Preekvoorstelle vir Lewenskeuses

WEEK 9

Week 9: Leierskap

Tema: Kom ons begin bou!

Preekstudie – Nehemia 2:1-20

1 Dit was in die maand Nisan, die twintigste jaar van koning Artasasta. Die wyn was voor hom, en ek moes dit optel en aan hom gee. Ek was nooit bedruk voor hom nie, 2 maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?” Ek was baie bang, 3 maar ek het vir die koning gesê: “Mag die koning baie lank lewe! Hoe sal ek dan nie bedruk lyk as die stad waar my voorvaders begrawe is, in puin lê en sy poorte verbrand is nie? 4 Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het ‘n skietgebed opgestuur na die God van die hemel 5 en toe vir die koning gesê: “As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.” 6 Die koningin het langs die koning gesit. Hy het vir my gevra: “Hoe lank sal jou reis duur en wanneer sal jy terug wees?” Hy was die saak dus goedgesind, hy het my die opdrag gegee. Ek het vir hom ‘n tyd aangedui 7 en toe vir hom gevra: “As die koning dit goedvind, laat ek briewe kry aan die goewerneurs in Wes-Eufraat, sodat hulle my vrye deurgang kan gee tot ek in Juda aankom. 8 Ek het ook ‘n brief aan Asaf nodig, die opsigter oor die staatsbos, dat hy my kan voorsien van hout om die poorte van die vesting by die tempel te maak, en vir die stadsmuur en vir die huis wat ek sal bewoon.” My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan. 9 Ek het by die goewerneurs in Wes-Eufraat gekom en die briewe van die koning aan hulle oorhandig. Die koning het offisiere en ruiters met my saamgestuur. 10 Toe Sanballat die Goroniet en Tobija die Ammonitiese amptenaar dit hoor, was dit vir hulle slegte nuus. Hulle het dit as ‘n groot ramp beskou dat daar iemand gekom het wat iets goeds vir die Israeliete wou doen. 11 Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was,12 is ek die nag stilletjies uit met ‘n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie. 13 Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was. 14 Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie,15 en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe. 16 Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie. 17 Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.” 18 Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. 19 Maar toe Sanballat die Goroniet, Tobija die Ammonitiese amptenaar en Gesem die Arabier hoor wat ons doen, het hulle ons uitgelag en smalend gevra: “Wat vir ‘n ding is dit waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?” 20 Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou. Julle het nóg aandeel nóg reg in Jerusalem, en geen historiese band met hom nie.”

PREEKSTUDIE

(Chris van Wyk: Bybelskool Somerstrand Augustus 2013)

Inhoudelike en eksegetiese opmerkings

Inleiding op die boek Nehemia

Die boek van Nehemia volg op dié van Esra en handel oor die laaste fase van die terugkeer na Juda met die bou van die mure van Jerusalem in die tyd van koning Artaxerxes (445 v.C. – sy Hebreeuse naam is Artasasta). Die volk was nou al amper ’n eeu terug in hulle eie land (van 539 v.C. af). Die tempel is herbou deur Serubbabel (516 v.C.). Die beoogde volksmoord in die tyd van Ester en Mordegai is afgeweer (êrens in die eerste helfte van die 5de eeu v.C. in die tyd van Xerxes, in Hebreeus genoem Ahasveros). Die volk se gehoorsaamheid aan die wet is herstel in die tyd van Esra, ten minste in terme van hulle huwelikslewe. Wat nog gekort het, was die stad self waarvan die mure nog vervalle gelê het.

Die boek Nehemia

Nehemia kom dus op die toneel só 14 jaar ná Esra se hervormings in Jerusalem rondom die gehoorsaamheid aan die wet wat onder andere tot die ontbinding van godsdienstig-gemengde huwelike lei. Sy passie was die herbou van die mure van Jerusalem, hoewel hy ook op vele ander terreine leiding neem.

Die eerste sewe hoofstukke van die boek is gebaseer op die memoirs van Nehemia en word in die eerste persoon vertel. Dit handel oor die haglike toestand van die stad Jerusalem waarvan Nehemia in Susan te hore kom, sy passie om iets daaraan te doen en sy uitvoering van die visie wat die Here hom gee midde-in groot konflik met die omringende volke, veral die Samaritaanse goewerneur Sanballat (’n Goroniet van die dorpie Bet-Goron), die Arabiese leier Gesem, en die Ammonitiese amptenaar Tobija. Ná net 52 dae was die stad se mure weer herbou. Die gedeelte sluit af met ’n geslagsregister uit die tyd van Serubbabel.

Die laaste ses hoofstukke van die boek handel oor die verdere hervormings van Esra, veral gefokus op die reflekterende lees van die Woord, die viering van die huttefees en ’n vasdag van verootmoediging wat uitloop op ’n plegtige onderneming van die leiers sowel as die volk om die wet van die Here te gehoorsaam. Die boek sluit af met die feestelike inwyding van die muur, sowel as ’n tweede besoek van Nehemia waartydens ’n hele klomp netelige sake vêrder aangespreek is.

Nehemia 2

Nehemia betrek die koning by sy planne en motiveer die leiers in Jerusalem om te begin bou

Hoofstuk 2 fokus op Nehemia wat die geleentheid aangryp om die koning by sy planne te betrek (2:1-10) en die eerste verkenning van die situasie in Jerusalem sowel as die inwerkingstelling van Nehemia se planne (2:11-20).

Nehemia betrek die koning by sy planne – 2:1-10

Ná die 4 maande se voorbereidende gebed en onderskeiding van die regte tyd vir optrede, kry Nehemia ’n opening met die koning wat hom vra waarom hy bedruk lyk. Die reël was dat niemand negatiewe emosies in die teenwoordigheid van die koning mag vertoon nie, só Nehemia was met reg bang vir wat die koning kon doen.

Nehemia se reaksie is besonder raak verwoord. Hy fokus op sy eie verbintenis aan Jerusalem – wat in puin lê en waarvan die poorte verbrand is – in term van sy voorvaders se grafte. Respek vir die dooies het die Perse ná aan die hart gelê. Die koning kon dus identifiseer met Nehemia se bedruktheid.

Let op hoe Nehemia steeds in gebedsafhanklikheid optree met ’n skietgebed wat hy na die Here opstuur, die eerste keer dat ons van só iets in die Bybel lees. Sy antwoord op die koning se vraag of daar iets is wat die koning vir hom kan doen, is duidelik vooraf beplan. Hy vra dus dat die koning hom sanksioneer om die stad te gaan herbou. Let op dat hy ook nie van die mure praat nie en ook nie die naam van die stad noem nie, want dit is juis wat Artaxerxes ’n tyd gelede geweier het weens die teenstand van die nie-Israeliete in Jerusalem (Esra 4). Die naam Jerusalem kon moontlik die koning herinner aan sy vorige optrede.

Die feit dat die koningin genoem word, beteken waarskynlik dat dié geleentheid ’n meer private een was en selfs dat sy Nehemia goedgesind was. Die volgende vraag van die koning wys in elk geval duidelik dat die koning Nehemia gaan ondersteun in sy planne. Nehemia smee die yster terwyl dit warm is en vra briewe aan die politici en staatsmasjinerie in die Judese gebied, sowel as aan die opsigter van die staatsbos sodat hy hout kan hê vir die herbou projek.

Die Here het Nehemia laat slaag – Hy “het sy goeie hand oor my gehou” – sodat die koning ook begeleidende offisiere en ruiters met hom saamstuur. Dit kontrasteer skerp met Esra se beskroomdheid om hulp van die koning te vra, omdat hy op die sorg van die Here alleen wou staatmaak. God eer egter albei leiers se afhanklikheid van Hom asook hulle manier van dinge doen.

Die teenstand teen dié onderneming word egter ook van die begin af deur Nehemia genotuleer, veral dié van die Samaritaanse goewerneur Sanballat (’n Goroniet van die dorpie Bet-Goron) en die Ammonitiese amptenaar Tobija. Later sal hy ook noem van die teenstand van die Arabiese leier, Gesem.

Nehemia verken die situasie en stel sy herbou planne in werking – 2:11-20

Soos Esra 3 dae lank gerus het by sy aankoms in die stad, doen Nehemia dit ook voordat hy die volgende nag stilletjies die situasie gaan verken met net ’n paar man wat saam met hom gaan. Hier hoor ons duidelik dat hy ’n roeping van die Here ontvang het om die stad se mure te herbou, hoewel hy dit nog met niemand gedeel het nie. Dit was nog ’n hartsaak vir hom.

Hulle ry al met die muur langs en doen ’n deeglike bestekopname. Die volgende dag spreek hy die leiers van die stad toe en kry hulle instemming om die muur van Jerusalem te herbou, nie net ter wille van veiligheid nie, maar sodat “dié vernedering nie langer op ons rus nie.” Hy motiveer hulle met die verhaal van God wat sy goeie hand oor hom gehou het, sowel as met wat die koning gesê het. Die leiers reageer baie positief en die werk begin.

Sanballat, Tobija en Gesem-hulle begin egter ook onmiddellik met hulle teenstand en probeer die leiers onseker maak deur Nehemia se aanspraak op die koning se ondersteuning verdag te maak. Sy antwoord aan hulle maak egter eerder gewag van die Here se ondersteuning in dié projek as dié van die koning, iets wat hulle in elk geval geweet het. Hy onderstreep ook aan hulle die feit dat hulle geen aandeel, reg of historiese band met Jerusalem het nie. Die Jode sal dus nie van stryk gebring word deur hulle teenstand nie.

PREEKVOORSTEL 1

(Heartline Preekreeks Nehemia: Peter Langerman)

Wat gebeur met ‘n gemeente/kerk met ‘n visie

Nehemia 2:1-6

Sonder ‘n visie sal die gemeente (verlore) (ver)gaan (kan die gemeente nie groei nie).

Die Woord van God is baie duidelik hieroor – as ons as Sy kinders nie nuwe (vars) openbarings of bekendmakings van Hom ontvang nie – maw as ons nie sy wil soek sodat ons kan uitvind wat Hy deur ons wil doen nie, sal ontelbare mense om ons verlore gaan. Ons, u en ek, moet ons oë op God gerig hou en op Hom fokus en op wat God deur ons wil doen, anders word ons selfsugtig en lui. Die kerk (gemeente) word ‘n verlengstuk van my: “Dit gaan goed met my, hierdie is my kerk en ek hou van die manier waarop dinge nog altyd verloop het.” Dit is presies wat gebeur wanneer ons nie nuwe visie van God ontvang nie. Ek dink nie God is baie gelukkig met so ‘n houding nie – eintlik dink ek dit veroorsaak dat God kwaad, maar ook hartseer word vir ons, sy kinders. Ek glo dat God sy kinders roep om kinders te wees wat kan hoor wat Hy van ons verlang en dat ons dit sal doen.

‘n Kerk met ‘n visie is ‘n kerk wat in die gemeenskap ‘n verskil kan maak vir die Koninkryk en so aan die wil van God gehoorsaam kan wees. Kom ons kyk wat gebeur as ‘n gemeente ‘n visie het. Visie begin by die leierskap in die gemeenskap, maar om ‘n verskil te maak moet dit ‘n gedeelde visie wees. Met ander woorde, elkeen wat hierdie sy huis noem moet verstaan waartoe God ons geroep het. Ons moet saamwerk en ontdek wat elkeen se bydrae is om hierdie visie ‘n werklikheid te maak. Wat God vir ons elkeen begeer is dat die visie deel van elkeen se hart en lewe sal word – sodat ons elkeen daarvoor sal bid en dit ons eie sal maak en daaraan sal deelneem.

Wat beteken ‘n visie vir ‘n kerk?

1. Visie vernuwe ons

Nehemia 2:4b

Nehemia het voor die aangesig van die Here gesoek na antwoorde en in hierdie soektog het God met hom gepraat. Ons leer hieruit dat Nehemia deur die hele proses voortdurend in gesprek met God was. Sodoende was God in staat om aan te toon en te bevestig wat hy aan koning Artasasta wou sê.

Wanneer ons werklik ernstig na God soek en aan Hom vra wat Hy wil hê ons moet doen en wat ons moet wees, sal Hy ons antwoord. Sodoende kry ons ‘n nuwe/vars openbaring van God oor wat Hy werklik wil hê ons met doen. Nie vyf of tien jaar die toekoms in nie – NOU!

2. ‘n Visie inspireer ons

Nehemia 2:8(b)

My God het sy goeie hand oor my gehou, en die koning het my versoek toegestaan.

U sien dat Nehemia grootliks geïnspireer was omdat hy geweet het God is saam met hom op hierdie avontuurlike reis. Hy was in staat om ernstig te volhard in sy versoeke – selfs op onbekende terrein by die Persiese koning. Onthou, die Jode was op hierdie stadium steeds in ballingskap en Nehemia het nie hier met ‘n ander Jood onderhandel nie, maar met sy gevangenemer.

Wanneer ons ‘n nuwe visie van God ontvang, gee dit aan ons ‘n groter gevoel van vennootskap met Hom in die uitbreiding van die Koninkryk. Ons word aangemoedig omdat ons weet Hy is saam met ons en dat dit sy wil is. Hy wil ons gebruik om groot dinge te doen.

3. ‘n Visie gee aan ons rigting

Nehemia 2:11

Om te doen wat hy voel die Here se wil is, het Nehemia geweet hy sal moet gereed maak en gaan na die plek waar die werk gedoen moet word. Wanneer hy eers in Jerusalem is, kan hy gaan ondersoek instel, opnames maak en planne maak vir die uitvoering van die visie.

As ons nie versigtig is nie, kan baie van wat ons doen, eintlik niks vir die Here beteken nie. As ons net besig is om in stand te hou, of ‘n verkeerde koers inslaan, voer ons nie die wil van God uit nie. Met visie verstaan ons waar die areas van behoefte in die gemeente is wat aangespreek moet word. Ons vind so uit watter opleiding ons as kinders van die Here nodig het. Ons kan dan programme in werking stel waardeur ons God se wil uitvoer. Net omdat iets twintig jaar gelede gewerk het, beteken dit nie dat dit steeds vandag sal werk nie. So kan iets wat twintig jaar gelede nie gewerk het nie, weer vandag baie suksesvol wees.

Ons moet egter weet waarheen ons oppad is sodat ons nie verdwaal nie. Dit is een ding om in ‘n onbekende plek te wees, maar steeds te weet waarheen jy op pad is, maar ‘n ander ding om presies te weet waar jy is, maar nie te weet waarheen jy op pad is nie.

4. Visie gee momentum

Nehemia 2:18

Nehemia het ‘n opname gemaak van alles wat God hom gewys het, ‘n perfekte visie geformuleer en dit met al die ander teenwoordig gedeel. Dit is wanneer almal verstaan wat God se wil is dat daar eenheid kom en momentum is. Die ander teenwoordig het dadelik gesê: “Kom ons begin…”

Wanneer ons saam bid en met mekaar deel oor die visie wat God ons gemeente gegee het, gebeur daar iets wat momentum gee. Eenheid. Dit was ‘n gemeenskaplike grond en toekoms wat hulle laat sê het “kom ons begin”. Eenheid is kragtig op spirituele gebied. Die eenheid hier ter sprake spruit voort uit die oortuiging dat wat God wil hê, belangriker is as wat ek wil hê. Dit is ‘n begrip vir en eienaarskap neem van God se visie vir hierdie stad/dorp.

Die kerk in Handelinge 2 het ‘n visie gehad wat vir God toegelaat het om die Heilige Gees oor hulle uit te stort, en die gevolge was verstommend.

God wil dieselfde met ons doen.

PREEKVOORSTEL 2

Inleiding: Fokus op die noodsaaklikheid van leierskap in ons land en gemeenskappe – veral leiers sonder titels.

Stel vervolgens die volgende sake aan die orde

Nehemia as ‘n onwaarskynlike leier (1:10). Hy is die skinker van die koning. Tog is hy juis goed geposisioneer.
Nehemia ‘n leier wat bid (1:4-10; 2:4 – skietgebed).
‘n Leier met visie (1:2-4; 2:4; 2:11)
‘n Leier wat inspireer (2:17-18) (“If you want to go quickly, go alone. If you want to go far, go together.” Afrika spreuk)
‘n Leier met “guts” (4; 5:1-12; 5:14; 6:15vv) (“Courage is contagious. When a brave man takes a stand, the spines of others are stiffened.” Billy Graham)
Kom ons bou saam! (Wys op praktiese maniere hoe ons ons land kan help opbou).

 

WEEK 8

Week 8: Die mag van die tong

Tema: Vere in die wind

Preekstudie – Jakobus 3:1-12

Beheersing van die tong

My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. 3Vir perde sit ons ‘n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ‘n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.  ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

PREEKSTUDIE

[Communitas Leesrooster 14 September 2003 (Dertiende Sondag in Koninkrykstyd)]

‘n Mens sou met Jakobus kon saamstem dat almal van ons dikwels struikel met woorde. En dink dat dit ‘n algemeen menslike kwaal is, iets wat verstaanbaar en daarom verskoonbaar is. Jakobus herinner ons egter daaraan hoe ‘n groot invloed die tong kan hê. Met twee metafore dui hy die positiewe rigtinggewende krag van woorde aan – soos ‘n stang in die bek van ‘n perd en soos die roer van ‘n boot – asook met ‘n derde negatiewe metafoor die destruktiewe krag van woorde – soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek.

Hy is eintlik meer bekommerd oor die laaste negatiewe tekening van die krag van woorde, omdat die tong “‘n wêreld van ongeregtigheid” is. Dit steek die hele lewensloop aan, soos “‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.” Dit kom veral na vore in die dubbelsinnige karakter van ons woorde: “Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.” Dít, sê Jakobus, kan tog nie. Dít hoort tog nie só nie.

Met vier verdere metafore wys hy die onhoudbaarheid van só ‘n manier van praat uit: ‘n fontein kan nie vars én bitter water gee nie, ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie, ‘n druiwestok kan nie vye dra nie, en ‘n brak fontein kan nie soet water gee nie. Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet koherensie wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen.

Dié vermaning is uiteraard op al die gelowiges van toepassing, maar veral op die leermeesters. Hulle sal nie net strenger geoordeel word in terme van die ooreenkoms tussen hulle woorde en dade nie, maar spesifiek ook aan die rigtinggewende of destruktiewe krag van hulle woorde. Daarom is só ‘n roeping nie iets wat ‘n mens aanvaar sonder om goed daaroor na te dink nie. Dit is nie almal beskore nie.

Teks

As oriëntering kan die inleidende opmerkinge aan die begin van hierdie reeks oor die Jakobusperikope sowel as Dirkie Smit se preekstudie oor dieselfde perikoop, in Woord teen die Lig III/1, nuttig wees.

Vers 1-2: Indien ons Robert Wall se driedeling van die brief na aanleiding van 1:19 in gedagte hou, dan het die voorafgaande gedeelte die klem laat val op “die gewillige oor”. Ja, dit is wat ‘n gemeenskap van wyse/verstandige mense is. Hulle wil graag luister. Volgens Jakobus is dit een van die uitstaande kenmerke van ‘n Christen. Christene is mense wat kan luister, wat graag wil luister. Om te luister, beteken om die ander ernstig te neem en werklik te wil hoor wat sy/hy wil sê. In alle kommunikasie is dit ‘n wins om eers behoorlik te luister voor jy self jou mening lug. Buitendien is dit is ook net goeie maniere!

Die tweede gedeelte van die brief, wat met hierdie perikoop begin, fokus volgens Wall op die deug “om nie te gou te praat nie”. Dit staan voorop in Jakobus se ernstige waarskuwing: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broers, want ons weet dat ons ‘n groter/strenger oordeel (krima) sal ontvang.” Leermeesters of leraars (didaskaloi) was en is een van die sleutel gawes van die verhoogde Christus aan sy kerk (Ef 4:11). Daarmee is geen probleem nie. Die probleem kom wanneer mense in die gemeente selfaangestelde leermeesters word; wanneer mense vol ywer navore kom en mekaar en ander wil leer (1Kor 14:18-26). Die waarskuwing gaan dus nie net oor diegene wat amptelik geroepe is tot die amp van leraar nie, maar ook oor die lerende taak van elke gelowige. Immers, die Hebreër skrywer verwyt juis die gelowiges dat hulle reeds in staat moes wees om mekaar te onderrig, maar geestelik nog so onvolwasse soos babatjies is (Heb 5:12).

Wie egter ‘n ander wil onderrig, moet rekening hou met die verantwoordelikheid wat dit meebring. Elkeen wat toetree tot die lerende bediening in die geloofsgemeenskap, moet weet dat hulle en hulle woorde streng beoordeel (krima) sal word. Die vertaling van die Amplified New Testament bring dit treffend uit: “Not many of you should become teachers (self-constituted censors and reprovers of others) my brothers, for you know that we (teachers) will be judged by a higher standard and with greater severity”. Hiervolgens is dit duidelik dat dit vir Jakobus om meer gaan as ‘n waarskuwing aan evangeliese yweraars. Daar is ook diegene wat vanuit ‘n beterweterige houding as “selfaangestelde sedesensors”(Calvyn) wil optree.

Wat die motiewe ookal mag wees, moet almal betrokke by die geloofsgesprek in die gemeente besef dat dit ‘n uitermate groot verantwoordelikheid is. Die rede vir Jakobus se huiwering en voorbehoud, is die feit dat “ons” so maklik “struikel en val en aanstoot gee”(Amplified) met ons woorde. Hy wys verder daarop dat as iemand nie met woorde struikel of aanstoot gee nie – nie die verkeerde ding sê nie – dan is so iemand ‘n volmaakte persoon, “by magte om ook die hele liggaam in toom te hou”(vers 2). Helaas ontbreek hierdie beheer oor wat mense praat – ook in die gemeente! Dit verklaar die sterk beklemtoonde plasing van die negatief “mê” in die openingswoorde van die gedeelte (vers 1). Jakobus sien in so ‘n houding ‘n groot gevaar vir die gemeente en waarsku baie duidelik daarteen.

Die apostel se waardeoordeel word egter nie gemaak vanuit ‘n posisie van meerderwaardigheid nie. Hy sien homself as solidêr met diegene wat hier tereggewys word. Daarom noem hy hulle “my broers” en praat hy ook nie van “julle”of “hulle” nie, maar van “ons”(verse 1, 2). Die verootmoedigende erkenning wat hiermee saamgaan, is dat niemand ‘n volmaakte mens (teleios anêr) is nie en dat as gevolg van dié onvermoë, die hele liggaam (holon to soma) soos ‘n perd sonder toom op loop sit. Hierdie ironiese teenstrydigheid word in sy volle skerpte saamgevat in Paulus se vraag aan die Jode: Jy wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie! (Rom 2:17-21)

Vers 3-5a: Ten einde die beheer oor die gebruik van woorde te verduidelik, vra Jakobus aandag vir twee beelde wat eintlik selfverduidelikend is. As ‘n mens ‘n perd wil beheer, moet jy ‘n stang in sy bek sit. Dit gee aan die een wat die toom in die hand het volle beheer oor die hele liggaam van die perd. Netso gee die klein roertjie aan die stuurman beheer oor ‘n skip wat deur sterk winde aangedryf word. Sowel die gespierde perd as die logge struktuur van ‘n skip kom so onder beheer van die een wat dit stuur, ondanks die feit van die ongelyke grootte. So is dit ook met die tong. Al is dit ‘n klein liggaamsdeeltjie oefen dit groot mag uit. Eintlik is die beeldspraak hier nie heeltemal gelyk nie. Die tong stuur nie fisies die menslike liggaam soos wat die stang met die perd en die roer met die skip doen nie. Verskeie verklaarders is gevolglik van mening dat “liggaam” (soma) dus hier nie op die fisiese menslike liggaam dui nie, maar wel op die geloofsgemeenskap. Die punt van vergelyking is dan die vermoë van die mikro deeltjie om die makro eenheid te beïnvloed en beheer oor die koers/rigting daarvan uit te oefen. Hiermee is sowel die positiewe as negatiewe invloed en vermoë van die tong, dus die woord/taal, aangedui. Dit kan sowel opbou as afbreek. Die volgende beeldspraak wil veral laasgenoemde verder toelig.

Vers 5b-8: Die beeld wat hier gebruik word is dié van ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot bos aan die brand kan steek. Almal is bekend met die angswekkende vernietigingskrag van bos- en veldbrande. Geen mens kan dit keer nie! Die tong is ook so ‘n vuur wat ontsaglike skade kan doen met die woorde wat gepraat word. Dit kan ‘n mens se totale lewe – van geboorte tot dood – verwoes. Die beeldspraak van die tong/woorde as vernietigende vuur, kom veelvuldig in die Bybel voor (vgl Ps 10:7; 39:1-3; 83:14-16; 120:2-4; Spr 16:27; 26:21; Jes 30:27).

Die uitleg van vers 6 stuit voor verskeie probleme, veral wat die afsonderlike betekenis van die verskillende samestellende dele betref. Pogings om die oorspronklike teks te “korrigeer”, het die probleem eerder vergroot. Die verband tussen die verskillende dele van die sin, kan die beste verstaan word as dit as ‘n retoriese stylfiguur geneem word, waarvolgens verskillende kwalifiseringe van die tong opgestapel word. Letterlik vertaal, lees die sin: Die tong is ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid; so is die tong geplaas tussen die ander lede, dit besmet (beklad) die hele liggaam, en steek die hele lewensloop aan die brand, en is aangesteek deur/uit die hel (Gehenna, Matt 5:22/3; 10:28 van Hebreeus “Hinnom” – dal van vernietiging). Jakobus het tot dusver ‘n sterk negatiewe beeld van die tong/woord se invloed geteken. In die betrokke vers het hy ‘n indrukwekkende samevatting daarvan gegee.

Die onbegryplike is nou dat die mens instaat was en is om “elke soort dier” te tem, onder beheer te kry, maar net die tong kon geen mens nog tem nie! Die tong bly onbeheerbaar. Die mens kan die gevaarlikste en sterkste dier inhok, maar die tong kry niemand ingehok nie. Die tong bly ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. ‘n Kenmerk van die mens wat onder die heerskappy van die sonde is, is dat sy tong ‘n vernietigende kwaad/gif in alle lewensverbande indra (Rom 3:13,14). Volgens Job 5:15 is die tong soos ‘n swaard en Psalm 140:4 waarsku: “Hulle tonge is so giftig soos slange, hulle woorde so venynig soos adders.”

Vers 9-12: Dit gaan vir Jakobus egter om meer as net die ontembaarheid van die tong. Die feit is dat die tong in die gemeente ‘n onhoudbare tweeslagtigheid indra. Dieselfde tong weet om God te prys (eulogoumen) en terselfdertyd die mens wat na die beeld van God gemaak is, te vloek (katarometha). Uit dieselfde mond kom seën en vloek. Eulogoumen beteken om mooi woorde van iemand te sê, iemand met woorde, as eerbewys, op te lig. Daarteenoor beteken katarometha om sleg te praat van iemand, iemand te beledig en te verkleineer. So ‘n teenstrydigheid is immers in die Christelike gemeente onaanvaarbaar. Dit is egter ook méér as net onaanvaarbaar. Dit is so onmoontlik en ondenkbaar soos ‘n fontein wat tegelyk vars en brak water laat opborrel. Net so min as wat ‘n vyeboom olywe kan dra of ‘n druiwestok vye, net so min kan ‘n brakfontein vars water gee! Die feit dat die mens egter met dieselfde mond woorde wat God prys en sy naaste vloek uitspreek, wys na ‘n dieperliggende probleem, ‘n innerlike gespletenheid. Daarmee is een van die diepste teenstrydighede in die lewe van Christene oopgeruk! Deur hulle onnadenkende optredes ontkoppel hulle die gebod om die naaste lief te hê, van die gebod om God lief te hê en slaan hulle die basis weg waarop die Christelike gemeenskap rus. Om dan teen dié agtergrond ‘leermeester’ te wil wees vir ander mense, grens aan growwe selfmisleiding en arrogansie. Wie egter hierdie wortelprobleem besef en biddend daaraan werk, sal vanselfsprekend “stadig (nie oorgretig!) wees om te praat”. En dit is wys!

Konteks

Jakobus stel met hierdie perikoop (afgeronde gedeelte uit die Bybel) ‘n lewensbelangrike saak vir menslike saambestaan, maar veral vir die gesonde ontwikkeling van Christelike geloofsgemeenskap aan die orde. Dit gaan naamlik oor die gebruik van woorde/taal as kommunikasiemiddel en die uitwerking wat dit het. Die apostel wil daarmee die verantwoordelike gebruik van woorde(die tong), veral binne die Christelike geloofs-gemeenskap, beklemtoon. Woorde het verreikende uitwerking en gelowiges moet deurlopend daarmee rekening hou!

Preekstudies wat geraadpleeg kon word, lê almal klem op die effek van woorde en op die belangrikheid om woorde deeglik te oorweeg. Enkele voorbeelde kan dit demonstreer. Friederich Wintzer vestig die aandag op: (i) Die selfveroordeling in die menslike redevoering (lofprysing én vervloeking); (ii) Menslike spreke as etiese probleem. Daar kort indringende etiese norme vir ons gebruik van woorde.

Helmut Gehrke rig sy preek op ‘n arbeider gemeenskap aan die rand van ‘n groot stad en beklemtoon: (i) Woorde het mag/krag wanneer dit die draer van liefde en haat is. Voorbeeld: Die kommunistiese manifes: Arbeiders van die wêreld het niks te verloor behalwe hulle kettings nie. Arbeiders van alle lande, verenig!; (ii) Daar is woorde wat vergiftig, almal gebruik dit. Voorbeeld: ironie, laster, skinder, klets, ens.; (iii) Ook ons as Christene haat. Voorbeeld: Skaduprojeksies, verdringde haat; (iv) Belydenis van eie haat maak regverdiging, verheerliking van God en omkering van haat in liefde, moontlik.

E L Smelik neem as tema: die taal, ‘n wêreld van ongeregtigheid of seën. Die preek fokus dan agtereenvolgens op die misbruik van taal en die seënryke mag van die taal en die tong.

Dirkie Smit volg in hoofsaak die gang van die perikoop en wys op Jakobus se oproep dat ons: (i) stadig moet wees om te praat omdat ons ons tonge nie kan beheer nie; (ii) Die probleem is meer as ‘n onskuldige tongglip – ons woorde is magtiger as onsself; (iii) Nog erger, die magswerking van die tong/woorde is dikwels ten kwade – dit vergiftig en vervloek; (iv) Ons woorde maak dit op allerlei maniere vir ander tot ‘n hel; (v) Die verskriklike is dat dit Christene is wat so maak – skokkende tweeslagtigheid.

Harold T Bryson se studie oor die hoofstuk, bied ook nuttige riglyne vir die prediking en kan dus ook oorweeg word. Hy gee as tema vir die perikoop: “A Course in Speech.” Dit behandel hy onder die volgende afdelings: (i) The tongue is powerful: The tongue has power to educate; The tongue has power to direct; The tongue has power to communicate; (ii) The tongue can be destructive: The tongue may be compared to a forest fire and to poison; The tongue may be a means to adorn evil; The tongue may pollute the entire being of a person; (iii) The tongue must be controlled: Complete control of the tongue is impossible; Control of the tongue is necessary because of dual possibilities; Control of the tongue comes as a result of a changed character.

PREEKVOORSTEL 1

Tema: Vere in die wind

Gebruik die metafoor van verwoestende veldbrande.

Jakobus se beeld is maar te goed aan ons bekend:

‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek (5).

Sy toepassing is ontstellend:

Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.

Die gevolge van praat

Video clip: https://www.youtube.com/watch?v=yyl1k8Txaq0 (Feathers in the wind)

Stadig om te praat

Jakobus sê ons moet stadig wees om te praat, want ons het dikwels nie beheer oor wat ons sê nie. Dit is so waar. Elkeen van ons het ervaring daarvan. Nie een persoon in hierdie kerkgebou het nie al iets gesê waaroor jy spyt gekry het nie.

Ek was onlangs in ‘n vergadering waar delikate goed bespreek is en is seker die meeste van die lede van die vergadering het na die tyd gewonder of hulle die regte ding gesê het. Het ek nie iemand seergemaak nie? Jakobus skryf dat die mens tot baie in staat is – alles het hy al getem, maar wat van die tong? Nie sommer nie.

Die krag van jou woorde

Omdat dit so ‘n algemeen menslike verskynsel is, kan ons maklik nou maar dink “so what”, almal maak foute, dit is nie so belangrik nie, dit is iets kleins en onbeduidends, almal struikel hieroor, dit is nie so erg nie.

Hier kom Jakobus se wekroep: Dit is nie so onbelangrik soos wat jy dink nie! Dit wat jy sê het ‘n magtige uitwerking! Dit het ‘n groot effek, ‘n groot invloed, groot gevolge.

Drie voorbeelde word gebruik om sy standpunt te begrond:

‘n sterk perd word deur ‘n klein stangetjie in die bek beheer;
‘n groot skip word deur ‘n klein roertjie gestuur;
‘n klein vuurhoutjie steek ‘n groot bos aan die brand!
So is die tong ook; klein en onbeduidend, maar magtig!

Daarom het ons hier met ‘n ernstige saak te make. As ons nie ons tong kan beteuel nie, word ons werktuie van die duiwel, ‘n instrument van Satan self. Jesus sê self in Matteus 15 dat dit nie is wat by die mond “ingaan” wat ons onrein maak nie, maar dit wat daar “uitgaan” besoedel ons. Dit word ‘n vonk wat verdere boosheid versprei, ‘n rustelose, onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Dít maak die lewe hel; vir ander en vir onsself.

Vuurmaak in die praktyk

Hoe gebeur dit? Hoe steek ons vure met ons woorde aan die brand?

Kom ons gee ‘n paar oomblikke van stilte waar jy terugdink aan jou eie woorde oor die afgelope weke. Dink aan situasies waar jy vuur gemaak het met jou woorde? Of waar jy vrede gemaak het. Wat het veroorsaak dat jy dinge gesê het wat jy nie moes nie? Wat het jou gehelp om die regte dinge te sê?

Vuurmaak met woorde gebeur onder andere waar ons kwaadspreek, skinder en stories vertel oor ander. Dan sê ons dikwels: “Ek skinder nie, want dis die waarheid.” Dit is ongelukkig nie die punt nie. Die punt is “liefdeloosheid”! Onthou die gesegde: “big minds discuss ideas, medium minds discuss events, small minds discuss people . . .”

Ons doen dit ook deur mense af te skryf en te veroordeel. Johannes Calvyn het gesê mense dink hulle kan vir hulleself “naam” maak deur ‘n ander se “naam” te beswadder! Ons doen dit deur te veralgemeen. Ja-nee alweer ‘n vrou! Tipies ‘n swarte (k-woord). Ons doen dit ook deur afbrekende kommunikasie, deur woede-uitbarstings, deur bitsigheid en verwyte. Ons sou talle voorbeelde kon noem van gesinne en huwelike wat hier ontspoor en mekaar emosioneel vernietig. Jou onderbewuste hoor jou geskinder en vat dit persoonlik op. Vandaar jou slegte gevoel op jou maag.

Waar ook van Christene

Die ergste van alles, sê Jakobus, is dat dit waar is van “Christene”; mense soos ek en jy. Mense wat bid en Bybel lees, kerk toe gaan en lofliedere sing. Met dieselfde mond loof en laster ons. Dis tog onmoontlik. Dit kan tog nie wees nie, roep Jakobus uit! En hy gebruik weer drie voorbeelde wat dit eenvoudig stel:

‘n fontein voorsien tog nie vars en brak water nie,
‘n vyeboom dra tog nie olywe nie, of
‘n druiwestok vye?
Waar dink u het ek hierdie “suurlemoen” gepluk? (wys suurlemoen). Aan die koejawelboom agter in ons tuin? “Dit kan nie wees nie.” sê Jakobus. Dit is “onnatuurlik” dat so iets sal gebeur. Net so onmoontlik en onnatuurlik is dit as Christene se woorde nie kom uit die bron van ‘n liefdevolle hart nie, ‘n hart wat die vrug van die Gees kultiveer!

Ingeboude termometer en termostaat

Richard Foster skryf dat die tong soos ‘n termometer is. Dit help jou om die geestelike temperatuur te meet. Aan jou woorde kan jy sien en hoor wat in jou binnekant aangaan, en daaraan aandag gee. Die tong is egter ook soos ‘n termostaat. Dit reguleer die temperatuur!

Op ‘n gesinskamp het ons eenkeer die fasiliteerder duidelik hoor sê: “Parents, watch your tongue – and your tone of voice.” Dit bepaal die temperatuur; die klimaat, die atmosfeer in jou huis. Weet ons nie hoe waar dit is nie. Ons kan dieselfde sê van ons werksplek, ons vergaderings, ons verhoudings.

Tongtemmer

Augustinus het opgemerk dat hier in vers 8 staan dat “geen mens” die tong kan tem nie. Dit beteken nie niemand kan nie. Daar is Iemand wat kan. Die goeie nuus is dat die Gees gekom het om ook ons tonge en woorde te gebruik om lewe te spreek, eerder as dood. Om heel te maak en lig te bring, eerder as donkerte.

Die donker wat binne-in ons opstaan en ons tonge oorneem om vuur te stig, moet genees word. Die bitterheid, naywer, jaloesie, haat, behae in ander se leed, selfverheffing, selfverontskuldiging en oneerlikheid in onsself moet weggeneem word.

Mens moet alles moontlik doen om hierdie genesing te ervaar. Vir baie van ons sal dit die moeilike pad van vergifnis van ander verg, die vermoë om jou eie sonde en tekortkominge raak te sien, vrede te maak met jou beperkinge, die lewe uit ‘n ander se perspektief te begin sien.

Dis belangrik, want net soos die tong kan vuurmaak, kan die tong ook genesing bring. Met die tong kan ons mense se hartseer verlig, ons kan bemoedig en nuwe lewensmoontlikhede oopmaak.

In ons kombuis hang ‘n bordjie waarop staan – woorde van waardering. Daarop los ons gereeld vir mekaar notas waardeur ons sê: dankie, ek waardeer jou, ek het raakgesien wat jy doen, ek is trots op jou. So probeer ons om die lewe vir mekaar lig te maak.

Woorde bring lig

‘n Dogtertjie lê alleen in haar kamer in die donker, sy moet slaap. Haar oppasser sit in die vertrek langsaan en lees, buite sig van die kind. Die dogtertjie roep: “Ek is bang vir die donker, praat asseblief met my.” “Jy kan my tog nie sien nie, hoe sal dit help as ek praat?” sê die oppasser. Maak nie saak nie, sê die kind, as jy met my praat, word dit lig.

Jakobus sê ons moet kies. Ons kan nie albei doen en lig en donker bring nie. So, maak jou keuse vandag en hou daarby. En onthou, Iemand sal jou help.

PREEKVOORSTEL 2

Ten einde die volle dinamiek van die gedeelte tot sy reg te laat kom, is dit verkieslik om sover moontlik die gang van die perikoop te volg. Dit kan dus waarde hê om die preek aan die hand van die perikoop te ontwikkel. Die volgende lyn sou gevolg kon word:

Jakobus spreek met hierdie perikoop ‘n wesenlike probleem in die nuutgevormde Christelike geloofsgemeenskap aan. Klein groepies Christene bevind hulle wydverspreid in die vreemde. Hulle is afgesny van die gereelde byeenkomste waar die apostels hulle in die Christelike geloof kon onderrig. Nou moet hulle terugval op wat elkeen kan onthou. In hulle samekomste speel die tipiese situasie af wat Paulus in 1Korintiërs 14:26 beskryf. Elkeen het ‘n bydrae om te lewer. Sommige sien selfs hierin ‘n goeie geleentheid om die posisie van geestelike leermeester van die gemeenskappie in te neem. Die probleem strek egter ook wyer. Gelowiges is gou om mekaar te wil leer. Jakobus bespeur in al hierdie pogings ‘n oorywerigheid wat nie rekening hou met die glibberige terrein van die tong/woord nie. Daarom waarsku hy die gelowiges teen die neiging om “almal leermeesters” te wil wees. In die eerste plek moet elkeen wat ‘n ander wil leer, weet dat leermeesters ‘n baie strenger toets moet deurgaan (sien eksegese v 1). Tweedens moet elkeen weet dat ‘n mens hier maklik “struikel en val en aanstoot gee” (eksegese v 2). ‘n Mens sou tereg na die plek waar die “leermeester” staan, kon wys as die gladste plek op aarde! En dit het alles te doen met die aard/vermoë van woorde!

Geen balanseer toertjie sal hier uithelp nie! Daar is niemand wat nie met woorde struikel nie! As iemand nie struikel nie, is sy/hy ‘n volmaakte mens! Die hele lewe is immers vol pynlike bewyse van hoe ons struikel, val en aanstoot gee met woorde. Seker van die mees verootmoedigende tekens hiervan vir die huidige Christelike gemeenskap, is die groeiende getal kerklike denominasies in die wêreld. Die amptelike syfer, ten spyte van alle ekumeniese pogings tot kerkvereniging, staan tans op 33 000. Sou dit die vrug wees van beterweterige leermeesters? Was en is hulle dan nie almal vertolkers van dieselfde evangelie van Jesus Christus nie?

Ons struikel op massiewe skaal met woorde. Ons struikel egter nie net nie. Ons is ook gewetenloos en doelbewus wreed met ons woorde. Ons weet goed dat dit ongeneesbaar kan verwond, selfs kan doodmaak. Daarvan getuig ‘n wêreld wat besaai lê met liggame wat van hulle lewe beroof is. Daarvan getuig die groeiende getal gebroke mense en menslike verhoudings, vyandskap wat oor geslagte heen aangeblaas word, verdeeldheid en polarisasie, geweldsdade en massale uitwissing van weerloses, karaktermoord deur swartsmeerdery, skinderveldtogte, verdagmakery, valse voorstellings, wanpersepsies. Wat ‘n wêreld is ons nie besig om met ons woorde te skep nie! Kennelik misgis ons ons liederlik met die oënskynlike onbeduidende formaat van die tong en die nietigheid van ‘n enkele woord. Een woord is reeds ‘n wêreldmag! ‘n Enkele woord kan die verloop van wêreldgebeure verander. Net een woord kan soos ‘n vonkie in ‘n kruitvat wees wat alles uitmekaar skiet! ‘n Klein vlammetjie steek ‘n hele bos, ja ‘n hele lewe, aan die brand. Ons tong, ons woorde, is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Die ironie is dat terwyl mense alle soorte diere aan hulle mag kan onderwerp, kry hulle dit nie reg met die tong nie. Saam met Jakobus moet ons erken: Geen mens kon nog daarin slaag om die tong finaal te tem nie! Ons woorde is magtiger as onsself.

Die diepste verleentheid en krisis vir die Christelike gemeenskap is die feit dat dieselfde tong wat God verheerlik en prys ook die mens wat na die beeld van God gemaak is, vloek (Vgl eksegese). Dieselfde tong aanbid en vloek, prys en verpletter! Is dit moontlik? Is dit denkbaar? Ons wil sê, nee! Nêrens in die natuur gebeur dit dat ‘n fontein tegelyk vars en brak water laat uitborrel nie. Nêrens in die natuur ruil plante vrugte om nie. Plante dra vrugte volgens hulle soort. Maar wat gaan dan aan met die mens dat sy woorde hierdie onnatuurlike tweeslagtigheid vertoon?

Jakobus gee nie hier daarop ‘n antwoord nie behalwe om te sê: “My broers, so moet dit nie wees nie.” Julle kan nie met dieselfde mond seën en vloek nie. Julle kan nie met dieselfde hart liefhê en haat nie. Hierdie teenstrydigheid slaan die basis waarop die bestaan van die Christelike geloofsgemeenskap rus, weg. Om te bely dat ons God liefhet, beteken tegelyk dat ons ook ons medemens moet liefhê. Dit verhef die naaste tot iemand van wie ek graag wil en kan leer. Dit keer die strewe om leermeester te wil wees volledig om! Die gelowige word ‘n gretige leerder, begerig om te luister en dus stadig om te praat. Daarom is dit begryplik en noodsaaklik dat Jakobus ook vir ons sê: Moenie baie leermeesters wees nie, geliefdes, want ons struikel almal dikwels en aanhoudend! Dink dus na voor jy praat! Net ‘n dwaas doen dit nie.

Bibliografie

Harold T Bryson 1985. How Faith works. Studies in the Letter of James; F W Grosheide 1950. Jakobus; F W Grosheide 1955. Hebreeën en Jakobus; L Goppelt 1978. Der Jakobusbrief – eine paränetische Theologie der Empirie in Theologie des Neuen Testaments; Ralph P Martin 1988. James Word Biblical Commentary; F Mussner 1975. Der Jakobusbrief. HTKzNT; P Prins/HA Wiersinga. Om het Goud des Geloofs. Over den Brief van Jakobus; Alexander Ross 1954. A Commentary on the Epistles of James and John. NICC; E L Smelik 1960. De Stiefapostel. De Brief van Jakobus. Prediking van het NT; E L Smelik 1956. Gevraagde Postille; D J Smit 1990. Jakobus 3:1-12 in WtL III/1; Robert W Wall 1997. Community of the Wise. The letter of James; F Wintzer/Helmut Gehrke 1970. Vergiftete Sprache Predigtstudien 19769/70, IV/2.

 

WEEK 7

Week 7: Betrokkenheid

Tema: Betrokkenheid

Preekstudie – Jakobus 1: 17-27

17 Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 18 Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het. 19 My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20 ‘n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21 Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red. 22 Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23 Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: 24 hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25 Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen. 26 As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27 Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

PREEKSTUDIE

(Leesrooster Communitas 31 Augustus 2003)

Inleiding tot die Jakobusperikope

1. Die Jakobusbrief word beskou as een van die oudste, indien nie die heel oudste nie, geskrif van die Nuwe Testament. Verskeie meen dat dit ontstaan het tussen die eerste vervolging van Christene na die steniging van Stefanus en Paulus se eerste sendingreise. Dit sou die aanhef van die brief verklaar, naamlik dat Jakobus skrywe aan die “twaalf stamme wat oor die wêreld verstrooi is”. Hierdie verwysing na die twaalf stamme dui egter nie op die fisiese Israel nie, want slegs twee stamme het uit die ballingskap teruggekeer. Dit gaan vir die skrywer oor die “nuwe Israel” wat uit Jode en ander nasies op grond van die verlossingswerk van Christus tot stand gekom het. Toe die vervolging teen die Christene losbars, was hulle genoodsaak om uit te wyk na die destydse Judea, Samaria, Siprus, Fenisië en Antiogië (Hand 8:1; 11:19). Hier het hulle in klein groepies gevestig. Losgeslaan van hulle tradisionele leierskap was die gemeenskappies soos skape sonder ‘n herder. Begryplik het dit die lugleegte geskep waarin baie gedink het dat die posisies van leierskap hulle toekom. Allerlei stryd, konflik, verwarring, valse lering en verdraaiing het ontstaan. Die dringende vraag was dié na die regte Christelike optrede ten opsigte van ‘n wye reeks praktiese sake. Jakobus het hierdie nood raakgesien en daarop gereageer met hierdie brief. Dit verklaar dan ook die oorwegend paranetiese aard van die brief. Dit wil waarsku, vermaan, aanmoedig en verseker.

2. Met besondere bedrewenheid gebruik Jakobus allerlei treffende voorbeelde en illustrasies om sy praktiese riglyne mee te verduidelik. Daar is talle voorbeelde uit die natuur, die sosiale lewe en die heilsgeskiedenis, met ander woorde uit die konteks van die eerste lesers. Deurgaans gaan dit daaroor om die gelowiges te help in die vind van die korrekte optrede in die gemeenskap van die gelowiges, in algemene situasies teenoor mekaar sowel as teenoor buitestanders. Dit wil gelowiges leer hoe geloof werk. Daarop is elke bemoediging, vermaning, waarskuwing, raadgewing en lering toegespits. Die Jakobusbrief is nog altyd van besondere aktualiteit beskou omdat daarin so konkreet ingegaan word op vrae van die daaglikse geloofslewe.

3. ‘n Kenmerk van die riglyne is die klem wat Jakobus lê op die invloed van die oënskynlik kleine, geringe, nietige. Dit moet te alle tye noukeurig in ag geneem word want dit kan onhanteerbare, oorweldigende, skrikwekkende gevolge hê. Praktiese Christenskap vra dus ons volle aandag vir en deeglike oorweging van die mikro deeltjie binne die makro geheel. Per slot van sake gaan dit oor die behoud van die geheel (holos), die volledige (teleios), die hele mens, die hele lewe!

4. Aangesien die Christelike lewe met baie beproewing, teenstand en vyandigheid gepaard gaan, lê Jakobus besondere klem op volharding. Volharding bevestig dat geloof lewenspraktyk geword het. Wie glo, kan nie anders nie!

5. Die besondere klem op geloof en doen, geloof en dade, het in die verlede aanleiding gegee tot allerlei misverstand rondom die Jakobusbrief. Dit is soms gesien as ‘n bewustelike weerlegging van Paulus se ononderhandelbare beklemtoning dat ons nie gered word deur werke nie maar deur “geloof alleen”. Jakobus lewer egter nie kommentaar op Paulus nie – immers Paulus se briewe het na Jakobus s’n gekom. Inteendeel, albei beklemtoon dieselfde saak, egter van verskillende kante. Terwyl Paulus vra na die weg tot verlossing, vra Jakobus na die weg vanuit die verlossing, met ander woorde na die verloste se lewenswyse.

6. Vanweë die paranetiese aard, het sommige die brief as ‘n saamstrengeling van los waarskuwings, vermanings en aanmoedigings beskou sonder ‘n sentrale saambindende tema. Robert Wall bied egter ‘n interessante perspektief aan in sy kommentaar met die titel The Community of the Wise. Hy beskou 1:19 as sleutelvers wat die saambindende tema kernagtig weergee: Christene moet gou wees om te luister, stadig om te praat en stadig om kwaad te word. Dit vorm die drie dele van die brief: (a) 1:22–2:26 handel oor die wysheid om eers goed te luister! Dit beteken om die ander te erken en selfs voordeel te gee; (b) 3:1–18 handel oor die wysheid om nie te gou te praat nie. Woorde het immers verreikende gevolge; (c) 4:1-5:6 stel dit ten slotte dat dit verstandig is om nie gou kwaad te word nie (Phil Robinson).

Teks

Algemene opmerkings

Jakobus het ‘n eie manier van argumenteer. Hoewel dit van ons logies-liniêre argumente verskil, is dit nie maar net ‘n opeenstapeling van los gedagtes nie. Kotzé se struktuuranalise van die teks toon oortuigend aan dat Jakobus sy brief met groot sorg geskryf het. Die perikoopindeling word gewoonlik vanaf vers 19 geneem. Kotzé se opskrif vir verse 19-27 is: “Egte godsdiens is om in die regte verhouding tot God en sy Woord te lewe.” Om die gedeelte vanaf vers 17 te lees, doen egter geen afbreuk nie – dit verbreed eerder die strekking. Die RCL gee nie aan 2:14-26 ‘n eie lesing nie (Sien by volgende Sondag se opmerkings.) Omdat die gedeelte ook nie by volgende Sondag tot sy reg kom nie, kan dit ernstig oorweeg word om dit saam met 1:17-27 te gebruik. Dit kan of as ‘n voorbeeld van die praktiese implikasies van Jakobus se oproep dien, of dit kan as “voorhou van die wet” gebruik word.

Enkele inhoudelike opmerkings

Die uitspraak in vers 17 dat God “nie verander of verduister nie”, handel nie eerstens oor “die onveranderlikheid van God” nie. Jakobus beklemtoon dat God altyd goeie gawes gee. God is die Vader (Skepper; Gewer) wat goeie gawes gee en hiervan wyk Hy nie af nie.

Volgens Kotzé vorm die “spreuk” wat in vers 19 gebruik word, ‘n drieledige opskrif: Stadig om kwaad te word (word in verse 20-21 behandel); gou om te luister (in verse 22-25), en; nie gou praat nie (in verse 26-27. Kyk ook na die indeling wat in die Inleiding tot Jakobus genoem word).

Die “kwaad word” van verse 19 en 20 word deur die ootmoedige aanneem van die Woord in vers 20 gekontrasteer. Hierdie aanneem van die Woord, word in vers 22 gevolg deur die doen daarvan. Jakobus se oproep is: hou op kwaad word, neem die Woord aan en doen dit!

Die kyk in die spieël (vers 23) is ‘n gewoon praktiese voorbeeld van iemand wat in die spieël kyk met die vraag, “wat moet ek doen sodat ek beter kan lyk?” (Met ander woorde, nie ‘n diepsinnige kyk asof iemand op soek is na ‘n dieper insig in sy/ haar eie persoon nie). Die beeld word deurgetrek na die inkyk in die woord in die volgende vers. Dat die Woord as spieël kan funksioneer, is geen vreemde gedagte nie.

Dit val op dat Jakobus in vers 25 van “wet” praat, terwyl hy tot hier toe van “woord” gepraat het. Hy beklemtoon dat dit die wet is wat vry maak. Dit moet nie as “wet” teenoor “evangelie” gesien word nie, maar eerder as die imperatiewe aspek van die evangelie.

Waardelose godsdiens (vers 26) is vir Jakobus die teenpool van egte of daad-godsdiens. Dit val op dat hy hierdie godsdiens nie met “niksdoen” beskryf nie, maar eerder met ‘n (onbeheerste) gepratery. Kyk in dié verband na sy waarskuwing teen gou praat en kwaad word (verse 19-20) en teen iemand wat nie sy tong in toom hou nie (vers 27). Jakobus kom verskeie kere in sy brief terug na die gedagte dat godsdiens waardeloos is as hulle nie hulle tonge in toom hou nie.

Jakobus se waarskuwing teen “besmetting” in verse 27, vra versigtige interpretasie. Dit word dikwels in terme van sedelike (=seksuele) onreinheid verstaan. Uit die Nuwe Vertaling kan dit maklik so verstaan word omdat in vers 21 van “sedelike vuilheid en ongeregtigheid” gepraat word. Dirkie Smit wys daarop dat Jakobus nêrens in sy brief oor sedelike onreinheid skryf nie. Volgens 4:1-10 het Jakobus dit wel duidelik teen selfsugtige begeertes, jaloesie en die “in die hande kry” van besittings. Wat Jakobus dus na aan die hart lê, is wat Smit “die suigkrag van die wêreld” noem: “Wat Jakobus wil besweer is hierdie suigkrag van die wêreld, van besittings, die rykdomme, die afguns, wat die onderlinge stryd in die gemeente veroorsaak, wat hulle innerlik en onderling uitmekaar skeur.” Wanneer die NAV in vers 21 vuilheid spesifiek “sedelik” noem, is dit meer as net vertaling van die teks, veral omdat sedelik in Afrikaans ‘n sterk seksuele betekenis dra.

Vir ware vroomheid is die direkte en nou verband tussen die bystaan van mense in nood en die vry bly van die suigkrag van die wêreld van vers 27 belangrik: “Ten einde die weduwees en die wese te kan bystaan, moet die gelowiges sorg dat hulle nie deur die wêreld besmet word nie. En omgekeerd: Indien hulle deur hierdie wêreldse selfsug en begeertes besmet word, sal hulle nie meer vry genoeg wees, beskikbaar genoeg wees om vir die noodlydende daar te wees nie” (D. Smit).

Jakobus praat twee keer van God as Vader (v 17 en 27 – daar is ‘n derde verwysing in 3:9). Die eerste keer noem hy God die Vader wat die hemelligte geskep het en goeie gawes gee; die tweede keer die Vader wat gedien word wanneer wees en weduwees gehelp word. Kotzé sê van laasgenoemde: “Die gebruik van die Vadernaam laat die voorbeeld van die vaderlose wees en weduwee in verdrukking des te skerper uitstaan. Egte godsdiens bestaan in ‘n liefdesbetoon wat ooreenstem met die Vaderskap van God.” In vers 18 is daar ook ‘n indirekte verwysing na God as ons Vader (of Moeder?) – Hy is die Een wat ons deur sy Woord tot die lewe gebring het.

Die uitdrukking “voor God” (v 27) is ‘n duidelike aansluiting by die Ou Testament. Dirkie Smit het in sy riglyne in “Woord teen die lig III/2”, breedvoerig oor die belangrikheid en die betekenis hiervan geskryf. (Hierdie studiestuk is die laaste een van die “Riglyne vir prediking oor die wandel met God” en vorm ‘n duidelike klimaks oor dié onderwerp). Ook vir Kotzé gaan dit in verse 19-27 oor die verhouding tot God en sy woord. Uit die voorafgaande twee opmerkings kan ‘n mens sê dat Jakobus in hierdie perikoop Teologies argumenteer. Sy oproep om daders van die woord te wees, om mense in hul nood te help en om dit coram Deo te doen, grond hy in God as Vader, wat vrylik goeie geskenke gee en wat juis ook die Vader is wat oor vaderlose mense besorg is.

Om saam te vat

Watter gedagtes staan sentraal in Jakobus se argument en watter gedagtes vorm ‘n onderdeel daarvan? Kotzé se opsomming van Jakobus se gedagtegang kan hiermee help: “God gee volmaakte gawes en skep ons deur sy Woord tot eerstelinge van sy skepping. Daar is drie belangrike sake vir elke gelowige: luister goed, praat min en vermy toorn. In plaas van toorn, moet daar die regte gesindheid teenoor God en sy ingeplante woord wees deur na hierdie woord, dit is die volmaakte wet van vryheid, te luister en dit te doen, want egte godsdiens is om die tong te beteuel en die behoeftige naaste te dien.” Hieruit word dit duidelik dat die deurlopende lyn die Woord van God is. Jakobus roep sy lesers op om die Woord van God te ontvang (luister!) en dit te doen (beoefen egte godsdiens voor God)!

Konteks

Op weg na ‘n preek kan met vrug oor die volgende vrae gedink word:

Wie is die “weeskinders en weduwees” in ons samelewing? Met ander woorde, wie is die mense onder ons wat as veronregtes of kantlyn-mense ons hulp nodig het? Hier moet ons versigtig wees om net “na-binne” te dink. Die vraag is nie alleen wie hierdie mense in die gemeente is nie, maar wie is hierdie mense in ons gemeenskap. In ‘n land waar apartheid ons gemeenskap in kompartemente verdeel het, moet ons doelbewus in terme van ons hele gemeenskap dink. In ‘n wêrelddeel waar MIV en Vigs geweldige afmetings aanneem, word hierdie vraag nog dringender. Die een aspek van hierdie pandemie wat mense in die hart gryp, is die “vigswesies”. Dieselfde mense kan egter koud en afsydig staan teenoor hulle (volwasse) medemense wat MIV-positief is. So word hierdie mense kantlyn-mense en ook veronregtes.

Wat sien ons in die spieël van Jakobus 1:17-27? Met ander woorde, wat ontdek ons in ons lewenswyse wanneer ons gekonfronteer word met hierdie ernstige oproep om meer as hoorders (en praters!) van die woord te wees? In die vroeë kerk is op Woensdag teen die sonde van ongeplaagdheid of apatie gewaarsku. Leon Fouché bied baie bruikbare insigte hieroor (Sewe). Hy beskryf ongeplaagdheid as “die sonde van ons tyd”. Ons word so deur die probleme in ons samelewing oorweldig, “dat nie net individue nie, maar ook die kerk of instansies of groepe mense begin dink hulle sal tog geen duik maak in die samelewing nie en uit moedeloosheid en ter wille van oorlewing onttrek hulle hulleself. Kortom: hulle emigreer innerlik en hou hulle nog besig met sake wat hulleself aangaan. So ‘n gees van mismoedigheid, van ag-dit-sal-tog-niks-help-nie, is geweldig aansteeklik en dodelik vir ‘n samelewing.” Op baie maniere dra die moderne lewe daartoe by dat ons met moeite by ander mense se probleme betrokke raak.

Wie luister na die preek? ‘n Oproep om ons Vader se liefde vir mense wat swaarkry prakties uit te leef, moet rekening hou met die mense wat Sondae na die Woord luister. Juis daarom is die “preek” hieronder voorlopig en vra dit om ‘n eie konkretisering.

Hoe kan ons hoopvol preek oor Jakobus se oproep om by die nood van mense betrokke te raak? (Hierdie vraag lyk vir my die belangrikste – en vind ek ook die moeilikste een). ‘n Preek wat mense net laat skuldig voel oor hulle onbetrokkenheid, het nie in die teks se doel geslaag nie. Die prediker sal getrou moet wees aan die manier waarop Jakobus sy oproep grond op wie God is en hoe wonderlik sy Woord is. Jakobus herinner sy lesers aan God wat as Vader net goeie gawes (vrylik) uitdeel, voordat hy hulle oproep om vaderlose mense by te staan. Vir menige hoorder mag die bystaan van mense in hulle nood na sware pligte klink. Daarom mag dit nie as ‘n wettiese oproep oorkom nie. Die gemeente moet eerder geïnspireer word om hulleself beskikbaar te stel om die liefde van Christus na ‘n medemens in nood te neem.

Verder sal ons ook kreatief moet wees in die praktiese implikasies van hierdie oproep. Fouché sien die regstelling van ongeplaagdheid in betrokkenheid en regverdigheid: “Juis omdat voorstanders van regverdigheid soek om vir almal ‘n billike ruimte te skep, oorskry dit ons neiging tot selfsug.” Daarom moet ons deelneem “aan die gesprek van menswees. Hiervoor moet ‘n mens hand en tand inklim in die kwessies van die dag, nie terugdeins vir die moeite van betrokke-wees nie, en jou nie van stryk laat bring …. nie.

Hoe lyk egte, daad-godsdiens wat mense in hulle nood bystaan? Aan die een kant sal dit ‘n persoonlike betrokkenheid by mense vra. Die liefde van Jesus kry gestalte wanneer hulp hande met ‘n gesig daarby het. Aan die ander kant is dit so dat hulp wat gesamentlik of georganiseerd aangebied is, meer uitrig. Dikwels word ons so deur die omvang van nood in die gemeenskap oorweldig, dat dit ons verlam. Betrokkenheid by georganiseerde hulp kan hierdie verlamming teenwerk.

Gelowiges en hulle besittings

‘n Bybelse metafoor wat ons met ons nadenke oor die Skrifgedeelte kan help, is “rentmeesterskap”. Rentmeesterskap beklemtoon dat God aan ons goeie gawes gee en dat ons as sy verteenwoordigers die roeping het om dit verantwoordelik en tot sy eer te bestuur. Dit sluit juis in dat gelowiges nie hulle besittings alleen maar tot hulle eie voordeel sal aanwend nie. God gee dit aan ons met die doel om in diens van sy Koninkryk gebruik te word. Gelowiges wat verstaan wat ons in die Bybel oor Rentmeesterskap leer, sal noodwendig ‘n groter sensitiwiteit hê vir die “suigkrag van die wêreld” waarteen Jakobus so ernstig waarsku , asook vir die onaanvaarbaarheid van uiterstes van rykdom en armoede – wat ook in hierdie brief aangespreek word. Wanneer gelowiges hulle roeping as rentmeesters verstaan, word hulle positief toegerus en ingestel om hulle geloof prakties uit te leef in die manier wat hulle hul geld en besittings ondergeskik aan God se Koninkryk hanteer. Jakobus se oproep om wees en weduwees in hulle nood voor God by te staan en “om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld”, is ‘n goeie beskrywing van wat rentmeesterskap prakties beteken (Uit die Belydenisskrifte: Nederlandse Geloofsbelydenis, Art 24; Heidelbergse Kategismus, Antw 64; Belydenis van Belhar, Art 4).

Preke

In “Woord teen die lig III/2” stel Dirkie Smit voor dat ‘n preek aan die gemeente moet verduidelik wat dit beteken om bewustelik “voor God” te lewe. Opsommend, skryf hy dat “die lewe coram Deo daarmee te make het dat die gelowiges God dien met hulle hele hart of siel (ervaring, emosie, gevoel, religieusiteit, rituele, kultus), met hul verstand (kennis, insig, denke, leer, teologie), en met al hulle kragte (etos, gedrag, praksis, navolging, gehoorsaamheid, moraal).” As jy oorweeg om hierdie weg te volg, doen dan asseblief moeite om self hierdie riglyne van Smit te lees.

In sy oordenking oor Jakobus 1:19-25 en 2:14-26 (“Wat sien ons in die spieël?”) gebruik Smit Kierkegaard se bekende gelykenis van die ganse wat Sondag na Sondag kom luister na die preke oor hoe om te vlieg, maar wat nooit so ver kom om dit te begin doen nie. Hy sluit ook aan by Bonhoeffer se klag dat ons God se genade goedkoop maak, wanneer ons nie ware dissipels van Jesus is nie: “Dit is die allerergste. Dit is die grootste bedreiging vir die Christelike kerk: dat ons nie agterkom hoe ver ons soms in gebreke bly om volgens die evangelie te leef nie.” Hy beskryf hierdie gebrek by die gemeente, om wat hulle glo uit te leef, as die diepste rede vir al die ander probleme wat hulle ervaar. Wat die uitleef van wat ons glo, prakties beteken, word in die verdere oordenkings in die res van die boek uitgespel.

PREEKVOORSTEL

Wie oor Jakobus se oproep om egte en suiwer godsdiens voor God te beoefen, wil preek, sal dit beslis met dieselfde ootmoed moet doen waarmee ons die Woord volgens vers 21 moet aanneem.

Wat het jy vanoggend in die spieël gesien? Miskien het jy die eerste keer geskrik toe jy die dik oë en deurmekaar hare as jou eie gesig herken het. Miskien het jy die laaste keer geglimlag toe jy vir jouself gesê het: nou kan jy maar kerk toe gaan.

Jakobus gebruik die beeld van iemand wat in ‘n spieël kyk. Hy volg dit op met die gedagte dat ‘n mens wat gelukkig wil wees, diep in die Woord moet inkyk. ‘n Mens kan die Woord met ‘n spieël vergelyk. Wie met ootmoed na die Woord luister, hoor nie alleen iets nie, hy of sy sien inderdaad iets. Jy sien jouself. Jy sien vuil kolle in jou lewe waarvan jy voorheen nie bewus was nie.

Wat sien ek en jy as ons in hierdie spieël kyk? Anders gestel: wat soek God by ons, wat verwag Hy, waaroor verheug Hy Hom? Wanneer beoefen ons egte diens aan Hom?

Jy kort nie ‘n spesiale bril nie, om te sien dat dit in hierdie gedeelte gaan oor gehoorsaamheid aan die Woord van God wat in praktiese dade uitdrukking vind. Voor hierdie Woord staan ons ontbloot as mense wat versuim, wat nalaat om Christus se liefde in ons daaglikse lewe uit te leef.

In die vroeë kerk is Christene elke dag van die week teen ‘n bepaalde sonde gewaarsku. Die sonde waarteen hulle Woensdae gewaarsku is, is die sonde van onbetrokkenheid. Apatie. Iemand sonder patos of gevoel, en daarom lusteloos. Dis mense wat weg staan van mense wat hulp nodig het. Hulle het geen gevoel vir mense wat deur die samelewing buite die kantlyn van die speelveld geskuif word nie. Jakobus het dit in hierdie Skrifgedeelte oor Woensdagmense.

Voor hierdie spieël moet ons stilstaan, want ons leef in ‘n tyd waar dit baie maklik is om Woensdagmense te wees. Dis goed om jou eie ding te doen en vir jouself te sorg. Elkeen vir homself, is kenmerkend van ons tydgees. Daarom hoor ons van mense wat om hulp roep en al wat gebeur, is mense wat nuuskierig naderstaan – niemand wil help nie. Daarom pla dit ons dikwels ook nie eers wanneer ons by iemand wat hulp soek, verbyloop nie.

In Jakobus se tyd was mense wat hulp gesoek het dikwels die weeskinders en die weduwees. Vandag het hulle ook ander name: Straatkinders, bedelaars, werkloses, bejaardes, enkelouers en baie meer. Die groep wat vinnig besig is om al meer te word en al nader aan ons te kom, is mense met MIV en Vigs. Mense vir wie ons bang is omdat ons dink hulle bedreig ons lewens en daarom stoot ons hulle van ons weg en uit ons gemeenskappe uit sodat hulle ons nie kan siek maak nie. Jakobus sê: egte godsdiens voor God is juis om by sulke mense te staan.

Hoe kan ons dit doen? Hoe doen ons dit in ‘n land met soveel armes, weeskinders, werkloses, bejaardes? Hierop is daar nie eenvoudige antwoorde nie. Ons het die wysheid nodig waarvan Jakobus later in sy brief skryf. Wat ons wel weet, is dat om by iemand in nood te staan, beteken dat ek en jy hom of haar in die oë sal moet kyk. Hierdie hulp het hande nodig en ‘n gesig – persoonlike betrokkenheid. Omdat ons egter so maklik oorweldig word wanneer ons dinge alleen probeer doen, is dit nodig dat gelowiges saam na maniere moet soek om ‘n verskil te maak. Hoe groter die nood, hoe dringender is dit dat ons gesamentlik betrokke raak.

Skrik jy vir wat jy in hierdie spieël sien? Voel jy dis te veel gevra, jy wil liewer van die spieël wegdraai en vergeet wat jy gesien het……? Maar wag, kyk nog ‘n keer in die spieël, daar is nog Iemand in die spieël.

Wanneer ons in die spieël van Jakobus 1:17-27 kyk, sien ons nie net onsself nie – ons sien Iemand wat agter ons, by ons staan. In hierdie Skrifgedeelte sien ons vir God. ‘n Baie belangrike waarheid waaraan Jakobus ons herinner, is dat ons voor God lewe. Godsdiens, sê Jakobus, is iets wat voor God gebeur. Dit geld natuurlik van ons hele lewe, want ook wanneer ons kwaad word en sondig, sê Jakobus, doen ons dit voor God. Hiermee sluit Jakobus aan by ‘n sentrale begrip van die Ou Testament: dat ons in die teenwoordigheid van die lewende God lewe. God kyk na ons en Hy sien ons raak. Jakobus herinner ons daaraan dat die God voor wie ons lewe, ons Vader is. Hy is die grote Skeppergod wat aan ons alleen maar goeie gawes gee. Dink maar net daaraan: Hy het aan ons sy Woord gegee en deur hierdie Woord gee Hy aan ons die lewe. Hy doen nog meer – alles wat ons ontvang, herinner ons aan sy seëninge. Onthou dan, sê Jakobus, hierdie vrygewige Vader is die Vader wat besorg is oor mense wat nie ‘n pa in die huis het nie. Daarom is dit vir Hom so belangrik dat sy kinders wat kan, mense in hulle nood sal bystaan.

Wat Woendagmense nodig het is om raak te sien dat die God voor wie ons in elk geval elke dag lewe, voor Wie ons ook op ‘n Woensdag lewe, juis die Vader is wat besorg is oor mense in nood, kantlyn mense, hulpelose mense. Om egte Godsdiens voor God te beoefen, om daders van die Woord te wees, om jou te verdiep in die volmaakte wet van God wat jou vry maak, is om ‘n gelukkige mens te wees, sê Jakobus. Soos so dikwels in sy brief, klink dit of Jakobus sy lesers doelbewus aan Jesus se woorde herinner, want dis mos Jesus wat gesê het: “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Mat 5:7).

Gelukkig is Woensdagmense wat geleer het om barmhartig te wees!

The cold within– ’n gedig deur James Patrick Kinney

Six humans trapped by happenstance in black and bitter cold.

Each one possessed a stick of wood, or so the story’s told.

Their dying fire in need of logs, the first man held his back,

for on the faces around the fire he noticed one was black.

The next man, looking across the way, saw one not of his church,

and couldn’t bring himself to give the fire his stick of birch.

The third man sat in tattered clothes. He gave his coat a hitch.

Why should he put his log in to warm the idle rich?

The rich man just sat back and thought of the wealth he had in store,

and how to keep what he had earned from the lazy, shiftless poor.

The black man’s face bespoke revenge as the fire passed out of sight;

for all he saw in his stick of wood was a chance to spite the white.

The last man of this forlorn group did naught except for gain.

Giving only to those who gave to him was how he played the game.

Their logs held tight in death’s still hands was proof of human sin.

They didn’t die from the cold without. They died from the cold within.

Bibliografie

Kotzé, P. Die brief van Jakobus; Dirkie Smit 1994. Wat sien jy in die spieël?; D J Smit 1991. In: Woord teen die lig III/2; Leon Fouché. Sewe. Jou kompas tussen lig en duisternis.

 

WEEK 6

Week 6: Gewonde genesers 

Filippense 2:5-11

Tema: Gewonde genesers

Preekstudie – Esegiël 34:11-15, 20-24

(Ekesegese: Leesrooster Communitas: 21 November 1999)

Esegiël 34:11-15, 20-24

11 So sê die Here my God: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien. 12 Soos ‘n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag. 13 Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring, hulle bymekaarmaak uit die ander lande en hulle bring na hulle land toe. Ek sal hulle versorg op die berge van Israel, in die klowe, in al die woonplekke in die land. 14 Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel. 15 Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God.

20 “Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek nou regverdig oordeel tussen die vet skape en die maeres. 21 Julle het die swakkes met julle lywe en skouers weggestoot en hulle met julle horings gestamp totdat julle hulle weggedryf het. 22 Maar Ek gaan my kleinvee red. Hulle sal nie meer uitgelewer wees as buit nie. Ek gaan regverdig oordeel tussen skaap en skaap. 23 Ek gaan vir hulle net een herder aanstel, en hy sal vir hulle sorg: my dienaar Dawid. Hy sal vir hulle sorg, hy sal vir hulle ‘n herder wees. 24 Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal oor hulle regeer. Ek, die Here, het dit gesê.

PREEKSTUDIE

Te midde van ervarings van verlies en verlatenheid kan ons weet dat die Here ons soos ‘n goeie herder versorg en rus en geborgenheid laat beleef.

Teks

Die teksverse vir hierdie week moet binne die geheel van Esegiël 34 beskou word. Eseg 34, ‘n hoofstuk waarin die beeld van die verhouding tussen herders en kleinvee sentraal funksioneer, val in drie dele uiteen:

– Die oordeel oor die vorige herders (verse 1-10)

– God as Herder by uitnemendheid (verse 11-24)

– Die kosmiese implikasies van God se versorging van die kleinvee (verse 25-31).

Die eerste 10 verse is ‘n harde oordeelswoord wat aan die herders van Israel gerig word, omdat hulle nie hulle herderstaak na behore uitvoer nie. Die swakkes en siekes word versaak en die afgedwaaldes word nie teruggebring nie. In plaas daarvan dat die herders die skape behoorlik versorg, buit hulle die skape uit. G’n wonder dat die kleinvee rigtingloos en verward is nie. Zimmerli wys daarop dat die herders van Israel op twee maniere hulle mag misbruik het: hulle het nie omgegee vir die swakkes, siekes of afgedwaaldes nie en hulle het bedwelmd geraak met hulle eie magslus. Die herders sorg dus vir hulleself en nie vir die vee nie. Daarom gaan die Here die herders straf en selfdie herder vir die kleinvee wees. Verse 11-24 vertel van die toegewyde en deernisvolle manier waarop die Here vir die volk ‘n herder sal wees, terwyl verse 24-31 weer wys op die verreikende kosmiese implikasie van God se sorg.

Die boek Esegiël is bekend vir sy oordeelsuitsprake. Die teks vir hierdie week is egter een van die aantal uitsprake (soos Eseg 36:1-15; 37:1-14) wat ‘n boodskap van hoop bring. Die hart van hierdie boodskap van hoop vind ‘n mens in vers 11 waar die Here sê: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.”

Die toegewyde versorging van die herder aan sy kleinvee dien as beeld vir God se verbintenis aan die volk te midde van hulle ervaring van verlies. Die agtergrond vir hierdie woorde hang duidelik met die ballingskap saam. Vir die verstrooide volk is dit ‘n donker tyd. Hulle land is hulle ontneem en hulle stad is geruïneer. In die vreemde land het hulle daagliks met die realiteite van wanhoop en onderdrukking te make. In só ‘n situasie is die gevaar dreigend dat die identiteit en roeping van die volk verswelg kan word deur dit wat hulle elke dag beleef. In hierdie moeilike tyd is daar vir die volk egter nie ‘n gebrek aan leiers nie, maar wel ‘n gebrek aan verantwoordelike leierskap. Dit is dié agtergrond waarteen ‘n mens Esegiël se boodskap van hernuwing, soos wat ‘n mens dit in sy hoopvolle uitsprake vind, moet interpreteer. Vir Esegiël moet daar ‘n nuwe Israel gebore word uit diegene wat so jammerlik na Babilonië as ballinge weggevoer is. In die proses is goeie leierskap uiteraard baie belangrik. Leierskap of koningskap (in spesifiek die tipe koningskap wat met die Dawid-dinastie geassosieer is) was nog altyd vir die volk belangrik vir hulle gevoel van identiteit en roeping. Die gedagte dat Dawid en sy afstammelinge oor Israel heers, het vir die volk die gevoel gegee dat hulle uitverkore is en dat die Here hulle seën. In die tyd van Esegiël is dié gedagte bedreig: die laaste aantal konings in die lyn van Dawid was nie baie gewild nie en hulle het afbreuk gedoen aan die manier waarop mense die gedagte van grootsheid met die koningskap in verband gebring het. Sedekia, die laaste koning wat op die troon in Jerusalem gesit het, het sy laaste dae in skande en vernedering deurgebring. Sulke herinneringe, tesame met die volk se huidige ervaring van swak leierskap, het die volk se wanhoop en visieloosheid versterk. In hierdie situasie bring Esegiël ‘n boodskap van hoop. Die profeet is dus bereid om te bly hoop, te midde van die seer en teleurstellings van die verlede. Brueggemann noem dit ‘n “responsible alternative tot the memory of hurt to the failed monarchy” (Israel’s Praise, 73).

Skrifverklaarders wys daarop dat geen beeld oor leierskap meer ingeprent in die populêre verbeelding was as die beeld van ‘n herder met sy kudde nie. Sommige voer dit terug na Mesopotamië in die vroeë jare van die tweede millennium voor Christus toe Babiloniese konings die beeld gebruik het om hulle leierskap te legitimeer (Clements). Ander (bv Blenkinsopp) wys daarop dat die herderbeeld reeds in die 3de millennium v.C. deur die Sumeriërs op konings en gode van toepassing gemaak is (vgl die herder-god Dumuzi). Hoe dit ook al sy, Esegiël sluit aan by die bekende beeld van leiers as herders en wys daarop dat Israel slegte herders gehad het (eksegete soos Allen en Blenkinsopp meen dat Jeremia 23:1-2 hiervoor as bron dien). Naas Esegiël se oordeel oor die slegte herder, wys hy ook heen na die toekoms wanneer die leiers op betroubare en regverdige wyse sal regeer. In verse 23 en 24 is daar die duidelike verwysing na die dienaar Dawid as die een herder wat deur die Here aangestel sal word. Dit wys iets van die versugting van ‘n leier wat weer met die grootsheid van die Dawid-dinastie verbind kan word.

In verse 11-16 (wat die sentrale deel van die lesing vir hierdie week uitmaak) sien ‘n mens hoe die Here beloof om self vir sy mense te sorg. God is dus nie ‘n anargis of ‘n rewolusionêr (Zimmerli) wat net oordeel, wegneem en afbreek nie. Die redding kom nie bloot deur die wegneem van die kwaad nie. God wys sy geregtigheid deur vir hulle te sorg. In hierdie verse sien ons hoekom Esegiël hoop kan bring: hy “sien”vir God. Hy het ‘n visie van ‘n God wat swakke mense nie los nie, maar juis toewyding en deernis teenoor hulle toon – dié Herder is anders as die volk se herders. Die deernisvolle versorging van die goddelike Herder is opvallend. Daar is ‘n sekere intimiteit en sagtheid in hierdie verse. Iets hiervan word deur die herhaling van eerste persoon voornaamwoorde teweeggebring:

“Ek sal self my kleinvee soek …” (vers 11)

“… so sal Ek omsien na my kleinvee…” (vers 12)

“Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring … Ek sal hulle versorg op die berge …” (vers 13)

“Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding… (vers 14)

“Ek sal self my kleinvee se herder wees… (vers 15)

“Ek sal die soek wat weggeraak het… (vers 16).

Duidelik hoor ‘n mens die toewyding van die Herder om self vir sy kudde te sorg. Hy red sy kudde nie net van uitbuiting nie, maar ook van tuisteloosheid en ongeborgenheid. Die verstrooide skape sal teruggebring word na hulle land waar hulle in vrede en veiligheid sal wei. Die taal van verse 11-16 herinner sterk aan Psalm 23. In dié psalm gaan dit ook oor die geborgenheid wat ten spyte van donker omstandighede beleef word, aangesien die goeie Herder teenwoordig is (vgl Ps 23 vers 4: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig).

Van die kudde wat met soveel deernis en toewyding versorg word, word egter ook geregtigheid verwag (vgl verse 17-22). Die “onderdane” moet ook waak teen ‘n miniatuurvorm van magslus – binne die kudde is daar ook weer sterkeres wat swakkeres kan uitbuit. God se oordeel rus ook op onderdruktes wat ander onderdruk. Die Here se geregtigheid is dus konsekwent – almal moet regverdigheid uitleef. Die oordeel rus op hulle wat die swakkes uitbuit en hulle pastorale taak teenoor hulle versaak (die verband met die profetiese rede oor die laaste oordeel in Matt 25:31-46 – een van die ander leesrooster-tekste vir die week – is duidelik herkenbaar).

In verse 23 en 24 (soos reeds genoem) word die hunkering na ‘n leier soos Dawid verwoord. Interessant genoeg word hierdie nuwe leier nie koning genoem nie (die profeet noem hom vors/ prins – nasi’). Wat die rede hiervoor is, is nie seker nie. Dalk was dit bloot polities, uit sensitiwiteit vir die Babiloniese maghebbers. Sommige meen weer dat daar ‘n dieper teologiese rede is: hy sal nie heers soos die tipiese Nabye-oosterse monarg nie, maar as God se kneg. Dit gaan dus nie oor ‘n misbruik van mag nie, maar oor ondergeskiktheid en verantwoordelikheid aan die Here. As die Here se kneg en verteenwoordiger sal die nuwe herder-koning die genadige dade van die Here verrig.

PREEKVOORSTEL:Gewonde genesers van die Herderkoning

1. Ons lees in Matteus 9 dat Jesus mense innig jammer gekry het. Hoekom? “Want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie” (9:36). Hulle was uitgelewer soos skape sonder ’n herder wat omgee. Dis min of meer wat in Esegiël 34 in die hart van God aangaan. Hierdie skape van sy volk is swak/siek, maar het geen dokter nie. Hulle het seergekry, maar het niemand wat hulle kan versorg nie. Hulle het afgedwaal, maar niemand het hulle teruggebring nie. Hulle het weggeraak, maar niemand het hulle gesoek nie (34:4).

Daar is baie sulke mense. Karl Barth verwys na hulle as die “naamlose mense”. Hulle is anoniem. Dis die mense wat nommers geword het. En niemand gee om dat dit gebeur het nie. Dis die mense in wie niemand belangstel nie. Dis die mense wat verdwyn onder die mag van oorheersers. Dit is die mens soos Lasarus by die deur van die ryk man se huis. Dis die tollenaar op wie die godsdienstige mense neersien. Dis die vigs-mens wat deur almal vermy word omdat hy “die siekte” het. Dis die man wat moed verloor het omdat hy voel dat die kerk se deure nie meer vir hom oop is nie. Dis die mens wat uiters ongelukkig is, omdat hulle eensaam geword het. Dis die persoon wat koers verloor het op die lewenspad en dink dat geluk in besittings, posisies, titels en voorspoed gevind word. Dis die ou mens in die tehuis vir senior burgers wat niemand het wat hom/haar besoek nie. Dis die man of vrou in die tronk wat deur sy familie en die kerkmense verag word. Dis die mens wat probeer om die brokstukke van sy lewe op te tel, maar konstant hoor dat hy of sy nie goed genoeg is nie.

2. Hoekom is mense verlore, seer, siek, swak en ver weg? Esegiël maak geen geheim van die skuldiges nie. Dis die leiers se skuld – die slegte, bose herders. Dis die mense wat moes omgee vir die skape. Of, om Jesus se woorde aan Petrus te gebruik, mense wat nie die skape opgepas en die lammers laat wei het nie (Joh 21:15 ev). Leierskap wat moes dien, het leierskap geword wat heers. In die preek kan na die eerste paar verse van Esegiël 34 verwys word.

Die donkerste prentjie is egter dat dit nie net by die leiers gebly het nie. Daar was ook ’n tweede groep mense wat nie meer omgegee het nie. Selfs na die donker dag van God se oordeel, toe Jerusalem geval het (34:11), het die gewone mense in die volk mekaar begin seermaak. Die wat geld en mag gehad het, het net vir hulleself omgegee. Hulle het hulleself as middelpunt van alles gesien. Die gewondes en swakkes het nog seerder onder hulle medemense gekry. In die preek kan die illustrasie van die “house of pain” onder “konteks” gebruik word.

Mag maak mense korrup. Absolute mag maak mense absoluut korrup. In ons diepste wese wil ons heers, nie dien nie. Uiteraard ly mense onder onmenslike politieke leiers, onder ’n dominerende departementshoof of des-potiese besturende direkteur. Mense ly egter ook onder godsdienstige leiers. Die pyn wat mense in die kerk opdoen, is geweldig. Die magsmisbruik deur leraars en ouderlinge laat mense wegraak en wegloop en veroor-saak wonde wat moeilik genees. Die probleem lê ook op ’n ander vlak. Die teenoorgestelde van liefde is nie haat nie, maar apatie. Die apatie van godsdienstige leiers, ouderlinge, diakens, leraars, christene oor die algemeen, om om te gee vir hulle wat verlore geraak het, hulle te soek wat weggeraak het, hulle te vertroos wat siek en verwond is, plaas ons in die kategorie van slegte en bose herders. In Esegiël 33:1-9 word leiers ook met iemand in ’n wagtoring vergelyk wat mense moet waarsku wanneer die vyand aankom. Ons bely dikwels ons sonde van woorde en dade en voeg by “en van versuim”, maar is nie te ernstig daaroor nie. Waarna Esegiël 34 verwys, is nie net aktiewe sonde nie, maar ook die passiewe sonde van versuim. En voordat ons te maklik vingers wys, mag ons dalk vra hoe dit met ons ander herderposisies gaan: ouers vir kinders, onderwysers vir leerders, politici vir burgers, navorsers en wetenskaplikes vir mense, dokters vir pasiënte, nyweraars vir die skepping. Ons is almal herders. Wat doen ons? Stoot ons mekaar met ons elmboë weg van die geleenthede, omdat dit net oor onsself gaan? Wat sal die Opperherder se oordeel oor ons wees? Wanneer ons hierin faal, is die gevolge duidelik: gewonde, verlore, siek en swak mense (34:4).

3. Mense staan dikwels in God se pad. Mense vernietig en verstrooi. Dis die geskiedenis van die mensdom. God kan dit nie vat nie. Hy gryp in. Hy sien raak wanneer ’n gemeenskap uitmekaar val omdat leiers en vriende, naastes en kerkmense, ouers en vriende mekaar kwaad aandoen. Dis wat Esegiël aankondig. Genoeg van die gemors! Genoeg pyn! Ek sal oordeel oor hulle wat dit aan ander doen, maar meer nog: Ek sal self ’n Herder word. Vers 16 staan in direkte teenstelling met vers 4. God begin weer. Daar waar menslike herders ons verwond het, sê hierdie herder dat hy wonde sal verbind. Daar waar menslike herders nie omgegee het dat mense hulle eie pad loop nie, gaan hierdie herder die mense wat weggeraak het soek en terugbring. Waar eensames, siekes en swakkes deur menslike herders in die steek gelaat is, sal Hy omgee. Hulle wat in die donker van hulle omstandighede (34:12) wil ingee onder die las, sal gedra word. Die Here se belofte in 34:11-16 praat van ’n algehele verandering van mense se omstandighede. Soos Hy die volk destyds uit die ellende van Egipte gered het, sal Hy nou weer doen. Soos Hy hulle versorg het en in die land van rus gebring het, sal Hy weer doen. Hulle sal ontdek dat Hy hulle God is en dat hulle sy mense is. Die Here gaan egter verder. Hy sal dit deur iemand doen. Dit sal sy “prins”, “leier”, “dienaar” wees. Hierdie keer sal die mishandeling vervang word deur geregtigheid, want die een wat namens die God van Israel sal heers, sal in absolute getrouheid en diens aan Hom regeer. Die redding wat Hy sal bring, sal weer aan mense lewens-ruimte gee. Hulle sal weer kan asemhaal.

4. Die hoop van Israel vind sy volmaakte vervulling in Christus, die Herderkoning. Hy wat die volmaakte wese van God vir ons kom wys, wys aan ons die hart van God as barmhartige, dienaar-leier. Hy is die ewebeeld van die wese van die barmhartige God. Soos sy Vader, sien Hy die nood van sy mense raak. Hy kry hulle innig jammer. Met geregtigheid gee Hy om vir die mense op die rand van die samelewing. Hy soek hulle wat weggeraak het. Jesus sê self dat Hy gekom het om te soek en te red wat verlore is (Luk 19:10). Soos ’n vrou ’n verlore sent soek en ’n herder een skaap van honderd soek, soos ’n pa wat wag op ’n terugkerende kind, so is hierdie Herderkoning. Jesus sê self dat Hy vir die verlore skape van Israel gekom het (Matt 15:24). Die goeie Herder gee lewe in oorvloed aan al die gewonde mense van ons samelewing (Joh 10). Inderdaad, Hy het gekom om te soek en te red wat verlore is!

5. Ons kan getuig dat ons deur die Here gesoek en gevind is. As gewonde mense wat deur hierdie Here genees word, wat deur Hom ’n nuwe toekoms ontvang – die lewe in oorvloed beleef wat die goeie Herder belowe (Joh 10) – word ons mense van sy geregtigheid. Immers, ons word elke dag deur die Gees van die lewende Herder na die beeld van ons Skepper gevorm (Kol 3:10,11). Daarom skep ons lewensruimte vir hulle wat versmoor word deur ongeregtigheid. As leiers in die kerk pas ons die kudde van God wat aan ons toevertrou is, goed op. Ons hou toesig oor hulle, “nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ’n voorbeeld vir die kudde te wees. En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onver-ganklike kroon ontvang” (1 Pet 5:1-4). Wanneer die Opperherder dan die verdeling tussen skape en bokke doen, sal die gewonde genesers, ons, as mense van geregtigheid gereken word. Immers, ons is deur die Vader geseën van alle ewigheid af, en daarom is ons mense van geregtigheid wat aan die geringstes God se barmhartigheid getoon het (Matt 25:31-46). As bevryde mense het ons die gevangenes besoek. As mense wat versorg is, het ons die honger en dors mense versorg. As mense wat klere het, het ons klere aan hulle gegee wat niks het nie. As mense wat dakke oor ons kop het, het ons omgegee vir die daklose mense. As mense wat deur God gesoek en gevind is, het ons na die verlore skape gaan soek (Matt 18). So laat ons die Here se skape wei. So pas ons sy lammers op. So wys ons dat Christus die Herderkoning is.

 

WEEK 5

Week 5: Selfopoffering

Filippense 2:5-11

Tema: Selfopoffering

Preekstudie – FILIPPENSE 2:5-11

(Ekesegese: Leesrooster Communitas: 24 MAART 2013)

Filippense 2:5-11

Die voorbeeld van Jesus Christus

5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:  6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,  7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.  En toe Hy as mens verskyn het,  8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aardeen onder die aarde is, die knie sou buig, 11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!”tot eer van God die Vader.

PREEKSTUDIE

Hierdie is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi. Dit is ‘n teks waaroor ‘n mens nooit uitgepraat kan raak nie, en oor en oor moet lees en oor moet nadink, tot dit deel raak van die praktyk van jou lewe.

Jesus ontledig Homself en word deur God verhoog

Die lied in Fil. 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11). In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf. Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis. Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ’n Naam bo elke naam, en derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.

Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie alhoewel. “Alhoewel Hy in die gestalte van God was …” Dit kan egter ook vertaal word met omdat. “Omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder (ekenôsen) deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Hierdie antieke lied is daarom nie net ’n nuwe perspektief op wie Jesus is nie. Dit is ’n nuwe verstaan van God self. Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie. Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ’n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (Gorman, Inhabiting the cruciform God)! Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie – “not getting but giving” (Moule). Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet.

Dieselfde gesindheid van selfontlediging moet ook in ons wees

Daar is ’n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh 13:3-17: 1) Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig; 2) voete gewas soos ’n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword; 3) Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef; 4) Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is. Dit lyk nie asof dit toevallig is nie, veral weens die feit dat Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê, net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê. NBNB Voetewas is dus ’n praktiese metafoor waarmee ’n mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.

Ligdraers in die wêreld

Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (1:27-2:2) – deur veral aan ander se belange te dink (2:3-4) – op in Fil 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (2:6-11). En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt 5:14). Hy beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee. Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ’n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ’n drankoffer is wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).

“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” is die NAV se poging om vers 12 se Griekse oorspronklike te vertaal, wat letterlik lui: “met vrees en bewing moet julle jul heil/verlossing/saligheid uitwerk”. Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie. Dit sou op ’n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees. Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas. Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”. Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl veral Fil 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne). Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak. Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl Petrus in Joh 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het).

Ander se belange is Jesus Christus se belange

’n Mens kry in die volgende perikoop ’n kykie in die diep-persoonlike verhouding wat Paulus met hierdie gemeente gehad het. Hulle belange staan regtig voorop in sy gedagte. Daarom wil hy vir Timoteus (Fil 2:19) na hulle toe stuur – Paulus het hom ook na Korinte (1 Kor 4:17) en Tessalonika (1 Tess 3:2) gestuur – iemand wat hulle van die begin van hulle geloofspad af ken, om te hoor hoe dit met hulle gaan. Hy wil ook vir Epafroditos (2:25 – “julle apostolos” [apostel/gestuurde/boodskapper] staan daar in die oorspronklike Grieks) – wat namens hulle vir Paulus kom bystaan het – na hulle toe terug stuur, om hulle kommer oor Epafroditos se siekte (hy is intussen genees) asook sy groeiende verlange huis toe te verlig. Trouens, Paulus sou self graag by hulle wil uitkom (2:24). Let op hoe hy hiermee vir hulle ook drie verdere voorbeelde gee (Timoteus, Epafroditos en hyself) van hoe hulle self teenoor mekaar moet optree, presies soos hy in vroeër in die hoofstuk geskrywe het: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (2:4). Dit sluit die onderlinge gasvryheid in, asook die agting vir geestelike leiers (2:29), in ’n netwerk van onderlinge diens. Let ook op hoe hierdie tipe omgee ten diepste illustreer watter prioriteit ’n mens aan die belange van Jesus Christus gee, in Wie hierdie gesindheid die allerbeste geïllustreer is (2:6-11). Deur aan ander se belange te dink, is ’n mens inderdaad besig om Jesus se belange te dien. Anders gestel: Jesus kom na ons in die gedaante van “die ander”!

Ons hele lewe word “in die Here Jesus” geleef

Paulus werk hier met ’n baie belangrike beginsel in sy beplanning en bediening: “Ek hoop/vertrou in die Here Jesus …” (Fil 2:19, 24 – ongelukkig voorwaardelik vertaal in die NAV: “as die Here Jesus wil”). Om te hoop of te vertrou in die Here beteken nie dieselfde as om onnadenkend iets ondergeskik te maak aan die Here se wil, of soos ons soms met die gesegde DV (Deo Volente) uitdruk nie. “In die Here” beteken dat Paulus doelbewus wat hy doen “in verhouding met die Here Jesus” doen. Of dit nou iets is waarop hy hoop (elpizô in Fil 2:19 – vgl ook Fil 1:23), of iets waarop hy met meer sekerheid vertrou (peithô in Fil 2:24 – vgl ook hierdie Griekse woord se ander voorkomste en vertalings in hierdie brief: Fil 1:6 [oortuig], 14 [vertroue] 25 [oortuig]; 3:3 [vertrou], 4 [vertrou] – sien ook 2 Tes 3:4: “In die Here het ons vertroue in julle …”), dit geskied in verhouding met die Here. Dit is om doelbewus die Heerskappy van Jesus te soek en aanvaar, presies dit wat in die tweede helfte van die gedeelte oor Jesus se selfontlediging en verheerliking in Fil 2:6-11 verklaar is. Dit herinner ’n mens aan die 17de eeuse boekie The Practice of The Presence of God[1] waarin briewe van en ook ’n paar gesprekke met Nicholas Herman – wat die naam Brother Lawrence gekry het in ‘n klooster in Parys waar hy as kok gewerk het – deur Joseph de Beaufort opgeteken is. Nicholas het ’n direkte benadering tot die geestelike lewe beoefen en hom dit ten doel gestel om alles wat hy doen en dink “in die Here” en “vir die Here” te doen en dink. Paulus het hierdie beginsel op ’n harde manier geleer op sy tweede sendingreis, net voor hy die roeping na Europa ontvang het wat tot die stigting van die gemeente van Filippi gelei het (Hand 16:6-9). Die Gees van Jesus het Paulus twee keer verhinder om sy eie kop in die bediening te volg, voor hulle (almal was betrokke!) deur die gesig van die Masedoniese man oortuig is om die evangelie in Europa te verkondig. En dié direkte benadering het nie net sy eie lewe daarna bepaal nie, maar ook die praktiese geestelike lewe wat hy aan die gemeentes voorgehou en voorgeleef het. Dit is ook waarom ’n onderskeidende lewe vir hom so belangrik was, soos ons in Fil 1:9-10 gesien het.

PREEKVOORSTEL (Danie Mouton)

‘n Bejaarde egpaar het saam in ‘n tuiste vir bejaardes gewoon. Hoewel hulle reeds vir 60 jaar getroud was, is hulle huwelik deurspek met konstante argumente, ernstige verskille, en bekgevegte. Selfs toe hulle na die tuiste vir seniors is, het die argumentasie nie opgehou nie. Die egpaar het – van hulle soggens opstaan tot slaaptyd saans – gestry, geredeneer en mekaar kapittel.

Die matrone kon dit nie meer vat nie. Sy dreig toe om die egpaar op straat uit te sit as hulle nie drasties verander nie. Selfs toe kon die twee nie ooreenkom wat hulle te doen staan nie.

Op die ou end sê die een toe vir die ander: “Sê jou wat, kom ons bid dat een van ons sterf. Sodra jou begrafnis dan agter die rug is, sal ek by my suster gaan bly.”

Verstommende selfgerigtheid

Die menslike vermoë om jouself in die sentrum van die heelal te plaas, is verstommend. Van kleins af word ons groot gemaak om te dink die wêreld draai om ons. Dis ek, my belange, begeertes, ideale, wat die wêreld laat draai. My vooruitgang, sekuriteit, loopbaan en geluk is waaroor dit gaan.

Dit is nog altyd so. Dink aan Abraham en Lot wie se weë in Genesis 13 skei omdat hulle vee te veel raak en die veewagters onderling stry. Lot kyk rond en sien die vrugbare Jordaanstreek. “Dus,” sê die oorspronklike Hebreeuse teks, “het Lot die hele Jordaanstreek vir homself gekies…” (Gen. 13:11).

Dit is die menslike kondisie. Soos die twee bejaardes: een van ons moet sterf. Na jou begrafnis, sal ek ….

As selfgerigtheid en die soek van eie belange gewerk het, sou mens nog iets ten gunste daarvan kon sê. Die menslike geskiedenis is vol voorbeelde dat dit nie werk nie. God se wêreld is so aanmekaar gesit, dat mense wat op hulself en hulle eie vooruitgang fokus, juis ondergaan. Dit skep “poor little rich girls.” Dit plaas jou in kompetisie en wedywering met ander, wat van jou ‘n genadelose, harde mense maak.

Les misérables

So ‘n selfgerigte lewe maak mens miserabel en stort jou in die diepste ellende denkbaar. Dink aan die uitstekende film, Les Misérables, waar die geharde polisieman, Javert, sy lewe daaraan wy om Jean Valjean te vervolg. Wanneer Javert uiteindelik genade ontvang, kan hy nie daarmee saamleef nie, en kies om – spreekwoordelik – in sy eie swaard te val.

Geluk is om – soos Jean Valjean – te kies om selfopofferend goed aan ander te doen. Hy kies om vir die fabriekswerker, Fantine, se dogter, Cosette, te sorg. Dit verg opoffering en stel hom aan gevaar bloot, maar ontsluit die weg na geluk en vrede.

Grafika- Titel: Les Misérables, eiendom van Sebastián Losada en beskikbaar by http://www.flickr.com/photos/slosada/8529207972/.

Kopiereg gereël deur Creative Commons en laat plasing en redigering toe.

Kan ons verander?

Is dit moontlik om verander te word van ‘n selfgerigte mens na iemand wat omgee vir ander? Kan ons gered word uit die menslike kondisie waarvolgens ons bloot vir onsself leef en op die ou end net kan oorleef as ons ander dood wens? Eers as die ander een sterf, en die begrafnis afgehandel is, kan die lewe weer voortgaan?

Kan ons bevry word van ‘n lewe waar ons gedoen is om die ander, die medemens, as ‘n opponent te sien wat uit die weg geruim word, voordat ek gelukkig kan wees? Kan ons gered word van pogings om altyd ander mense te gebruik om onsself te bevoordeel? Want die lewe draai om my….

Onthou Jesus

Paulus herinner ons in ons teks aan Jesus Christus. Hy haal in Filippense 2:5-11 ‘n vroeë lied oor Christus aan wat handel oor die Godgelyke en mensgeworde Christus. Hy dring dan by ons aan om Jesus se voorbeeld te volg.

Daar is ‘n verskil tussen ons en Jesus. Ons kan nie – en hoef nie – soos Christus vir die sonde te lei en versoening voor God te bewerk nie. Ons is nie geroep om die dood te oorwin nie. Ons ontvang hierdie dinge as gawe in Christus.

Maar Jesus vernuwe ons, en bemagtig ons deur sy Woord en Gees. Daarom word ons geroep en bemagtig om dieselfde gesindheid aan die dag te lê as Jesus. Met dieselfde gesindheid waarop Jesus gehoorsaam was en sy lewe vir ons neergelê het, word ons opgeroep om mekaar te dien.

Ontlediging en verhoging

Die lied in Fil. 2:6-11 word in twee dele verdeel:

· in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11).

· In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf.

· Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte vas te klem nie, tweedens dié van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis.

· Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ’n Naam bo elke naam, en

derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.
Kenosis

Die Griekse woord vir Jesus se “ontlediging” is kenosis. Christus het nie krampagtig aan sy Godwees vasgehou om mens te word nie, maar sy deel hê aan die heerlikheid en mag prysgegee (Pieter van Niekerk). Hy het sy hoë posisie by Gods prysgegee. Sy goddelike heerlikheid word nou, as mens, voor die oë van mense verberg. Hy gee die hoogste posisie prys, en neem die laagste moontlike posisie ter wille van ons op Hom: Hy word ‘n slaaf.

Só is God

Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie alhoewel. “Alhoewel Hy in die gestalte van God was …” Dit kan egter ook vertaal word met omdat. “Omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder (ekenôsen – kenosis) deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”

Hierdie antieke lied is daarom nie net ’n nuwe perspektief op wie Jesus is nie. Dit is ’n nuwe verstaan van God self. Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie. Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ’n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (vgl. Gorman, Inhabiting the cruciform God)! Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie. Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees,” te eet. (Chris van Wyk)

Dieselfde gesindheid van selfontlediging moet ook in ons wees

Só moet ons ook wees, sê Paulus. Jesus het vir ons kom wys hoe die karakter van God lyk. Wie God is. Ons moet hierdie selfde gesindheid navolg. Ons kan dit doen omdat Jesus ons nuut maak.

Praktiese voorbeeld

Daar is ’n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh. 13:3-17: 1):

· Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig;

· Voete gewas soos ’n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword;

· Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef;

· Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is.

Dit lyk nie asof dit toevallig is nie. Veral aangesien Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê. Net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê. Voetewas is dus ’n praktiese manier waarop mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.

Gaan doen

Kenosis is nie ‘n teoretiese begrip wat verstaan of bemeester moet word nie. Dit is iets wat gedoen moet word. Dit veronderstel dat ek my lyf op die spel moet plaas.

Dalk moet ek en jy ons eie begrafnis reël, ons ou self begrawe, en opstaan in ‘n nuwe lewe van diens. Saam met Christus.

(Danie Mouton)

WEEK 4

Week 4: Om op koers te bly

Romeine 7:15-25a

Tema: Om op koers te bly

Preekstudie – ROMEINE 7:15-25a

(Ekesegese: Leesrooster Communitas: 6 Julie 2008)

Romeine 7:15-25a

15 Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16 Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18 Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19 Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20 En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 21 So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22 Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23 maar ek vind in my doen en late ‘n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ‘n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. 24 Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25 Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

PREEKSTUDIE
Teks en konteks

1. Die probleem waarmee Paulus in hierdie gedeelte worstel, vra ernstige en noukeurige oorweging. Dit is veral belangrik om die kern sowel die ontwikkelingslyn van sy argument so goed as moontlik te probeer vasstel en volg. Die saak wat die apostel hier beredeneer, te wete die vrymaking/verlossing deur Jesus Christus uit die kragveld/mag van sonde, sny in na die hart van ons Christelike geloof. Niks en niemand anders kan jou bevry van die aftakelende en vernietigende mag nie. Ironies genoeg is die aanvaarding van hierdie waarheid baie moeilik vir ons. Ons bly dink dat ons beheer oor sake het en ons self kan verlos/bevry.

2. Indien ons egter die perikoop/gedeelte beter wil verstaan, moet ons volgens verskeie verklaarders veral aandag gee aan die wyer verband waarin Paulus sy argument ontwikkel. Hierdie verband is in die eerste plek die hele hoofstuk 7 wat op sy beurt deel van 5:12-8:39 vorm. As oorhoofse tema van die wyer verband sou jy dié van J A Van Leeuwen kon oorweeg: “Die nuwe lewe van die geregverdigde, sy stryd, sekerheid en uitsig.”

In hoofstuk 7 bespreek Paulus die rol van die wet in ons geloofslewe. Veral drie sake omtrent die wet word uitgelig:

(a) Ons is vrygemaak van die wet (7:1-6).

(b) Vanweë die sonde kan die wet, al is dit heilig en goed, ons nie bevry nie (7:7-14).

(c) Die wet van God en die wet van die sonde verteenwoordig twee kragvelde met verreikende konsekwensies vir ons as mense. Dit skep in ons ’n tweeslagtigheid sodat ons sowel die wet van God as die wet van die sonde dien. Vanweë hierdie verterende tweespalt is dit duidelik dat nóg ek nóg die wet my kan verlos (7:15-26)!

3. Aangesien daar verskeie maklik toeganklike kommentare beskikbaar is (Jonker, Bruce, Barth, Die Bybel in Praktyk), word hier slegs kort aanvullende aantekeninge aangebied. Die Afrikaanse Bybelvertalings van 1953 en 1983 word gebruik.

Vers 15-16: Met “want” dui Paulus aan dat dit wat hy hier en verder wil beredeneer, voortvloei uit die gevolgtrekking waartoe hy reeds gekom het. Hy het naamlik reeds daarop gewys dat dit nie die “wet” is wat sondig is nie. Inteendeel, die wet “is heilig en regverdig en goed” (7:12; Ps 19:8, 9). As uitdrukking van God se wil is die bedoeling van die wet om jou tot die lewe te lei. Die Here wil ons deur sy wet leer om reg te lewe. Die probleem is egter dat die wet die sonde wel duidelik omskryf, maar ons nie van die mag daarvan kan bevry nie. Die wet wys dus op die verskriklike aard en gevolge van die sonde, maar kan my nie red nie! Die wet verwag van die my om self te kies en te doen wat reg is.

Juis hier kom die werklike mag van die sonde in ons tot openbaring. Ons het die vryheid om die wil van God te kies en te doen, verloor (7:15, 16). Gevang in die kragveld van die sonde is jy soos ’n slaaf wat aan sy besitter se wil onderhorig is. Daarom die sterk uitdrukking in 7:14 “ek is vleeslik, verkoop onder die sonde”. Met hierdie twee begrippe, “vlees” (Gr sarks) en “verkoop” (Gr pepraménos) word my wesenlike onvermoë en dilemma as mens (“ek”) skerp omlyn. Dit definieer my in E Käsemann se woorde as “werkswinkel (werksruimte) van die sonde . . . die hele mens in sy gevallenheid in die wêreld en sy vervreemding van God en dui besitreg en beskikbaarheid aan”. Die onverbiddelike wil van sy besitter geld!

En hierin lê nou die innerlike verskeurdheid van die “gelowige”. In plaas daarvan dat hy/sy vrywillig die wil van God doen, wat vir hom/haar die lewe sou beteken, voer sy/hy die wet van die sonde uit wat tot die dood lei (6:23). Ons doen presies dit wat ons nie wil doen nie! (7:19) Ons tree soos willose slawe op. Dieselfde droewe feit word deur Petrus beklemtoon toe hy skryf: “want waar iemand deur sonde oorwin is, daarvan het hy ’n slaaf geword” (2 Pet 2:19b). As slaaf is ek nie vry om my wil te doen nie, maar moet ek die wil van my besitter (sonde) uitvoer!

Vers 18-20: In hierdie gedeelte word niks nuuts by die argument gevoeg nie. Paulus herbeklemtoon wat reeds gesê is. Sy erkenning van die feitlike situasie moet nie as ’n poging om hom te verontskuldig verstaan word nie. Hy wil dit slegs verder verduidelik. Die feit dat hy ten volle bewus is van die tweespalt in hom, maak die situasie des te pynliker. Die tweespalt moet egter reg verstaan word. Dit lê nie in ’n soort tweedeling in sy menswees nie, met ander woorde tussen sy “vlees” enersyds en sy “gees” andersyds óf soos Calvyn wat onderskeid gemaak het tussen ’n wedergebore en onwedergebore deel van die siel nie. Ook nie soos Augustinus wat ’n “ek” onderskei naas die “sterflike liggaam” nie. Met die uitdrukking “my vlees” verstaan Paulus “die volle handelende mens” (Ridderbos). Ek as mens, as bewuste handelende persoon, is so vasgevang in die mag van die sonde dat “ek” nie doen wat ek wil nie, maar juis doen wat ek nie wil nie (7:15, 19). Die goeie wat begeer word, is ingeruil vir die slegte wat nie begeer word nie en die resultaat is ’n inherente onbevoegdheid tot die goeie (Käsemann). Daar bly dus vir ons niks anders oor nie as om te erken dat ons in hierdie verlammende teenstrydigheid (ambivalensie), “gespletenheid” (W D Jonker) vasgevang is. In dié “ondenkbare klein ruimte van ons binneste” (W Lüthi) – K Barth noem dit “der vier Wände des einen Sündenhauses ‘Ich’” – vind die dramatiese stryd tussen gehoorsaming van die wet van God én van die wet van die sonde plaas.

Vers 21-23 laat die kollig by herhaling op die impotente “ek” van 7:15-20 val om sodoende die uiterste erns van die situasie te beklemtoon. Die verklaring vir hierdie pynlike teenstrydigheid, innerlike gespletenheid tussen wil en doen, is nie maar geleë in sporadiese gevoelsuitinge óf -begeertes wat jou onverwags oorval nie. Nee, hier werk wet teen wet in ’n meedoënlose stryd: die wet van die sonde teen die wet van God. Die heftigheid van die konflik word beklemtoon deur die militêre metafore en die viervoudige gebruik van die woord “wet (Gr nomos)! Dit is ’n oorlog! Terwyl hy hom na die innerlike mens verbly in die wet van God, Paulus noem dit selfs “die wet van my gemoed” (1953), “wet van my gees” (1983), omdat hy innerlik oortuig is van die sin en lewe wat dit bied, ervaar hy terselfdertyd die bindende krag van die wet van die sonde wat hom “gevange neem” en hom terughou en wegtrek, die gerigtheid van sy wil presies omkeer sodat hy juis doen wat hy nie wil nie. Dit dompel hom in volslae onmag. Van die onversteurde, spontane genieting van die wet van God is daar geen sprake nie. Die gevolg is ’n aanhoudende uitmekaar skeur van sy lewe. Hy kan net nooit wees wie hy wil wees nie! Hoe meer hy veg, hoe groter word sy onmag! Die goeie bly ’n ydel droom as die sonde hom soos dryfsand steeds dieper insuig.

E Käsemann wys daarop dat dit om die totale onmag van die vroom mens (contra Ridderbos) gaan. Juis in die toegewydes word die radikaliteit en omvang van ons gevallenheid geïllustreer. Alle pogings tot selfverlossing is futiel. Selfs ons poging om met God se wet in die hand die goeie lewe te lei, word deur die werklikheid en die mag van die sonde gedwarsboom. In plaas daarvan dat die wet my bring tot volledige oorgawe aan God, werk dit ’n steeds sterker konsentrasie op die wetsonderhouer, met ander woorde op die “self”.

Vers 24-25: Al wat in hierdie wanhoopsituasie oorbly, is ’n smartkreet: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Met “liggaam van hierdie dood” vat Paulus die angswekkende werklikheid saam van ons aardse bestaan wat in die mag van sonde vasgevang is. Hiervan kan die wet hom (die mens) nie red nie. Ons is in ’n volledig vasgeloopte situasie! Hieruit kan ons ons nie bevry nie.

Daarom kom die geloofsantwoord wat bo ons uit gryp na die genadedaad wat God bewerk het. Dit skyn soos ’n helder ligstraal die uitsigloosheid van ons gevangenskap binne (Barth). “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here” (7:25)! Ons antwoord lê nie in wat ons wil en kan nie, maar in God wat ons in en deur Jesus Christus verlos. Sentraal in die geloofsfokus staan die Lam wat geslag is en ons met sy bloed vir God gekoop het (Op 5:9). Gekoop, ja duur gekoop, losgekoop, vrygekoop
(1 Pet 1:18, 19). Ons wat verkoop was, is teruggekoop.

Nou hang ons verlossing nie meer af van ons “geregtigheid wat uit die wet is nie”, maar van “dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Fil 3:9). Die so kenmerkende sélf doen, sélf beheer, sélf beskik word in die verlossing wat God skenk, omgebuig tot “nie meer ek nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20).

PREEKVOORSTEL 1

Tema: My toekoms is in my hande! Hoe sien die Bybel dit?

1. Jou toekoms is in jou hande! So klink een van die populêrste slagspreuke van die moderne mens. Jy is verantwoordelik vir dit wat jy met jou lewe gaan bereik. Weet dit: Jy is ’n sukses en jy gaan ’n sukses maak! Skud alle gevoelens van minderwaardigheid af. Kyk die lewe en alle mense vierkant in die oë.

2. Alles word ook ingespan om hierdie selfvertroue en suksesbeeld by mense te vestig! Gevoelens van skuld, onbekwaamheid en mislukking word as ondermynend vir die selfbeeld beskou en doelbewus verwerp (verdring?). Mense klou angsvallig aan ’n suksesbeeld. Beeldpoets het ’n fyn kuns geword! Dit bepaal met wie jy trou, waar jy woon, waarmee jy ry, waar jy werk, wat jy aantrek en waarmee jy jou toerus, tot watter klub of vereniging jy behoort, hoe berese jy is en wie jy ken. Alles word met fyn berekening gekies, gedoen en bekend gemaak.

3. Die probleem is egter dat so ’n manier van dink en leef nie rekening hou met ons menslike kwesbaarheid en feilbaarheid nie. Ons word meer aan ons neus gelei as wat ons bereid is om te erken. Gevolglik doen ons baie dinge wat ons eintlik nie wil nie en dompel ons ons in een na die ander krisis wat ons nie kon voorsien nie. Ons weier egter om te erken dat ons nie so ’n sukses is wat ons glo en voorgee dat ons is nie. Ons weier om te erken dat ons lewenspad besaai lê met swak keuses, flaters, antisosiale houdings, gesindhede en dade. Ons verdring hierdie breër wordende sleepsel agter ons deur net meer verbete te bou aan die waanbeeld wat ons van ons het.

4. Die Bybelgedeelte wat vanoggend voor ons ooplê, gaan egter ’n ander weg op. Met skokkende realisme sê dit aan elkeen wat meen om sy/haar eie heil te kan uitwerk: Jy is in ’n doodloopstraat. Ten spyte van al jou vermoëns en bedrywigheid is jy ten diepste ’n magtelose gevangene! Jy word verlam deur ’n inherente botsing tussen wat jy wil en wat jy doen. (Deel kortliks met die gemeente die hoofstrekking van Paulus se beredenering in 7:14-24.)

5. Wat ons hier hoor, is slegte nuus vir elkeen wat vol selfversekering en selftevredenheid lewe en wil lewe. Dis slegte nuus vir elkeen wat in die waan van die inherente “goeie mens” lewe. Dis slegte nuus vir elkeen wat dink dat hy/sy self die goeie kan kies en doen. Dit is vir die selfregverdigende persoon baie moeilik, selfs onmoontlik, om te aanvaar dat hy/sy ooit dinge sal doen teen sy/haar wil. Normaalweg soek ons die kwaad in ander. Soos die Franse filosoof Jean-Paul Sarte dink ons “Hel is in die ander” (L’enfer c’est l’autre). Volgens Paulus is die omgekeerde waar: “Hel is in my” (L’enfer c’est moi) (Lüthi).

Ons Skrifgedeelte konfronteer ons met hierdie genadelose konflik in ons “innerlike mens”! Hier lê die rede vir ons jammerlike onmag. Dit maak van ons hele houding en manier van lewe ’n wanhoopskreet! “Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van hierdie liggaam van die dood?”

6. Maar waarom ’n wanhoopskreet? Lê die antwoord dan nie, soos die Griekse filosoof Sokrates gesê het, in die beoefening van korrekte denke wat lei tot korrekte doen nie? Of moet ons saam met die groot Chinese denker Confucius vashou aan die inherente goedheid van die mens wat net vra dat die stelsel van onderrig en opvoeding verbeter moet word? Of lê die antwoord by Boeddha wat deur meditasie tot “verligting” gekom en geleer het om lyding reg te verstaan, en deur selfuitwissing nirvana (geluksaligheid) binnegegaan het?

Maar dít is nie die Christelike geloofstaal nie!

Tog is dit die taal van baie wat hulle as gelowiges beskou. Ons groot probleem en die diepste grond van ons wanhoop is dat ons steeds nie God se genade in Jesus Christus verstaan nie. Ons bly ten diepste dink en optree in ’n verdienste skema, ’n self-probeer-, ’n eie inspanningskema. Waar dít die geval is, bly die vrymaking in Christus bloot ’n winkende toekoms-gebeure en nie die feitlike bestaansgrond van my lewe as gelowige nie!

7. Ons antwoord lê nie in wat ons wil en kan nie, maar in God wat ons in en deur Jesus Christus verlos. Sentraal in die geloofsfokus staan die Lam wat geslag is en ons vir God met sy bloed gekoop het (Op 5:9). Gekoop, ja duur gekoop, losgekoop, vrygekoop het. Ons wat verkoop was, is teruggekoop.

Nou hang ons verlossing nie meer af van ons “geregtigheid wat uit die wet is nie”, maar van “dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Fil.3:9). Die so kenmerkende sélf doen, sélf beheer, sélf beskik word in die verlossing wat God skenk, omgebuig tot ”nie meer ek nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:20). Nie meer ek nie, maar Christus in my. Só, en alléén só, voldoen ek aan die wet (wil) van die Here!

PREEKVOORSTEL  2:

Elke Christen se worstelstryd

Eenmaal was daar ‘n ongetroude man wat besluit het om ‘n huishoudster in diens te neem. Ná ‘n tyd was dit vir hom duidelik dat sy nie presies verstaan wat hy van haar verwag nie. Hy skryf toe ‘n lysie reëls en plak dit met ‘n magneet teen die yskas vas: “Etes word bedien om 8vm, 1nm, 6nm; ná elke maaltyd word die skottelgoed onmiddelik opgewas; geen teeblare mag in die wasbak afgespoel word nie; beddegoed moet een maal per week gewas word….”

Toe sy die reëls sien, was sy redelik opstandig. “Wie dink hy is hy om my soos ‘n kind te behandel en vir my te sê wat ek mag en nie mag nie…” Sy besluit egter om dit te gehoorsaam – want sy kon nie eintlik ánders nie, sy wou graag haar weeklikse loon hê. Tog vind sy dat, hoe meer sy kies om te gehoorsaam, hoe meer groei die opstandigheid in haar hart.

Toe gebeur iets dramaties. ‘n Liefdesverhouding begin tussen die man en die huishoudster ontwikkel en op die ou end is hulle getroud. Nou verander sake totaal. Die vrou is totaal verlief en sy voel sy kan nie genoeg vir haar man doen nie. Natuurlik haal hy ook die lysie reëls van die yskas af. Sy gee nie om nie, want al daardie dinge doen sy in elk geval met vreugde en plesier. Sy het só lief geword vir die man, dat sy nou alles wíl doen.

Daar is ‘n groot verskil tussen hoe dit wás en hoe dit nou is. Vroeër was sy sy huishoudster. Nou is sy sy eggenote. Sy is nou totaal ánders verbind aan die man wat die reëls gee as wat sy voorheen was! Sy is inniglik & persoonlik verbind. Sy verwag nie meer ‘n weeklikse/maandelikse vergoeding nie.

Romeine 7: 7-13 gee ‘n beskrywing van die vrou se ondervinding as huishoudster. Die oomblik toe die man die reëls teen die yskas vassit, gebeur daar 2 dinge met hierdie vrou: 1) Sy besef nou hoe ver sy te kort skiet aan die man se verwagtinge. Sy’t nooit besef dat sy sóveel misluk nie. 2) Sy’t nooit voorheen eers daaraan gedink om teeblare in die opwasbak af te spoel nie. Nou: as niemand kyk nie, dan spoel sy dit gou-gou af. Sy doen nou ‘n verkeerde ding wat sy voorheen nooit geweet het bestaan nie – net omdat daar nou ‘n reël teen die yskas staan.

Die 2 gevolge van die lysie teen die yskas is dus: 1) Dit wys hoe ‘n mislukking sy is en 2) dit wek by haar ‘n begeerte om juis die verkeerde goed te doen.

Wie se skuld is dit alles? Die voorskrifte teen die yskas se skuld? Nee. Die man se skuld? Nee. Net haar eie skuld. Haar eie hart – dís die probleem.

Hierdie huishoudster se ondervinding was alle navolgers van Christus se ondervinding vóór hul bekering (7: 7-13). Jy voel die Bybel is geneig om jou te wil beskuldig en veroordeel. Jy kyk na die Bybel (of die Wet) soos ‘n lysie reëls teen die yskas en jy besef net hoe ver jy tekort skiet, hoe ver jy van die Here is en hoe verwese jy is.

En, eienaardig genoeg, maak die Here se Wet/wil dat jy al hoe meer wil sondig. Dis asof die Wet sonde opwek. Alhoewel daar absoluut niks verkeerd is met die Wet nie. God se hartklop is heilig/reg/goed en bedoel om léwe te gee. Die fout lê in onsself. Binne in ons is ‘n afvallige monster wat die heilige wil van God vat en die dood in ons werk.

Maar let mooi hierop: Verse 7-13 is alles in die verlede tyd geskryf. Vir die weergebore mens is dit vir ewig verby. Want die huishoudster het intussen in ‘n eggenote verander. Sy het die man se vrou geword.

Verse 14-25 beskryf die vrou as eggenote. Alles is nou in die teenwoordige tyd geskryf. Hier praat die Apostel dus van die kind vd Here se hier-en-nou belewenis. Die huishoudster het die man se vrou geword. Liefde heers nou. Daar is nou ‘n persoonlike verhouding. Sy het geen groter begeerte as om haar man se hart gelukkig te maak nie. Sy hoef nie eens na ‘n lysie reëls te kyk nie, want sy weet presies wat hom behaag. Haar hartstog is nou om juis dít te doen. Nou is dit louter vreugde om níé die teeblare in die opwasbak af te spoel nie.

En tog…

Tog ervaar sy ‘n vreemde eienaardigheid in haar binneste. Sy faal aanhoudend om te doen wat sy graag wil doen. Sy kan dit nie verstaan nie, want sy is tog regtig met hom getroud. Sy is tog regtig lief vir hom. Sy is sy erfgenaam. Sy het regtig die begeerte om hom te behaag. En tog…. haar hart wil een ding, maar dikwels doen haar dade ‘n ander ding. Somtyds maak sy middagete eers om 3nm i.p.v. 1nm. Soms vergeet sy om die beddegoed te was. En dit ontketen ‘n worstelstryd in haar binneste. ‘n Innerlike verskeurdheid. Hoewel dit glad nie is soos dit was soos toe sy huishoudster was nie. Tóé was sy geïrriteerd met die man se wil en wense. Sy het ‘n geleentheid gesoek om die teeblare af te spoel. Sy het die reëls nagekom net ter wille van haar vergoeding. Nou haat sy dit. En tog doen sy dit soms nog steeds.

Hier is ‘n beskrywing van die egte wedergebore mens – “getroud” met die Here Jesus Christus, intiem aan Hom verbonde. Maar, wat steeds die Adamgewaad dra. Innerlike konflik wat voorheen onbekend was. Vroeër: het vrede gehad met Adamnatuur. “Almal doen dit.” Nie so ernstig bekommerd oor sonde. Regverdig altyd self. Gee ander die skuld. NOU: worstelstryd in binneste. Lê wakker oor dinge waaroor ek vroeër glad nie eens gedink het nie. Voel asof ek ‘n weerspreking in my binneste het: my begeerte is een ding, maar ek doen ‘n ander ding. Ek doen dikwels nie wat ek hierbinne is nie. Ek beleef ‘n innerlike verskeurdheid.

Hier vind ons ‘n presiese beskrywing van wat ‘n navolger van Jesus is. Mag dit vanoggend ‘n groot bemoediging wees vir ú wat ernstig & toegewyd kind-van-God is. ‘n Ware Christen se lewe verkeer onder ‘n spanning, ‘n tweeslagtigheid. Aan die een kant het jy so ‘n egte belewenis van die Here Jesus, jy het ‘n innerlike versekerdheid. Jy beleef iets van die magtige werking van die Heilige Gees. Jou hele lewe het grondig verander. Jy groei geestelik. Jy weet jy is getroud met die Man van Nasaret. Jy het Hom sonder twyfel lief. Enigiemand wat jou ken kan dit beaam. Jy straal dit uit. Alles getuig daarvan.

Aan die ander kant: Pynlik bewus van ‘n geveg in jou binneste. Daar woed ‘n oorlog/stryd teen sonde. Soms skrik jy vir jouself. Jy voel soms of jy vir jouself ‘n raaisel is. Onverklaarbare onvermoë. Onverklaarbare mág in binneste. Die hele geskiedenis van koning Dawid laat ‘n mens maar net besef hoe naby ‘n kind van God nog aan die kwaad is.

‘n Weergebore mens is iemand wat alreeds leef in die nuwe eeu wat kom. Maar tog oorblyfsels ervaar van die vorige eeu waaruit hy gered is. Die een been staan alreeds op die nuwe aarde, die ander been staan nog op híérdie aarde. Kan op geen manier daarmee vrede maak nie. Veroorsaak ‘n stryd. Veroorsaak ‘n kreet soos ‘n vrou in barensnood. Die nuwe lewe is alreeds sigbaar, maar tog is daar die pyn. Dit veroorsaak ‘n noodkreet.

En tog is dit juis híér waar die kind van God vórentoe gaan met heiligmaking. Dis nie ‘n sterwenskreet nie. Dis ‘n groeikreet. Dis juis ‘n bewys dat daar lewe is. Dis juis die mens wat hierdie kreet nie ken nie, wat bekommerd moet wees.

Wanneer ‘n Christen hierdie stryd beleef, kom die satan en mislei jou en sê: “Sien jy? Jy was toe nog nooit gered nie. Anders sou jy nie so en so gedoen het nie.” Romeine 7 sê net die teenoorgestelde. ‘n Stuk troos – om te weet – dis normaal.

Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n kind van God wat sondig en ‘n ongeredde mens wat sondig. Die verskil is soos díé van die huishoudster en die eggenote:

1 Huishoudster/Ongeredde: Nie baie gepla. “Dis net menslik”. “Wie het nou nie foute nie?” Lê nie in nagte wakker. Vind verskonings. Beskuldig ander. Gaan uiteindelik voort daarmee.

2 Eggenote/ Kind v God: Pes en plaag. Innerlike stryd. Onmoontlik om vrede te maak. Noodkreet. Ootmoed. Neem die skuld op self. Inwondende Gees twis met jou.

Daar is ’n stem wat sê: “Nou is jy darem éérs verlore.” Waarheid is: “Nou is jy juis op die pad van heiligmaking.” Die waarheid is: “Hoe nader jy aan die Seun van God leef, hoe meer ken jy Hom in Sy heiligheid en hoe inniger soek jy die Here Jesus.”

Sien u hoe belangrik is hierdie gedeelte van Romeine 7? Dit gee ‘n helder tekening van wat ‘n ware Christen se daaglikse ervaring is. Hy/sy word nie meer deur sonde regeer nie (hfst 6) maar hy is ook nie volkome vry van sonde nie (hfst 7). ‘n Ware Christen weet nie meer van om deur sonde beheers te word nie. Maar, hy het innerlike stryd omdat daar oorblywende sonde is.

‘n Ware volgeling van Jesus staan in totaal ánder verhouding met sonde as die ongelowige. Die ongelowige leef grootliks in vrede met sonde. Die volgeling v Jesus leef in oorlog teen sonde. Hoe meer heilig hy leef, hoe meer roep hy uit: “Ek ellendige mens!” Dis ‘n proses wat nooit stop nie. Dis die normale Christelike lewe. Trouens, dis een van die sekerste tekens dat daar ware lewe van Bo in iemand se lewe gekom het.

Wat my in verwondering laat wanneer ek hierdie gedeelte lees, is die geweldige ewige onophoudelike werklikheid van die teenwoordigheid van die Almagtige Heilige Gees in ‘n volgeling van Christus se lewe. Want WIE alleen kan só ‘n verandering in ‘n mens se hart bewerkstellig? En dit in stand hou? Net so min as wat ‘n luiperd sy kolle kan verander, net so min kan ‘n mens jou eie binneste só verander, soos wat in Romeine 7 beskryf word.

Bibliografie

Barth, K 1959. A Shorter Commentary on Romans; Barth, K 1960. Kirchliche Dogmatik IV/1 655-659, 680; III/2 754-;

Bruce, F F 1974. Romans (Tyndale);

Jonker, W D 1967. Die Brief aan die Romeine; Käsemann, Ernst 1980. Commentary on Romans; Lekkerkerker, A F N 1962. De Brief van Paulus aan de Romeinen I;

Lüthi, W 1962. The Letter to the Romans; Newman, B M en Nida, E A 1973. A Translator’s Handbook on Paul’s Letter to the Romans;

Ridderbos, H 1959. Aan de Romeinen, CNT;

Ridderbos, H 1966. Paulus. Ontwerp van zijn Theologie 118-139; 154-160;

Van Leeuwen, J A C en Jacobs, D 1952. Romeinen, Korte Verklaring;

Die Bybel in Praktyk 1993.

.

WEEK 3

Week 3: Onderskeiding

Rigters 6: 33-40

Tema: Onderskeiding

Rigters 6:33-40

In daardie tyd het die hele Midian en Amalek saam met ander mense uit die ooste bymekaargekom en deur die Jordaanrivier getrek. Hulle het in die Jisreëlvlakte kamp opgeslaan. 34Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem, en hy het die ramshoring geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg. 35Hy het ook boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur en hulle ook opgeroep om hom te volg, en hulle het almal bymekaargekom.

36-37Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek ‘n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.”

38En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, ‘n hele kom vol water.

39Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog ‘n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.”

40Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.

PREEKSTUDIE

Rigters 6-8 vertel van Gideon as rigter in Israel. Die voorafgaande vertelling oor Debora en Barak eindig met `n toestand van rus in Israel: “Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land” (5:31b). Die begin van Gideon se verhaal staan in skrille kontras met die voorafgaande periode van veertig jaar. Die Here het die Israeliete vir sewe jaar in die mag van hulle vyande, die Midianiete en Amalekiete – met `n semi-nomadiese leefwyse (Bosman, Keck) – oorgegee. Hulle het die Israeliete verdruk (2). Die oorgang in Israel se geskiedenis na Gideon se rigterstyd is die van vrede na onderdrukking. Na `n verdere veertig jaar eindig Gideon se rigterstyd op `n laagtepunt: die Israeliete het die Here vergeet en vir Baal-Berit as god gekies (8:33).

Rigters 6:1-6 skets die Israeliete se wending tot God, hoe Hy eers `n profeet gestuur het, en daarna die Engel om Gideon tot diens te roep. Die redaksiekritiek sien Rigters as `n saamgestelde werk. Byna al die rigtersverhale vertoon dieselfde patroon: (i) Israel het verkeerd gedoen in die oë van God; (ii) God straf hulle deur hulle in die vyand se hande oor te gee; (iii) Die Israeliete kry swaar en roep tot God om hulp; (iv) God stuur `n redder/rigter om hulle te verlos; (v) Daar heers vrede vir `n aantal jare tot die rigter se dood; (vi) Na die rigter se dood word die patroon herhaal (Claassens). Die Gideon-verhaal begin met die stelling dat die Israeliete verkeerd gedoen het in God se oë en dat Hy hulle aan die Midianiete oorgegee het. Hulle het die Israeliete hard behandel, hul gesaaides en veestapels vernietig, die land kaalgestroop en die Israeliete arm laat word. Die omstandighede het hulle tot inkeer gebring en tot die Here laat pleit om hulp en redding (6:6).

Rigters 6:7-10 beskryf God se eerste reaksie op die Israeliete se geroep na Hom. Hy stuur `n man om onder hulle as profeet op te tree en die volk te herinner aan alles wat die Here vir Israel in die verlede beteken het – met die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän (Bosman). Sy boodskap kom as `n aanklag. Die profeet se boodskap beskryf die verhouding tussen God en volk asook die volk se reaksie op die eerste gebod: “Ek het vir julle gesê: `Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode van die Amoriete dien in wie se land julle woon nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie” (6:10). Die volk word aangekla dat hulle ongehoorsaam is en die gode van die Amoriete aanbid het. God vra, op grond van sy groot dade in die verlede, gehoorsaamheid van sy volk (Claassens; Bosman).

Rigters 6:11-24 beskryf hoe die Here aan Gideon verskyn en tot diens geroep het. Die Here kies `n onwaarskynlike rigter; die seun van `n aanbidder van Baal (Bosman). Die Engel (sien Claassens se verwysing na die onsekerheid oor die identiteit van die Engel) het Hom in Ofra by `n parskuip ontmoet waar hy vir die Midianiete weggekruip het. Die Engel spreek Gideon ironies aan as “dapper man” terwyl hy wegkruip (vgl Bosman). Nie die tipiese prentjie van `n held nie (Claassens). Die ironie word later herhaal. In 6:27 is Gideon bang vir sy pa se familie en die mense van die stad en in 7:10 maak die Here voorsiening dat Gideon dalk bang kan wees om die Midianiete aan te val.

Die woordewisseling tussen Gideon en die Engel is belangwekkend. Die seëngroet waarmee die Engel die gesprek begin: Die Here is by jou” (6:12), verteenwoordig die belangrike tema van die Here se teenwoordigheid in die Ou Testament (Claassens, Keck), maar wek vrae by Gideon. As dit waar moet wees, is dit onverstaanbaar dat al die swaarkry oor die Israeliete kom en dat daar klaarblyklik `n afwesigheid is van God se magtige dade waarvan die voorvaders vertel het (13). Die logiese afleiding is dat die Here sy volk in die steek gelaat het (13).

Vers 14 beskryf hoe die Here direk met Gideon praat (Bosman) en hom stuur om die Israeliete uit die mag van die Midianiete te red. Die roeping en opdrag is vir Gideon buite orde (15). Hy argumenteer vanuit menslike oorweging en hou sy nederige agtergrond voor as verskoning waarom hy nie die taak kan verrig nie. Die Here korrigeer egter Gideon se gedagtegang as Hy die woorde van vers 12 herhaal: “Ek is by jou …” Die Here sal self die Midianiete verslaan. Gideon moet hom tot die Here se beskikking stel as instrument in sy diens.

Die oomblik is vir Gideon te groot. Die aanspraak van die Engel dat Hy die Here is, oorweldig Gideon. Hy soek `n wonder as bewys dat die Here met hom praat en vra `n geleentheid om aan die Here `n offer te bring (18). Die Here reageer met besondere begrip en inskiklikheid oor Gideon se menslike twyfelmoedigheid: “Ek sal wag tot jy terug is.” Gideon het die offer gebring (19-21) en die Engel is van hom af weg. Gideon het besef dat die Engel van die Here met hom gepraat het, asook dat hy die Here self gesien het (22). Dit het hom met vrees gevul, maar die Here het hom verseker dat hy nie sou sterf nie (23). Gideon het `n altaar gebou en dit “Die Here gee rus” genoem (24). Weer die tema van God se rus en vrede. Gideon se ontmoeting met God beweeg hom tot aanbidding.

Rigters 6:25-32 teken `n volgende toneel in die ontmoeting tussen God en Gideon: (i) God gee Gideon opdrag om sy pa se altaar vir Baal en die gewyde paal, af te kap. Sy eerste taak is om die afgodediens uit te roei (Claassens). Hy moet op dieselfde plek `n altaar vir die Here sy God bou en `n groot bul as brandoffer vir die Here offer met die hout van die gewyde paal wat hy afgekap het; (ii) Gideon het die opdrag van die Here uitgevoer, maar in die nag omdat hy vir sy pa se familie en die stad se mense bang was (die dapper man van v 12); (iii) Die stad se mense het die volgende môre gesien dat die altaar en gewyde paal afgebreek is met die bul op die nuwe altaar wat vir die Here gebou is. Hulle het uitgevind Gideon het Baal se altaar afgebreek en sy vader, Joas, beveel om hom aan hulle uit te lewer; (iv) Joas het die mense uitgedaag om te kies tussen Baal en die Here. Hy het gesê Baal moet sy eie saak behartig en wie Baal se saak wil hanteer, moet doodgemaak word; (v) Die mense van die stad het hul saak teen Gidoen laat vaar, maar vir hom `n nuwe naam gegee, Jerubaal. Dit beteken: “laat Baal self sy saak teen Gideon behartig want dis hy wat Baal se altaar afgebreek het.”

Rigters 6:33-7:25 handel oor die bedreiging teen die Israeliete (deur Midian, Amalek en ander mense uit die ooste) en hoe die Here die bedreiging afgeslaan het met slegs drie honderd man onder aanvoering van Gideon: (i) Die Gees van die Here het van Gideon besit geneem en hom geïnspireer om leiding te neem (Gideon aanvaar die taak wat God hom opgelê het – Claassens; die ramshoring is die tradisionele manier om die volk vir oorlog op te roep – Bosman); (ii) Gideon het `n “tasbare teken“ (Claassens) van die Here gevra, as bewys dat die Here hom gekies het om Israel van die bedreiging te red. Soos in 6:18 neem die Here genoeë met Gideon se versoek en laat gebeur soos hy gevra het. Die stukkie vlieswol was nat terwyl die grond rondom droog gebly het. Gideon wou alle twyfel uit die weg ruim en vra `n tweede teken. Weer toon God sy geduld en lankmoedigheid met Gideon deur ook sy tweede versoek toe te staan (6:40); (iii) Gideon en sy manskappe het kamp opgeslaan teenoor die Midianiete, maar die Here het vir Gideon gesê hy moet met `n kleiner mag optrek – oor die Israeliete se hoogmoed en selfgenoegsaamheid. Die Here wou dit menslik onmoontlik maak dat Israel kon spog: “Ek het myself gered” – dat hulle kon ontken die Here het die oorwinning gegee; (iv) Die proses waardeur die Here die manskappe gesif het totdat slegs drie honderd oorgebly het (7:5) en sy versekering: “Ek sal vir Midian in jou mag oorgee”; (v) Die aanval deur Gideon en sy manskappe op die Midianiete het nie gebeur voordat die Here nog `n teken vir Gideon gegee het nie (7:11b-15). Hy en sy slaaf Pura het in die nag die kamp van die Midianiete binnegegaan en gehoor hoe `n man vir sy maat van sy droom vertel. Die droom en uitleg was vir Gideon die teken dat die Here die vyand in sy hande gee (7:15); (vi) Die aanval en hoe Gideon en sy manskappe die vyand verdryf het.

Rigters 8:1-21 beskryf hoe Gideon met ander Israeliete die vyand agtervolg en uiteindelik finaal verslaan (`n “uitgebreide episode oor Gideon wat skielik sy eie wraakplanne uitvoer” – Claassens), maar nie sonder haakplek nie. Gideon het aanhoudende teenkanting van mense gekry (vgl Keck). Die Efraimiete is ontevrede omdat hulle eers met die agtervolging tot die stryd kon toetree (8:1-3). Gideon verseker hulle diplomaties dat die oorwinning nie sonder hulle hulp moontlik was nie. Hier is min sprake van `n heilige oorlog waarin die Here die stryd aansê (Bosman). Toe wou die mense van Sukkot en Pniël (8:5-7) nie vir Israel van kos voorsien nie en het met Israel gespot omdat hulle nog nie die Midianitiese konings Sebag en Salmunna gevang het nie. Die optrede was in stryd met alle gasvryheidsgewoontes van die Ou Nabye-Ooste – `n vorm van oneerbiedigheid (Bosman).

Gideon het wraak gesweer teen Sukkot (8:7) en Pniël (8:8) en dit uitgevoer na die gevangeneming van Sebag en Salmunna (8:16-17). Dit het die hele leër met skrik vervul. Claassens argumenteer dat die leiers, konings en dorpies wat Gideon uit sy pad gevee het dit gemeen gehad het dat Gideon hulle as objekte behandel het wat voor die voet uitgeroei moet word. Hierdie optrede het daartoe bygedra dat die Israeliete hulle vertroue van die Here weggeneem het: “In plaas daarvan om God te vereer vir sy verlossingsdade gee hulle nou die eer aan Gideon.” Dit is `n ander kant van Gideon: hy is selfversekerd en gewelddadig (Bosman; Keck).

Rigters 8:22-32 – nadraai van Gideon se oorwinning oor die Midianiete en sy uiteindelike dood: (i) Die Israeliete versoek Gideon om koning oor Israel te word met sy nageslag as koninklike dinastie (22), maar hy herinner hulle dat die Here self oor hulle regeer (23); (ii) Maar Gideon doen die onverstaanbare ding om van die buit `n goue efodbeeld te maak en in sy stad Ofra te sit (8:27). Pleks dat die Israeliete die Here gedien het, het hulle na Ofra opgegaan “en op dié wyse ontrou geword aan die Here”. Die skrywer voeg kommentaar by: “Die beeld was vir Gideon en sy mense `n valstrik”; (iii) Daar was veertig jaar lank vrede in Israel in die dae van Gideon, en die Midianiete was aan Israel onderdanig; (iv) Gideon het na die veldslag teen Midian in sy huis gaan woon, baie kinders gehad en `n hoë ouderdom bereik.

Rigters 8:33-35 is `n soort nagedagtenis oor Israel na Gideon se dood. Vier dinge word genoem: (i) Die Israeliete het weer die Baal begin dien; (ii) Hulle het Baal-Berit as hul god aanvaar; (iii) Hulle het die Here wat hulle van hul vyande gered het, vergeet; (iv) Hulle was nie lojaal teenoor Gideon se gesin nie, “ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het”.

Konteks:

Die Gideon-verhaal begin en eindig op dieselfde droewige noot. In Rigters 6:1 staan: “Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here …” Die verhaal eindig met dieselfde gedagte: “Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baals begin vereer. Hulle het vir Baal-Berit as god aanvaar en die Here hulle God vergeet deur wie hulle gered is uit die mag van hulle vyande rondom hulle” (8:33-34). Die Israeliete was ook nie lojaal teenoor Gideon se gesin nie (8:35). Keck (ea) noem dit “another major sin”. Die besonderhede van hierdie oortreding teen Gideon se familie is die onderwerp van Rigters 9, die volgende fase van die rigterstydperk.

Die Gideon-verhaal laat die leser met gemengde gevoelens. Enersyds is Gideon die brose, afhanklike mens, wat tekens vra ter versekering van die Here se teenwoordigheid. Andersyds wek hy afgryse by die leser. Te midde van God se genade tree hy wreed op teen mense en konings. Hy erken dat die Here Israel regeer, maar maak `n beeld wat `n valstrik word. Die verhaal ontbloot die karakter en swakhede van die Israeliete –wisselvallige mense. Eers soek hulle Gideon en sy nageslag tot regeerders (8:22), maar is later weer dislojaal. Hulle sukkel om die Here se leiding te aanvaar en kom na Ofra om die beeld te aanbid. Daar raak hulle ontrou aan die Here. Waarskynlik was die beeld van Gideon `n poging om die raadpleging van die wil van die Here in sy eie dorp te sentraliseer. Die naam van die beeld was Baal-Berit – die “Baal of Heer van die verbond”, `n voorbeeld van die vermenging van die aanbidding van die Here en Baal (Bosman). Daar is `n skerp kontras in die verhaal tussen die Here en Gideon. Claassens wys op Gideon se dramatiese karakterontwikkeling deur die loop van die verhaal. In sy interaksie met God word Gideon se worsteling om aan God se roeping getrou te bly, blootgelê (vgl Keck ea).

Die handelinge van God in die verhaal teken `n heerlike beeld van God. Terwyl die Israeliete verkeerd doen in God se oë en vergeet hoe Hy hulle van hul vyande bevry het, luister God na hul geroep om hulp, roep Hy `n man om hulle te lei, toon Hy lankmoedigheid en begrip vir Gideon wat struikelend leer wie die Here wat hom geroep het, werklik is. Dwarsdeur die verhaal word die toeganklikheid, begrip, liefde en deernis van God vir Israel beklemtoon. Hy word geroer deur die gesmeek van sy volk. Hy laat toe dat Gideon Hom toets. Hy is bereid om selfs `n tweede teken te gee wanneer Gideon nie kan glo nie. Die verhaal teken die mens in sy afhanklikheid van God, maar ook in sy opstand teen en verwerping van God se genade. Andersyds is die verhaal helder oor die almag van God en dat Hy oor mense regeer.

PREEKVOORSTEL

Tema: Onderskeiding

Lees ook:

Fil 1:9-109 So this is my prayer: that your love will flourish and that you will not only love much but well. Learn to love appropriately. You need to use your head and test your feelings 10 so that your love is sincere and intelligent, not sentimental gush. (The Message)

Jakobus 1:5As julle egter in ’n situasie kom waar julle twyfel oor wat die regte ding is om te doen, gaan vra vir God. Hy sal nie snaaks van julle dink of julle verwyt omdat julle onseker is hoe om vir Hom te leef nie. Hy sal julle eerder help met alles wat julle nodig het. Gaan vra; Hy sal gee. (Die Boodskap)

God luister na die Israeliete se geroep om hulp, Hy toon lankmoedigheid en begrip vir Gideon wat struikelend leer wie die Here wat hom geroep het, werklik is. Dwarsdeur die verhaal word die toeganklikheid, begrip, liefde en deernis van God vir Israel beklemtoon. Hy word geroer deur die gesmeek van sy volk. Hy laat toe dat Gideon Hom toets. Hy is bereid om selfs `n tweede teken te gee wanneer Gideon nie kan glo nie. God is by Gideon en Israel. Hy tree self in die stryd teen die vyand op. Die verhaal is helder oor die almag van God en dat Hy oor mense regeer.

In Rigters 6:33 lees ons dat die Heilige Gees vir Gideon in besit geneem het om hierdie taak te begin. Dit is net die Gees wat maak dat die Israeliete op Gideon se ramshoring reageer.

Vandag lei die Heilige Gees ons op ʼn meer besondere manier as wat Gideon gelei is. Met Pinkster in die Heilige Gees op die kerk uitgestort om vir altyd by ons (en nie net sporadies nie) te wees. Wanneer ons God gehoorsaam, sal die Heilige Gees met ons wees en ons lei.

Vertwyfeling te midde van leiding deur die Heilige Gees

Leiding deur die Heilige Gees beteken egter nie dat ons nie soms twyfel nie. Al het Gideon die volk byeengeroep, twyfel hy steeds of God hom wil gebruik. Nou toets hy die Here. Let op dat hierdie toets nie ʼn toets is om die wil van die Here te bepaal nie – hy weet God se wil (vgl. vers 36-37). Hy wil bloot sekerheid hê dat God hom wil gebruik.

Dit is genade dat God vir Gideon geantwoord het. God het nie nodig gehad om dit te doen nie. Gideon het immers God se wil geken. Ons ken ook God se wil vir ons lewens. Sy wil is in sy Woord opgeteken. Ons moet in gehoorsaamheid daarvolgens optree, dan staan Hy ons by. Ons moet versigtig wees om God nie te toets as sy wil vir ons duidelik is nie.

Onderskeiding maak ons oop om te luister en die stem van God te herken en die patrone waarin God rigting gee.

Die volgende praktiese riglyne vir onderskeiding kan in die preek gebruik word:

1. Vat jou tyd. (Jy kan nie altyd en hoef nie altyd die volgende stappe te doen nie.)

2. Kom in die teenwoordigheid van God en fokus op sy liefde en goedheid (Jer 29). Dank Hom dat jy ‘n Gids het wat aan jou kant is en jou wil help.

  • Erken jou eie gewoontes en veslawings wat in die pad van volle oorgawe staan.
  • Kry afstand daarvan.
  • Kyk na jou eie motiewe.
  • Bid om te onderskei wat prioriteit kry bo God se wil. Hierdie is die nogtans-gebed wat Jesus in Getsemane gebid het. Nie my wil nie, maar U wil. Dit is die gebed van onderskeiding.

3. Lê die keuse wat jy moet maak nou voor God neer en bestudeer dit deeglik. Hou ‘n joernaal byderhand wat jou kan help in terme van die rigting van jou besluit.

4. Deel jou eie begeertes met God. Wat is dit wat jy wil hê? Is dit deel van ‘n dieper begeerte? Hoe vorm dit deel van God se liefde en ander mense? Hoe lei die keuse jou na meer getrouheid en goedheid?

5. Gebruik jou kop:

  • Help die besluit jou in jou verhouding met God en die uitleef van jou geloof?
  • Hoe beïnvloed dit jou eie en ander lewens?
  • Skryf voor en nadele.
  • Lei die besluit tot ‘n JA in jou kop?

6. Gebruik jou hart

  • Wat in hd besluit lei tot troos – rustigheid (vrede: lewe-gewende emosies wat die vrug van die Gees se liefde, vreugde, geloof en vrede bring).
  • Wat maak jou opgewonde en bring vir jou hoop?
  • Sien jouself in hd situasie vir ‘n geruime tyd. Wat beleef jy?
  • Wat in die besluit lei tot onrustigheid: gejaagdheid, angstigheid, verwarring? Onrustigheid laat mens innerlik chaoties voel, afgesny van God. Ongemotiveerd, skaam en vol vrees.
  •  Lei die besluit na vredige emosies.

7. Luister na God as jy Bybel lees. Gee aandag waar die Woord jou oplig en waar jy ervaar dat God met jou praat.

8. Soek die advies van ander wat kan onderskei en wat na jou en saam met jou kan luister:

  • Is ek ‘n goeie luisteraar?
  • Hardloop ek dalk weg van iets of na iets toe in plaas daarvan om te wag?
  • Het ek ‘n openheid vir ‘n ander pad?
  • Dien die besluit my verhouding met God en ander?

9. Gee jou keuse aan God oor.

Bibliografie

Bosman, J 2003. Rigters, in Die Bybel A-Z (red J van der Watt); Claassens, J L 2003. Rigters 6-8, in WtL III/6; Goslinga, C J 1966. Richteren. Korte verklaring van de Heilige Schrift; Hamlin, R J 1990. At Risk in the Promised Land. A Commentary on the Book of Judges; Hickman, H L ea (eds) 1993. The New Handbook of the Christian Year; Keck, L E ea (eds) 1999. The New Interpreter’s Bible. Volume II; Soggin, J A 1987. Judges. A Commentary; Wiseman, D J 1968. Judges & Ruth. Tyndale.

WEEK 2

Week 2: Rolmodelle

2 Timoteus 1:1-14

Tema: Gesinne en Families as Mentorgemeenskappe

2 Timoteus 1:1-14

1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus. 2Aan Timoteus, my geliefde seun. Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here! 3Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ’n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my ’n groot vreugde wees. 5Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. 6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. 8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ’n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. 12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou. 13Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon. 15Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat. Onder hulle is daar ook Figelus en Hermogenes. 16Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom. En wat Onesiforus alles in Efese vir my gedoen het, weet jy self baie goed.

PREEKSTUDIE

(Eksegese: Seisoen van Luister: Luisterryke Eredienste: 18de Sondag in Koninkrykstyd – 3de Sondag: Seisoen van die Skepping – 3 Oktober 2010)

Die laaste brief van Paulus wat aan ons oorgelewer is, word ingelei met die perikoop wat ons fokusteks uitmaak. Soos gebruiklik by die apostel begin hy ook hierdie brief met ’n identifisering van die skrywer en geadresseerde en ’n seëngroet en danksegging. Dit word hier opgevolg deur ’n bemoediging aan Timoteus gegrond op die ervaring van die verlede. Vers 1: Die Skrywer. In ooreenstemming met die gebruik van die tyd verskyn die skrywer se naam nie aan die end van die brief nie, maar aan die begin. Dit mag ’n formele indruk skep, maar doen niks af aan die intieme karakter van hierdie liefdevolle kommunikasie tussen die apostel en sy jonger kollega nie. Paulus beklemtoon ook nie sy apostoliese gesag asof Timoteus nie daarvan bewus is nie. Hy getuig slegs, soos in sy ander briewe (1 Kor 1:1; 2 Kor 1:1; Ef 1:1; Kol 1:1), van sy roeping tot apostel (die Damakuservaring) wat sy gemoed, soos ’n persoonlike logo, sy lewe lank sou oorheers en hom in die krisis van sy laaste gevangenskap sou ondersteun. In die aangesig van die dood wat hom in die gesig staar (4:6), beklemtoon hy die doel van sy apostelskap, naamlik “om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus”. Vers 2: Die geadresseerde. Die geadresseerde, Timoteus, word beskrywe as “my geliefde seun”. Dit is ’n aanduiding van die diepe gemeenskap en persoonlike liefde waarmee die apostel aan die medewerker, wat deur sy prediking geroep en gevorm is, verbonde is. Vir hierdie afskeidswoord, sy “testament”, gebruik hy die teerste term waaroor hy beskik. Net soos in 1 Timoteus 1:2 spreek Paulus hier die volle apostoliese seëngroet oor Timoteus uit. Bouma sê hiervan: “Genade is Gods vergewende liefde. Barmhartigheid is liefde jegens den ellendige. Vrede is het ongestoorde volle zalige wel-varen, profetisch reeds in den Israelietischen vredegroet gelegd. Genade neemt de schuld weg; barmhartigheid bevrijdt van de ellende; vrede vervult met zaligheid. Dat alles vloeit af van de éne bron: God den Vader en Christus Jesus onzen Here”. Vers 3-5: Danksegging. Volgens sy gewoonte, wat hy in byna al sy briewe volg, begin die apostel ook hier met ’n danksegging aan God. Dit tipeer sy gemoedsgesteldheid teenoor sy eie situasie en teenoor Timoteus wat die uitdagende taak wat op hom wag, moet aanvaar en volvoer: nie in ’n stemming van vrees en gemis aan vertroue nie, maar bo alles in dié van dankbaarheid en geloof in God (Ridderbos). In sy danksegging beklemtoon Paulus sy diepgewortelde en ongeveinsde (skoon gewete) diens aan God. Die uitdrukking “van my voorouers af” (OAV) beteken nie dat hy die Christelike lewenswyse gelykstel aan die Joodse godsdiensbeoefening nie, maar dat hy sy Godsverering knoop aan die tradisie van sy geslag wat vir hom ’n dieper en heiliger betekenis gehad het. Sy beroep op ’n skoon gewete beteken dat hierdie diens van God nie uit bymotiewe of by wyse van uiterlike vertoon plaasgevind het nie, maar ’n uitdrukking was van dit wat inderdaad in sy hart geleef het. Die feit dat met sy bekering daar ’n geweldige ingreep in hierdie diens plaasgevind het, verhinder hom nie om daarna te verwys nie. Want dit is nie ’n ander God wat hy nou dien nie en die opregtheid en erns van sy godsdienstige strewe het nie eers na sy bekering begin nie (vgl Fil 3:5; Hand 22:3; 26:4-9). Slegs deur die kennis van Christus het hy in die regte verhouding tot die God van sy voorouers getree en het hy die reiniging van sy gewete deur die geloof ontvang. Dit is met hierdie ingesteldheid dat hy onophoudelik dag en nag in sy gebede in die gevangenis aan Timoteus dink. Met hierdie mededeling wil hy aan Timoteus oordra wat hom voortdurend besiel het en wat ook aan Timoteus die krag kan verleen om sy taak blymoedig en vol vertroue op te neem (Ridderbos). In sy dankgebede leef die herinnering aan sy laaste afskeid van Timoteus by Paulus baie sterk en spoel ’n golf van verlange oor hom (vgl Rom 1:11; Fil 1:8 en 1 Tess 3:6 waar dieselfde woord epipotheo gebruik word). Hy onthou veral Timoteus se afskeidstrane wat hom tipeer as ’n sensitiewe man wat baie geheg was aan die apostel en die afskeid diep gevoel het. Hierdie herinneringsbeeld versterk Paulus se verlange om Timoteus weer te sien sodat die trane omskep kan word in vreugde – letterlik “dat ek vervul mag word met vreugde”. Paulus gebruik in sy geskrifte hierdie woord “vervul” nie minder nie as 23 keer. Die naasmekaarstelling van droefheid en vreugde is effektief en tipies van die groot Christusvolgeling, Paulus (vgl Joh 16:19-23; 2 Kor 7:8-13; Fil 2:17, 18). Paulus twyfel nie oor Timoteus se opregte geloof nie. Hy is diep onder die indruk van die geestelike “atmosfeer” van sy vriend se ouerhuis. Van die vader, wat ’n Griek was (Hand 16:1), weet ons eintlik niks nie, maar die grootmoeder Loïs en die moeder Eunice was diep gelowiges. Die afleiding dat hierdie twee Joodse vroue deur die arbeid van Paulus op sy eerste sendingreis tot geloof in Christus gelei is, klink nie vergesog nie. Net soos hy het hulle ook uit hulle stiptelike beoefening van die godsdiens van hulle voorouers oorgegaan tot ’n toegewyde oorgawe aan die Here Jesus en die seun in daardie geloof opgevoed. Timoteus het volgens Paulus se oortuiging hierdie geloof hartgrondig toegeëien. Vers 6 tot 10: Die aanwakkering van die genadegawe. Uit dankbaarheid vir Timoteus se geloof gee Paulus aan hom raad vir die opskerping van sy bediening. Hy het klaarblyklik morele stukrag nodig. Timoteus het nie nuwe genadegawes nodig nie. Hy moet dit wat hy ontvang het by sy afsondering, met hand-oplegging, tot die bediening (1 Tim 4:14) ten volle aanwend. Die woord “soos ’n vuur aanblaas” (Gr anazopureo), beteken om opnuut aan die brand te blaas of vol aan die brand te hou. Dit hoef dus nie afgelei te word dat Timoteus sy vroeëre vuur (ywer) waarmee hy sy genadegawe aangewend het verloor het nie, maar dat hy aangemoedig word om hierdie vuur op volle sterkte brandend te hou. Hierdie genadegawe (Gr charisma) is meer as natuurlike begaafdheid, want dit word gekenmerk deur die bonatuurlike werking van die Heilige Gees. Sy werking lei nie tot lafhartigheid (Gr deilia) nie maar tot krag (Gr dunamis), liefde (Gr agapei) en selfbeheersing (gesonde gemoed – Gr sophronismos). As Timoteus hierdie genadegawe wat hy ontvang het ten volle gebruik, sal hy kan volhou in die stryd en lyding en dra van die smaad van Christus. Hy moet sy vrees oorwin deur die gawe van die Gees. In die lig van hierdie toerusting deur die Gees moet Timoteus nie skaam wees om die boodskap van die Here (evangelie) wat deur die owerhede en burgers van die Romeinse ryk teëgespreek word te verkondig nie, ook nie vir Paulus wat deur die gemeenskap as misdadiger beskou word omdat hy in die gevangenis aangehou word nie. Inteendeel, hy moet nie terugdeins nie, maar op sy beurt die verguising en verwerping en swaarkry wat met die verkondiging van die evangelie gepaard gaan aanvaar en verduur met die krag wat saam met die genadegawe wat God gee, geskenk word (vgl 2 Kor 12:9, 10). Volgens sommige verklaarders is vers 9 en 10 ’n aanhaling uit ’n Christelike lied van daardie tyd. Tog is dit kenmerkend van Paulus se denke. Hy maak ’n dubbele stelling oor God se verhouding tot die gelowiges. God red en roep tot toewyding aan Hom (vgl 1 Kor 1:9,18-31). Die Christen se roeping tot vereniging met Christus en diens in sy koninkryk word aan God toegeskryf. Daar is ’n noue verband tussen redding en roeping. Ons as Christene word nie slegs van ’n lewe van sonde gered (verlos) nie, maar tot ’n lewe van toewyding aan God en die evangelie geroep. Daartoe skenk Hy aan ons die krag as ’n genadegawe en nie weens enigiets wat ons gedoen of verdien het nie (vgl Ef 2:8-10). Dit is gegrond op sy eie “eensydige” besluit as die Inisieerder van ons verlossing en die skepping s’n. Reeds van ewigheid af is hierdie genadedaad wat deur Christus voltrek sou word aan ons as geskenk gewaarborg (Vgl Kol 1:15-23; Rom 8:19-23). Alhoewel die idee van God se ewige voorneme ons begrip te bowe gaan, kan die feit van Jesus se menswording en verlossingswerk deur ons verstaan word. Dit beklemtoon Paulus deur Timoteus te wys op die konsekwensies van sy koms (verskyning – Gr epiphaneia – vgl Tit 2:11-13). Jesus het die mag van die dood, wat hom, Timoteus, die gelowiges en die sugtende skepping bedreig het, gebreek en die weg tot die ewige lewe deur sy soenverdienste gebaan. Dit is die evangelie (goeie boodskap) wat voor sy koms verborge was, maar nou ten volle geopenbaar is (aan die lig gebring is). Vers 11 en 12: Paulus se getuienis. Paulus herhaal hier byna woordeliks sy getuienis van 1 Timoteus 2:7. Dit is nie dat Timoteus met sy aanstelling deur God as prediker, apostel en leraar van die evangelie onbekend was dat hy dit herhaal nie, maar omdat die grootsheid van die boodskap en die verwondering oor sy roeping sy gedagtes voortdurend oorheers het. Daarom is hy gewillig om al die dinge wat hom oorgekom het (Fil 1:12; 2 Kor 11:23-28), insluitende sy onregverdige gevangenisstraf en moontlike doodvonnis, te verduur. Want hy weet Wie hom geroep het en wat die implikasies van sy heilswerk is. Deur sy kennis van Christus (Fil 3:10) het Hy sy vertroue volkome gewen. Daarom het hy die vaste sekerheid dat hierdie Here op Wie hy met sy hele hart vertrou oor die mag beskik om dit waarvoor hy deur die Here vertrou word, naamlik die bediening van die evangelie aan alle mense (vgl 1 Tim 2:3-7) totdat Hy weer kom, in stand te hou. Al sou hy deur die Romeinse owerheid die doodstraf opgelê word, sal dit wat aan hom toevertrou is deur Timoteus en die ander gelowiges voortgedra word. Die Here sal Paulus se pand bewaar deur dit aan die kerk wat Hy nooit sal verlaat nie toe te vertrou. Vers 13 en 14: Die opdrag aan Timoteus. Paulus hou sy Woordbediening aan Timoteus voor as ’n voorbeeld (Gr. hupotuposis) wat in hierdie verband beteken: ’n grondslag waarop verder gebou moet word. Dieselfde woord word in 1 Timoteus 1:16 gebruik waar Paulus hom as rolmodel voorhou vir almal wat in die Here Jesus sou glo. Timoteus moet op hierdie Woordbediening voortbou, nie met onbuigsame dogmatisme nie, maar in geloof en liefde. Paulus se gunsteling uitdrukking “in Christus” maak dit duidelik dat geloof en liefde in die Woordbediening slegs volg uit die intieme verhouding tussen die bedienaar en Christus. Soos die Woordbediening as goeie gawe aan Paulus toevertrou is, is dit ook aan Timoteus vir bewaring toevertrou. Hy sou dit egter nie in eie krag kon vermag nie. Daarom beklemtoon Paulus die feit dat dit slegs kan geskied deur die Heilige Gees wat in ons woon (Vgl Rom 8:10, 11). Slegs in Hom lê die waarborg vir die voortgang van die bediening van die Woord vanaf die koms van die Verlosser tot by sy wederkoms.

PREEKVOORSTEL

Tema: Gesinne en families as mentorgemeenskappe

In die Inleiding kan verwys word na twee tekste uit die Wysheidsliteratuur wat betrekking het op families:

Spreuke 17:6 “Kleinkinders laat oumense soos konings voel, en kinders is trots op hulle ouers.”; Spr 20:29 “Jongmanne is mooi omdat hulle sterk is, oumense is mooi omdat hulle grys hare het.”

Met Paulus se 2e sendingreis toe hy in Listra aandoen, was Tim reeds ‘n gelowige (Hd 16:1-5). Sy ma was ook ‘n gelowige. Voor haar bekering was sy ‘n Joodse vrou. Sy pa was ‘n Griek. Timoteus was een van Paulus se getrouste medewerkers en was vir ‘n geruime tyd die predikant in Efese.

Die wonder van God se genade is dat sommige kinders glo ten spyte van hulle ouers se onverskilligheid (verwys hier na Eseg 18) terwyl dit hartseer is dat goeie gelowige ouers se kinders soms kan ontspoor. Alhoewel familieverwantskappe glad nie ‘n waarborg of voorwaarde vir geloof is nie, is dit opmerklik hoe geloof tog baie keer in geslagte en families voortbestaan.

Paulus vertel in vers 3 dat hy net soos sy voorouers vir God dien, terwyl die groot invloed van Timoteus se ma en ouma se geloof in vers 5 genoem word. Dit lyk vir my asof daar tog ten spyte portuurdruk en mode-giere ‘n groot apél gemaak word op kinders wie se ouers naby aan die Here leef! (Hier kan verwys word na die NG Kerk se mees onlangse Jeugnavorsing onder na-skoolse jongmense).

As Josua in Jos 24:15 sê: “ Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien…”, kies hy nie namens sy familie asof hy namens hulle kan glo nie. Nee, hy onderneem wat enige verantwoordelike gelowige gesinshoof sal doen: hy belowe dat hy sy familie sal rig op die Here. Hy maak so Deut 6 se opdragte waar. Hierdie verbintenis loop deur die geslagte: van oupa/ouma na pa/ma na kinders se kinders se kinders… Dit is die verbondslyn = God se genadelyn. God doen dit ook sonder hierdie lyn. Maar watter seën lê daar nie in hd geloofs-generasielyn nie… (Hier kan uitgebrei word op die positiewe uitkoms waar ouers gertrou is met hulle verbondsonderrig) As daar vertroue en geloofwaardigheid is, het kinders die vrymoedigheid om vir ouers en grootouers geloofsvrae te vra: Deut 32:7 “Julle moet onthou hoe dit lank gelede was, julle moet dink aan die jare wat lank verby is. Julle moet vir julle ouers vra, sodat hulle vir julle kan vertel, julle moet vir die oumense vra, húlle sal vir julle sê hoe dit was.”

Verhale wat oorvertel word het baie krag. Dit leen tot getuienis, van hoe God daarin teenwoordig was… Oupas en oumas het ‘n groot verantwoordelikheid om met sensitiwiteit en wysheid die geloofslyn oor te dra aan hulle kinders en kleinkinders. Kinders en Kleinkinders moenie hierdie genadelyn van God minag nie. En pa’s en ma’s moenie die swak skakel wees nie! Gemeentes behoort saam te besin hoe om enkelouer- en ander ontwrigte gesinne by te staan sodat hulle as mentorgemeenskappe kan dien.

WEEK 1

Week 1: God se voertuie in die wereld

Lukas 10: 1-16

Tema: Weerlose reisigers

1 Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. 2 Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3 Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. 4 “Moenie ‘n beurs of ‘n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. 5 As julle in ‘n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’ 6 As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. 7 Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. 8 As julle in ‘n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. 9 Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’ 10 Maar as julle in ‘n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê:

11 ‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’ 12 Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp. 13 “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14 Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. 15 En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal! 16 “Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het”.

PREEKSTUDIE
(Die eksegese van hierdie perikoop is gebaseer op die artikel van Nel, M.J., 2010, ‘Lukas 10:1–16 as begronding van die kerk se sending in Lukas-Handelinge’, Verbum et Ecclesia 31(1), Art. #372, 7 pages. DOI: 10.1402/ ve.v31i1.372)

Die literêre konteks van Lukas 10:1–16
Lukas plaas die sending van die twee en sewentig aan die begin van Jesus se finale reis na Jerusalem (9:51–19:48). Dié reis word gekenmerk deur Jesus se onderrig van sy dissipels, en sy uitnodiging aan diegene langs die weg om hulle lewens volgens God se wil in te rig. In die reisverhaal vorm 10:1–16 ʼn afgebakende perikoop. Dit word van die voorafgaande perikoop afgegrens deur Lukas se kenmerkende oorgangsfrase (Μετὰ δὲ ταυ̂τα) in 10:1, terwyl daar vanaf vers 17 verwys word na die terugkeer van die twee en sewentig ná hulle sending.
Lukas 10:13-16 sou as ʼn afsonderlike perikoop beskou kon word. Aangesien die oordeelsaankondiging oor die Joodse stede in 10:13-15 egter aan 10:12 gekoppel word en 10:16 as ʼn samevatting van die perikoop dien, word dit as deel van 10:1-16 geneem.

DIE OPBOU VAN LUKAS 10:1–16

A. Inleiding: Die sending van die twee en sewentig (10:1-4)

Die aanwys en sending van die twee en sewentig (10:1)

Oproep om te bid vir nog werkers om die oes in te samel (10:2)

Waarskuwing oor die gevaar van die sending (10:3)

Gedragskodes vir die sending (10:4)

B. Voorskrifte vir hoe om op verskillende ontvangste te reageer (10:5-11)

Indien positief of negatief ontvang in huise (10:5-7)

Indien positief ontvang in stede (10:8-9)

Indien negatief ontvang in stede (10:10-11)

C. God se oordeel oor die stede wat sy vrede verwerp (10:12)

D. Die lot van die stede wat Jesus se bediening verwerp het (10:13-15)

E. Samevatting: Die implikasie daarvan om die boodskap van die dissipels te glo of te verwerp (10:16)

A. Die sending van die twee en sewentig dissipels (10:1-4)

A.1. Die sending van die twee en sewentig as deelname aan die Missio Dei

Lukas beklemtoon in 10:1-2 dat die oes wat ingesamel moet word, aan God behoort. Hy wys ook daarop dat dit Jesus is wat die inisiatief neem vir die insameling daarvan deur arbeiders uit te stuur.

Die bediening van Jesus en sy gestuurdes is volgens Lukas die voortsetting van die één sending van God (die sogenaamde Missio Dei) na die wêreld toe waarvan die Ou Testament vertel het. Só bevestig die talle intertekstuele eggo’s van die handelinge van God in die Ou Testament (10:4,6) dat dieselfde Here wat deur Moses, Elia en Elisa by sy volk teenwoordig was, in die sending van Jesus en die twee en sewentig werksaam was. Die gedagte dat die ‘vrede op die heer van die huis sou rus’ (ἐπαναπαήσεται ἐπʼ αὐτὸν) is byvoorbeeld ʼn intertekstuele eggo van dieselfde idioom in die LXX. In 2 Konings 2:15 rus die gees van Elia naamlik op Elisa. ‘n Soortgelyke gedagte kom voor in Numeri 11:25-26 waar die gees van Moses gerus het op die sewentig wat hy aangewys het om hom te help. Die gevolg daarvan was dat hulle tydelik in sy profetiese bediening gedeel het. Soos Elisa in Elia se bediening gedeel het, en die sewentig in Moses s’n, het diegene op wie God se vrede sou rus ook in die Missio Dei van die twee en sewentig gedeel.

Met die bediening van Jesus het die Missio Dei ʼn nuwe, belangrike fase betree. In Lukas 24:44–48 open Jesus naamlik die dissipels se verstand om te verstaan dat alles wat in die Ou Testament geskryf is (24:44c) vervulling gevind het in sy dood en opstanding sowel as in die verkondiging daarvan aan al die nasies (24:47–48). Net só het Hy aan die Emmausgangers in 24:25–27 bekend gemaak dat die Ou-Testamentiese geskrifte reeds oor Hom getuig het. Lukas toon verder aan dat die Missio Dei ná Jesus se dood en opstanding voortduur. Die kerk se sending in Handelinge is vir hom die direkte voortsetting en uitbreiding van dié Missio Dei, en nie die kerk se oorname van dié sending by God nie. Die Here bly immers steeds self aktief in die kerk se sending.

A.2. Die identiteit van die twee en sewentig

Diegene wat deur Jesus uitgestuur word, word in 10:1 net as twee en sewentig ‘ander’ (ἑτέρους) geïdentifiseer. Die vraag na die identiteit van die twee en sewentig kan daarom gevra word. Was hulle bloot boodskappers of was hulle dissipels en selfs apostels van Jesus?

Die intra-tekstuur van 10:1–16 dui daarop dat die twee en sewentig as dissipels van Jesus gesien moet word. Die rede hiervoor is dat die kontras in 10:1 nie met die boodskappers in 9:52 is nie. Dit is eerder met die twaalf dissipels in 9:1–5 wat met byna identiese opdragte deur Jesus uitgestuur is.

Lukas 22:35–38 bevestig dat die twee en sewentig en die twaalf dissipels volgens Lukas met dieselfde sending besig was. Jesus verwys naamlik na die twee uitsendings (9:1-5 en 10:1-11) asof hulle een sending was. Alhoewel Jesus in 22:35–38 direk met die oorspronklike twaalf dissipels praat, verwys Hy in 22:35 ook na sy opdrag oor die saamneem van sandale wat Hy net aan die twee en sewentig gegee het (10:4).

Die doelbewuste parallelisme wat Lukas tussen die uitsending van die twaalf en die twee en sewentig daarstel, stel hom in staat om aan te dui dat die missionêre taak van die twaalf nie net tot hulle beperk was nie. Daar was ook ander dissipels of volgelinge van Jesus wat deur Hom uitgestuur is. Hulle getalle sou dan ook konstant toeneem. Só wys Lukas daarop dat die een gestuurde (Johannes die Doper), wat die weg vir Jesus moes voorberei (1:17, 76; 3:4; 7:27), se sending eers tot die twaalf dissipels uitgebrei is (9:1–6).

Daarna is die twee en sewentig ander dissipels uitgestuur (10:1), met die vooruitsig dat hulle getalle ook nóg verder uitgebrei sou word (10:2).

A.3. Die taak van die twee en sewentig dissipels

Die dissipels word deur Jesus in 10:2-3 uitgestuur met die opdrag om God se oes te gaan insamel. Alhoewel dié landboubeeld meestal in die Ou Testament van God se oordeel getuig het (Miga 4:11-13; Joël 3:13), dui dit hier eerder op die genadige innooi van alle mense in God se koninkryk (Jes 27:12). Waar die twaalf dissipels siekes moes genees en die koms van die koninkryk verkondig (9:1–2), en die boodskappers in 9:51–52 die weg vir Jesus moes voorberei, moes die twee en sewentig dissipels beide groepe se take verrig.

Hulle opdrag om stede vir die koms van Jesus voor te berei, het dus verder gestrek as net om slaapplek vir Hom te reël. Om dié rede moes die dissipels nie net twee-twee reis ter wille van wedersydse ondersteuning nie, maar ook om te verseker dat hulle getuienis geloofwaardigheid sou hê (vgl. Num 35:30; Deut 19:15). Die dissipels se groet van ‘vrede vir die huis’ dien in Lukas as ʼn metonimie vir die allesinsluitende verlossing wat deur Jesus aangebreek het (vgl. 1:79; 2:14, 29; 7:50; 8:48; 19:38, 42; 24:36). Dié verlossing is omvattend deurdat die Grieks- Romeinse begrip van vrede (as die afwesigheid van oorlog en die teenwoordigheid van sosiale harmonie) in Lukas aangevul word deur die Ou-Testamentiese verstaan van shalom. Shalom is die besondere gemeenskaplike welstand, oorvloed en sekuriteit wat God alleen kan skenk. God se vrede sou danksy die sending van die twee en sewentig rus op almal vir wie dit bestem was. Dié omvattende vrede sou ook konkrete gestalte vind in die genesing van almal wat siek was in die huise wat die dissipels ontvang het (kyk onder die hofie ‘Die genesing van siekes en die verkondiging van die koninkryk van God’). Die verkondiging van die koms van die koninkryk van God is ʼn komplekse teologiese motief in die Lukas-evangelie. Enersyds is God se koninkryk naby (10:9), en selfs reeds tussen mense teenwoordig (17:21), maar andersyds is die finale aanbreek daarvan vir Lukas nog in die toekoms (17:22–37). Terwyl die koms van die koninkryk reeds ʼn teenswoordige effek het, met die gevolg dat die werk van die dissipels aanvaar of geweier mag word, sal die finale oordeel oor die verskillende stede (10:12) egter eers met die voleinding geskied.

A.4. Die belangrikheid van gebed

Lukas stel dit duidelik dat die twee en sewentig dissipels te min was vir die taak en dat hulle daarom die Here moes smeek om nóg werkers uit te stuur (10:2). Naas hulle opdrag om die oes te gaan insamel, het hulle dus ook ʼn verdere taak – hulle moet bid dat God nóg werkers sou voorsien. Die dissipels se gebed vir meer werkers om te help met die insameling van die oes word in 10:6 implisiet verhoor deurdat die gashere, wat hulle boodskap gunstig ontvang het, ook in hulle sending opgeneem word (kyk onder die hofie ‘Die sending van die twee en sewentig as deelname aan die Missio Dei’). Gebed is daarom ʼn integrale deel van die kerk se deelname aan die Missio Dei.

A.5. Die identiteit van die groot oes

Die groot oes wat ingesamel moes word, kan in die konteks van Lukas na die Jode, die Samaritane of selfs al die nasies verwys. Die veronderstelde Palestynse konteks van 10:1 (Jesus sou op pad na Jerusalem geen stede buite Palestina besoek nie), tesame met die feit dat die twaalf dissipels eers in 24:47 na al die nasies uitgestuur word, skep die moontlikheid van ʼn eksklusiewe Joodse sending vir die twee en sewentig dissipels. Hier is dit belangrik om in ag te neem dat Jesus, anders as ander Joodse herstelbewegings soos die Fariseërs, nie net op ʼn gedeelte van Israel gefokus het nie. Hy het eerder op die ganse Israel gefokus, soos bevestig deur die aanwys van twaalf dissipels, wat simbolies op die herstelde stamme van Israel dui.

Teenoor die siening van ʼn uitgebreide maar steeds eksklusiewe Joodse gerigtheid staan Jesus se sending van boodskappers na die Samaritane in 9:51–53. Die Samaritane is ʼn besondere fokus van Lukas. Net Lukas meld twee insidente tydens Jesus se reis na Jerusalem waarin Samaritane positief uitgebeeld word (10:25–37; 17:11–19). Indien verder in ag geneem word dat Jesus sy boodskappers eksplisiet verbied het om die Samaritaanse dorpe te vervloek (9:54–56), is die insluiting van die Samaritane in die dissipels se sending nie vergesog nie.

Die dissipels se sending kan egter nóg ruimer verstaan word deurdat die Lukas-evangelie verskeie rigtingwysers bevat (3:4–6; 4:22–30; 7:1–10; 13:23–30; 14:16–24; 17:11–19; 20:15–16; 24:47) wat daarop dui dat Jesus sy sending nie net tot die Joodse volk beperk het nie. Só kan die getal van die gestuurdes daarop dui dat hulle ʼn universele sending gehad het, aangesien daar volgens die LXX vertaling van Genesis 10 twee en sewentig nasies in die wêreld was. Soos die twaalf simbolies op ʼn sending na al die stamme van Israel kan dui, kan die twee en sewentig op hulle beurt weer simbolies daarop dui dat die dissipels in 10:1–16 na alle nasies moes gaan. Deur die identiteit van diegene na wie die dissipels moes gaan, vaag te laat, benut Lukas die gedeelte as ʼn begronding vir die uitbreiding van die kerk se sending na alle nasies, soos vertel in Handelinge. Daarom meld Lukas nie die spesifieke stede waarheen hulle gegaan het nie. Hy laat ook die verbod teen die gaan na die heidene en die Samaritane weg, wat Jesus in die parallelle gedeelte in Mattheus 10:5 uitgespreek het.

In Lukas 24:46–49 word dié onduidelikheid oor wie almal deel is van die kerk se sending klinkklaar ten gunste van ʼn universele sending opgeklaar.

A.6. Die dringendheid van die sending

Die dringendheid van die dissipels se sending word telkens deur Jesus beklemtoon. Só mag hulle nie deelgeneem het aan die tydrowende uitruil van soene, omhelsings en persoonlike nuus wat die groet van diegene langs die pad, volgens die gebruike van die eerste-eeuse Mediterreense wêreld, sou meebring nie. Hulle moes ook nie tyd verkwis deur van huis tot huis te gaan nie, maar hulle moes eerder die eerste huis wat hulle vredesgroet aanvaar het as basis vir hulle sending gebruik. Om van huis tot huis te gaan om die beste behuising of kos uit te soek, sou nie net hulle gashere beledig nie, maar ook die eskatologiese dringendheid van hulle sending misken. Die koninkryk van God het immers reeds naby gekom (10:9,11) en die oes kan dus verlore gaan as dit nie betyds van die landerye afgehaal word nie.

B. Die gevolge van ʼn positiewe ontvangs (10:5–9)

B.1. Inklusiewe tafelgemeenskap

Die primêre doel van die dissipels se sending was om ʼn nuwe, inklusiewe gemeenskap tot stand te bring. Hulle doel was nie om alle mense (vandaar die verbod om mense langs te pad te groet in 10:4), óf soveel huisgesinne as moontlik, te besoek ten einde hulle te bekeer nie. Hulle doel was eerder om saam met die eerste huisgesin wat hulle verwelkom, tafelgemeenskap te beoefen. Só word die dissipels eers beveel om in dié huis wat hulle ontvang het, te bly en dan word hulle eksplisiet verbied om van huis tot huis te beweeg (10:7). Die bevel om saam met die huisgesinne wat hulle ontvang, te eet, word in 10:8 herhaal. Die tafelgemeenskap waarop hulle sending afstuur, is vir Lukas sowel die loon op die werkers se arbeid (10:7c) as ʼn teken van God se koninkryk wat op die huis gekom het (10:6, 9). Wie met die dissipels tafelgemeenskap geniet, beoefen dit ten diepste ook met Jesus en Sy Vader wat Hom gestuur het (10:16).

Lukas beklemtoon dat die uitnodiging tot tafelgemeenskap ʼn ope uitnodiging was. Die dissipels kon enige huis betree en by elke ete aansit. Anders as vir die Jode was geen huis of ete meer vir hulle onrein nie. Die Jode het naamlik geweier om saam met heidene in hulle huise te eet (Hand 10:28; 11:3, 12). Dit is daarom nie vreemd dat die Joodse gelowiges in Jerusalem se klag teen Petrus nie was dat hy die Evangelie aan onbesnedes verkondig het nie, maar eerder dat hy saam met hulle geëet het (Hand 11:3).

Jode het wel soms by uitsondering saam met nie-Jode geëet, maar dan het hulle spesifiek hulle eie kos gebring wat hulle dan apart geëet het. Dit is opvallend dat die dissipels in 10:4 geen kos (soos gesuggereer deur die verbod op die neem van ʼn drasak) of geld om hulle eie kos mee te kon koop, kon saamneem nie.

Die Fariseërs was volgens die Misjna nóg strenger oor saam met wie hulle bereid was om te eet. Hulle het selfs van hulle mede-Jode verwag om ʼn kleed aan te trek wat ritueel gereinig was en deur die gasheer verskaf is. Al het die Samaritane op hulle beurt sekere van die Jode se gebruike rondom etes gedeel, is hulle egter deur die Jode as uitgeworpenes beskou, met die gevolg dat tafelgemeenskap met hulle ook afgewys is. Jesus se herhaalde opdrag om alle kos te eet, het die grens tussen rein en onrein afgebreek. Etes is sodoende vir die kerk verander van seremonies wat mense uitsluit na dié wat hulle insluit in God se koninkryk. In navolging van Jesus, wat verskeie sosiale en religieuse gebruike verontagsaam het deur saam met almal te eet (5:27–33; 7:34, 36–50; 14:1– 24; 19:1–10), moes die dissipels daarom in weerwil van die Joodse reinheidswette met almal tafelgemeenskap beoefen. Sodoende sou hulle illustreer dat selfs die armes en die oneervolles (vgl. 14:12–13) welkom was in God se koninkryk. Lukas stel dit dan ook eksplisiet in 13:29 dat alle nasies welkom was aan die tafel van God.

Die Evangelie volgens Lukas as geheel bied dus ʼn uitgebreide begronding vir die vroeë kerk se inklusiewe tafelgemeenskap.

B.2. Die genesing van siekes en die verkondiging van die koninkryk van God

In Jesus se tweede uitspraak rakende ‘n positiewe ontvangs (10:8–9), word die dissipels beveel om nie net die gasvryheid van hulle gashere te geniet nie, maar ook om die siekes daar teenwoordig te genees en die nabyheid van die koninkryk aan hulle te verkondig. Genesing dien in 10:8–9 as ʼn sinekdogee vir die volle herstel wat God se koninkryk meebring. As sigbaarmaking van God se naderende koninkryk was genesings ʼn belangrike deel van Jesus se reis na Jerusalem, soos blyk uit die drie genesings wat Hy daartydens verrig het (13:10–17; 14:1–6; 17:11–19).

Die reaksie van die dissipels op weerstand teen hulle sending (10:10–11)

Jesus beklemtoon dat die dissipels, soos Hy reeds in 9:51–56 ervaar het, weerstand sou ervaar. Dit gebeur dan ook toenemend in Lukas soos wat hulle saam met Jesus na Jerusalem gereis het. Die dissipels sou dus in Jesus se lyding en verwerping deel, net soos Hy weer op sy beurt in hulle s’n sou deel (vgl. 10:16).

B.3. Die weerloosstelling van die dissipels

Die dissipels se reaksie op die verwagte vyandige gesindheid van sommige stede moes nie wees om elke moontlike voorsorgmaatreël te tref nie. Hulle moes eerder hulleself, in gehoorsaamheid aan Jesus, nóg weerloser maak deur doelbewus geen voorsorg te tref nie. Hulle moes hulle losmaak van alle impedimenta deurdat hulle geen beurs (βαλλάντιον), drasak (πήραν) of sandale (Øποδήματα) op hulle sending moes saamneem nie (10:4). Hulle was sodoende totaal afhanklik van God se sorg vir hulle deur ander (Luk 10:7b).

B.4. Simboliese protes deur die dissipels

As hulle boodskap van vrede verwerp sou word, moes die dissipels hulle simbolies van dié stede distansieer deur dié stede se stof van hulle voete af te skud in die hoofstrate. Dié gebruik kan waarskynlik teruggevoer word na die Joodse gewoonte om ná ʼn besoek aan heidense lande die stof van hulle reis van hulle voete af te skud. Dit was enersyds om te keer dat die stof die Heilige Land sou kontamineer en om andersyds te wys dat hulle niks met die heidense lande te doen wou hê nie. Die dissipels moet dus nie-ontvanklike stede soos heidense gebiede behandel. Naas die simboliese protes moes die dissipels ook teenoor die stede verklaar dat die koninkryk van God net ‘naby’ gekom het (10:11) en nie ‘naby aan’ (of letterlik op’) hulle (10:9) gekom het nie.

Die koninkryk van God bring dus skeiding nie weens menslike vooroordele nie (soos om vooraf te besluit aan wie God se vrede aangebied sal word), maar na aanleiding van elke huishoudingse reaksie op die koms daarvan. ‘n Negatiewe respons deur die hoof van die huis sou lei tot die terugkeer van die vrede, wat in effek die oorspronklike vredesgroet in ʼn oordeel oor hulle sou omskep. Die tema van oordeel is dus nie afwesig in 10:1–16 nie deurdat diegene wat nie die vrede van God aanneem nie deur Hom geoordeel sal word (10:11–15). Jesus rig om dié rede ʼn ernstige waarskuwing (10:12) aan alle ongasvrye stede na aanleiding van die voorbeeld van Sodom (vgl. Gen 19), wie se lot spreekwoordelik geword het as gevolg van die inwoners se gebrek aan gasvryheid teenoor God se boodskappers. Ongasvrye stede moes daarvan kennis neem dat hulle straf selfs erger sou wees as Sodom s’n op die oordeelsdag.

Jesus rig ook by name ʼn reeks apostrowe aan Gorasin, Betsaida (10:13) en Kapernaum (10:15) om hulle te vermaan. Laasgenoemde, waar Jesus ʼn groot deel van Sy bediening verrig het (4:23; 7:1), ontvang ʼn waarskuwing dat dit nie verhoog sou word soos wat dit verwag het nie, maar eerder in die doderyk gewerp sou word. Onderliggend aan Jesus se oordeelsuitspraak is die gedagte dat die koninkryk van God só sigbaar was in die magsdade wat Hy in hierdie drie Joodse dorpe verrig het (vgl. 4:41–44; 7:1–10) dat heidense stede hulle sou bekeer.

C. DIE VOORBEELD VAN JESUS

Lukas verbind die sending van die twee en sewentig direk aan Jesus s’n deur te verklaar dat hulle vooruit moes gaan na die stede en dorpe wat Hy van plan was om te besoek (10:1b). Soos wat Jesus huishoudings besoek het ten einde siekes te genees (4:38–41; 7:1–10; 8:41–42, 49–56), en saam met almal geëet het (5:29–32; 7:36–50; 11:37–54; 14:1–24), moes die twee en sewentig dit ook doen (10:8–9).

Op reis na Jerusalem betree Jesus dan ook verskeie dorpe en huise (10:38; 11:37; 14:1) en aan die einde van die reis vertel Lukas van die bekering van Saggeus en sy familie deur Jesus (19:1–10). Laasgenoemde is die enigste sodanige voorbeeld in die Lukas-evangelie. Uit die intertekstuele verband tussen 19:1– 10 en 10:1–16 (sien die onderstaande tabel) is dit duidelik dat

Jesus volgens Lukas nie net aan die dissipels die opdrag gegee het om na verskillende dorpe en stede te gaan nie, maar ook aan hulle die voorbeeld gestel het deur dit self te doen.

PREEKVOORSTEL

Daar kan begin word met die vraag: “Wanneer is ek ooit genoeg om getuie van God te wees?”

“Die Man in the Arena”, ‘n metafoor wat Theodore Rooseveld gebruik het, kan as metafoor in die preek gebruik word om die weesloosheid en kwesbaarheid (‘vulnerability’) van die gestuurde dissipels (as God se voertuie in die wêreld) aan te dui:

THE MAN IN THE ARENA

(Excerpt from the speech “Citizenship In A Republic” delivered at the Sorbonne, in Paris, France on 23 April, 1910)

“It is not the critic who counts; not the man who points out how the strong man stumbles, or where the doer of deeds could have done them better. The credit belongs to the man who is actually in the arena, whose face is marred by dust and sweat and blood; who strives valiantly; who errs, who comes short again and again, because there is no effort without error and shortcoming; but who does actually strive to do the deeds; who knows great enthusiasms, the great devotions; who spends himself in a worthy cause; who at the best knows in the end the triumph of high achievement, and who at the worst, if he fails, at least fails while daring greatly, so that his place shall never be with those cold and timid souls who neither know victory nor defeat.”

-Theodore Rooseveld

In die arena is daar altyd kritici = wolwe

Kwesbaarheid = soos skape tussen wolwe

Ons vrees van wat ander van ons sal sê maak dat ons nie wil opdaag nie.

Om kwesbaarheid te illustreer, kan die volgende metafoor uit die Griekse mitologie gebruik word:

In Greek mythology, when Achilles was a baby, it was foretold that he would die young. To prevent his death, his mother Thetis took Achilles to the River Styx, which was supposed to offer powers of invulnerability, and dipped his body into the water. But as Thetis held Achilles by the heel, his heel was not washed over by the water of the magical river. Achilles grew up to be a man of war who survived many great battles. But one day, a poisonous arrow shot at him was lodged in his heel, killing him shortly after.
The death of Achilles was not mentioned in Homer’s Iliad, but appeared in later Greek and Roman poetry and drama concerning events after the Iliad, later in the Trojan War. In the myths surrounding the war, Achilles was said to have died from a heel wound which was the result of an arrow—possibly poisoned—shot by Paris.

Die gevolgtrekking is dat mees oonaantasbares onder ons tog kwesbaar is.

Die belangrike is dat jy opdaag! Dit is gehoorsaamheid.

Daar is ook iets soos skaamte (‘shame’) – bang om uitgewys te word – bang dat ons nie genoeg is nie – dat ons ontoereikend is. Dit is juis dan wanneer die Heilige Gees deur ons kan werk. Want as ek te seker is, is dit ek en my ego wat in God se pad kom staan.

Die volgende sake behoort aan die orde te kom vanuit die teks:

1. Ons deelname aan die Missio Dei (God se Sending).

2. Die gestuurdes as dissipels dra dieselfde gesag as die aanvanklike 12

dissipels.

3. Ons is aankondigers van God se vrede.

4. Ons is gestuur om die oes in te samel onder Jode en nie-Jode.

5. Die belangrikheid van gebed.

6. Die dringendheid van die opdrag.

7. Inklusiewe tafelgemeenskap (Jode en nie-Jode).

8. Genesing van siekes en die verkondiging van die Koninkryk.

9. Die weerloosheid van die dissipels.

10. Die voorbeeld van Jesus.

Bibliografie:

Green, J.L., 1997, The Gospel of Luke (The New International Commentary on the New Testament), Eerdmans, Grand Rapids.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, vol. 2, UBS, New York.

Malina, B.J. & Rohrbaugh, R.L., 1992, Social-science commentary on the synoptic Gospels, Fortress Press, Minneapolis.

Nel, M.J., 2010, ‘Lukas 10:1–16 as begronding van die kerk se sending in Lukas-Handelinge’, Verbum et Ecclesia 31(1), Art. #372, 7 pages. DOI: 10.1402/ ve.v31i1.372

Share