy of sy mag wees. Ons beskou elke individu as ‘n afgeronde en unieke wese wat meer of minder geïntegreerd gemotiveer en kognitief en emosioneel funksioneer en oor ‘n sentrum van bewussyn en beoordelingsvermoë beskik én teenoor ander sulke individue bestaan en met hulle interaksie het.

Hierdie tipe individualisme is maar skaars onder ander kulture in die wêreld. Dit het beslis nie in die Nuwe Testament en die destydse Mediterreense wêreld voorgekom nie. In daardie wêreld was elke persoon in andere ingebed en het sy of haar identiteit slegs in verhouding met hierdie ander saam met wie hy of sy ‘n fundamentele groep gevorm het bestaan. Vir die meeste mense was hierdie kern- of “in-groep” die familie. Dit het beteken dat individue nie onafhanklik opgetree het of aan hulleself as onafhanklik van dié groep gedink het nie. Wat een van die lede van die familie was – psigologies én in alle ander opsigte – was die ander lede ook. Mediterreense mense was wat antropoloë “diadies” noem. Dit beteken dat hulle “ander-georiënteerde mense” was wat op ander staatgemaak het om hulle met ‘n bewussyn van wie hulle is te voorsien.

Waar ons as Westerse individualiste besorg is oor die gevolge van ons besluite op ons huidige posisie en toekomstige geleentheenthede is, was hulle besorg oor die gevolge wat hulle besluite vir ander – veral vir diegene buite hulle vriende- en kernfamiliekring – ingehou het. Vir ons is dit belangrik om ons eie opinies oor ‘n wye reeks kwessies, soos politiek, godsdiens en seks, te vorm en te hê. Ons raadpleeg kenners se menings gewoonlik slegs met betrekking tot die wet en ons gesondheid. Ons doen dit ook slegs ten opsigte van onsself en ons kerngesin. Vir hulle was dit algemeen om ander se opinies te aanvaar en vir hulleself toe te eien. Dit was veral so met persone wat ‘n hoë aansien binne ‘n breër kring gehad het.

Diadiese persone was voortdurend besorg oor hoe hulle hulleself aangebied het (“self-presentation”) en om nie aansien te verloor nie (“loss of face”), aangesien dit ‘n refleksie van die groep en die persoon se posisie binne die groep was. Tensy iemand anders by ons eie doelwitte betrokke is, gee ons nie werklik om oor die indruk wat dit op ander laat laat nie. Verleenthede en beskaming raak die individu (en soms mense na aan hom/haar), maar nie die groter groep rondom ons nie. Diadiese persoonlikheid glo aan, voel en ervaar ‘n onderlinge verbondenheid met die hele groep op so ‘n manier dat positiewe en negatiewe gedrag tot die hele groep se eer en/of skande strek. Individualiste tree op asof hulle van ander geïsoleerd is; wat hulle doen word nie beskou as dat dit ander affekteer nie en wat ander doen affekteer hulle nie.

Diadiese persone voel dat hulle intiem betrokke in die lewens van ander in hulle groep is en dat hulle ‘n bydrae tot die lewe van die ander maak (en te maak het). Westerse individualiste se lewens is gesegmenteerd. Persone voel hulleself betrokke by slegs ‘n klein aantal ander persone, en dan ook op spesifieke maniere (byvoorbeeld om hulle iets te leer of om advies te gee). Sterk-groepsmense is besorg (/bekommerd) oor al die lede van hulle groep. Hulle beleef ‘n aanvoeling van een-wees (“oneness”) met ander mense, ‘n persepsie van komplekse verbintenisse en verhoudings en ‘n geneigdheid om ander mense in gedagte te hou. Diadiese mense se besorgdheid het ten diepste te make met die oorlewing van die groep. Swak-groepsmense is hoofsaaklik besorg oor hulleself (en soms hulle kern­familie). Hulle is geïsoleerd van ander mense en geneig om alleenlik aan hulleself te dink.

Die diadies-kollektivistiese oriëntasie het outomaties tot die tipies Mediterreense gewoonte om te stereotipeer gelei. Daarom dat Paulus byvoorbeeld geskryf het: “Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate” (Titus 1:12). Oor Jesus het Natanael gesê-vra: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” (Joh 1:46). Jesus se teenstanders het gedink dat hulle hom geken het deur hom te identifiseer as “Jesus van Nasaret” en “die timmerman se seun” (Mark 6:3; Matt 13:55).

Persone is volgens hulle “plek” van herkoms – “van Nasaret” of “van Tarsis” of ander plekke – identifiseer. In dié etikette is ál die inligting wat nodig was om te bepaal hoe hoog of laag iemand se eer volgens hulle skaal van eer en skande was geënkodeer. Sodoende het almal geweet op watter manier interaksie met dié persoon moes plaasvind om as behoorlike (= eerbare) gedrag gereken te word.

Een van die gevolge hiervan was dat antieke mense mekaar nie goed geken het op die maniere wat vir ons belangrik is nie. Hulle het byvoorbeeld nie in mekaar se psigologiese of emosionele welwese belangestel nie. Hulle het ook nie omgegee oor psigologiese ontwikkeling nie en was ook nie introspektief nie. Wanneer ons oor persone wat in die Bybel genoem word se gevoelens en emosionele welwese praat, dra ons ons anachronistiese projeksies vanuit ons eie sensitiwiteite op hulle oor.

Húlle was daaroor besorg oor wat ander van hulle gedink het (eer) en nie oor hoe hulle oor hulleself gedink het (skuld) nie. Gewete was vir hulle die beskuldigende stem van ander, nie die innerlike stem van skuld (en -gevoelens) nie. Hulle vraag was nie die moderne een, “Wie is ek?” nie. Hulle het die vraag gevra wat Jesus hier gevra het: “Wie sê die mense is ek?” en “Wie sê julle is ek?” Dit is van die betekenisvolle ander wat die inligting hieroor gekom het, nie van die self nie.

As ons die vrae wat Jesus hier vra as Westerlinge lees, aanvaar ons dat Jesus weet wie hy is en dat hy die dissipels toets om vas te stel of hulle dit (al) weet. Lees ons die teks egter as Midde-Oosterse mense in die Mediterreense wêreld van destyds, sal ons aanvaar dat Jesus by sy betekenisvolle andere wil vasstel wie hy is. Hulle antwoord sou as ‘t ware vir hom sê wie hy moet wees en watter rol hy moet vervul. Hulle antwoord sou dan ‘n bepaalde toegekende status aan hom verskaf. Indien hy hulle antwoord sou aanvaar, sou hy hierdie eer-status verder ter wille van die eer wat daarmee gepaardgaan moes instandhou. Hy sou sy eer – hulle antwoord en die toegekende en verworwe eer-status – moes verdedig.

Die dissipels se antwoord, “Johannes die Doper, party sê weer Elia, en party een van die profete” (vers 28) identifiseer Jesus nie in terme van sy plek van herkoms of kernfamilie nie. In die destydse wêreld sou Jesus dus as iemand met afwykende gedrag beskou gewees het. Deur Jesus só te identifiseer ken hulle hoër eer-status en krag in ‘n wyer kring as hulle eie aan hom toe. Dit word bevestig met Petrus se: “U is die Christus!” (vers 29).

Markus skryf aan sy lesers dat Jesus se dissipels oortuig was dat hulle beskouing dat Jesus God se Christus was genoegsame openbare steun geniet het. Alhoewel Jesus hulle belet het om dit vir iemand anders te vertel (vers 30), het hy hulle in hulle reis na Jerusalem voorgegaan. Sodoende het hy die toegesegde identiteit aangeneem en dienooreenkomstig opgetree om sy rol te vervul

Voorstel vir ’n preek
Predikers kan die preek begin deur daarop te wys dat ons amper aan die einde van ons reeks oor identiteit is. Ons vra in op die vraag wat dit beteken dat ons beeld van God is. Ons wil ons insig in en kennis oor ons identiteit as christene verdiep en verbreed.

Hoorders kan dan gevra word hoe hulle hulle identiteit informeer. Met ander woorde, wie se opinies en menings is vir hulle belangrik wanneer húlle vra: “Wie is ek?” Hulle kan verder vra hoe hulle ouers, vriende en ander se sieninge van hulle hulleself hierin beïnvloed.

Predikers kan dan die teks aan die bod bring. Dat Jesus gedoen het wat hy gedoen het, het direk met sy dissipels se informering van sy identiteit verband gehou. Wie Jesus was en geword het, het direk verband gehou met wat hy geglo het oor hom geglo is. Daarom kon hy sy pad enduit stap. Dit was as ‘t ware nie net sy eie opinie oor homself wat hom gedring het nie. Hy wou sy toegesegde eer-status en posisie gestand doen. En hy het. Hy wou sy toegesegde en verworwe eer laat toeneem. Sy groep – waarby ons onsself insluit – was vir Jesus belangriker as hy eie belange.

Hooerders kan ons persoonlikheidstipes as mede-informerend vir ons identiteit betrek. Dis belangriker dat hoorders besef dat daar verskillende persoonlikhede binne die geloofsgemeenskap bestaan as wat dit is dat hulle al die detail hieroor meegedeel word. Predikers kan op die belangrikheid dat hoorders hulleself goed ken wys en benadruk dat ons elkeen aan die hand van ons eie persoonlikheids­tipe bydra tot die welwese van die groter groep – die gemeente én die gemeenskap waarbinne ons saam leef. Dis belangrik dat ons ons rol en funksie in terme van wie ons as persoonlikhede is vervul.

Predikers kan uit die inligting wat in die dagstukkies en blogs voorkom put. Van die figure na wie daarin verwys word kan ook verwys word. Dit moet egter nie ten koste van Jesus in dié teks gedoen word nie.

Moontlike hulpmiddels
Kyk gerus na Communitas se preekriglyne op hulle webblad:
http://communitas.co.za/

 

 

WEEK 9
Tema: Ons is mense wie se tye in God se hand is
Perikoop: Openbaring 21:1-6

Skopus: God maak álles nuut. God géé’n nuwe hemel en aarde. God Sélf is by ons teenwoordig. God se teenwoordigheid in ons midde het gevolge: dood, leed, smart en pyn – die dinge van vroeër – het verbygegaan. God is bó en ín tyd. Ons tye is veilig in God se hand.

Nestle-aland XVIII-Teks
1 Καὶ εἶδον οὐρανὸν καινὸν καὶ γῆν καινήν. ὁ γὰρ πρῶτος οὐρανὸς καὶ ἡ πρώτη γῆ ἀπῆλθαν καὶ ἡ θάλασσα οὐκ ἔστιν ἔτι.
2 καὶ τὴν πόλιν τὴν ἁγίαν Ἰερουσαλὴμ καινὴν εἶδον καταβαίνουσαν ἐκ τοῦ οὐρανοῦ ἀπὸ τοῦ θεοῦ ἡτοιμασμένην ὡς νύμφην κεκοσμημένην τῷ ἀνδρὶ αὐτῆς.
3 καὶ ἤκουσα φωνῆς μεγάλης ἐκ τοῦ θρόνου λεγούσης·
ἰδοὺ ἡ σκηνὴ τοῦ θεοῦ μετὰ τῶν ἀνθρώπων, καὶ σκηνώσει μετ’ αὐτῶν, καὶ αὐτοὶ λαοὶ αὐτοῦ ἔσονται, καὶ αὐτὸς ὁ θεὸς μετ’ αὐτῶν ἔσται [αὐτῶν θεός],
4 καὶ ἐξαλείψει πᾶν δάκρυον ἐκ τῶν ὀφθαλμῶν αὐτῶν, καὶ ὁ θάνατος οὐκ ἔσται ἔτι οὔτε πένθος οὔτε κραυγὴ οὔτε πόνος οὐκ ἔσται ἔτι, [ὅτι] τὰ πρῶτα ἀπῆλθαν.
5 Καὶ εἶπεν ὁ καθήμενος ἐπὶ τῷ θρόνῳ· ἰδοὺ καινὰ ποιῶ πάντα καὶ λέγει· γράψον, ὅτι οὗτοι οἱ λόγοι πιστοὶ καὶ ἀληθινοί εἰσιν.
6 καὶ εἶπέν μοι· γέγοναν. ἐγώ [εἰμι] τὸ ἄλφα καὶ τὸ ὦ, ἡ ἀρχὴ καὶ τὸ τέλος.
ἐγὼ τῷ διψῶντι δώσω ἐκ τῆς πηγῆς τοῦ ὕδατος τῆς ζωῆς δωρεάν.

Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983)
1 Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien.
Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn,
en die see het nie meer bestaan nie.
2 En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem,
van God af uit die hemel uit sien afkom.
Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
3 Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê:
“Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.
Hy sal by hulle bly;
hulle sal sy volke wees,
en God self sal by hulle wees as hulle God.
4 Hy sal al die trane van hulle oë afdroog.
Die dood sal daar nie meer wees nie.
Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.
Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
5 Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” 6 Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.
Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

Opmerkings oor die teks
In vers 1 skryf Johannes dat hy “ ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde” gesien het. “Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.” Johannes getuig oor die transformasie van die kosmos. Dit is ‘n tema wat deurlopend by die Israelitiese profete voorkom. In Jesaja 65:17 en 66:22 lees ons: “Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie” en “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, in my diens sal staan, sê die Here, so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.”

Volgens die Israelitiese tradisie is die prentjie alreeds by God realiteit. God het immers die wêreld teen die einde van die skeppingsweek kláár geskep (Gen 1). Die rede waarom hier nie meer ‘n see is nie, is omdat dit destyds met chaos en vernietiging geassosieer is. Die see was die blyplek – en broeiplek! – van monsters, anti-goddelike magte en alles wat vuil, onrein en boos is (Mark 5:13; Openb 13:1). God se híérwees laat die ou hemel, aarde en see verdwyn.

In vers 2 lees ons dat Johannes “die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom” het. “Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” Daar kom nou – saam met die nuwe kosmos – ‘n nuwe sentrum tot die kosmos, ‘n werklik “heilige stad”: die nuwe Jerusalem. Die hemelse stad lyk soos ‘n bruid. Alhoewel die antieke Mediterreense stede amper sonder uitsondering as vroulik voorgestel en uitgebeeld is, is dít nie waaroor dit in hierdie verbeelding gaan nie. Die teks sluit aan by die vorige verwysing na die hemelse bruid van die Lam en skimp op wie dit moontlik kan wees. Die verhouding tussen God en sy kinders en die Lam en sy volgelinge is net so intiem soos dié van ‘n bruidegom en bruid.

Terwyl Johannes die nuwe hemele en aarde sien aankom (vers 3), hoor hy ‘n “harde stem van die troon af” sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.

Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” Jerusalem word aangekondig as die plek waar God sy “tent” bý sy mense opslaan. Al die lesers en hoorders sou onmiddelik aan die tentwonings saam met Moses in die woestyn gedink het (Eks 33:7; 40:34). Die hemelse stad is God se nuwe woonplek tussen menslike wesens. Israel se heiligdom was die plek van God se teenwoordigheid (Gen 28:16) waar Hy tussen die Israeliete rondbeweeg het (Eks 25:8; 29:45-46; Lev 26:11-12; Ps 132:14). Die finale heiligdom sou die permanente teenwoordigheid van God aandui (Eseg 37:26-28). God woon – deur sy en as Gees – in mense om Homself déúr mense te vertoon. Die meervoud is opvallend: hulle sal sy volke wees. God is by meer as net die Israeliete van ouds teenwoordig.

Waarvan ons in vers 4 lees, is wat daaruit voortspruit dat God “tussen mense tabernakel”: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Deur sy Gees help God ook om die seer, stukkend, sukkel en swaarkry draaglik en uiteindelik héél te maak. Enigiets en alles wat menslike welwese stuit of belemmer – van dood tot pyn – sal ophou om te bestaan terwyl dit saam met “die ou dinge” in die niet verdwyn. Hierdie stelling dien ter morele ondersteuning van Johannes se hoorders/lesers, net soos wat die lys van diegene wat aan die realiteite deelneem dit ook doen.

In verse 5-6 lees ons wat “Hy wat op die troon sit” nóg gesê het: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” God – die Een op die troon, die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde – kondig só aan dat Hy persoonlik álles transformeer. Wat in Openbaring 1:17-18 van Jesus gesê word, word hier van God gesê (“Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende …”).

God gee dan aan Johannes opdrag om alles neer te skryf, of te wel om rekord van die gebeure te hou. Laastens kondig Hy die finaliteit van die transformasie aan. Dit moet nie nog ééndag miskien gebeur nie. Dit het kláár gebeur. God is betroubaar en praat die waarheid: Hy en Hy alleen maak álles nuut.

Volgens Stephan Joubert (2012:652) is dit “God se visie vir sy nuwe wêreld” wat hier geskets word. Dít waaroor persone soos Jesaja (59:20; 65:18) en Esegiël (40-48) gedroom het, word waar. Ons het elkeen vrye toegang tot God se teenwoordigheid tot in ewigheid. “Om alle sweem van twyfel te verban, verklaar God dat die dinge waarvan gepraat is, klaar gebeur het. By God is daar nie ‘n verlede, hede en toekoms nie,” sê Groenewald (1986:209).

Daarom is ons tye veilig in God se hande. Ons is beeld van God wat bó en bínne tyd is. Ons is mense wie se tye in God se hand is. Daarom reflekteer die manier waarop ons ons tyd inrig en bestuur iets van God se teenwoordigheid in, betrokkenheid by en volmaak van die wêreld.

Voorstel vir ’n preek
Predikers kan Openbaring 21:1-6 preek om aan te toon dat God bo én binne tyd is en die uitvloeisel(s) van God se inkom in ons tyd en ruimte in verkondig. Daar kan dan uit die data van die week se stukkies en die opmerkings oor die teks geput word om ons tema, “Ons is mense wie se tye in God se hand is”, te belig. Dit kan gedoen word binne die struktuur van

(Inleidend) God as Alfa en Omega, die Begin en die Einde;
(1) God is hٕíér teenwoordig en ons reageer op sy teenwoordigheid (Epifanie- en Lydenstyd);
(2) God maak álles nuut en ons lewe en beweeg deur God (Paas- en Pinkstertyd);
(3) God gee ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde as ruimte waarbinne ons as burgers van God se koninkryk lewe (Koninkrykstyd);
(4) God se betroubaarheid wek by ons verwagting, afwagting, hoop en liefde en laat ons núút leef (Advent- en Kerstyd).

‘n Preekskets:
Na aanleiding van ‘n vroeëre preek (Bothma 2009) kan die volgende preekskets ook benut word.
Londen. Parys. Rome. Berlyn. Barcelona. Washington …
Groot stede. Hoofstede van internasionale moonthede.
Stede waarin geskiedenis gemaak is en kulture gevorm is.
Stede waarin mense gebore en gevorm is. En misvorm is.
In elkeen van die plekke wat in Christopher Torr se lied, Hot Gates, genoem word, het dinge gebeur wat individue, gesinne en daarom ook die mensdom geraak het.
In elkeen van hierdie plekke is die geskiedenis beïnvloed.
In elkeen van hierdie plekke het God gesien wat mense aan mekaar doen.
In elkeen van dié plekke het mense tot God geroep. Net soos óns vandag.
Elkeen van die plekname wat in die lied voorkom het ‘n spesifieke konnotasie.
Dis nie net internasionaal waar die geskiedenis gevorm word nie, maar ook plaaslik.
Ja, ons weet van die “fiery, fiery glow” oor Hirosjima en ons treur daaroor. Maar dis oor en vir óns dogters en seuns wat ons bid wanneer ons die ruiters swaard-in-die-hand op hul perde aangejaag sien kom.
Dit wat by Waterloo, Gettysburgh en Auschwitz gebeur het raak ons, maar het nie onder ons vel kom lê nie.
Amajuba en Heilbron lê nader aan ons, maar ons kry nie nagmerries daaroor nie.

Dis oor Sebokeng, Sharpeville en Boipatong waaroor ons nagmerries moet kry. Dis oor wat híér en in Mitchell’s Plain gebeur het wat ons nagmerries moet gee. Ons moet hieroor ten hemele skree. Ons moet oor ons dogters en seuns wat hier gely het ween en bid dat dit nooit weer gebeur nie.

Tussen al die lyding en leed deur ís daar hoop.
Ons sien dit veral by die destydse Hot Gates van Thermopolye, toe koning Leonidas en sy Spartane die “barbare” teruggehou het totdat die Grieke die destydse beskawing kon red.

Regdeur die lied loop ‘n fyn refrein wat ook hoop bring:
Daar is ‘n ander lied wat gesing sal word. Daar is ‘n ander klok wat moet beier.
Daar’s nóg ‘n stad waarvan ons vertel word; ‘n stad waarvan die paaie gelê is met goud.
In die nuwe Jerusalem sal ons almal tuiskom.
Dan sal ons besef die woonplek van God is by die mense (Openbaring 21:3).
In Betlehem is oor ‘n seun wat gebore is geglimlag.
Ons sal soos burgers van Gód se koninkryk ‘n reënboognasie kan wees.

God se spore en vingerafdrukke is nie net hier gesien nie, maar ook by Jerigo (met die landsinname van die Israeliete) en in Babilon (ná die verlossing uit die ballingskap).

By Armagedon – so glo baie – sal Hy na die finale veldslag as oorwinnaar staan. Maar ons weet dat die oorwinning reeds behaal ís. In Jerusalem, omtrent tweeduisend jaar gelede.
Jesus is nie deur die graf van die Vrydag vasgehou nie.
Hy is uit die dood opgewek en het uit die graf uit opgestaan.

In Polokwane, Pretoria, Pofadder en Perth kan ons daarom sing: “Hy sal bý hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:3-4).

Dís wat ons as sý beeld namens God vir mekaar doen.

Nie die konings, veggeneraals, handelaars of aandeelhouers van die New York’s, die godsdienstige whacko’s van Waco of toesmeerders van Chappaquiddick nie, maar die Een wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Ons kan dit glo, want hierdie woorde is betroubaar en waar.” “Dit het klaar gebeur”, het Hy gesê.

Hý is “die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.” Al word ons vermink en vermoor in die stede van die heersers (Openbaring 13), sal Hy aan elkeen wat dors het, te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet (Openbaring 21:3-6).

Ons hoop lê nie by die heil wat ons in die stede en die tegniek en vermaak daarbinne vind nie, maar by Hóm wat geëer word met orrelspel en kerkklokke. Vir selfs langer as wat ons dit kan hoor.

Dis nie die 300 Spartane en húlle koning wat in die Hot Gates van Thermopolye gestaan het en gesneuwel het, wat die beskawing beskerm nie, maar ons “Stadsheer”. Al voel dit asof die stadslewe ons vandag verswelg, lê ons krag nie in onsself nie, maar in Hóm. Anders as Leonidas se dapper volgelinge vég ons nie om ‘n oorwinning nie, maar dien ons soos die Kindjie van Betlehem … in elke stad en oord. Ons geskiedenis word omvou deur Sy geskiedenis.

Ons is mense wie se tye in God se hande is.
Daar is ‘n ander lied wat gesing sál word.
Daar is ‘n ander klok wat moet beier. Daar’s nóg ‘n stad waarvan ons vertel word;
‘n stad waarvan die paaie gelê is met goud.
Ons lewe in die stofstrate van die lewe tussen die “Hot Gates” en die Nuwe Jerusalem.

Mag jy tussen jou trane deur, in jou nood en terwyl jy worstel met die probleme wat dreig om jou te oorweldig, die koel water van die lewe op jou tong proe en oor jou lyf voel spoel. Mag jy ervaar hoedat dieselfde krag waarmee Jesus met Paasfees uit die dood uit opgewek is jóú laat opstaan en oorvloedig laat leef. Mag jy ervaar hoedat God jou in sy teenwoordigheid en bekendwording in die wêreld betrek. En hoedat God in en deur jou nood verlig en hoop bring. Mag jy as opgestane en begeesterde burger van God se koninkryk opgewonde en hoop-gedrewe asof nuutgebore leef terwyl tyd onder jou voete uitloop.

Hy wat op die troon sit, die Alfa en die Omega, is bó en bínne tyd.
Ons tye is veilig in sy hande. Hý maak alles nuut: ook vir jou.
Hý waarborg jou tuiskoms. Hy begelei jou op jou reis. Nóú en áltyd. 

Moontlike hulpmiddels
Kyk gerus na Communitas se preekriglyne op hulle webblad:
http://communitas.co.za/

Bronne:
Aune, D.E. 1997. Revelation 17-22. Volume 52C: Word Biblical Commentary: Revelation 17-22. Nashville: Nelson.
Borg, M.J. 1995. Meeting Jesus Again for the First Time. San Francisco: Harper.
Bothma, G. 2009. Ons leef voor God tussen die “Hot Gates” en die Nuwe Jerusalem, Meditatio: Openbaring 21:1-6, Gepubliseer 19/03/2009. Besigtig op 10 Desember 2013.  <www.http://teo.co.za/meditatio-openbaring-211-6/ >
Coetzee, J.C. 1990. Die Openbaring aan Johannes. B. Die prediking (teologie) van die Openbaring aan Johannes, in A.B. du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament, Band VI, Die Johannesevangelie; Hebreërs tot Openbaring: Inleiding en Teologie. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel, 253-314.
Du Preez, J. 1996. Openbaring 21:1-8, in C.W. Burger, B.A. Müller en D.J. Smit (reds.), Woord teen die Lig 1/10; Riglyne vir Sending-prediking tussen Pinkster en Advent. Kaapstad: Lux Verbi. 68-80.
Du Rand, J.A. 1990. Johannese Perspektiewe. Deel 1: Inleiding tot die Johannese Geskrifte. Midrand: Orion.
Du Rand, J.A. 1990a. Die Openbaring aan Johannes. A. Inleiding tot die Openbaring aan Johannes, in A.B. du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament, Band VI, Die Johannesevangelie; Hebreërs tot Openbaring: Inleiding en Teologie. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel, 219-252.
Du Rand, J.A. 2007. Die A-Z van Openbaring. ‘n Allesomvattende Perspektief op die Boek Openbaring. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
Du Rand, J.A. 2007. Die Einde. Die A-Z van die Bybelse Boodskap oor die Eindtyd. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
Groenewald, E.P. 1986. Die Openbaring van Johannes. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers.
Joubert, S.J. 2012. Ontsluit die Nuwe Testament. Omvattende Bybelreise vir ‘n beter verstaan van die Skrif. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
Malina, B.J. & Pilch, J.J. 2000. Social Science Commentary on the Book of Revelations. Minneapolis: Fortress.
Mounce, R.H. 1977. The Book Revelation, The new International Commentary on the New Testament; 17. Grand Rapids: Eerdmans.
Myburgh, J.A. & Mullins, A. 2002. Goeie Nuus! ‘n Gemeente se belewenis van Openbaring. Lyttleton Manor: Medpharm Books.

 

 

Share